Nuuskommentaar: Nuwe boek: “Hoe om SA binne agt jaar daarmee heen te regeer” deur Jacob Zuma

Jacob Zuma

Jacob Zuma

Twee nuwe boeke werp baie lig op die “onderduimse metodes” waarmee die Zuma-mag in die regering bevestig word en wat ritse eerbare slagoffers oplewer. Maar dié twee boeke is slegs twee hoofstukke van Zuma se bewindstyd, met nog onthullende boeke wat die lig gaan sien en nog hoofstukke wat in die howe geskryf is en word, ook deur onder meer die Openbare Beskermer. Die media gee verder vlerke daaraan.

Die twee nuwe boeke maak belangrike hoofstukke uit van die verhaal wat eendag oor pres. Jacob Zuma se presidentskap geskryf sal word. Die eerste boek is deur genl. Johan Booysen, geskorste hoof van die Valke in KwaZula-Natal, geskryf. Vir vier jaar lank word daar nou reeds administratief en in die howe op hom jag gemaak (in die howe is hy gewoonlik aan die wenkant), sowel as op ander maniere, waaronder sielkundig.

Nou vertel hy sy kant van die verhaal in die boek, Blood on their hands. ʼn Naam wat gereeld opduik, is dié van genl. Richard Mdluli, geskorste hoof van misdaadintelligensie.

Die tweede boek is geskryf deur Johann van Loggerenberg, bygestaan deur Adrian LacKay. Dit handel oor die beweerde “rogue”-eenheid wat in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gestig is met Van Loggerenberg aan die hoof. Die boek, Rogue: The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit, vertel die ander kant van die verhaal. Die storie is juis nou in die nuus, met minister Pravin Gordhan wat vasskop daarteen om deur die Valke oor hierdie saak rondgeskop te word.

Volgens mense wat die boeke gelees het, is dit verpligte leesstof vir enigeen wat belangstel om te weet wat regtig aan die gang is en watter vuilspel-tegnieke en magsmisbruik Zuma se ontplooide kaders bereid is om te gebruik om ander ontplooide kaders wat skeeftrap, te beskerm.

Daar is geen plek vir reg en geregtigheid in daardie skemerwêreld vol “spoke” nie.

Tog is hierdie twee boeke net die oortjies van die seekoei. Die derde been van hierdie intrige is die ondersoek na Anwa Dramat, voormalige grootbaas van die Valke en Shadrack Sibiya oor die beweerde onwettige deportasie van vier Zimbabwiërs in 2010 en 2011.

Daar kan verwag word dat die damwal kan krake kry onder ʼn vloedgolf verdere onthullings in boeke en artikels noudat die ys gebreek is. Selfs die sosiale media kan belangrike bronne wees.

Boeke het egter die voordeel dat dit die betrokkene kans gee om behoorlik konteks te skets soos wat hy sy saak stel. Die leser weet ook dat materiaal soos hierdie voor publikasie aan regsmenings onderwerp word. Dis dus nie wollerige bewerings wat skielik soos mis voor die son gaan verdwyn nie.

Nog ʼn “medeskrywer” is die howe, soos in die saak waarin die Algemene Balieraad twee senior beamptes van die Nasionale Vervolgingsgesag van hul advokaatskap laat stroop het. Hulle appelleer, maar sover staan veral Nomgcobo Jiba se betrokkenheid, om Richard Mdluli se sake uit die howe uit te manipuleer, soos ʼn seer duim uit. En sy is ʼn Zuma-gunsteling.

Nog ʼn interessante hofsaak wat ʼn hoofstuk van die Zuma-boek sal uitmaak, is die hofaansoek om die Seriti-kommissie na die wapenskandaal se bevindings tersyde te stel. Die omvang van dié skande, as dit slaag, sal wees dat Seriti ʼn regter van die appèlhof is.

Die Nkandla-saak sal natuurlik ʼn belangrike hoofstuk van hierdie boek wees. Nog ʼn hoofstuk wat in die howe geskryf word, is die sogenaamde spioenasiebande-saak waarin Zuma en sy kornuite desperaat probeer keer dat Zuma op honderde aanklagte van korrupsie en bedrog  tereg staan.

Ook die Openbare Beskermer skryf belangrike hoofstukke en dit sal interessant wees om te sien of die nuwe Openbare Beskermer dieselfde soort integriteit aan die dag sal lê.

Dis eintlik ironies dat die parlement, wat juis die grondwetlike oorsigrol het, so laat in hierdie rubriek as rolspeler genoem word. Selfs na die munisipale verkiesing is dit duidelik Zuma hou via Luthuli-huis sy duim op LP’s, hoewel daar tekens is dat dit nie meer so lekker aanvaar word nie.

Opposisiepartye probeer hard om van hulle te laat hoor en slaag gereeld daarin.

Zuma se bewind sal ook onthou word vir die talle gewelddadige diensleweringsopstootjies, die Marikana-skietery, gewelddadige stakings, studente-onluste wat na misdadige vlakke geëskaleer het en vele meer.

Daar sal stellig ook plek wees vir ʼn hoofstuk oor Zuma en sy kornuite se vreemde godsdiensuitsprake, wat hom selfs baie fel kritiek van die hoofstroomkerke op die lyf laat loop het, dikwels met ernstige waarskuwings oor wat die kerke sal doen as hy hom weer aan sulke uitsprake skuldig maak. Tot die SARK was by minstens een geleentheid baie verbaal in sy kritiek. Zuma het eenvoudig met sy uitsprake voortgegaan.

Dit gaan ʼn ellelange boek wees; moontlik selfs die volume van ʼn ensiklopediereeks.

Met onthullende boeke wat nou reeds die lig sien, kom die oomblik ook nader dat van die geïmpliseerdes benoud gaan raak vir wanneer hulle nie meer deur Zuma gerugsteun kan word nie en die skip gaan begin verlaat met nog onthullings wat hul eie aandeel in so ʼn positiewe lig as moontlik sal stel. Ontleders meen daardie oomblik is naby.

Wat steeds die vraag onbeantwoord laat: Hoe kon Zuma in die eerste plek gebeur het?

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

humor ·

Hierdie foto is tydens die stemmewerf by die boere geneem. Hier demonstreer hy sy minagting vir die boere, sy g@tafvee houding teenoor hulle. Deel van sy slopingsproses.

Niel ·

Vrot van bo tot onder, geen gewete, geen morele waardes. Sal interessant wees om te lees.

Sarie ·

‘n Ware kommunis het geen gevoel vir mens en dier net die ek maak saak en die ideologie.

DAAN ·

EK STEM NOU NIE SAAM MET DIE EFF NIE MAAR EK SAL DAARVAN HOU AS MALEMA DIE BOEKE LEES EN DAN N GROOT GERAAS MAAK.

Jakes ·

Dalk dom vraag, maar gaan hierdie belangrike boeke met moet weet feite, nie dalk die slepende en komende hofsake nadelig beinvloed? Anc howe gaan mos beslis dis vertroulike inligting wat aan ons boekkopers openbaar is?

Theuns ·

Herman weereens baie dankie vir jou perspektiewe oor Zuma en sy diep gewortelde patronaatskap! En dan het ons ook niks weer gehoor van sy Rassistiese uitsprake nie? Die MRK is ook in sy sakkie! Ek het by ‘n vorige geleentheid gepraat oor die kortpad hemel toe en die kortpad hel toe of die sogenaamde “Wormholes” Ek dink Zuma en sy kornuite gaan die Wormhole Hel toe taamlik verstop soos ‘n dik gestopte wors met hulle heengaan!!! Wat ‘n verrasing vir ou “Nick”!

Henk ·

teleurstellend dat julle nagelaat het om erkenning te gee aan mugabe wat Zuma se leermeester is en was en by te voeg dat Zuma die rekord van Mugabe by verre verbeter het!

Polities Korrek ·

Dankie Herman, ons sien uit na die boek(e). Interessant vir die van ons wat onder die illusie verkeer het dat alles in die politiek net wit of swart is.

Alida ·

Hoe sal is die papier. Kan mens dit aan ‘n rolletjie hang?

Rynhardt ·

Dit gaan nie net daaroor dat Zuma SA in agt jaar tot nuut gemaak het, Anc het ook sy aandeel daarin van 22jaar! Versrommend hoe politieke kommentators die volle waarheid ignoreer! Die probleem het begin toe Zuma adjunkpres. gemaak is! Dit was lankal agter die skerms beplan dat Zuma in twee termyne SA moet ignoreer volgens die Vryheidsmanifes! Dit het alles gebeur volgens beplanning! Kommentators moenie net kyk na Zuma nie! Kyk na volledige prentjie, want ons beleef Kodesa se negatiewe implikasies , daar was geonderhandel volgens bepalings van vryheidsmanifes wat ekonomie vernietig het, en wat Afrikaners vir 22jaar lank ontneem van n toekoms.Kommentators dit is krimineel in my boek, wres net n slag opreg en eerlik met publiek!

Boetman ·

Mens moet natuurlik nie ou “Wigte en Teenwigte” se rol in die “Hoe kon Zuma in die eerste plek gebeur het?”-fiasko onderskat nie.

Jan maak n plan ·

Weereens n goeie berig Herman en tot die foto pas by die berig. Soos n vorige komentaar gesê het Zuma vee sy g…. af aan SA en sy mense. Ek hoop net eendag dat hy ook sy g…. sien en behoorlik ook.

andre ·

Moet nie vergeet dat dit ook die wil van die “elite” is dat dit so moet wees nie!

dirk ·

uitstekend uiteengesit Herman. Die volgende jare sal baie veranderinge bring. Mugabe hou sy opstandige volk in toom deur sy polisiemag om die mense te beheer deur afdreiging . Omtrent die enigste dept van die regering wat nog betaal word in Zim. Marikana kom by mens op

Gerhard Burger ·

Herman, soos altyd, ‘n netjiese artikel. Op een punt egter: dit was die Algemene Balieraad wat ‘n aansoek gebring het om Jiba en Mwrebi as advokate te skrap, en nie die SA Regskommissie nie. Gegewe die deeglikheid van jou artikels glo ek dit was maar ‘n vingerfout. Nietemin. Ek hoop ander betrokkenes in die NVG, die polisie en SARS, wat in hierdie boeke ter sprake is kry ook hulle dag. Die wiel draai stadig, maar die wiel draai gewis. Daar is lig in die tonnel vir hulle wat ‘n verwoestende uitwerking op ons strafregstelsel en integriteit van ons demokrasie het. En, uiteindelik ons land – op ons.

Landi Slatter ·

Dagsê Gerhard,

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig en wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Johannes Meintjes ·

Maar bowenal is dit na mening absoluut verstommend hoeveel skade aan ‘n land se integriteit, regeerbaarheid en ekonomie aangerig kan word terwyl die kerke, die politieke partye, kapteins van handel en nywerheid en die burgers maar net toekyk, kerm en fisies sowel as moreel uitermate verarm … ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.