Nuuskommentaar: Nuwe Vlaamse regeerakkoord ʼn ‘handboek’ vir SA?

Vier maande na die Belgiese verkiesing het drie betreklik uiteenlopende partye, een wat as gematigd regs beskou word, een wat as volksparty beskou word, en ’n liberaal-demokratiese party, ’n regeerakkoord vir Vlaandere bereik. Die akkoord van 300 bladsye kan in ’n sekere sin as ’n klein Kodesa beskou word, en Suid-Afrika kan heelwat leer uit die proses.

’n Nuwe koalisieregering sal na verwagting môre vir Vlaandere ingesweer word, nadat ’n finale ooreenkoms gisteroggend vroeg deur die media aangekondig is. Die laaste knope is na ’n marathonvergadering van 21 uur deur die nuwe koalisievennote, die N-VA (Nieuw-Vlaamse Alliantie), die CD&V (Christen-Democratisch en Vlaams) en die Open VLD (Open Vlaamse Liberalen en Democraten) bereik. Die algemene indruk wat uit die uitlatings van die onderhandelaars en die media gemaak kan word, is een van positiwiteit en dat die onderhandelaars mekaar “ongewoon” hartlik gevind het.

Maar is die belangstelling in die verkiesing van ’n streekregering nie ongewoon groot nie?

Tog nie. Die heterogene België het geleidelik onder middelpuntvliedende kragte al losser geword, tot dit ’n volwaardige federasie geword het. Die oproepe vir ‘n stap verder – tot konfederasie –  word toenemend gehoor. In beginsel beteken dit dat die “streekregerings” (ook Wallonië, die Franssprekende deel) oor sekere sake die finale sê sal hê en eintlik onafhanklik, of minstens sterk outonoom, sal wees. Die sentrale regering se magte is dan beperk tot enkele sake, waaronder buitelandse sake en verdediging. Vlaandere se seggenskap oor sekere eie sake blyk uit die aandag wat veral onderwys tydens die onderhandelinge geniet het. Ook die klimaatskwessie is deeglik onder die loep geneem.

Daar is egter ook nog ’n rede waarom die Vlaminge baie waarde aan die Vlaamse regering heg. Dit is omdat Vlaminge neig om aan hulself as eerstens Vlaams, eerder as Belgies, te dink. Die Vlaamse regering verteenwoordig dus hul volkwees, veral omdat die magte van die Europese Unie die blote bestaan van die Belgiese regering en staat al hoe minder noodsaaklik maak.

Tog is daar twee “dempers” op hierdie siening se drakrag. Onder Vlaamse akademici en die media is die sentimente ten gunste van ’n losser, of heeltemal ontbinde, België minder sterk as onder die gewone Vlaming. Maroela het dit juis onlangs in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem (lees hier).

Anders as in Suid-Afrika, is daar geen groot poging om die menings van akademici in te win oor die nuwe regeerakkoord nie. Dit maak deel uit van ’n internasionale neiging, veral baie sterk in die VSA, dat joernaliste en akademici hulself toenemend linkser of meer liberaal op die politieke spektrum te bevind.

Die onderhandelings vir ’n koalisieregering is nie kinderspeletjies nie. ’n Regeerakkoord, op enige regeringsvlak, se finale beleidsdokument bestaan dikwels uit honderde bladsye. Die jongste Vlaamse regeerakkoord bestaan uit 300 bladsye. As in ag geneem word dat die algemene verkiesing maar betreklik onlangs op 26 Mei vanjaar plaasgevind het, is dit duidelik dat daar hard aan die beleidsdokument gewerk is.

’n Man ry op sy fiets verby verkiesingsplakkate in Mechelen, België. Ongeveer 400 miljoen Europeërs van 28 lande gaan van 23 tot 26 Mei stem vir wetgewers wat hulle vir die volgende vyf jaar in die Europese Parlement moet verteenwoordig. (Foto: Virginia Mayo, AP)

Die politieke spektrum wat vir ’n regeerakkoord oorbrug moet word, is soms baie groot. Dikwels is daar ook heelwat persoonlike struwelinge tussen leiers na jare lange oor en weer slegsêery in die “huis” van verskillende partye. Hierdie partye moet mekaar nou vind om ’n nuwe, werkbare koalisie te vorm. Na ’n algemene verkiesing in 2010 het dit België amper 600 dae geneem om ’n nasionale koalisieregering te onderhandel.

Proporsionele kiesstelsel, soos wat Suid-Afrika nou het en algemeen in Europa is, werk koalisies in die hand. Dus kan ons verwag dat Suid-Afrika ook al hoe meer van koalisies gebruik sal maak. Dit het reeds op munisipale vlak meer algemeen in Suid-Afrika geword. Sommige Suid-Afrikaanse politieke wetenskaplikes was met die voorlaaste munisipale verkiesing sterk teen koalisievorming gekant, en het veral die “onstabiliteit” wat dit teweeg sou bring as rede aangevoer. Toe dit voor die jongste munisipale verkiesing blyk dat koalisies die ANC-oorheersing minstens kan knou, was die besware minder fel.

Die les moet egter wees dat die opstel van sulke koalisies as ʼn kuns ontwikkel moet word.

Etnies-geografiese federasies wat tot stand gekom het, soos België, Indië en Kanada, is skaarser as wat die de facto-behoefte daaraan is, soos blyk uit die nuusbriewe van die Unrepresented Nations and People’s Organisation (UNPO) en die Minorities Rights Group International (MRGI). Voeg hierby lande met wisselende vlakke van streekregering soos Brittanje en Nieu-Seeland met die Maori-kongres en gewaarborgde setels in die parlement, dan lyk dit of diversiteit nog lank deel van die politieke spektrum gaan wees.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Asseblief! ·

Kan jy ons politici sien wakkerbly vir ‘n 21 uur vergadering??? Kom wees nou bietjie realisties…hulle kan nie eers wakkerbly vir die opening van parlimement nie!!

Suzette ·

Ons regering stel nie belang in koalisie regering nie – elke haan wil op sy eie mishoop kraai

Pieter H ·

Ons het zero in gemeen met hulle. Hulle is etnies feitlik dieselfde en praat dieselfde taal. Dus is n vergelyking van Rsa en hulle belaglik en totaal irrelevant.

Herman Toerien ·

Hallo Pieter H. Die Vlaminge praat nie dieselfde taal as die Wallone nie. Hulle praat Frans. Dan is daar nog ‘n groep selfregerende Duitsers ook. E$intlik is Brabants ook ‘n taal op sy ei – het bv ‘n paar jaar gelede hul eerste Bybel in Brabants gekry) en dan is daar nog Franssprekende Brbanters ook. Tussen die Vlaminge en die Wallone is ook baie verskille. Die Vlaminge is bv omtrent almal tweetalig (of nog meer) maar moet bv Frans op skool neem. Die Wallone is bekend as die mees eentalige volk op die aarde. Weier selfs om Nederlands te leer selfs al woon hulle in Vlaandere. Hulle neig ook om sosialisties te wees, en dus armer as die Vlaminge. Vlaandere moet elke jaar miljarde euro’s aan die Wallone oorbetaal om hulle op dieselfde lewenstandaard te hou.

humor ·

Hier by ons sal dit maar kners. Met die nuwe regering het nie n politiekeparty tot stand gekom nie maar n ongenaakbare vyhand veral teen die oor die blanke Afrikaner wat oenskynlik uitgedelg moet word. Dit sal die anc dekades neem om die verdeeldheid binne die party te besleg. Die kultuurverskille, mense – lewens en wereldbeskouing is eenvoudig net onoorkombaar te groot.

Jerry ·

Die teenoorgestelde van enige westerse handboek is wat sal geld in SA. Hoeveel keer moet n mens dit nog herhaal dat die ANC ideologies anti westers is. Die ANC maak net pro westerse denke geluide wanneer dit hulle sak pas, as hulle ondersteuning en samewerking benodig en om hulle westerse opponente te mislei en te uitoorle. Die ANC stel nie belang in regeerakkoorde nie, vir die ANC is dit alles of niks en die alles is alleenlik en uitsluitlik vir die ANC en hulle alliansievennote. Die ANC gaan soos China n kapitalistiese sosialistiese staat tot stand bring wat baie beslis nie westerse regeerakkoorde gaan insluit nie, maar wel sosialistiese staatsbeheerde nasionaliseringstelsels. Kyk na rewolusionere Afrika en kyk na die rewolusionere ANC, dan sien jy dat hulle al vir geslagte lank anti westers is en dat daar absoluut geen aanduidings of bewyse bestaan wat as feite die teendeel kan bewys nie. Die rewolusioneres sluit nie regeerakkoorde met die anti rewolusioneres nie, want hoe anders gaan die rewolusioneres dan die anti rewolusioneres kan leegmelk. Hulle beheer jou en melk jou deur wanbestuur, staatskaping, korrupsie, wetgewing en deur nasionalisering van alle fondse en dienste!

Vlakvark ·

Goeie artikel Herman. Dankie.

Mag honger gierige politici sal ‘n imperialisties koloniale gegrensde SA verkies. Baie groot staatskas.

Politici wat eerbaar die belange van die onderskeie gemeenskappe wil dien, sal gaan vir koalisie ooreenkomste. Dit mag stroomaf lei tot etno-geografiese federasies. Ons het ten minste nou geleer dat die “reënboognasie”-konsep veel te wense laat. En die provinsiale regeringstelsel behoort in die Zibiblik.

CabyTheron ·

Haha! Ons regering enige iets reg doen? Dis ‘n grap!

KrokodilBotha ·

Groot drome . n Tweede reenboog, n Nuutse Een Suid Afrika vir almal. Hoenders en Makoue die groen gras is lankal opgevreet. Jy weet wat bly oor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.