Nuuskommentaar: Nuwe werklikheid se woordeskat

’n Suid-Afrikaner wat nou nog nie die uitdrukking “die nuwe werklikheid” gehoor het nie, maak hom of haar aan volstruispolitiek skuldig as dit by die volg van die nuus kom. Dit word op die oomblik hoofsaaklik deur die Covid-19-pandemie veroorsaak. ’n Klompie jare gelede sou na so iets verwys word as die tydelike werklikheid wat noodgedwonge ’n wysiging benodig het. Die proses van wysiging van begrippe en norme is ’n oneindige proses en word as simbool so aangedui:  ∞.

“Hè?” sou iemand wat nie in hierdie Akademikaans geskool was nie, oorbluf kon reageer. Miskien ’n bietjie meer verstaanbaar: “Die nuwe werklikheid wat die pandemie veroorsaak, het nou die kantelpunt bereik waar mense se veranderde optredes gesneller is.”

Maar natuurlik sal omtrent almal die volgende Zefferkaans goed begryp: “Covid-19 (ewe ghrênd, maar verkeerd, as ‘kouwid’ uitgespreek) krap dinge nou so om dat, as ons nie ons *^tt% in rat kry nie, ons ons *^tt% sonder ’n spieël gaan sien.”

Hoewel die nuwe werklikheid ook sy kwota nuutskeppings opgelewer het, soos grendelgriep, is baie van die woorde nie werklik nuut nie, maar word nou meer dikwels ingespan, sommiges wel met ’n geringe verandering in betekenis.

Johanna van Eeden, nou adjunkredakteur van Beeld, het in die dae van die wegdoen met kultuurkoshuise by die Universiteit van die Vrystaat (UV), die woord “kantelpunt” ingespan om te verwys na daardie punt waar getalle so verander dat daar ’n kantelpunt is, en sake dan verander. Met die meerderheid studente nog wit en Afrikaans, het swart koshuisinwoners óf by die destydse dominante kultuur ingeval óf het op hul eie “kultuureie” koshuise aangedring. Dit is toegestaan, maar toe die meeste studente swart is, is op geïntegreerde koshuise aangedring. Die TV in die gazellie wat altyd op Afrikaanse rugby-uitsending gestel was, is na sokkerwedstryde oorgeskakel. Die pendulum het na die teenoorgestelde kant begin swaai.

Ironies is daar in die VSA op die aandrang van swart mense swart koshuise op verskeie kampusse geskep, of as getalle dit nie regverdig het nie, koshuise met swart gange. In van hierdie koshuise of gange is so ver moontlik by Afrika-kulture gefokus. Meningspeilings het getoon sulke koshuise word deur ’n minderheid wit mense gesteun.

Vandag is “kantelpunt” ’n bykans daaglikse verskynsel in Netwerk24 se elektroniese argief, aangehelp deur die publikasie van Sophia Kapp se boek, Kantelpunt.

Die woord “sneller” in die konteks van waar ’n ongelukkigheid ontbrand, dikwels met geweld, is nie nuut nie. ’n Baie goeie onlangse voorbeeld is die dood van George Floyd, en die gevolglike onluste rondom die uitdrukking, “Black Lives Matter”. Ironies toon die jongste peilings aan dat die meerderheid van Amerikaanse swart mense eerder die uitdrukking “All Lives Matter”, ondersteun.

Nog ’n woord wat die naweek opgeduik het, is “ikonoklasme”, so al asof dit klaar reg is om deur die “woord” aikona-klasme uitgedaag te word. In ’n heterogene/diverse land hang dit af van watter sentiment nog die wêreld se gunstelingsentiment verteenwoordig, maar dit kom tog voor asof die meerderheidsiening al hoe meer deur pragmatisme, en minder deur “progressiewe/idealistiese” sentimente uitgedaag word. Vertaal uit Engels: Ikonoklasme is die sosiale geloof in die belangrikheid van die vernietiging van ikone en ander beelde of monumente, meestal om godsdienstige of politieke redes. Wikipedia (Engels)

Dit is egter ook duidelik dat idees, opvattings en oortuigings mettertyd veranderinge ondergaan – soms vinniger as ander. In ’n onlangse uitgawe van Rasmussen se peilingsagentskap word dit in verskeie dinge helder en duidelik gedemonstreer.

Most voters still rally around Mount Rushmore and historic statues around the country that may be out of line with modern-day sentiments. But there is growing support among those under 40 to do away with them.

Respect for the Fourth of July is down this year, although most still recognize that it marks the signing of the Declaration of Independence. But Americans aren’t so sure the Founding Fathers who signed that important document would be happy with the country they initiated this day.

Die verandering in leierskap verander die werklikheid

Verskeie voorvalle raak nou in Suid-Afrika bekend waar mense aangekla word dat hulle bedrog van enorme bedrae gepleeg het of gesteel het, maar op so ’n dom manier dat dit ooglopend was dat daar geen moontlikheid was dat hulle onbepaald daarmee sou kon wegkom nie. Dink maar aan die Guptas wat skynbaar ’n familietroue betaal het met miljoene rande wat vir die ontwikkeling van ’n melkplaas bedoel was wat arm swart mense sou bemagtig. Nou is twee vroue aangekeer weens beweerde bedrog van meer as R200 miljoen waar ook mildelik in die plaas se fondse geoes is.

Hoe is dit moontlik dat die beweerde meesterbreine wat die VBS-bank so rot en kaal besteel het dat dit moes ondergaan, kon dink hulle sou daarmee kon wegkom?

Voor die Zondo-kommissie word bewerings nou teen die gewese Prasa-baas, Lucky Montana, gemaak wat ook lyk of Montana geglo het sy “luck” moes ∞ kon hou.

Dit wil al hoe meer lyk asof diegene teen wie die bewerings gemaak word, moes glo dat hulle onaantasbaar was. Die “berekeningsfout”, so lyk dit, was dat die persoon of persone wat die mutualistiese rugdekking verleen het, onbepaald daardie onaantasbaarheid sou kon verseker. Skynbaar is geglo die uitnodigings om ’n bietjie in die vuurpoel te kom afkoel, sou lewenslank gewaarborg bly. Toe nou nie.

’n Baie verstaanbare voorbeeld waar nuwe rolspelers ’n nuwe werklikheid kan skep wat die vorige begunstigdes uit die wa van bevoorregting kan laat val, het hom die afgelope paar weke afgespeel. Eers het ’n boek van Oscar van Heerden, aktivis en skrywer, verskyn waarin hy die ANC beskryf as die enigste party wat geskik is om die land te regeer, onder meer omdat dit die enigste ware nierassige party sou wees. Pas het nog ’n bruin meningsvormer, dr. Christo van Rheede op RSG se program Kommentaar, die hoop uitgespreek dat die land binnekort ’n ander regering as die ANC sou hê.

Al afleiding wat ’n mens kan maak, is dat Van Heerden tot die groep behoort wat selfs die mees rassistiese optredes as nierassisties beskou solank as wat dit teen wit gemik word. So onewehandig beskou, maak dit “sin” om sonder die in agneming van enige empiriese feite Helen Zille se stelling dat daar nou meer rassistiese wette op die wetboek is as tydens apartheid, as vals en rassisties af te maak. So amper soos om te ontken dat daar plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind omdat die meerderheid slagoffers wit is.

Dan maak dit sin om die afbreek van standbeelde en monumente te “regverdig” omdat die persone en gedagtes wat geëer word, wit was, terwyl dit geregverdig is dat die “vader” van die slagspreuk, Kill the Boer, Kill the Farmer, vereer word deur ’n Wêreldbeker-stadion na hom te vernoem.  Deur ’n nuwe werklikheid in ’n heterogene land te skep waar “demokrasie” bloot ’n tirannie van die meerderheid vorm, en nie die werklikhede te verreken wat vir sinvolle minderheidsregte voorsiening maak soos wat die Internasionale Reg sanksioneer nie, is nié ’n demokrasie nie. Dis ’n tydbom tot die ∞ in.

Die Mt. Rushmere-dreigemente het heel moontlik pres. Donald Trump se aanslag op ’n tweede termyn gered deurdat dit die president kans gegee het om met sterk optrede teen die voornemende vandale op te tree. Dat 38% van die Amerikaanse kiesers meen Trump se uitdager, Joe Biden, het demensie, help nie juis Trump se teenstanders nie. Die pendulum kán swaai en ’n nuwe realiteit skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Die Covid-19 “nuwe werklikheid” is dwaas. Dit takel ons immuniteit af.
Die 1914-1918 oorlog het 240 miljoen mense fisies geraak en so die wêreldbevolking se immuniteit afgetakel. Toe sterf daar tussen 17 en 100 miljoen mense weens griep.
Covid-19 se impak is waarskynlik die gevolg van swak dieet- en leefstylkeuses wat die huidige geslag se weerstand afgetakel het.
Byna alles wat ons doen om verspreiding van die virus te bekamp, is teenproduktief. Maskers, isolasie, min sonlig, aanraking en sosiale interaksie, armoede en swak voeding, negatiwiteit en media wat vrees aanblaas, wek angs en stres en takel immuniteit verder af.
Jesus leer dat fisiese aanraking belangrike is vir genesing, liefdebetoning, seëninge ens. Na mate ons verder van hierdie belangrike beginsels af wegbeweeg deur paniekbevange maar vergeefs van virusse af te probeer vlug, beweeg ons nader aan selfvernietiging.
Die “nuwe werklikheid” wat gepropageer word is opstand teen ons Skepper en sy normale werklikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.