Nuuskommentaar: Nuwejaarsvoornemens, wenslysies en gebedslysies

Vuurwerk agter Big Ben in Londen (AP Photo/Frank Augstein)

Opsomming

Geen Christen behoort sy skouers te kan optrek en sê hy het nie nuwejaarsvoornemens nie. Al is dit hoe informeel, daar is in hierdie land én wêreldwyd genoeg waarvoor gebid kan word, en as die geleentheid en talente daarvoor teenwoordig is, iets fisies daaraan te probeer doen.

Voorspoed vir 2019. Het u so ver by u Nuwejaarsvoorneme gehou om vanjaar by u nuwejaarsvoornemens te hou? Baie oorleef nie die eerste dag nie.

Of het u nie bepaalde Nuwejaarsvoornemens, soos byvoorbeeld om op te hou rook, nie?

Of is die lysie sommer so informeel in die kop?

As u in Suid-Afrika woon, of in die buiteland woon maar nog familie of vriende in die land het, is dit besonder gepas om ’n soort ernstige wenslys in die vorm van ’n formele of informele gebedslys te hê. ’n Gereelde gebed om diegene in die land te beskerm teen dinge soos plaasmoorde, gewelddadige huisrooftogte of motorkapings, verkragtings en vele meer misdaadtipes.

’n Gereelde gebed vir reën sal ook nie buite orde wees nie.

In Suid-Afrika is ook oorgenoeg werkloses en armes om gereeld in gebed op te dra. Die hoë padsterftesyfer verdien ook heelwat gebede. Maar hoe bid ’n mens reg hiervoor – dat die weerlig die roekeloses en misdadige bestuurders (soos dronkebstuurders en diegene wat die pad vir Kayalami aansien, of die sperstreep vir ’n middelmannetjie gebruik) moet tref nog voor hulle wegtrek? Of dat die padvalke hulle vastrek voor hulle iemand anders op die pad vermoor?

Natuurlik bid ’n mens daagliks vir die veilige bewaring van die gesin en ander naastes.

Sake om voor te bid is natuurlik nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Dwars oor die wêreld is daar mense wat daagliks in pyn bietjies, bietjies aan kanker sterf. Ander is gelukkiger en kan danksy middels soos chemo ’n vegtersbeurt aanknoop, nie net om self te oorleef nie, maar om ander te inspireer om nie net die handdoek in te werp nie. En dit is natuurlik nie moontlik sonder eie en ander se gebede, en bemoedigende woorde van omgeemense nie.

Maar kanker is nie al gesondheidsprobleem nie, en ook nie al wat ’n lewe kan opeis nie. En wat van die opdragte wat Christene vanuit die Bybel kry, soos dat jy jou naaste moet liefhê, asook jou vyande, en sommer ook vir die vreemdeling in jou poorte dieselfde behandeling behoort te gee as wat jy self sou wou hê? Duidelik moet ons vir vrede bid. En vir soverre jy talente het, daardie talente binne jou vermoëns in te span om die gebedsake te ondersteun. ’n Christen is nie ’n fatalis wat bloot net bid en dan alles aan die Here oorlaat nie – tensy dit nie anders kan nie.

Nie almal is bestem om die Nuwe Jaar op aarde in te gaan nie. Die uwe se ma is vroeër verlede jaar oorlede. In Desember het ek verneem van ’n ou bekende wat gesterf het. ’n Paar dae later van ’n gewese hoofdirekteur wat by sy oudste seun se troue tydens tafelgebed op slag aan ’n hartaanval oorlede is.

So, terwyl hy in gesprek met die Here was, het hy na die Here vertrek. Ook in Desember is ons getroue huishulp tydens ’n huisroof vermoor, terwyl sy die huismense probeer waarsku het.Is dit nie ’n ernstige aanklag dat daar mense op dae soos Kersdag mense is wat so vereensaam is dat hulle hul hand aan hul eie lewe slaan nie?

Hoe bid ’n mens vir hierdie regering? Sekerlik nie dat die weerlig die hele lot tot as moet verbrand nie, maar dat dié wat oneerlik en korrup is, hulle van hul weë moet bekeer. Dat hulle die beste amptenare volgens hul talente moet aanstel, en nie baantjies vir boeties nie.

Geen Christen kan die verskoning aanbied dat daar niks is wat hy of sy as Nuwejaarsvoornemens kan aanpak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.