Nuuskommentaar: O Katrina, daar’s water – sommer baie water

Vloede by ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord in Maart 2014

Vloede by ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord in Maart 2014

Sommer amper in dieselfde asem word berigte van ‘n knellende droogte – die ergste sedert 1933 – opgevolg deur berigte van oorstromings, lewensverlies en skade. Landbou het na raming reeds sowat R2 miljard skade weens die huidige oorstromings gely. Agri Noord-Kaap is bekommerd dat oorstromings in daardie provinsie kan voorkom weens baie reën wat in ander provinsies geval het. Nou die dag nog is talle gebedsgeleenthede vir reën gehou. Nou is daar reeds aangrypende verhale van reddingsoperasies en mede-menslikheid.

Paeo-klimatoloë is dit bykans eens dat tydperke van klimaatsverandering dikwels eerder gekenmerk word deur klimaatsonstabiliteit as dat die gemiddelde temperatuur of reënval noodwendig toe- of afneem. So dui navorsing daarop dat die panne in die Vrystaat in die verlede geneig was om voller te wees tydens warm en droë tydperke. Dit word daaraan toegeskryf dat die reën, wanneer dit geval het, hewig neergestort het, en dan weer deur lang, droë tye gevolg is.

Klimatoloë meen ook daarom dat die aarde nou meer klimaats-natuurrampe soos Katrina en die onlangse tifoon-ramp oor die Filippyne sal beleef.

Navorsers het al groot vordering gemaak om talle gewasse, soos mielies, meer droogte- en hittebestand te maak.

Dit gebeur ook dat daar oorstromings in dele van die land is, terwyl die droogte in ander dele steeds knellend kan wees.

Groot damme het nie net die funksie om water vir die maer tye op te vang nie, maar ook om vir vloedbeheer ingespan te word – en selfs om hidro-elektriese krag op te wek. Om dit doeltreffend te kan doen, word akkurate weervoorspellings verlang – wat soms maar moeilik is omdat die weer nie altyd dieselfde patrone volg nie.

Die uitdagings wat die landbou in Suid-Afrika in die gesig staar is enorm – en dikwels van politieke aard met kwessies wat met grondhervorming en -restitusie verband hou. Die TLU SA gebruik die term van “strategiese verskansing teen onsekerheid,” en moedig selfs boere aan om hul landboubedrywighede, en selfs buite die landbou, na Georgië uit te brei:

“TLU SA se standpunt was deurlopend dat ons boere hulle eie plase in Suid-Afrika in volle produksie moet hou en ook moet toesien dat die jongste en beste nagevorste tegnologie deel van hul boerdery gemaak moet word ten einde hul mededingendheid te behou en selfs te verbeter. Elke ondernemer moet strategies na hul risiko’s kyk en daarom is dit goed om ekstra kapasiteit buite landbou te belê. In dié verband is Georgië ‘n plek wat gunstig oorweeg kan word.”

Dit is nie net die landbou wat skade kry weens klimaatsverskynsels nie.

Tifone trek ook deur dorpe en stede, wolkbreuke verander strate in siedende riviere, en veral informele nedersettings word gereeld meegesleur. Die water het skaars gesak of die eerste plakkershutte verreis weer binne die vloedlyne.

Verskeie dorpe, en selfs dele van stede soos Bloemfontein, was onlangs nog gereeld sonder water. Heel dikwels was dit egter eerder menslike foute as die klimaat wat die probleme veroorsaak het.

En wanneer die water skaars is, kom dit aan die lig hoe erg die menslike faktor is met rou riool wat in waterstrome beland, en selfs drinkwater wat gevaarlik gekontamineer is – as daar water in die krane is..

Die ou waarheid geld steeds: Regering, moenie met die water mors nie, die dorpsmense wil dit drink, en die boere wil besproei.

Elkeen moet eenvoudig sy kant bring, want water is nie iets waarmee roekeloos omgegaan kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.