Nuuskommentaar: O my ‘meme’, wat het ek gedink en toe aangevang?

Beteken demokrasie dat ek my stem volgens my eie oortuigings uitbring, of dat ek vir dit stem wat deur ’n charismatiese leier voorgestaan word? Beginsel en praktyk is nie onderling dieselfde nie.

Elke nou en dan duik ’n skynbaar nuwe woord of begrip op wat so sterk nesskop dat ’n ontleder of kommentator dit baie gou onder die knie moet kry om nie ’n vreemdeling in die nasionale of internasionale diskoers te word nie. Soms is die woord nie werklik nuut nie, maar wel lank genoeg in onbruik dat baie mense dit as nuut ervaar, soos wat die woord “narratief” vir baie was. “Diskoers” is self een.

Nou begin die woord “meem” gereeld in veral die Amerikaanse literatuur opduik en dit is duidelik dat die gebruikers daarvan nie almal presies dieselfde daaronder verstaan nie. En dan is daar nog die weergawe wat met die aanwending daarvan in die kuberruim verband hou.

Die woord meem is nie nuut nie, en die oorspronklike woord kan teruggevoer word tot die voor-Latynse era en is afgelei van die Griekse woord mimene, wat “iets naboots” beteken. (Die woord is nog herkenbaar in die Engelse woord “imitate”.)

Die begrip word as kortstondig verstaan, en word van mens tot mens versprei, dikwels mondeling. Dit herinner na die laerskool-praktyk waar dit skielik albastertyd, toltyd, advertensie-plakkertyd of ander word en die norme van wat van iemand iets besonders maak, oornag kan ontwikkel, en net so gou kan verdwyn.

Skielik is dit nie meer die eerste span se rugbykaptein wat die drieë inryg wat met reg kan meen hy is kaas nie, maar die andersins vaal outjie wat skielik die meeste toertjies met sy stinkhouttol kan uitvoer. Of die een wat die een wat een held na die ander met albasterspeel van sy “ironiesroof. Nog ’n definisie sluit hierby aan: “Word meaning, cool, Genius and over all awesome”. Op ’n dag waai die wind egter ’n nuwe mode uit, en die skielike albasterheld word oornag weer vaal.

Voorbeelde in die kuberruim is oorhoofse gebruike soos om gereeld ’n mens se eie Facebook-blad op te soek en op te let vir verwikkelinge, of gereeld na ’n mens se e-pos te gaan kyk. Hieruit spruit nuwe woorde voort, of “ou woorde” met nuwe betekenisse soos “hampster” en “dank” (laasgenoemde wat “’n koue, klam plek” beteken.)

Meme word deur Google soos volg verklaar:

  1. an element of a culture or system of behaviour passed from one individual to another by imitation or other non-genetic means.
  2. an image, video, piece of text, etc., typically humorous in nature, that is copied and spread rapidly by Internet users, often with slight variations

Niemand kan verkwalik word as hy bogenoemde lees, maar steeds geen behoorlike begrip het nie. Wat hier van belang is, is dat pres. Donald Trump ten nouste met die begrip geassosieer word, en Trump word aangehaal dat hy, waarskynlik per twiet, verlede jaar geskryf het: “No one makes better memes then me, not even rocket mans cringiest face would beat me”.

Die memes wat die draak met Trump steek, het gevloei na hy in ’n ontmoeting met pres. Wladimir Poetin van Rusland nie baie goed daarvan afgekom het nie. So ook na hy gesê het hy kan: “… stand in the middle of Fifth Avenue and shoot somebody and not lose any voters,” omdat sy ondersteunersbasis so solied is.

Pres. Donald Trump. (AP Photo/ Evan Vucci)

Met die “impeachment”-verhoor speel Trump se onaantasbaarheid by ondersteuners ’n enorme rol.

Bernie Sanders is so ver egter waarskynlik die grootste wenner van die kuber-memes. Onlangs het ’n kuber-meemgroep vir jong mense hul steun (endorsement) aan een van die Demokrate se kandidate, Sanders, toegesê. Die groep, bekend as die New Urbanist Memes for Transit-Oriented Teens, of afgekort as die NUMTOTs, met hul 180 000 lede, het hul steun aan Sanders toegesê. Sanders, wat die belangrikheid hiervan ingesien het, het binne ure gereageer en dankie gesê.

Intussen het Hillary Clinton, wat Sanders in die Demokrate se nominasiestryd met die vorige verkiesing geklop het, haar liederlik met die meem-faktor misgis. Sy het naamlik gesê niemand hou van Sanders nie, maar ’n Rasmussen-peiling het bevind dat 37% van die kiesers aangedui het hulle verkies Sanders bo Clinton, en net 22% hou meer van Clinton as van Sanders. Onder slegs die Demokrate se ondersteuners verkies 45% Sanders, met 37% wat Clinton verkies. Die memes het behoorlik ingeklim hieroor.

Is Trump reg dat hy eintlik onaantasbaar is weens die besonder lojale steun van sy ondersteuners? Dit is in ’n onlangse peiling skynbaar gestaaf.  Die peiling het mense se reaksie getoets toe ’n Iranse generaal gefusilleer is deur ’n hommeltuig van die VSA, en is bevind Demokrate het grootliks ’n siening gedeel, en Republikeine ’n ander. Toe ook gemeld is welke weergawe Trump steun, het die steun van Demokrate en Republikeine bykans omgeruil. Dit blyk dus dat Trump se ondersteuners omgeswaai en eerder sy standpunt gedeel het as hul eie soos wanneer Trump se standpunt onbekend is. Dieselfde gebeur met die Demokrate.

Of die steun vir besluite van ’n charismatiese regeringshoof nie ondergeskik aan eie beginsels en beleid van die kiesers behoort te staan nie, eerder as om deur die charisma nagevolg te word, is ’n kopkrapper vir ’n ander dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.