Nuuskommentaar: OB: Grond kan gekoop word, agtergrond nie

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Sommiges lag, ander is geskok, maar min mense is koud gelaat oor die openbare beskermer (OB) wat te midde van storm op storm oor haar geskiktheid rug styf maak en verklaar dat net die Here haar uit haar pos kan verwyder.

In reaksie op ’n onlangse nuuskommentaar skryf ’n leser: “Grond kan gekoop word, agtergrond nie.”

Hoewel dit nie ’n erkende spreekwoord is nie, en waarskynlik skouer skuur teen politieke inkorrektheid, tref die brute waarheid daarvan ’n mens hard tussen die oë. Die analoog is dikwels die optrede van iemand wat skielik ryk geword het, maar nie die ware finesse het om naatloos in sy nuwe rol te pas nie. Hy of sy pas aan, ja, maar oneg. Skilderye en meubels getuig van kitsch en nie styl nie, uitlatings van meerderwaardigheid en stylloosheid, eerder as van kennis en wysheid.

Eenvoudigheid, in die negatiewe (kômmin) konteks kom in verskillende vorme. Hiermee word geensins bedoel of gesinspeel dat die openbare beskermer haar aan enige van die voorbeelde hierbo skuldig maak nie.

Oudpres. Jacob Zuma se verkiesing tot president het aan hom nie skielik die wysheid van ’n naskoolse kwalifikasie besorg nie – inderdaad nie eens dié van ’n hoërskoolkind nie. Sy honde- en ander uitsprake was ’n enorme verleentheid vir die land. Met sy herverkiesing as president het die Nederlandse koerant Trouw dit in ’n spesiale hoofartikel as ’n fout beskryf. Dit was in 2012, kort nadat Trouw as beste koerant in Europa aangewys is. Die hoofartikel kan hier gelees word.

Plaaslik het sy kwasi-godsdienstige uitsprake veral opslae gemaak. Dit is wyd en deur verskeie kerke as godslastering veroordeel, maar Zuma het hom nie daaraan gesteur nie en daarmee volgehou. In ’n stadium het die Bybelgenootskap in ’n hoogs ongewone stap in ’n omvattende nuusverklaring die president basies weerspreek oor ’n rits onjuisthede oor die bestaande en nuwe Zoeloe-Bybelvertaling, wat hy aangevoer het die rede is waarom hy ’n R1 miljoen bydrae uit die Jacob Zuma-trust vir ’n “onafhanklike” nuwe Zoeloe-vertaling maak. Dit sal interessant wees om te sien wat ’n ondersoekende joernalis oor die afloop van dié sage kan opdelf.

Maar dit is juis godsdienstige uitsprake wat nou ’n “band” smee tussen Zuma se ongekunsteldheid en dié van die OB, Busisiwe Mkhwebane. Met die druk wat daagliks op haar toeneem dat sy nie geskik vir die pos is nie, verklaar sy uitdagend dat “net die Here” haar uit haar pos kan verwyder.

Deur wetgewing en die Grondwet word sy vele magte en regte dieselfde of soortgelyk as regters toegeken. Hy/sy is inderdaad in baie opsigte naby aan onaantasbaar.

Suid-Afrika se openbare beskermers het tot dusver gewissel van ongelooflik swak tot middelmatig tot uitstekend. Veral die vorige OB, Thuli Madonsela, word deur baie as uitstekend, en loshande die beste tot dusver, beskryf. Hierteenoor is daar steeds onafgehandelde sake wat spruit uit die heel eerste openbare beskermer se termyn. Dieselfde bekleër is hof toe gesleep om ’n hofbevel te verkry om hom te verplig om die verslag oor die staatsteater te voltooi. Die spertyd is weer nie gehaal nie, en die verslag is so byna weer hof toe geneem.

Mkhwebane se verslae word met reëlmaat vir hersiening hof toe geneem en word met byna dieselfde reëlmaat deur die hof tersyde gestel. Een van die bekendstes is die Vrede-suiwelplaasprojek, waar sy versuim het om die politici, die werklike drywers van die abortiewe operasie, te ondersoek. Die vermoede is dat sy self ’n marionet van Zuma is. Dit is moeilik om enigeen wat met Zuma geassosieer word as ’n kampvegter vir die beskerming van die Grondwet te beskou. Dit is weer die hoof taak van al die hoofstuk 9-instansies. Haar bevooroordeeldheid word gesien in die feit dat sy sake wat reeds ondersoek is, en as bevredigend afgehandel beskou is, weer laat ondersoek. Telkemale loop sy erg oor haar teenstrydige bevindings deur, onder meer oor Pravin Gordhan en die Reserwebank.

En van die hoofstuk 9-instansies gepraat – hulle blink nou nie juis in die uitvoering van hul take uit nie, met moontlik die ouditeur-generaal ’n uitsondering. Pansat, die Menseregtekommissie, die kommissie vir die bevordering en die beskerming van die regte van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe, die kommissie vir geslagsgelykheid en die onafhanklike verkiesingskommissie was al almal in omstredenheid gedompel en in hofsake betrokke.

En dit is juis die instansies wat nie ruimte na middelmatigheid gegun behoort te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

… dalk wel… In wie se termyn is sy aangestel? Wie staan in die agtergrond? As pes in ‘n land uitbreek is die kanse 99% dat iemand wat dieselfde simptome toon aan dieselfde siekte ly. In SA word almal wat simptome toon, op laaaaangverlof gestuur… totdat die volk vergeet het van die kwaal.

JohanL ·

In die alewig voortslepende faksie gevegte van die ANC is die OB tans seker een van slegs enkele Zuma ondersteuners nog in “amptelike sterk” poste (Magashule nog ‘n voorbeeld). So die OB se taak is om lede van die ander faksie te diskrediteer, uit hul pos te verwyder, in swak lig te stel, of enige iets wat op die ou einde tot die Zuma faksie se voordeel kan wees. En in die proses is haar lojaliteit nie by haar werk nie, maar by Zuma. Totaal onbevoeg en mens kan net wonder wanneer wie teen haar gaan optree en verwyder uit haar pos.

Andreas ·

‘n Donkie stamp nie sy kop twee maal teen dieselfde klip nie, lui die idioom, maar dit lyk asof hierdie OB ‘n obsessie met spesifiek twee klippe het, dit staan ent weg dan storm dit kop omlaag, na dit die kop gestamp het, draai dit om, staan ‘n ent weg, draai om, dan storm dit weer my nuutgevonde obsessiewe passie op daai klippe af.

Andreas ·

En sidder om daaraan te dink as sy die dag afgedank moet word, kyk Julius se party was mos pertinent met sy insig en kundigheid in haar aanstelling, ook was hy die een wat die stemme destyds in Zuma se guns laat swaai het, dis nou toe hy jeugleier van die ANC was, nou sal hy nog meer invloed op die kies van ‘n nuwe OB hê. Spaar my net dit.

Andreas ·

Maar veronderstel sy het per ongeluk die goudpot aan die anderkant van die reënboog ontdek en dat Cyril wel skuldig is, wat dan? Destyds het ons almal dan saam gewonder, maar noudat hy president is, skram ons weg.

Gert van Wierdapark ·

Hier kom n ding!!! Die gerug loop dat die OB n verslag oor haarself gaan doen! Hoop net nie n vriendelike Polonie lek die verslag nie, dan is dit ou nuus as dit later uit-ge-ruik word!!!

Dries du Toit ·

Wie gaan vervolg ?? Die Trojaanse Donkie met die hoed ????????????

Julie Jansen van Rensburg ·

Insoverfe die OB betref – daar’s ‘n OU, OU Engelse spreekwoord wat steeds van toepassing is: “Money might buy you a title, but it can never buy the breeding that goes with it…” Eintlik word dit in die boek “Forever Amber” aangehaal… maar nogtans baie waar…

Anoniem ·

As ek enige iets van hierdie OB lees, kom die volgende woorde by my op: “You are the weakest link. GOODBYE!!!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.