Nuuskommentaar: OB ’n staatskaping-vyfdekolonner?

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, na die hofverrigtinge. (Skermgreep: Siphelele Dludla/ANA)

Die Konstitusionele Hof se meerderheidsuitspraak waarin die omstrede Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, erg gelooi is, durf nie maar net gevolgloos wees nie. Sy moet ten minste eenkant toe staan, tot sy daarin kon slaag om die howe en die publiek se vertroue in haar insigte, bekwaamheid, geloofwaardigheid en integriteit te herstel. Die skaal teen haar hang nou so skeef teen haar dat dit dreig om om te kantel – iets wat Suid-Afrika wat die tonnel uit staatskaping begin aandurf het, nie nou kan bekostig nie.

Die Konstitusionele Hof het pas in ’n meerderheidsuitspraak kras woorde ingespan om die persoon wat die hoë amp van Openbare Beskermer (OB) beklee, Busisiwe Mkhwebane, te kritiseer. Die teerkwas waarmee die regters van die land se hoogste hof haar bygedam het, is die teenoorgestelde van dit wat in die Grondwet van die ampsbekleër verwag word, wat as onkreukbare integriteit opgesom kan word.

Vanoggend soek ’n mens tevergeefs na ’n berig wat lui dat sy haar pos ontruim, of dat sy ten minste verlof neem tot die omstredenheid oor haar kop opgeruim is.

Dit is uit die uitspraak duidelik dat die meerderheid regters van die Konstitusionele Hof, en Mkhwebane self, heel verskillende sienings van haar het. Ná haar vorige teenspoed het sy nog verklaar dat net die Here haar uit haar pos kan ontslaan, en gister is in ’n stadium berig dat sy die speaker van die parlement met regstappe dreig, sou die parlement dit waag om haar uit haar pos te probeer ontslaan.

Mkhwebane se eerste probleem is dat sy nog deur oudpres. Jacob Zuma aangestel is. Feitlik daagliks is daar al hoe meer inligting wat daarop dui dat Zuma sy magte om sekere aanstellings te doen, misbruik het om sy “beweerde” betrokkenheid by staatskaping mee te verskans.

Nog voordat begin is om die staatskaping aan die kaak te stel, het verskeie bekende politieke kommentators, soos die gerekende prof. André Duvenhage, Zuma se bewind openlik as een van patronaatskap beskryf. Pas het Zuma in sy omstrede “getuienis” voor die Zondo-kommissie openlik erken dat die beleid van kaderontplooiing ter wille van voordele vir die meerderheidsparty se mense geregverdig is, reëlreg in stryd met sy presidensiële en grondwetlik voorgeskrewe ampseed, wat bepaal hy moet in al die burgers se belang regeer. Dit is ook ’n universele konsep dat ’n meerderheidsregering in ’n demokrasie in algemene belang moet regeer, om nie aan ’n diktatuur/tirannie van die meerderheid skuldig te wees nie.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. (Foto: AP)

Waarskynlik juis weens Zuma se moeilikheid met die reg was die regspleging een van Zuma se gunsteling-jagvelde. Met sleutelaanstellings was die Nasionale Vervolgingsgesag nie net uiters omstrede nie, maar funksioneel feitlik op sy knieë. Groot en belangrike kaders, onder wie na bewering ook Ace Magashule, nou die ANC se sekretaris-generaal, het die angel van die Skerpioene ontsnap deurdat Zuma hierdie instansie kort nadat hy aan bewind gekom het, afgeskaf het. Die parlement moet juis nou oor die lot van advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi besluit.

Afgesien van statutêre regsreëls vir die advokateberoep moet die onderliggende gemeenregtelike regsetiek ook verreken word. Christa van Wyk, navorsingsgenoot, Departement Jurisprudensie, Universiteit van Suid-Afrika, en buitengewone professor, Departement Romeinse Reg, Regsgeskiedenis en Regsvergelyking, Universiteit van die Vrystaat, skryf hieroor op Litnet onder meer: “Die Suid-Afrikaanse regsberoep verkeer in ’n morele krisis ten spyte daarvan dat professionele gedragsreëls en verskeie liggame onetiese gedrag probeer bekamp. In hierdie artikel word van die veronderstelling uitgegaan dat die doseer van regsetiek aan universiteite die probleem kan help oplos mits vrees vir straf nie as die grondslag van regsetiek aanvaar word nie. Professionele gedragsreëls moet eerder op ’n dieper filosofiese grondslag berus. Indien aanvaar word dat daar een grondslag vir etiese beginsels in ’n land soos Suid-Afrika kan bestaan, kan die deontologie van Kant, die nuttigheidsleer van Bentham en die deugetiek van Aristoteles met vrug ondersoek word. Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat laasgenoemde die beste grondslag vir regsonderrig bied en dat hiermee ’n dieper moraliteit as ’n blote gehoorsaamheid aan reëls gekweek kan word.”

Soos met Jiba en Mrwebi, is daar nou pogings om Mkhwebane van die rol van advokate te verwyder.

Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (7 Junie 2016) Foto: AP Photo/Stuart Graham

Die bespiegelings laat gerekende politieke kommentators hardop wonder of Mkhwebane ook ’n kader is wat Zuma aangestel het om sekere sleutelfunksies te vervul om die staatskaping te verskans. Mkhwebane se vertoning as Openbare Beskermer was wesenlik vanuit die staanspoor onder verdenking na die uitreiking van haar verslag oor die omstrede Vrede-melkplaasprojek. Toegegee, sy het dit van haar hoog aangeskrewe voorganger, adv. Thuli Madonsela, geërf. Ook Madonsela se verslag hieroor was gebrekkig omdat die politici nie daarin aan die bod gekom het nie. Die omstrede melkplaasprojek word ook nou deur die Zondo-kommissie onder die loep geneem, en van die getuienis wat afgelê word, laat steeds die hare rys.

Tans is dit egter ander verslae van Mkhwebane wat die vermoede voed dat sy ’n ontplooide kader is wat juis ontplooi is om sekere kaderbelange te bevorder. Sy wek immers die indruk dat sy, in weerwil van ander ondersoeke wat reeds anders bevind het, en in sommige gevalle ook reeds hofuitsprake was, ’n fiksasie het om tot sekere gevolgtrekkings te kom. Oor haar Reserwebank-obsessie moet sy nou in haar persoonlike hoedanigheid vir 15% van die regskoste instaan, en die belastingbetalers vir die res. Ook haar skynbare obsessie met beweerde misstappe teen min. Gordhan en pres. Ramaphosa, word aan regshersiening onderwerp.

Uiteraard, as Mkhwebane oortuig is dat sy reg is, en dat daar ook bewyse daarvoor bestaan, is dit reg dat sy haar rug styfmaak. Die wyse waarop sy haar standpunte kommunikeer, dui eerder op ’n opgeblase selfbeeld en hardkoppigheid as op beskeie selfvertroue dat sy en haar raadgewers (daar is nog nie sterk aanduidings dat sy hul raad ter harte neem nie), die beste toegerus is om oor reg en verkeerd te besluit. Talle regskenners meen egter dat sy haar aan nie net feite nie, maar ook regsdwalings skuldig maak, en dit word tot dusver deur die howe, waaronder die Konstitusionele Hof, gerugsteun.

Ter wille van vakkundige suiwerheid en objektiwiteit word ten slotte kortliks stilgestaan by die vraag of die kritiek op Mkhwebane nie bloot politieke opportunisme of selfs misplaaste politieke inkorrektheid is nie.

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: Twitter via ANA)

Wat eersgenoemde betref, stel die leier van die DA, Mmusi Maimane, waarskynlik in omgekeerde formaat die beste voorbeeld. Volgens minstens een gerekende kommentator en akademikus kan die DA skade ly weens sy manier om druk op pres. Ramaphosa uit te oefen oor die president se hersieningsaansoek oor Mkhwebane se verslag oor die Bosasa-geld wat Ramaphosa nie bevredigend aan die parlement verklaar het nie. Is die kritiek op Maimane in hierdie verband nie meer pragmaties as juridies beginselvas nie?

Oor die vraag of die storm om Mkhwebane se kop hoofsaaklik om die konsepte van politieke korrektheid, of inkorrektheid wentel, hang dit af van die begrip van wat hieronder verstaan word. As die definisies en verklaarde uitsprake in die Engelse literatuur as uitgangspunt gebruik word, is die antwoord saaklik – hou verby.

Hiervolgens sou politieke inkorrektheid min of meer beperk wees tot kritiek op sekere bepaalde kwessies wat gewoonlik deur aktiviste gedryf word, soos gay-regte, feministiese kwessies, klimaatsverandering, die jag van walvisse, en so meer. In die Afrikaanse nuusliteratuur word veral kritiek op politieke besluite, by uitstek wat met rassekwessies en gevestigde rasopvattings verband hou, as politiek inkorrek beskou.

Volgens ’n rubriek van Tim du Plessis het swart redakteurs (voor die afsetting van Thabo Mbeki) die sluise van politieke inkorrektheid oopgetrek, en is toe deur die wit redakteurs gevolg. Hoewel politieke inkorrektheid nie in beginsel ’n “regse” kwessie is nie, maak byvoorbeeld sekere bekende liberales/linkses se steun aan die regering se grondgrypplanne sonder vergoeding, en uitgesproke vereenselwiging met die stelling dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel (wat een ontken het, maar wel deur RSG se potgooi van die betrokke program gestaaf word) dat dit in die praktyk dikwels deur politieke oriëntasie gerugsteun word.

Maar word die kritiek op Mkhwebane deels deur politieke inkorrektheid gerugsteun?

Dit sal ’n heel voortydige aanname wees, behalwe miskien om sekere braaivleisvuurtjies wat deesdae so ’n belangrike simbool van politiek inkorrekte denke geword het.

Mkhwebane moet nou eers voldoende bewys sy is nie ’n vyfdekolonner nie.

Om ’n geleende slagspreuk in te span: “Mkhwebane must go” – ten minste voorlopig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

a ·

Sy was nog nooit bevoeg gewees vir daai pos nie. Almal kan sien sy is ‘n zuma ondersteuner

Gert van Wierdapark ·

Baie goeie ontleding van haar ondersoek “pogings” in haar pos as OB. Die logiese sal wees om bloot ” ‘n Trump TV Realiteitsreeks uitspraak vir haar te gee :” “You are Fired”!

Ore ·

Vreemd hoe amptenare soos sy eers onskuldig pleit,dan weer appel aanteken,dan eers met die een of organisasie bespreek,dan eers weer dit en dat en so gaan dit aan en intussen staak alle ondersoeke na dit wat belangrik is om hierdie piesang land weer ekonomies aan die gang te kry.Daar is nog geen woord gerep oor ondersoeke na diegene wat reeds in die Zondo kommissie van bedrog,staatskaping,omkopery ens by die naam genoem is nie.

Pieter ·

Daar sal niks van kom nie my pa het altyd gese die mense wat vir jou werk is maar so goed soos wat jy is

Maljan ·

Het sy oor n greintjie integriteit beskik, sou sy lankal bedank het.

Lerato ·

Daar verloor die DA my jarelange steun. Op hierdie kritiese oomblik wat Cyril en Pravin probeer red wat te redde is, verkla die DA hulle by die PP.
Ek was nooit n KP of VF ondersteuner nie, maar met hierdie tussen verkiesing gaan ek VF stem.

TN ·

Reg bly reg en verander nie skielik van gedaande omdat mens beter met die beste van twee euwels kan voortleef nie . Die hele ANC is vrot van bo tot onder .

Jimmy ·

Dit is die werk van die  opposisie  om regeringsleiers aan te vat, want dit hou die demokrasie gesond. Ons durf nie Ramaphosa en sy vrinne beskerm in die die hoop dat ons erger ellende in die agtergrond wil hou nie. Dit sal die lyding net uitstel. Dinge moet ha ‘n punt toe. En onthou, politiek is ‘n smerige besigheid. Jy baklei nie met fluweelhandskoentjies nie. Indien almal hand om die nek met Ramaphosa en Gordhan kuier mis ons die groter prentjie.

Donderstorm ·

So sakpas vir ramaposa ne dat sy nou gedeskrediteer raak.

Therese van Schalkwyk ·

Manewales wat herinner aan ‘n ou treffer: “Die Verhale van T.O. Honiball”.
Interessant genoeg stem die gewilde Hoofregter Mogoeng Mogoeng nié saam met die Konstitusionele Hof oor hierdie saak nie.

Jerry ·

Hoe verder politieke inkorrektheid oopgetrek word, hoe verder word blatante arrogante onetiese gedrag ingespan om dit asook professionele gedragsreels teen te werk! Dit is “tit for tat” met presies die teenoorgestelde van dit wat veronderstel is om te geld totdat niks meer sinmaak nie, behalwe om dit te verander van dit wat verkeerd was, na dit wat nou as reg geag word en voortaan sal geld! Kaders wie uitgevang word en herontplooi word gaan doodeenvoudig en onverskrokke voort met hulle agendas om alles wat as reg geag te word te bevraagteken en blatantweg te laat verander na verkeerd. Diegene wie in die ry staan om by vrot kaders oor te vat, is ook kaders wat uit dieselfde mandjie kom! Dit is n aanhoudende en herhalende proses, dit gaan nie ophou nie, want dit kan nie self stop nie!

Heinrich ·

Wat niemand egter oor ‘n woord rep nie, is die regters in die Konstitusionele Hof wat aan haar kant was. Alle berigte sê ‘meerderheid’ maar nie ‘almal’ nie. Dit beteken dat daar op daardie vlak ook mense is wat verkeerd dink!

Nugter ·

Die minderheidsbeslissing was geensins aan haar kant nie en ook baie negatief oor haar optrede. Die twee regters se mening was net dat die persoonlike kostebevel teen haar dit voortaan moeilik sou jon maak vir enige OB om sy of haar werk te doen. Hulle was net so verdoemend oor haar optrede.

marous ·

Hoeveel korrute regerings amptenarre is al in die tronk gefoeter deur die openbare beskermer se kantoor ? Presies nul …

Sarel ·

Word bekendgestel as Zumabekweni Tameletjie lekker taai en word moeilik verteer.
Die DA kan egter nie beweer sy is ombevoeg maar selfde tyd haar verslag oor Ramaphosa steun nie.Die Leierskap moet besef jy moet konsekwent wees. Sy is bevoeg of sy is nie.

Ag tog ·

Stem 100% saam jou Sarel … die DA weet nie wat hulle wi hê nie daarom dat ek met die vorige verkiesing VF gestem het

Ag tog ·

Laat sy gaan .. vir haar gaan dit oor die geld wat die BELASTINGBETALERS haar betaal elke maand

Anneleen ·

Net gisteraand lees ek raak dat die paneel wat moes besluit oor haar aanstelling vroegtydig ingelig was dat daar by geen hof in SA bewyse is dat sy as advokaat gekwalifiseer het nie. Ek dink hier wag ‘n vrot sweer wat gaan oopbars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.