Nuuskommentaar: Objektief oor Zuma?

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Is ’n rubriekskrywer wat die ANC en veral pres. Zuma feitlik blindelings veroordeel, en ander partye objektief of positief beoordeel, ’n objektiewe kommentator? Daar is verskeie faktore wat dit moeilik maak om ’n werklik objektiewe, onverbonde meningstuk te produseer, leesbaar getimmer en geplaas te kry. Gelukkig bied Maroela Media so ’n uitlaatklep.

Verskeie rubriekskrywers het al hul eie politieke voorkeure regstreeks of onregstreeks laat blyk. Niemand twyfel byvoorbeeld aan watter kant van die politieke spektrum Jan-Jan Joubert, Piet Croukamp, Max du Preez en ’n paar ander hulle bevind nie. Hulle word dikwels losweg as “lede” van die Seunse Weenkoor getipeer.

Min word gesien van rubriekskrywers wat duidelik “regs” is en mense soos prof. Koos Malan word gewoonlik net gehoor as sy bydrae sterk in sy vakgebied, en dus akademies feitlik neutraal, gestryk is. (Dikwels word iemand as “regs” gebrandmerk bloot omdat hy nie “links” is nie.)

Dan is daar diegene wat sake bloot vaksuiwer probeer ontleed, al bestryk dit ook verskeie vakgebiede. Elke rubriek word ’n navorsingsproduk, maar die skrywer probeer sorg dat die produk in suiwer, nie-akademikaanse Afrikaans opgedis word.

Maar word dit dan gelees? Verskeie tegnieke word ingespan om die lesers te “vang” om dit te lees, soos om die Maxiliaanse tegniek van ’n omstrede stelling voor te gooi, maar dan word werk van gemaak om daardie stelling wetenskaplik te ontleed, en desnoods te verwerp.

Maar het politieke objektiwiteit nie ontaard in ’n situasie waar alle politieke partye “objektief” beoordeel word, terwyl die ANC, en veral pres. Jacob Zuma, by voorbaat met die houtlepel bygedam word nie? Omtrent die ergste sanksie wat ander politieke partye in die land te beurt kan val, is om geïgnoreer te word. Dit is partye wat so klein is dat hulle slegs deur harde werk EN behoorlike mediakommunikasie af en toe die media haal. Baie van hulle is skuldig aan die afskeep van mediakommunikasie (en wanneer hulle dit wel doen, is dit dikwels irrelevant en ’n langdradige relaas van ’n partyleier wat lief vir sy eie stem is).

Maar soms lê die fout elders, soos ’n voormalige nuusredakteur van ’n groot koerant wat ’n party snedig aangesê het om die koerant van die party se verspreidingslys te haal. (Die betrokke persoon is ook ’n rubriekskrywer wie se eie politieke sentimente ver lê van die politieke party wat hy gesnoei het.) (Die persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense, meet persvryheid in ’n land onder meer aan die media se weergee van die politieke diversiteit in die land, en tans bevind ons ons soms in die vreemde situasie dat liberale besluitnemers, wat dus self in beginsel eksponente van persvryheid behoort te wees, juis die land se posisie op die persvryheidsindeks in die voet help skiet.)

Maar is ’n rubriekskrywer politiek bevooroordeeld as hy “outomaties” die ANC en Zuma so uitlooi?

Of is dit ’n geval van, met permissie aan ’n ander reeds afgestorwe politikus, waar gesê word daar is nie meer Zuma-grappe nie, want alles is die waarheid?

Of anders gestel, die ANC se “goeie storie” is ’n feëverhaal? Ja, daar is baie dinge waarop die ANC kan roem, soos die aantal HOP-huise wat gebou is. Maar die smaak verdamp ook gou as gesien word hoe die staat in werklikheid met afskeepbouwerk beroof is, die huise kort voor lank begin bars, en ander probleme.

So endemies is dit skynbaar dat dieselfde met die verbeterings en aanbouings by Nkandla gebeur het.

Pas is berig dat ’n tender vir die aanbring van verbeterde sitplekke op Prasa-treine op meer as R600 000 per toiletsitplek neerkom. Geskep word daar geskep, en iemand betaal die gelag. En wanneer sake ontspoor, kry enigiets van apartheid tot Jan van Riebeeck die skuld.

Met die jongste sage rondom die minister van finansies, Pravin Gordhan, en die Valke: Is dit nog enigsins moontlik om iets positiefs oor Zuma te sê? Of het ’n situasie ontstaan soortgelyk aan die laaste dae van die apartheidsera toe dit onder die algemene politieke druk baie moeilik geword het om iets anders as kritiek op apartheid te skryf? Selfs al het verskeie radikale, onder wie Julius Malema, al by geleentheid gesê alles van apartheid was nie net sleg nie.

“Objektiewe” rubriekskrywers troos hulle daaraan dat om Zuma en die ANC van die politieke ontleedtafels vir objektiwiteit af te haal en in die drom van veroordeling te gooi, in landsbelang is. Dit is immers die ANC en waarskynlik veral Zuma wat die land tot die randjie van rommelstatus afgesleep het.

Om ander partye meer objektief te beoordeel, wys daar is ’n deel van die politieke spektrum wat streef na ’n bedeling waar alle partye as gelykes onder die ontleedmes van beoordeling kan deurloop. Die ANC, veral onder leiding van Zuma, kan eenvoudig nie onder dié kriteria ingedwing word nie.

Veel eerder word die ANC as ’n entiteit op sy eie beoordeel. Die objektiewe ontleders sal erns maak daarvan om binne die ANC potensiële leiers te identifiseer wat die ANC tot ’n fatsoenlike party kan lei. Die ergste kritiek op hierdie potensiële leiers van hoop is dat hulle nie duideliker rug styfmaak in die ANC nie, maar almal wat die ANC ken, weet dit is politieke selfmoord.

En dan is daar die EFF.

Wat op dees aarde kan aangebied word as onverbonde beoordeling? Net soos daar skynbaar ’n stem van redelikheid uit die EFF opgaan, kom daar vier stemme wat dit in vlamme afskiet. Dink maar nuutverkose EFF-raadslede wat tydens hul inhuldiging kort daarna tydens die sing van die volkslied regstreeks ná die sing van die Nkosi-gedeelte gaan sit het. Die volkslied word deur die Grondwet gesag gegee. Tegnies beteken dit die lede het kwalik ná hulle hul ampseed vir getrouheid aan die Grondwet afgelê het, dit geskend.

Vir die ANC en die EFF (en ’n aantal kleiner radikale partye) lê ’n stywe bult voor om nie net by objektiewe Suid-Afrikaanse rubriekskrywers te kan aanspraak maak op iets anders as ’n tipe blinde veroordeling nie (waar die verwydering van Zuma ’n belangrike voorvereiste is), maar ook om ’n groeiende buitelandse afkeer van Zuma en die ANC om te keer.

Objektiewe kommentators het egter nog ’n laaste struikelblok ook. Die feit dat die ANC nou basies die “status” van “net sleg” bereik het (en die SAKP volgens die jongste nuus basies daarmee saamstem), beteken nie dat die ander partye “net reg” is en blinde steun verdien nie. In ’n demokrasie word vereis dat waghonde soos die media en burgerlike instellings ook húlle objektief beoordeel. Dit is veral belangrik in ’n land waar opnames toon dat baie opposisiekiesers nie soos veronderstel word vir hul beginsels stem nie, maar hul keuses pragmaties doen. Die kieser is byvoorbeeld sterk teen aborsies op aanvraag gekant, maar stem vir ’n party wat dit voorstaan. Of hy is ’n taalbul, maar stem vir ’n party wat nie Afrikaans gebruik nie.

Vir die objektiewe kommentaarskrywer is dit egter nie so maklik nie. Hoe toeganklik gaan sy skrywe wees vir ’n Afrikaanse koerant waarvan die redakteur in ’n hoofartikel geskryf het aborsie is nie meer deel van die openbare debat nie, en daar byvoorbeeld niks in sy koerant of streekkoerante berig is oor die openbare verhore wat oor die uitbreiding van die wet gehandel het nie?

Gelukkig het die betrokke redakteur se opvolger ’n heel ander trant ingeslaan, en het dit weer deel van die openbare debat geword.

’n Finale kwessie wat aangespreek moet word, is: Dit wat vir een rubriekskrywer objektief is, is nie noodwendig vir ’n ander, en veral ’n spektrum lesers, objektief nie. In Australië is ’n redakteur wat ’n klimaatontkenner is, en “objektiewe” rubriekskrywers oor die onderwerp kan maar vergeet om hul menings geplaas te kry. Waar sulke rubrieke wel geplaas word, word dit dikwels deur ’n vloedgolf vitrioel gevolg. Daar is verskeie onderwerpe wat deur objektiewe kommentators vermy word, bloot oor die wete dat dit in ’n onaangename slegsêery gaan ontaard.

Lesers behoort dankbaar te wees as hulle iets van ’n meningsvormer te lese kry wat werklik objektief en onverbonde geskryf is, en sake so aanbied dat hulle hul eie menings objektief kan vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Grassie ·

Ek het hierdie kommentaar aandagtig deurgelees maar kan nie uitmaak presies wat die skrywer probeer sê nie. Miskien is ek bloot onnosel.

Ouma mix ·

Wat probeer ou zumpie da doen? Hy kani lees of skryf nie?

Alida ·

Die pen en papier is net daar neergesit vir die foto. Hy het geen idee waaroor hierdie hele gedoente gaan nie.

KarooKlong ·

Nico, ek het jou berig ‘n tweede maal gelees en dit insiggewend gevind, ook met hier en daar nuwe perspektief.
Taalbul – skuldig

Jan maak n plan ·

Nico, ja ek lees wat jy te sê het maar die lank en die kory is dat Zuma loshande die slegste president is wat SA nog gehad het of seker sal hê. Die skade wat hy aangerig het is meer as al die presidente van die ou apartheids era saam. Die iu het net een doel voor oë en dit is self verrykking.

Pappapiet ·

Op universiteit leer hulle jou om, nadat jy ‘n stuk vinnig deurgelees het (om jou ‘n algemene indruk te gee van waaroor dit gaan), die leesstuk weer aandagtig deur te gaan om te sien presies wat die skrywer in gedagte het en dan kan jy daaroor verskil of saamstem en substansieer waarom jy verskil/saamstem (verwys na Grassie en Maria van Dieweeck).

Therese van Schalkwyk ·

Nico Strydom is reg … werklik objektiewe en onverbonde artikels bestaan nie eintlik nie.

Dis dalk waarom die woord “meningsvormer” in gebruik geneem is. Meeste skrywers verkeer onder die indruk dat die leser nie ‘n opinie van sy eie het nie, en in ‘n bepaalde rigting gestuur/gedwing moet word. Om nie eers te praat van die politiek korrektheid wat die hele samelewing in kettings het nie!

Wat president Zuma betref, hy word beslis verkeerdelik die sondebok gemaak vir al SA se probleme. Dinge wat al tydens almal se held, Madiba, se termyn ernstig verkeerd begin loop het, en waaroor die ANC as geheel swyg.

Wicus ·

Stem saam Therese.

Lees gerus Dr Wietz Beukes se boek wat lank voor die huidge bedeling geskryf is, hy het die huidige tendense baie goed raak beskryf.

Geen mens kan werklik objektief wees nie, in elk geval, hoe bepaal mens objektiwiteit? Ons almal beredeneer ‘n saak uit ons ervaring/opvoeding/emosie/……

Partykeer wonder ek of FW en sy regering nie die swakste nog was nie, hy het immers die huidige ‘onderhandel’.

Kobus ·

Wicus, dis reg so, niemand kan seker 100% objektief wees nie, wat wel so is, is dat hoe wyer mens belees is, en veral ook die praktiese ervaring het, hoe meer kan jy met gesag praat en objektief wees, ook in beredinering en debatvoering om jou standpunt te stel.

Theuns ·

Behalwe vir Zuma en sy ANC is dit moelik om opjektief te bly in die aangesig van politieke korrektheid en die aftakeling van Vryheid van Spraak. As dit net lyk of die kommentaar dalk n rassistiese onder toon mag he as jy tussen die lyne lees of iemand in sy eer gekrenk kan word, word kommentaar gesensor of verwerp! En gelyk aan wat ek hier bo skryf is daar niks so afskuwelik soos n bangat nuus redakteur nie!

KarooKlong ·

Theuns, ek moet met jou saamstem spesifiek oor die sensor en verwerp klagte.

hans brits ·

Zuma is n ster,almal het hom vals beskuldig,nooit skuldig bevind op enige saak nie.Die geld wat hy moet inbetaal op nkandla is deur die oppisisie georganiseer sodat hy skuldig moet lyk.Hy moet soos mugape aan bewind b ly tot die einde toe.

Johann ·

Objektief is relatief. Waar daar ‘n rokie is daar egter hoogs waarskynlik ‘n vuurtjie.
Dis interessant dat nuusblaaie van links na regs baie dieselfde deuntjie sing oor ons ‘agbare’ president. Een ding is seker – oor so 10 jaar gaan ons waarskynlik heel anders oor hom dink. Hy sal dan sekerlik gesien word as dié een wat verseker het dat die tans regerende party nie tot in ewigheid sal regeer nie – al glo hy die teendeel.
Was dit nou objektief of nie?

John ·

Ja Hans, dis wat die ANC soek, veral die president. Mense moet begin twyfel in hul eie oordeel en uiteindelik is hy die persoon wat so verontreg is. Sy vriende, die Guptas, ly ook onder vals beskuldigings. Selfs banke maak verkeerde afleidings en die Grondwethof. Hoekom vat die Guptas die pad in plaas daarvan om hul onskuld in die hof te bewys? Waar het alles begin?
O ja, toe die prez se vriende weer verkeerdelik aangekla is… en… Dis duidelik dat groot stof opgeskop word om almal se koppe deurmekaar te kry. President Mogabe is so ‘n engel en sy hele bevolking bly al in SA. Hoekom?

Hein du Plesssi ·

Wat ‘n lang oninteressante artikel. Dis moontlik van akademiese belang, maar definitief nie vir my bedoel nie. Ek is maar ‘n gewone ou wat nie verstaan hoe een man die land so kan gevangene hou nie. Die media kan maar bevooroordeeld wees, dis geregverdig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.