Nuuskommentaar: Objektiwiteit, positiwiteit, pessimisme en die verkiesing

Foto: Maroela Media

Daar kan geen twyfel wees nie dat ’n gees van somberheid, indien nie van absolute mismoedigheid nie, baie kiesers so kort voor die verkiesing beetpak. Plek-plek probeer rubriekskrywers, soos ook hierdie skrywer, die mismoedigheid verdryf, maar objektiwiteit oor wat werklik gebeur, ondersteun te gereeld die feite wat swartgalligheid aanblaas. Baie leserskommentare is soms ontstemmend swartgallig. Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Hervormde Kerk se Kommissie van die Algemene Vergadering, het pas in ’n herderlike skrywe aan lidmate van dié kerk waardevolle leiding aan die hand van Bybelse tekste verskaf.

Dit is of daar ’n doodse stilte oor die land se bekendste sonskynskrywers, soos Petro Hansen en Ilse Bigalke, neergedaal het. En dié wat nog die hand aan die kuberpen slaan, neig ook om die pen in die gal te wil doop.

Dit is nie net hierdie rubriekskrywer wat bekommerd is oor die mismoedige gees wat soos oggendmis uit die aarde opslaan en in die lug bly hang nie. Trouens, dit herinner meer aan die rookmis van vroeër wat soms in bitter koue wintersoggende stede binnegedring het ná die wind soggens uit die “verkeerde rigting” getrek het. Dan het hulle wat van brandhout (en trouens enigiets wat vir vuurmaak gebruik kon word) afhanklik was om ’n kannetjie pap gaar te kry, die kenmerkende rookgeur oor die rangeerwerf met sy stoomlokomotiewe geskep en oor die meer welvarende deel van die stede laat waai. En dan daar veral in die laagliggende dele soos ’n waas van donker mismoedigheid gaan parkeer.

Teen hierdie agtergrond skryf die Hervormde Kerk se Kommissie van die Algemene Vergadering in ’n herderlike skrywe aan lidmate die volgende:

“Die stemgeregtigde burgers van Suid-Afrika het op 8 Mei weer die geleentheid om na die stembus te gaan vir ’n algemene verkiesing.

“Oor die afgelope vyf jaar het baie dinge gebeur wat ons ten diepste raak en bekommer. Die aanloop tot die verkiesing gaan gepaard met voornemens van grondonteiening, beurtkrag, opspraakwekkende onthullings oor staatskaping en korrupsie, opruiende uitsprake en maatskaplike onrus. Plek-plek het dit omgesit in sinnelose geweld wat afbreek en verwoes.

“Juis in sulke omstandighede word ’n gelowige se vertroue in God beproef. Ons verbintenis om in Christus se voetspore te volg, word deur die gebeure om ons getoets. Dit is menslik om moedeloos te raak, en dit is maklik om die vinger te wys en te veroordeel.”

Het hierdie kerkverband nie nou juis die gees van mismoedigheid verder gaan stook nie? Een van dié gemeentes se kerkgeboue in Pretoria is juis onlangs deur oproermakers bestorm en enorme skade aangerig.

Die skrywe lui egter verder:

“Maar dit is nie wat ’n kind van God doen nie.

“Jesus leer ons: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel …

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Matteus 5:3, 9

“Paulus vermaan ons: Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Romeine 12:12, 17, 18

“Die kerk van die Here weet dat Hy regeer selfs wanneer daar onrus onder die volke is en aardse magte bose planne smee. Laat elke lidmaat van ons Kerk daarom in hierdie tyd met ons woorde en dade getuig dat ons in Jesus Christus glo as die Een wat ware hoop bied vir die wêreld.

“Moenie bang wees nie, maar wees altyd bly in die Here!

“Moenie kwaad praat nie, maar bid vir dié wat julle vervloek. Moenie opstandig raak nie, maar onderwerp julle aan die owerheid.

“Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Filippense 4:6-7

“Die Kommissie van die AKV bid dat die Here u sal seën en beskerm, dat die Here u genadig sal wees, en dat die Here u gebede sal verhoor en aan u vrede sal gee.”

Die kwessie van gehoorsaamheid aan die owerhede word tradisioneel in Suid-Afrika skerp onder die vergrootglas geplaas, en is tydens die vorige bedeling gereeld openlik uitgedaag deur steeds bekendes soos aartsbiskop Desmond Tutu, Allan Boesak en vele meer. Het hulle God se gesag en opdragte geïgnoreer? Of was hulle, soos die verweer gereeld gelui het, God meer gehoorsaam as die regering? In die proses is organisasies selfs gesteun wat van terreur gebruik gemaak het, soos om met landmyne op plaaspaaie kinders die ewigheid in te blaas. (Byvoorbeeld die tweejarige Nasie van Eck, lees Maroela Media hier.)

Met vorige verkiesings was daar juis uit die gesamentlike geledere van konvensionele kerke, soos die Interkerklike Raad van die Afrikaanse Kerke (NG Kerk, Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke), die AGS toe onder leiding van dr. Izak Burger, en ander wat gereeld vermanings aan die ANC onder leiding van die destydse president, Jacob Zuma, gerig het. Veral Zuma se gereelde uitlatings wat dikwels as godslastering beskryf is, het onder skoot gekom. In ’n verklaring deur die VGK, wat vermoedelik deurgeglip het omdat daar dadels van gekom het, is die ANC selfs gewaarsku dat die VGK sy kiesers formeel sou ontmoedig om vir die ANC te stem, sou Zuma nie ’n wag voor sy mond plaas nie. Zuma hét nié.

Vanuit verskeie Christelike oorde is die kerke geloof omdat hulle ’n profetiese roeping uitgevoer het. Dit strook daarmee dat, volgens ’n filosofiese benadering wat eens sterk op ’n paar universiteite ingeburger was, instellings soos gesinne, klubs, kerke en die owerheid tegelykertyd soewerein in eie kring was maar ook universeel in eie kring. So moet die owerheid byvoorbeeld ingryp as ’n gesin die kinders sou begin verniel, en daar was juis die afgelope paar jaar berigte oor sogenaamde gruwelhuise. Net so moet kerke ook ingryp waar die owerhede buite die mandaat van regerings sou optree.

Dit is ’n onderwerp op sy eie, wat al tot baie hofsake gelei het waar die grense van die staat en die kerk se gesag moeisaam bepaal moes word.

Dit beteken egter nie elkeen kan maar self norme gaan stel oor waar hy die staat gehoorsaam moet wees, en waar nie.

In wese kom dit daarop neer dat waar die staat volgens sy mandaat (die Grondwet en ander “riglyne” soos die internasionale reg) regeer, moet die burger die staat se gesag respekteer. Belastingbedrog sou dus verkeerd wees. Waar die staat onregmatig optree, of in die kerk se domein oortree, raak dit komplekser. Lidmate en selfs predikante wat laat vir kerk is, kry nie skielik die “gesag” om Sondagoggende teen ’n hoë spoed deur kerkgangerverkeer te jaag omdat iemand in die gesin voete gesleep het nie. Maar dieselfde lidmaat sal verskoon word as sy vrou onverwags in kraam gaan, mits hy steeds so versigtig moontlik bestuur.

’n Burgerlike organisasie soos Outa het dus besliste bestaansreg. Kerke het nie net die reg nie maar die plig om die staat te vermaan, en sekerlik ook om lidmate aan te raai om teen bepaalde partye te stem. ’n Meer algemene gebruik is om aan lidmate die algemene norme te skets oor waarvoor Christene behoort te stem, en waarvoor nie, met die lidmate wat dan self kies. (Die geykte voorbeeld is byvoorbeeld dat lidmate van kerke wat teen aborsies gekant is vir partye gaan stem wat dit sterk ondersteun – dus ’n tipe skisofreniese stem uitbring.)

Deur dié bespreking is dit wat eintlik op die tafel is, die gees van mismoedigheid, erg afgeskeep, maar dit sal aanstons weer, soos tevore ook reeds in dié rubriek, bekyk word.

’n Bekende skilder, wyle Vader Claerhout, het gereeld verduidelik hy skilder nie wat hy sien nie, maar wat hy voel. Baie van die politieke ontleders wat terselfdertyd rubriekskrywers is, is terselfdertyd ook woordkunstenaars. As sodanig sou hulle kwalifiseer as “gewete van die volk”. Onder die ou bedeling het sulke skrywers se boeke en ander werke gereeld onder sensuur deurgeloop. Sommiges, soos Breyten Breytenbach en wyle Barend J. Toerien, is deur die nuwe bedeling ontnugter, en het hul rol as gewete van die volk voortgesit. Ander het slawe van politieke korrektheid gebly, en waag dit nie om die huidige regering se onregte aan te raak nie. Trouens, mense wat wel hul kunstenaarsrol opneem, word gereeld verguis. Vanoggend op Netwerk 24 neem Leopold Scholtz vanuit ’n effens ander hoek ook die kwessie van Steve Hofmeyr en die Ghoemas onder die loep. Lees gerus sy rubriek onder die titel, “Dié sensuur was ’n dwase besluit” hier.

Intussen, tot die onderwerp weer hier onder die loep geneem word, put gerus uit die Bybelse aanhalings van dr. Wouter van Wyk soos hierbo weergegee is, waaronder Filippense 4:6-7: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andreas ·

Dankie Herman, mag die hoop en dryf na die goeie ons nooit ooit versaak nie, mag ons barometer ons bybly, dit wat jy aanraak ons rigtingwyser wees, ons bystaan om die negatiwiteite te oorkom, mag die boodskap ons dryf om positief ‘n verskil te kan maak.

Maar dan sal baie van ons, daardie oggend in Mei, wanneer dit vroegoggend op baie plekke alreeds koud is, in die kar tussen die rookmis van brandhout en steenkool wat oor sekere stede hang deur veg op pad stembus toe, party met sinus wat dit affekteer, ander se oë wat brand.

Johan Oosthuizenl ·

Ek sou ‘n lang relaas kon skryf, maar slegs ‘n paar woorde sê alles. Koelkop, beredeneerd, insiggewend, rigtinggewend. Kortom briljant. Baie dankie.

Grassie ·

Herman – dankie vir ‘n baie treffende en nodige bydrae. Ons land is in so ‘n verknorsing dat daar menslikerwys geen hoop meer is nie. ‘n Mens kan nie anders as om mismoedig te wees nie. Ons as gelowiges se enigste troos is dat ons weet dat ons Skepper die finale beskikker oor alle mense en volke se lot is en dat Hy ons nie goedsmoeds tot niet sal laat gaan nie. Daar is egter een voorbehoud – ons as volk moet terugkeer na God, nie net as tussentydse maatreël omdat ons in die nood is nie, maar in erns en opregtheid. Ek dink ons skiet nog ‘n bietjie te kort.

Judge Dredd ·

Optimisme/kommunisme/sosialisme/liberalisme is almal stelsels waar die realiteit van die dag geignoreer word om ‘n nuwe “Waarheid” daar te plaas deur misleiende persepsies en leuens.

Jerry ·

Eerlike objektiwiteit dui aan dat positiwiteit aan die orde van die dag is by die revolusioneres en dat pessimisme aan die orde van die dag is by die teenrevolusioneres. Die revolusioneres is magtig en “untouchable”! Die teenrevolusioneres is magtelose gyselaars! Gelowiges se geloof word getoets, al wat oorbly is Jesus se hoop en liefde!

Dries du Toit ·

Dankie Herman vir die hoop wat jy ons gee om uit die as op te staan. Jy is voorwaar n ou staatmaker. Mag die Here jou nog lank vir ons spaar. Jy is volksbesit

Hans Richardt ·

Aet 9(2) Grondwet 1996… Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.
Is daar na 35 jaar sonder apartheid, werklik enige rede waarom swart persone met wetgewing bevoordeel hoef te word bo wittes?
Volgens eenvoudige interpretasie behoort hierdie kategorie persone(swart) nou te bewys dat hul voorheen benadeel was /is.
Hoe kan mens regtig positief bly, want geen verkiesing kan hierdie wetgewing sommermeer verander nie.
Gewaande idees gekoppel aan “stem vir verandering” wat nie gaan verander nie!

Felix ·

Desmond Tutu het die woord reënboognasie gebruik, maar die kleure wou nie ‘trou’ nie (blend), ek het idee daar sal weer ‘n draai by Dulux of Rockgrip gemaak moet word, maar die uislag sal egter deur die politici aanmekaar getimmer moet word.

Gaitsigubib ·

Judge ek is een wat jou skrywes getrou volg. Ek sou egter nie optimisme by my/jou skrywe aanheg nie. Vir my self hou die lewe te veel voordeel in om swartgallig te wees. Ek verstaan as ander mense anders voel – Dit hang af deur watter misdaad jou lewe vergal is. Herman is ‘n fundi om ‘n punt tuis te bring by die leser en jou te laat met ure se nabetragting. Daar is beslis altyd iets om voor dankbaar te wees! Mag God ons dus vergewe as ons so bietjie negatief raak,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.