Nuuskommentaar: Oliekolonie: Tussen die reuse-olieboor en die verlepte windpomp

Grafika wat die plek van die ontdekking aandui. (Grafika: ANA)

Is die ontdekking van die Brulpadda-eksplorasieveld ’n ramp soos omgewingsaktiviste dit wil hê en daarom rede dat dit nie ontgin moet word nie, of weeg ander faktore swaarder, soos dat Suid-Afrika se ekonomie ’n broodnodige skop van agter nodig het? Gaan die besoedeling nie maar net elders plaasvind as Suid-Afrika se brandstofbehoeftes vereis dat dit ingevoer moet word as die land se eie reserwes nie ontgin word nie?

Verskeie omgewingskundiges en -aktiviste het sedert die ontdekking van gaskonsentraat in die Brulpaddaveld in die see suid van Plettenbergbaai aangekondig is, dié vonds as ’n reuseramp beskryf. Ander kan weer net maanskyn en rose van dié vonds sien.

Die aankondiging val saam met probleme met beurtkrag as gevolg van Eskom se gespartel. Eskom wek nog hoofsaaklik krag uit steenkool op, hoewel moderne tegnologie die besoedelingsomvang tot ’n mate beperk.

Ten spyte van ’n verbete veldtog van ontkenners is wetenskaplikes dit nou min of meer eens dat klimaatsverandering plaasvind, en dit byna net so eens is dat die mens ’n rol daarin speel. Let wel, nie alleen daarvoor verantwoordelik is nie, maar wel soms die belangrike hupstoot gee wat die baba uit die wieg laat val.

En dis boonop ook nie so nuut nie.

Nuwe navorsing dui daarop dat die uitwissing van sowat 56 miljoen inboorlinge oor ’n tydperk van sowat ’n 100 jaar dwars oor die Amerikas tot klimaatsverandering gelei het. Hulle is van siektes, ontbering en doelbewuste uitwissing dood. Dit het daartoe gelei dat ’n area wat ongeveer so groot soos Frankryk is, weer bebos geword het en veroorsaak het dat daar ’n reuse-afname van koolsuurgas in die atmosfeer was.

“Tot dusver het baie wetenskaplikes gemeen dat die Klein Ystydperk slegs deur natuurlike oorsake veroorsaak is,” sê prof. Mark Maslin van Londense Universiteitskollege (UCL).

Columbus het in 1492 in die Amerikas aangekom. Teen 1610 was daar so min kweekhuisgasse in die atmosfeer dat dit afgekoel het. Dit is vasgestel deur onder meer ysmonsters van Arktika te ontleed.

Slegs ’n daling van ’n tiende van ’n graad was genoegsaam om te veroorsaak dat oeste in Europa misluk. Kos kon egter van die Amerikas na Europa ingevoer word, wat die Europese bevolking in staat gestel het om uit te brei. Uiteindelik het dit daartoe gelei dat die Europeërs die wêreld kon domineer.

Ironies het ’n vroeëre manifestasie van die Klein Ystydperk (wat van 1400 nC tot 1850 nC gestrek het) die eerste bekende Europese kolonisasie van die Amerikas laat skipbreuk lei. Teen ongeveer 1000 nC het Noormanne van Groenland, wat pas gekersten was, hulle aan die kus van New Foundland begin vestig, en dit Vinland (Wynland) genoem. Destyds was die klimaat warmer, en kon ook in Groenland met onder meer beeste en verskeie gewasse geboer word.

Die klimaat het hierna egter baie kouer geword, en die Vikings het eers hul nedersettings aan die Noord-Amerikaanse kus verlaat, en toe ook Groenland. (Lees hier.) Vikings wat hardnekkig in Groenland agtergebly het, is van ontbering dood. Met die huidige klimaatverandering kan verskeie gewasse weer op Groenland aangeplant word, wat Groenland op koers tot ’n groter mate van selfregering geplaas het, en dalk in die toekoms onafhanklik van Denemarke kan word. (Lees hier.)

Die Brulpadda-vonds moet ook in perspektief gesien word. Die land wat die meeste olie lewer (2016 se syfers) is die VSA met 11,7 miljoen vate per dag. Rusland was tweede met 11,2 miljoen, en Saoedi-Arabië derde met 10,5 miljoen. Suid-Afrika met 2 000 vate per dag was in die 86ste plek. Die wêreld se totaal is as 80,6 miljoen vate per dag aangegee. (Lees hier.)

Suid-Afrika het in 2014 reeds 663 duisend vate olie per dag verbruik. (Lees hier.)

Dit beteken dat Suid-Afrika elke dag honderde duisende vate olie moet invoer. Of die olie (hoofsaaklik in die vorm van gaskonsentraat) van die Brulpaddaveld, of enige ander bron wat nog gevind of ontwikkel moet word kom, ingevoer moet word, iewers op aarde vind besoedeling weens ons energiebehoeftes plaas.

Is die werklike probleem nie eerder die aanvraag as die aanbod van fossielgebaseerde energie nie?

Die aanbod van olie sal nie oornag verdwyn nie. Nuwe tegnologie verseker dat meer vloeistowwe in die vorm van bruikbare brandstof deur die raffineringsproses herwin kan word. Tegnologie maak dit ook moontlik om dieper te boor (met die diepste oliebron sowat 13 kilometer diep), wat nuwe olie- en gasvelde ontginbaar maak. Hoe skaarser olie begin word en hoe hoër die pryse dus styg, hoe lonender word dit om dieper olievelde te ontgin. Aardverwarming wat ysplate by Groenland laat terugtrek maak olievelde ook bereikbaar vir ontginning. Skaliegas-ontginning het die beskikbaarheid van nuwe bronne in veral sekere lande, soos die VSA, in ’n ander liga geplaas.

Die groeiende beskikbaarheid van groen, hernubare energie, oefen reeds ’n effek op die olieprys uit. Lande wat groot oliereserwes het, gaan daarmee opgeskeep sit as daar ’n goedkoper en omgewingsvriendeliker alternatief vir olie op voldoende skaal beskikbaar is. Nuwe deurbrake met battery-aangedrewe motors en hibriede motors het al die olieprys afwaarts beïnvloed, maar die impak hiervan is nog gering.

Die vraag is egter of dit vir omgewingsbewustes nie beter sou wees om die ontwikkeling van alternatiewe te bevorder nie, as om die oliegate as’t ware te probeer toestop nie? Sou dit nie beter wees as die aktiviste op allerlei maniere sigbare druk op die regering en Eskom uit te oefen om Suid-Afrika se potensiaal aan skoon, hernubare energie aan te moedig nie, as om te baklei oor Suid-Afrika sy steenkoolreserwes verkoop probeer kry terwyl daar nog ’n mark daarvoor bestaan?

Die Wes-Kaapse waterkrisis, met die Oos-Kaap wat in sy nek blaas, toon dat daar nie veel van ’n alternatief is as dat kusgemeenskappe ontsoute seewater op groot skaal moet benut nie. Die Wes-Kaap en die land het enorme skade gely aan valuta deurdat die landbou met water gesnoep moes word ter wille van stedelike gebiede. (Lees hier.)

Een van die hoofredes hoekom ontsoute water in Suid-Afrika so duur is, is dat ons elektrisiteit so duur is, en as Eskom sy sin by Nersa kry, nog aansienlik duurder gaan word. Enkele ontsoutingsaanlegte maak nou reeds van sonkrag gebruik. Hierin speel prof. Erwin Schwella en ’n Franse hulporganisasie ’n leidende rol. (Lees hier.) Israel, die wêreldleier met ontsouting, se waterverbruik is nou sowat 60% van ontsoute water afhanklik. (Lees hier.)


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marius ·

Ek se ontgin kan die land ooit meer skade kry aswat klaar gedoen is deur die ANC en sy kaders.

John ·

… en ons dog CR wou die paddas braai… en nou gryp hy naarstiglik na die strooihalms waar die brulpaddas kwiek en kwaak…

Thinus ·

Daar moet egter onthou word, hierdie olie behoort nie aan Suid-Afrika nie, maar wel aan Total. Soos in November 80 toe die Salem deur BP (Trident) en Shell omdat Suid-Afrika nie meer van hulle rafinaderye gebruik maak nie, die Salem gekaap het en tydens die Bilderberg vergadering van 1978 opdrag gegee is, dat Vula die myn (kleef – en landmyn) aanslag moet verhoog met NATREF en SASOL as teikens sodat ons ekonomies moet verarm. ñ Beginsel wat deur die Rothchilds as voorvereiste tydens die gedprekke met die ANC in ballingskap gehad het. Wat lei tot die plasing van n Sasol aanleg in China en die stop van die ontwikkelling van SASOL in Suid-Afrika. Die Angolese olie wat deur Sonangol beheer was word nou aan China gegee. Ons steenkool word en staal word aan Indië verkoop. Wat was die doel van die stigting van BRICS? So die ontdekking van olie is nie n ekologiese ramp nie, maar n ekonomiese ramp wat ons meer afhanklik maak van Wêreldbank lenings wat grond verdeling as n voorvereiste stel om by die uraan by Beaufort Wes en die skalie gas in die Karoo kan uitkom.

Stripes ·

Thinus, jy vat die gedoente mooi saam en gaan haal dit waar die dinge begin het.

Wiehan ·

Vir die sogenaamde omgewings bewustes: Moet ons terug gaan na die oertyd waar ons liwer sterf van koue en honger. Die oorgrote meerderheid mense van vandag kan nie hul eie voedsel kweek nie,
Ontgin die gas sowel as die aardgas in die Karoo maar doen dit op ‘n verantwoordelike manier. Hooplik sal dit genoeg werks geleenthede skep en dan kan die mense wat nou na misdaad gedryf word om te oorleef (volgens al die KENNERS) darem ‘n werk kry en die land kan dan mos weer misdaadloos wees.
Hoekom doen die omgewings bewustes niks aan al die gemors wat ons waterbronne, see en land so bemors nie.

Rupert Ashford ·

Want dit gaan nie regtig oor die omgewing nie, maar oor geld en politieke mag.

Jerry ·

Die mens het nog altyd sy behoeftes eerste gestel en dan by die gevolge van besoedeling en klimaatsverandering aangepas. Dit sal dus so aanhou totdat die mens nie meer sal kan aanpas nie. So ja, die oliefonds gaan in SA se ekonomiese behoeftes voorsien, dis gewis, net soos daar orals elders in die wereld olie ontgin word wat in die mens se behoeftes voorsien. Die gevolge van besoedeling en klimaatsverandering gaan egter beslis nie in die mens se behoeftes voorsien nie. Inteendeel hoef jy nie n kenner op die gebied te wees om te besef watse katastrofiese gevolge lug en waterbesoedeling vir mens, dier en plant inhou!

marco polo ·

Misdaad is makliker as om te werk. Dink jy regtig due misdadigers gaan eerder begin werk as daar werk is?

Herman ·

Die grootste probleem is te veel mense. Maar ai tog, almal wil tog soooo graag n ou paar simpel pienk, swart, bruin, watookal voetjies hê.

LouE ·

Stem met jou saam, Herman. Ons het dit ‘n onvervreembare reg gemaak om kinders te maak en aan te hou maak sonder tel en sonder om om te gee waar die hulpbronne vandaan gaan kom. Tot ons daardie ding onder die knie kry is die wêreld op pad ondertoe.

Vannessa ·

Die storie van klimaat verandering weens die kamstige uitwissing van Noord-Amerikaanse indiane deur Westerlinge is ontbloot as n blante anti-blanke propaganda stuk.

Herman Toerien ·

@ Vannessa, verskaf asb besonderhede van jou bron, wat ek aanneem ook ‘n portuuroorsig deurstaan het. Ek dink nie ons bronne verwys na dieselde gebeure nie. Jy verwys na Noord-Amerika, en my bron sluit Noord- en Suid in, asook die Wes-Indiese eilande. As ons net van Noord-Amerika praat sal die syfers nie klop nie, want Noord-Amerika het waarskynlik minder mense gehad as wat dood is, veral as Meksiko nie bygetel word nie.

Josef du Toit ·

Dankie Herman vir die verwysing na ontsouting van seewater. Dit is mynsinsiens ‘n onderontwikkelde hulpbron waaraan meer belegging gerus gewy kan word.

Therese ·

Wanneer ‘ontbossing’ én ook ‘bebossing’ skadelik vir die omgewing is, besef ‘n mens hóé diep in die moeilikheid Moeder Aarde en haar biljoene materialistiese, gemaksugtige, bewoners is.
Dis duidelik lank reeds verby omdraaipunt, soos Wiehan (hierbo) sê. Vertel nou vir Europeërs hulle moet die winters sonder verhitting oorleef, of die Aussies moet die somers sonder lugverkoeling aandurf.

Rupert Ashford ·

Herman, impliseer jy dat elektrisiteitspryse sal daal hoe meer sg hernubare elektrisiteitsopwekking bronne gebruik word? Wys vir ons ‘n land met lae pryse, hoe % hernubares, en geen subsidies asb.

Herman Toerien ·

@ Rupert. Lees gerus vandag se nuusverklaring van Agri SA oor die landbou se kapasiteit om hernubare krag op te wek, en waarvoor die aansoeke wag om goedgekeur te word, maar sloer.

Adam ·

Herman, baie dankie vir ‘n uiters insiggewende artikel. Ek hoop regtig dit word waardeer vir die inhoud daarvan en nie afgeskiet agv emosie nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.