Nuuskommentaar: Oliepryse wat die motor op dampe laat ry

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrikaners hou gereeld ’n ogie oor die wisselkoers van die rand teen die dollar, asook waar die internasionale olieprys trek. Die kombinasie hiervan bepaal immers hoeveel ’n mens vir ’n tenk petrol gaan opdok, en lei die regering in die versoeking om nog verdere belasting op brandstof te hef.

Maar al hierdie dinge gebeur nie in ’n lugleegte nie.

In die middel van 2014 was die Brent-olieprys nog meer as $110 per vat. Teen die einde van Januarie 2016 het dit by $27 per vat gaan draai. Oorproduksie was die vernaamste oorsaak.

Juis om oorproduksie te voorkom, is die Organisasie vir Olieproduserende Lande (Opul) gevorm. Onderling is kwotas bepaal wat die olieprys sou opjaag. In die Noordelike Halfrond se winter is die pryse verder opwaarts gedwing deur ’n groter vraag omdat baie kragsentrales olie gebruik het.

Hierdie situasie bly egter vir eers vloeibaar. Waar Frankryk weens sy baie kernkragsentrales ’n uitvoerder van elektrisiteit is, is die leweringskapasiteit vanjaar weens instandhouding en ander probleme die laagste in tien jaar en sal dalk krag moet invoer. België, ’n netto-invoerder van elektrisiteit, mag dalk vir die eerste keer gedwing word om op sy nood-reserweopwekking terug te val – die gebruik van gasaangedrewe kragsentrales.

Byna sonder uitsondering sou ’n onbeheersde styging gekeer word deurdat een of meer van die Opul-lande “in die geheim” die kwotas sou omseil deur meer geld te probeer maak deur meer olie op die mark te stort. Verskeie kere het die damwal gebreek en die ander het ook gou munt probeer slaan.

Oor die algemeen is egter daarin geslaag om die pryse baie hoog te hou.

Die oliebedryf beleef egter ’n erg veranderende omgewing. Bewuswording oor klimaatsverandering laat die mensdom al meer soek na skoon, en verkieslik, hernubare energie. Duitsland en verskeie Europese lande het reeds enorme sonkragplase. Boonop word die sonkragpanele steeds goedkoper namate nuwe tegnologie ontwikkel word en massaproduksie kan begin plaasvind. Nederland gee weer die toon aan met windmeulens wat krag opwek – ook ter see. Al meer doeltreffende elektriese motors of hibriede word aan die mark beskikbaar gestel.

’n Tyd word voorsien dat die vraag na olie skerp kan begin afneem, en dan sit olielande nog met groot reserwes wat hulle sonder kwotas al te gelde sou kon gemaak het.

Duur olie maak dat moeilik ontginbare olie ook binne bereik is, veral namate nuwe tegnologie ontwikkel word. Die VSA het weer ’n baie groot olieproduserende land geword toe skalie-hidrobreking moontlik geword het – teen ’n koste van $50 per vat.

Pas is aangekondig dat die grootste olieveld nog in die VSA in Texas ontdek is, en wel in ’n gebied waar voorheen vrugteloos volgens konvensionele metodes gesoek is.

Volgens die jongste berigte het olie met 8% tot sowat $50 per vat gestyg nadat Opul opnuut tot ’n vergelyk gekom het. (Die jongste beskikbare syfer is $51,84, nadat Opul dit gister nog selfs as $43,87 aangegee het.) Daar is besluit om die gesamentlike produksie van 33,7 miljoen vate per dag met 1,2 miljoen vate te verminder. Vooraf is bereken dat die hoofrolspelers saam sowat $500 miljard kan verloor as die jongste ooreenkoms sou misluk.

Daar is onsekerheid of die besluit soos voorheen ’n drastiese impak gaan hê. Opul-lande verteenwoordig deesdae saam maar 35% van die wêreld se olieproduksie, hoewel Rusland, wat nie ’n lidland is nie, ook sy produksie met 600 000 vate per dag gaan inkort.

Of die ooreenkoms gaan hou, is ’n ope vraag. Iran het voor die sanksies weens sy kernprogram sowat 4 miljoen vate per dag uitgevoer. Met die sanksies is dit tot 1 miljoen vate per dag verminder. Daarna is dit weer tot ongeveer 3,8 miljoen vate per dag herstel. Iran is dus baie traag om nou weer in te kort, en daar sal na verwagting druk wees op ander lande om ’n groter aandeel van die inkorting op hulle te neem.

Dit, terwyl die twee grootste produsente, Saoedi-Arabië en Iran, in wese teen inkortings gekant is. Saoedi-Arabië meen die oliebedryf sal selfregulerend optree, en inderdaad het baie rolspelers weens die laer pryse die aftog geblaas.

Die nuwe ooreenkoms word as “broos” beskryf, maar ’n styging is min of meer onafwendbaar. Kenners verwag egter nie dat dit tot veel hoër as $55 per vat sal styg nie.

Suid-Afrikaners kan slegs maar soveel moontlik brandstof probeer bespaar. Verder moet alles in die stryd gewerp word om te keer dat die rand waarde teen die dollar verloor. Hernubare energie moet sover moontlik bemagtig word soos ondernemings wat alkohol vir brandstof opwek.

Maar dit alles verg ’n regering wat sinvol regeer – iets wat onder die huidige president nie moontlik lyk nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johan ·

Maar dit alles verg ‘n Regering wat sinvol Regeer. Baie mooi en baie goed gestel. Die vraag wat ek af vra, is wat is die regte WAARHEID agter die die Retrol/Diesel en Ruolie in SA” Hoeveel Ruolie word werklik op ‘n maandlikse bases ingevoer? Word daar nie dalk ‘n doek oor ons oë getrek nie. Ons het mos SASOL wat nie meer ‘n Staats Instelling is nie. Die vraag wat my deurentyd ontwyk is, vervaardig SASOL nie AL die Petrol en Diesel wat ons in SA verbruik asook vir die uitvoer na die Buurlande nie vir ‘n Apple en ‘n Uie nie, en dan word die Prys gekoppel aan die Arabiere se prys per Vaatjie Brent Ruolie? Ek wil voorstel dat wie ook al iets weet begin om ‘n ondersoek te begin, want ek dink hier is ‘n baie groot Koripsie en Bedrog spul.
Enige iemand anders wat iets weet, lewer komentaar. Ons word gerook en verneuk tenkoste van baie ander!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.