Nuuskommentaar: Olimpiese Komitee bewys – almal wil nie ‘woke’ wees nie

(Foto: Behrouz MEHRI/AFP)

Die Internasionale Olimpiese Komitee (OIK) het bevestig dat geen atlete in die opkomende Tokio Spele ʼn politieke standpunt op die podium of veld mag inneem nie.

Dit volg nadat dié komitee ʼn meningspeiling onder meer as 3 500 atlete oor die hele wêreld gedoen het wat oorwegend gemeen het sulke politieke standpunte op die podium of die veld is onvanpas.

Ná George Floyd se dood in Mei 2020 het die Black Lives Matter- (BLM-)beweging groot momentum gekry – daarmee saam het die aantal politieke standpunte wat deur sportlui op die veld ingeneem word ook vermeerder.

Die politieke standpunte wat wel ingeneem is en as “aanvaarbaar” geag word, bevoordeel baie beslis die linkerkant van die politieke spektrum. Weens die BLM-beweging het die anti-polisie-, anti-Amerika- en anti-Westerse sentimente deur die dak geskiet. So ook is die absolute valsheid verkondig dat Amerika sistemies rassisties is.

Sommige spelers het gekniel of hul vuiste in solidariteit met onderdrukte swart mense in die lug gesteek. Sommige spelers het die name van slagoffers van die sogenaamde sistemies rassistiese polisie op hul truie gedra. Hierdie bewegings wat aanvanklik in Amerika begin het, het uiteindelik ook na ander dele van die Weste en wêreld oorgespoel – so ook na Suid-Afrika.

Diegene wat aan dié dade van protes deelgeneem het, is as braaf beskou. Húlle is bereid om in opstand teen die stelsels van sistemiese onderdrukking in Amerika te kom.

Die enigste probleem hiermee is dat hierdie spesifieke dade van protes eintlik baie “hoofstroom” is – ten minste as ʼn mens kyk na die narratief wat Hollywood, die establishment-media en politieke elite uitdra en bevorder. Stellings dat Amerika sistemies rassisties is en die polisiemag ontbind moet word, is nie randfiguurmenings nie – dit is presies die menings wat dié elite-instellings huldig. Dit beteken dat diegene wat dieselfde menings huldig presies by die hoofstroomnarratief inskakel. Hoe braaf is dit dan nou regtig om die instellings van kultuur, media en politieke elite klakkeloos na te praat?

Die establishment-media, politieke elite en Hollywood het almal daarin gedeel om dié narratief ongelooflik “gewild” te maak. Hulle het al hul instellings van kommunikasie en invloed gebruik om die boodskap oor te dra. Sodoende het dit, veral in die Westerse wêreld, gelyk asof dit die meerderheid se mening is. Die sportsterre wat aan die protes en narratief deelgeneem het, is ook verhef tot helde. Diegene wat dit teengestaan het, is in booswigte verander.

Sodoende was dit maklik om die idee te kry dat álmal so voel. Weens die omvangrykheid en invloedrykheid van bogenoemde instellings is die boodskap opgeblaas tot een waarin almal deel.

Die Olimpiese Komitee se verbod op politiekery en protes in die komende Spele bewys egter die teendeel. Dit het weereens bewys dat Amerika woke is, maar regtig nie die ganse wêreld nie. So ook is dit nie eens die hele Amerika nie, maar eerder die klein groepie elite wat linkse instellings van vermaak, media, kultuur en politiek beheer. Die besluit van die IOK is die absolute toonbeeld van die krag van die stille meerderheid.

Die meeste mense wil regtig nie hul sport verpolitiseer hê nie. Hulle beskou sport juis as die een plek waar hulle kan ontspan, vir ʼn rukkie van die politiek kan ontsnap en net die suiwere talent en vermoëns van die beste sportlui ter wêreld geniet. Die meeste mense stel nie daarin belang om politieke en aktivistiese standpunte op hul platforms in te neem nie. Die ganse wêreld is nie, en wil ook regtig nie so woke en aktivisties wees soos wat die elite in Amerika is nie. Hulle wil beslis ook nie hê dat die skadu van polariserende politiekery die genot van sport verswelg nie.

Die linksgesinde monopolie op establishment-instellings van vermaak, media en kultuur wek dikwels die indruk dat die meeste Amerikaners, en Westerlinge, verskriklik links en polities aktivisties is – of ten minste behoort te wees. Die waarheid is egter dat die meerderheid eintlik polities gematig is en ook net in vrede met hul lewe wil aangaan.

Dit beteken dat die stille meerderheid nie so naby aan dié monopolie se menings en narratiewe is as wat ʼn mens sou dink nie. Tog gaan die linksgesindes voort daarmee om hul menings en narratiewe militant op mense af te dwing deur die vreestaktieke van politieke korrektheid en kansellasiekultuur.

Daar is egter ʼn groot diskrepansie tussen dít wat gepropageer word en die meerderheid se menings en optrede. Hoe meer militant die elite via die sosiale geregtigheidsbende in die afdwing van hul narratief gaan word, hoe groter gaan dié gaping ook word. Veral wanneer dit al hoe meer gekoppel gaan word aan geweld en plundering wat verlede jaar met die BLM-proteste ʼn hoogtepunt bereik het.

Daar is ʼn groot kulturele teenreaksie en terugslag op pad in die Weste. Die hoofstroomnarratief wat aan mense afgesmeer word, word al hoe meer radikaal en sodoende ook al hoe verder verwyder van gewone mense se sienings. Dit beteken dat dié radikale propaganda nie vir ewig kan aangaan soos wat dit tans die geval is nie.

Dit voel dikwels asof die wêreld mal geword het. Die goeie nuus is dat dié malligheid van die hedendaagse wêreld grootliks beperk is tot klein groepies bestaande uit elite- en radikale lede. Die meerderheid stem nie daarmee saam nie en stel ook nie regtig daarin belang nie. Al wat die meeste mense dus moet doen, is aangaan met hul lewe.

Die een ding waaraan ʼn mens wel kan en moet vashou, is dat dié kulturele teenreaksie op pad is. Ons gaan nie vir ewig vasgevang wees in dié nagmerrie van ʼn woketopia nie. Uiteindelik gaan die radikale linkse instellings van kultuur, vermaak en politieke elite vergaan – hul invloed en ondersteuning is reeds besig om te taan. Daarom is dit belangrik om intussen te verseker dat daar staande en suksesvolle alternatiewe instellings is: instellings van vermaak, kultuur en politiek wat ook die ander kant se menings weergee en nié deur radikale randfiguurmenings verswelg is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ettienne ·

Ai Monica, kon jy nie maar eerder “teenstrydigheid” of selfs net die eenvoudige woordjie “verskil” gebruik het, in plaas van die walglike anglisisme “diskrepansie” nie???

pieter ·

Die ware sport manne en vroue raak skaars ,
Die nuwes wil politieke sport bedryf ,julle weet wie.

Boon ·

Die trant van hierdie artikel verpolitiser juis sport. Dis jammer dat Maroela Darren medlen, en nie nie die oorgrote stand punt van sportlui ondersteun dat GEEN politieke stallings toegelaat word nie.

LANA is ELANè ·

Fantasties, want met elke kniebuiging het sport ‘n menigte lot toeskouers verloor wat geen behoefte het om ooit weer in veral SA sport, belangtelling te toon nie. Kyk maar na SA rugby, kyk maar na SA krieket elke keer wat mense hoor nog ‘n borgskap is ontrek juig menigte mense want omdat sportsterre hulself tot politici verhef het, het sport ‘n wrang smaak in die toeskouers se monde gelaat. Hulle is toe nie sulke groot gode soos hulle gedink het hulle is nie ~ politiek hoort nie by kerk en sport nie!
Nou sal ek dalk na die Olimpiese spele kyk want ek het nogal gedink die propaganda masjien gaan weer hardwerk aan daai kant, om “white guilt” hoog op die agenda te plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.