Nuuskommentaar: Olly, Olly en nou’s daar bollie

Foto: Twitter

Bloemfontein se historiese sandsteenstadsaal is verwoes, maar veel meer skuil hieragter as bloot ’n arbeidsgeskil.

Die afbrand van Bloemfontein se historiese stadsaal is ’n ramp. Dit is ’n historiese gedenkwaardigheid wat saam met die ou Presidensie, die appèlhof en die hooggeregshof deel van Pres. Brandstraat se sandsteenjuwele uitmaak.

Die stadsaal se aandeel hierin het gisteraand finaal tot ’n einde gekom toe stakende werkers die stadsaal aan die brand gesteek, en die dak ingeval het om finaal die gordyne te laat sak oor ’n ryk historiese erfenis.

Maar dood het ’n oorsaak, en hierdie geval is geen uitsondering nie. Ná verlede jaar se verkiesing, en die skynbare breekspul tussen premier Ace Magashule en die destydse burgemeester van Mangaung, Thabo Manyoni, is Olly Mlamleli as burgemeester aangewys.

Die breekspul tussen Magashule en Manyoni verdien net kortliks ’n bietjie agtergrond. In 1994 is Lekota as Vrystaatse premier aangewys. Behalwe dat Lekota sedert die Robbeneilanddae ’n vertroueling van die destydse pres. Nelson Mandela was, was hy ’n soort kompromis tussen die leier van die ANC se Noord-Vrystaatse tak, en die Suid-Vrystaatse tak. Die twee takke het beide volle provinsiale status geniet, maar moes ná die 1994-verkiesing saamsmelt. Magashule was die Noord-Vrystaatse leier, en klaarblyklik onder die gewone ANC-lede oorweldigend die gunsteling om premier te word. Mandela het telkens ingegryp om te keer dat Lekota vervang word, en trouens Magashule effektief gedwarsboom. Dié praktyk is onder pres. Mbeki voortgesit, hoewel Lekota toe reeds minister van verdediging geword het, terwyl die Vrystaat die een premier na die ander gekry het, waarvan sommiges redelik rampspoedig was. Selfs die vermaarde Winkie Direko het ernstige foute begaan.

Onder die presidentskap van Jacob Zuma is die leisels losgelaat, en Magashule het premier geword, en ook een van Zuma se sterkste ondersteuners sodat hy as een van die lede van die premierliga bekend staan.

Manyoni se loopbaan was kwalik minder kleurvol. In 1994 is hy as een van die direkteure aangestel in die destydse departement van ekonomiese sake. Kort voor lank is die openbare beskermer versoek om ondersoek na die departement in te stel, en ’n verdoemende bevinding het gevolg. Die departement is ontbind. Nie net Magashule is gepos nie, maar verskeie van die senior personeel, waaronder Manyoni, is herontplooi. Manyoni is vervolgens as hoof van die toerismeburo en daarna van die Vrystaatse dobbelraad aangestel. Oral het hy ongunstige verslae van die ouditeur-generaal op die lyf geloop. Hy was raadslid van Mangaung se stadsraad, en sou in ’n stadium onderburgemeester word, maar die pos is nie deur die provinsie goedgekeur nie. Hy is toe as stadsbestuurder in Qwaqwa aangestel waar die ouditeur-generaal se ongunstige verslae hom gevolg het.

Hierna is hy sonder die nodige kwalifikasies, eers as direkteur en toe uitvoerende direkteur by Mangaung aangestel voor hy munisipale bestuurder geword het. Daarna het hy LUR geword, onder meer van polisie, maar die provinsiale tenderraad het ook onder sy toesig geval. Kort voor lank het die een toegekende tender na die ander in die hof beland, waar dit tersyde gestel is. In een geval het die hof self die tender her-toegeken.

En toe word hy uitvoerende burgemeester van ’n stad wat intussen ’n metro geword het. Omdat Bloemfontein self te klein is om ’n metro te regverdig, is gebiede soos Soutpan by ander afgeneem en by Mangaung geplaas. Die metro-status is een van die kernprobleme van wat nou ontvou.

Manyoni, wat ondervoorsitter en dus tweede in bevel van die ANC was naas Magashule, wat die voorsitter is, is ná verlede jaar se verkiesing as parlementslid ontplooi, maar sedertdien herroep.

En toe kom Olly.

Olly het nie veel gras onder haar voete laat groei om omstrede te wees nie.

Sekerlik die ernstigste fout wat sy gemaak het, was toe sy onlangs in ’n raadsvergadering ’n siedende aanval op wit mense geloods het. Sy het onder meer gesê wit mense is ryk omdat hulle wit is en swart mense is arm omdat hulle swart is. Daarby het sy gesê wit mense is verneukers. Omdat baie mense oordeel dat dit haatspraak is, is sy deur verskillende instansies, waaronder Solidariteit, by al wat moontlike forum of instelling verkla. Die DA het haar ook by die speaker verkla, maar Solidariteit het haar by die Menseregtekommissie en die Gelykheidshof verkla. Ander het klagtes by die SAPD gelê.

Die geskiedenis sal oordeel hoe sy die SAMWU-staking hanteer het. Dié staking het aanvanklik, volgens die inskrywings op SAMWU en Cosatu (waar dit geaffilieer is) se webblaaie nie werklik oor lone gehandel nie. Sake soos korrupsie, nepotisme en die ontplooiing van ongekwalifiseerde kaders in poste, is genoem. Ook die aanstelling van meer as ’n honderd mense as “politieke adviseurs”, meestal ongekwalifiseerd vir die werk, maar werkloos nadat hulle in 1996, en selfs voorheen, nie die paal gehaal het as raadslede nie.

Die loonkwessie was eintlik ’n terloopse kwessie wat oor die permanente aanstelling van tydelike werkers sou handel, maar waar werkers dan nie salarisse kry in ooreenstemming met Mangaung se metro-status nie. Die senior amptenare, asook die burgemeester, haar komitee en die raadslede word almal in ooreenstemming met die metrostatus vergoed.

Mangaung het aanvanklik onsuksesvol probeer om die staking as onwettig te verklaar. Dit is wel later onwettig verklaar, maar het voortgeduur.

Intussen ly die inwoners erg onder die staking. Vullisverwydering vind baie ongereeld plaas, al word buite-kontrakteurs ook ingespan. Buite-kontrakteurs is reeds baie vaardig hiermee omdat hulle baie gereeld in Bloemfontein moet instaan. Dié keer word hulle egter geïntimideer en hul voertuie beskadig.

’n Klag wat al meer word, is die riool wat in talle strate afspoel, en nie aangespreek word nie.

Mangaung se geldsake is duidelik in ’n krisis, al word inwoners van die teendeel verseker. Verskeie projekte is eenvoudig gestaak omdat die kontrakteurs nie vir hul werk betaal is nie en daar is selfs al voertuie verkoop om skuld te verhaal.

Die afgelope week het Bloemwater Mangaung se waterkrane toegedraai weens agterstallige skuld. Slegs 30% water is deurgelaat. Kort voor lank was verskeie woonbuurte sonder water. ’n Noodvergadering is met Bloemwater gehou.

Terwyl die krisis ontlont is (wat ’n afbetalingsooreenkoms van agterstallige skuld insluit) skryf Olly op haar Facebookprofiel dat die inwoners hulle nie moet steur aan die “vals berig” dat Bloemwater die toevoer beperk nie. Die rekening is ook “in good standing” en daar is geen krisis nie. Volksblad het die kluitjies taktvol uitgewys.

Op die oomblik weerspreek berigte oor Olly se rol en die uitbreek van gister se moleste mekaar. ’n Verklaring sal later vandag uitgereik word, maar ná haar Facebook-inskrywing oor die waterkrisis sal min mense aanvaar vandag se verklaring sal noodwendig die waarheid bevat. Die twee weergawes is dat baie van die stakers glo dat ’n ooreenkoms met Mangaung bereik is, en dat Olly die ooreenkoms die middag namens die munisipaliteit sou kom teken. Volgens hierdie weergawe het sy besluit om nie die byeenkoms te onderteken nie, en bloot stokkies gedraai.

Volgens die ander weergawe sou sy kom om deel te neem aan ’n vergadering waar weer probeer sou word om ’n oplossing te vind. Sy het hiervoor ook nie opgedaag nie.

Dr. Elisabeth Snyman-Van Deventer, raadslid van die Vryheidsfront Plus, het soos volg op die gebeure en dit wat daartoe aanleiding gegee het, gereageer: “Die staking duur reeds langer as ʼn maand voort met dienslewering en ander noodsaaklike funksies wat feitlik tot stilstand gekom het. Dit het net begin lyk of die staking op ʼn einde is toe die burgemeester se aksies skynbaar direk tot die hernude chaos aanleiding gegee het.”

Danksy die munisipaliteit se geldelike verknorsing (wat beteken belasting- en heffingpligtiges word al swaarder belas, en dit vir al meer mense onmoontlik gemaak word om finansieel te oorleef) kan ’n oplossing vir die staking baie moeilik gevind word. Die saak word gekompliseer deurdat Olly deur die Magashule-faksie ontplooi is. Cosatu is onlekker met Zuma, en Zuma is ook by die onlangse Meidag-vieringe van Cosatu in Bloemfontein uitgejou. Zuma het stert tussen die bene laat spaander sonder dat hy ’n spreekbeurt gekry het. Die staking neem dus ook die karakter van ’n magspel aan.

Niemand kan egter die vandalisme en intimidasie wat met die staking gepaard gaan, goedpraat nie. Die verlies van die stadsaal is ’n nasionale ramp, en mag diegene wat in verband met die brandstigting gearresteer is, en skuldig bevind word, lank agter tralies vertoef. Daar is ook vroeër tydens die staking probeer om die stadsaal aan die brand te steek.

Onder die lesse is dat dit ’n groot fout was om Mangaung metro-status te gee, terwyl die klein stad in die hartjie van ’n ekonomies spartelende gebied geleë is. Die enigste sinvolle argument ten gunste van die metro-status is dat dit tot die ontbinding van ’n baie oneffektiewe distriksmunisipaliteit gelei het. Tweedens, as die ouditeur-generaal probleme uitwys, moet dit aangespreek word en nie soos ’n spook van verslag tot verslag onaangespreek bly kleef nie. Om gebreke soos te min vaardigheid aan te spreek deur werk aan ongekwalifiseerdes, op enige vlak, te verskaf is deel van die probleem eerder as die oplossing.

Jare lank het baie inwoners van munisipaliteite oor die land heen geargumenteer dat munisipale rade nie ’n plek is om politiek te bedryf nie. A-politieke belastingbetalersverenigings het in baie stede en dorpe bestaan.

Onder die huidige grondwet is die hele regeringstelsel van eerste tot derde regeringsvlak ontwerp om deur politieke partye oorheers te word.

Die politieke wil in veral die ANC ontbreek egter om toe te sien dat dié regeringsvlak behoorlik funksioneer, soos pas weer deur die verslag van die ouditeur-generaal bewys is.

Die ANC moet dringend besin of hulle Olly as burgemeester kan bekostig. Nie alleen vertroebel sy rasseverhoudinge nie, maar sy verdiep ook die kloof tussen Cosatu en die ANC.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johanna Botha ·

SA gaan op in vlamme alles verkrag, geplunder en verniel …blink toekoms !

Alida ·

Raak onmiddellik van hierdie vrou ontslae!! Hoe kan sy nog enigsins dien as Burgemeester !!!

Pietman ·

Goeie stuk, baie dankie.

Hoe wonderlik sou dit wees as sekere Cosatu lede openlik die DA ondersteun en sodoende die gaping tussen Cosatu en ANC gebruik om stemme van ANC te vat in volgende verkiesing.

Boerseun ·

Ek is ook ongelukkig…. wonder wat sal gebeur as ek nou maar die plakkerskamp oppad werk toe aan die brand steek… dis mos nou die norm in die nuwe Suid Zimbabwe waarin ons leef… of sal ek nou weer voor ‘n kommissie gedaag en beboet word….

Leendert ·

Coligny, Bloemfontein se stadsaal, en dan kan mens maar al die stanbeelde in die land, die klaskamers van die universteite, geboue, jy noem dit, wat die afgelope 23 jaar deurgeloop het, tel, dit wat verwoes is, ook as gevolg van die ‘pyn’. Als agv onbevoegheid van die kaders. En dan dink ons, ons is nie onder beleg deur die gegriefdes, die @#fall en wat als nie. Oorlog?

Maar moet ook nie Zuma en sy meelopers, die onbevoegdes in die staatsinstellings en elders vergeet nie, die FinMin Gigaba, en, en, en. Ook nie die nuwe OB nie, als word tot in die grond transformeer, dit wat nog bogonds werk, ook die Reserwebank en Handelsbanke in die privaat sektor wat nou in hul visier is, word geteiken. As Cyril die dag by Zuma oorneem, soos mense glo, dan sal daar net rook en as wees om Radikaal Ekonomies te Transformeer. So Ciryl kan maar sy vliegtuig land, en die rit op ‘n fiets met pap wiele verder aanpak.

Jakobus ·

Terwyl Rome brand, meeste stadsrade se finansies in chaos is, ook hul dienste, storm Cyril Ramaposa voort met sy verkiesings slagspreuk dat daar moet vinniger transformeer moet word, en dan gorrel hy nou en dan iets oor Radikale Ekonomiese Transformasie. Plaas dat hulle aandag gee, daar waar die brande is, maar dit het mos niks met hom uit te waaie nie, of los hy dit vir Zuma, terwyl Zuma die fundi met ‘n brandpoel is.

vrikie ·

My een breinsel vra nog heeltyd die vraag hoekom munisipaliteiete as ‘n politieke entiteit bedryf moet word waar die regerende party kan roof en steel en laat afbrand soos hulle wil.
Munisipaliteite behoort as ‘n besigheid bedryf te word waar die verskillende dienste uitgekontrakteer word op ‘n jaarlikse basis en waar die inwoners besluite kan neem nie op getalle nie maar op wat die beste vir almal kan wees

Danie ·

Die brandstigters behoort van niks minder as hoogverraad aangekla te word nie.

Lizl ·

Verander asseblief Bloemfontein se naam. Pragtige dorp wat nou in `n riool sloot verander verdien nie die naam Bloemfontein nie. As dit Magetla`shope is sal dit nie so seermaak.

Sipho ·

Hau Miesies, hoe kan die Miesies nou so praat? Bloemfontein is my tuisdorp en ek is trots op my dorp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.