Nuuskommentaar: Om die land te red, het ons hoop nodig

Duisende mense neem deel aan die optog teen klimaatsverandering in Wellington, Nieu-Seeland. (Foto: Nick Perry, AP)

Bykans geen berig, artikel of rubriek in Europa kan nou oor die toekoms handel, of dit staan nie in die konteks van die dringende huidige ophef oor klimaatsverandering nie.

Die oorspronklike opskrif van ’n rubriek in die Nederlandse koerant Trouw lui: “Om die wêreld te red, het ons hoop nodig.” Ongelukkig verhoed ’n betaalmuur dat baie voornemende lesers dit wel kan lees.

In Suid-Afrika het ons egter meer dreigende probleme, soos wat blyk uit die getuienis voor die Zondo-kommissie – en hoop is nie al wat ons nodig het om dit op te los nie. Volgens die minister van omgewingsake dui ’n peiling daarop dat minder as die helfte van alle Suid-Afrikaners al ooit van klimaatsverandering gehoor het.

Dit sal interessant wees om te sien watter persentasie Suid-Afrikaners al ooit gehoor het van die bedreiging wat korrupsie vir Suid-Afrika se toekoms inhou. Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie enige land, nie net Suid-Afrika nie, van sy toekoms.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. (Foto: AP)

En so kan ’n mens die faktore lys wat dreig om Suid-Afrika van sy toekoms te beroof, faktore soos staatskaping, wanadministrasie, baantjies vir boeties wat kapasiteit en vermoë na verskillende “planete” verplaas, “regstellende aksie” en nog ’n grote – planne vir grondgryp sonder vergoeding. ’n Mens gaan stellig bladsye vol van bedreigings skryf.

Om na die opskrif terug te keer, naamlik dat hoop nodig is om ons te red.

Hoewel die woord “hoop” meer as 100 keer in die NetBible voorkom, en daar in sy verklarende gedeelte meer as 100 konteks-uitlegte is, word die woord “hoop” nie oral baie gunstig in Christen-geledere aanvaar nie. Om op iets te hoop, klink erg fatalisties in ’n omgewing waar “glo” die botoon voer. Die verwantskap tussen glo, en geloof, is immers duidelik. “Hoop” wil ook nie lekker kleef aan begrippe soos “sekerheid” en dus “geloofsekerheid” en “geloofsvertroue” nie.

(Die verklarende gerief op die Afrikaanse Bybel op die internet kon aanvanklik nie vanoggend aan die werk gekry word nie. Die hoop het egter nie beskaam nie, en dit het geblyk erg stadig te wees. “Hoop” word 139 keer in die 1983-vertaling genoem.)

In 1 Korintiërs 13:3 lees ons egter: “En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.”

Israel is, soos Suid-Afrika, ’n waterskaars land. Dit is dus nie vreemd dat die woord “hoop” dikwels in die Bybel in die konteks staan van reën nie, wat destyds noodsaaklik vir goeie opbrengste van koring en gars was nie. Boonop het die klimaatstoestande ook die voorkoms van ander peste bepaal, soos drie sprinkaansoorte wat mekaar “opgevolg” het om die oeste en weiding te verteer. Vandag gebruik Israel enorme hoeveelhede ontsoute seewater en behandelde afvalwater, waarvan ’n groot deel vir landbou-besproeiing.

Foto: Willem de Lange

Sonder hoop op ’n afdoende reënval sou die Israelse boere nie waag om koring en ander gewasse te plant nie. Dieselfde geld vir Suid-Afrikaanse boere.

Maar soos gesê, Suid-Afrika se probleme is lank nie tot klimaat en reënval beperk nie. Net soos die landbouers deur kundigheid, soveel moontlik voorafkennis en tegnologie die risikofaktore probeer uitskakel, so moet almal saamstaan teen misdaad en maatskaplike verval, en in geloof hoop dat dit suksesvol sal wees.

Die groot vraag is natuurlik hoe groot die prys gaan wees wat die land vir die verkiesing, twee keer nogal, van Jacob Zuma as president van Suid-Afrika sal moet betaal.

As ons die Bybel as riglyn wil gebruik om die land reg te ruk, kan ons nie ‘n enkele teksvers vat en opblaas tot dit heeltemal buite verband is nie. Salomo lê byvoorbeeld baie klem op die belangrikheid van intellek, maar ook van goed toegeruste verantwoordbaarheid. Die verskillende rigters het verskillende aspekte van deugde ingespan om Israel te rig. Gideon se geloofsvertroue staan skerp uit.

Om die land te red kan die een ding nie gedoen, en die ander nagelaat word nie.

Daarom kan die klimaatskwessie nie as minder belangrik geag word nie. Die Here het immers die natuur goed geskep, en die mens opdrag gegee om goed daarna om te sien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pietertjie ·

Dis eintlik baie maklik om hoop in Suid Afrika te hervestig: skaf net regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging af. Dis al.

Judge Dredd ·

Openbaring in die Bybel se ook dat mense met swere sal rondloop en hongersnood sal heers. Daar baie storms en oorloe sal wees.

So wie se dit sal nie die gevolg van globale verwarming wees nie?
En watter mens sal kan verander wat God bepaal het gaan gebeur?

Keuses ·

Nogal ‘n ironiese artikel. Hoop se tragiese toekoms is reeds 26 jaar gelede vasgemaak. 26 Jaar gelede het SA se “verligtes” klaar besluit en klaar gekies, en daarmee het hulle Hoop ondermyn en vernietig deur alles op ‘n goue skinkbord weg te gee. Die land is geplunder en kan nie meer terug geneem of herstel word nie. Die land is nou 100% deel van Afrika. Daarom is hoop futiel. Die slimmes besef hierdie feit en daarom emigreer hulle.

Danie Venter ·

Hoop vir/in Afrika? ……. Volgende vraag asseblief……

Leon ·

Vergeet eers van aardverwarming. Kry eers die regering om ‘n kopskuif te doen en die land te red. Nie die ANC nie, want dit is huidig al wat tel. Die land en die mense beteken niks vir die ANC nie, slegs die ANC. Die dag as ons Suid Afrika gered het kan ons kyk na aardverwarming, as daar nog iets van die land oor is.

Anoniem ·

Aikona Herman, vandag moet ek van jou verskil. Ons hoop al die afgelope 25 jaar, dis nou eerder tyd vir optrede.

sweis ·

Ek stem nie saam nie net n dwaas sal glo dat daar hoop is vir suid afrika al hoop wat bestaan is dat die anc regime ons n tuisland gee waar ons onsself kan regeer,vry van korrupsie, rassisme en onderdrukking.

Gert van Wierdapark ·

Die a en see het ook seker gehoop hul sal die land kan regeer, maar het ongelukkig toe in hul hoop getrap!!

Marius ·

Orania, nog baie klein, skep hoop. Daar is twee keuses, immegrasie of ‘n eie staat. Mense moet self gaan kyk wat 1800 mense in Orania regkry. Orania is die enigste klein dorpie in SA met ekonomiese groei. Ek glo op die ou end gaan die 80 / 20 % beginsel uitspeelt. 80% mense gaan immegreer of in SA bly en 20 % Afrikaners gaan in die Noord Kaap ‘n tuiste vind

James ·

Moeilik om hoop te skep as jy uitgesluit word en BEE verkies word.

aj ·

Waar oorbevolking die OORSAAK van ál die bg. probleme is … kan klimaatrampe die ‘hoop’ bied vir die langtermyn regstelling?

“Kom aardverwarming … kom red ons!”

Rupert Ashford ·

As die klimaatskrisis waaroor deesdae so aangegaan word regtig ‘n krisis was, sou die regte projekte in die regte streke en lande aangepak en aangespreek word. Die teikens bly egter hoofsaaklik Westerse lande waar die bevolking alreeds goed gebreinspoel is oor hulle “skuld” en eintlik gaan dit net oor hope geld wat betaal moet word…en dan verdwyn daardie geld. Waar het ons dit al vantevore gesien?

Therese van Schalkwyk ·

Jy is só reg.
Lees toevallig onlangs dat parkeerspasies “te smal geraak het”- haha!
Die luukse, al groterwordende gevaartes wat daar parkeer moet word, wys hóé begaan die mensdom met die klimaat is.

Merlin Houzet ·

Onthou ons almal hoe Yahueh die Israelite water gegee her volgens Eksodus 17

Ja wat ·

Daars hoop as jy dit in die buiteland gaan soek,nie in Afrika nie!
Afrika sal tot met die einde van dae derdewerelds bly met Rommel status as Troon.

Marthinus Willemse ·

Moenie die elite, wat die land en die ANC regeer, verwar met die gewone burgers, ongeag velkleur en taal, nie. Gewone swartmense is nét so ongelukkig oor die regering en ANC se manier van dinge doen; hulle is ook gekant teen die verkoop van ons geboortereg aan die Guptas; hulle lewe meer onder die swaard, as ons wittes.

Waarom stem hulle dan nog ANC? Waarom het baie wittes aanhou NP stem onder apartheid? Waarom het baie Israeli’s aanhou Likud stem, al maak Netanyahu hulle ongelukkig? In die Sowjetunie is die rustelose volk in lyn gehou deur die KGB.

Praat met die gewone swartpersoon, en jy sal besef dat hulle geintimideer en afgedreig word, en in die townships regeer die tsotsi’s. Hulle leef in vrees. Dit is diegene wat uit die townships uit beweeg, en nou middelklaslewens begin lei, wat nou opstaan en veg. Dit is waar ons hoop lê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.