Nuuskommentaar: Om die reëls te verbreek

Argieffoto

Argieffoto

Wanneer ’n Amerikaner en ’n Suid-Afrikaner sou peins oor iemand wat die reëls verbreek, sal dit waarskynlik twee uiteenlopende beelde optower. Die Amerikaners, volgens die Rule breaker awards, beskou die reëlverbreker as die persoon wat die wêreld ’n beter plek help maak omdat hy of sy hoofsaaklik deur innovering iets nuuts bedink het. Soms is dit iets heel eenvoudig. Die enigste verklaring oor hoekom iemand anders nog nie voorheen daaraan gedink het nie, is dan die konsep dat mense reëls nodig het en dat reëls die lewe voorspelbaar maak.

Die deursnee-Suid-Afrikaner sal waarskynlik aan ’n persoon dink wat die reëls vertrap om op die een of ander wyse skelm te wees. In ’n land waar die moraliteitskrisis onder meer tot hoë vlakke van misdaad lei, met Suid-Afrika wat nie net die verkragting-hoofsetel van die wêreld is nie, maar ook die twee identifiseerbare bevolkingsegmente huisves wat die ergste onder moord deurloop – die bruin mans van die Wes-Kaap (meer as 90 per 100 000 per jaar) en die boere en hul gesinslede met ’n koers wat gereeld tussen byna 100 tot ongeveer 130 per 100 000 per jaar aangegee word – is dit nie verrassend dat dié persepsies rondom misdaad gevorm word nie. En dan is daar nog kwessies soos Nkandla en Suid-Afrika se algemene kreeftegang op die korrupsie-persepsie-indeks onder pres. Jacob Zuma se presidentskap.

Nie almal in die VSA is ewe instemmend oor wie almal by die “goeie ouens” ingesluit word as dit by reëlverbreking kom nie. In ’n nuwe artikel deur John Stossel (van onder meer Fox News), Breaking the rules, word die (Amerikaanse) regering as die vyand voorgehou. Sy artikel staan duidelik in die konteks van die groeiende impak van die Amerikaanse regering wat, volgens hierdie denkrigting, al meer ’n kloof tussen burgers en hul burgerlike vryheid slaan.

Maar deel die gemiddelde Amerikaner dieselfde opvattings as die deursnee-Suid-Afrikaner, naamlik dat die reëlverbreker iemand is wat sake negatief beskou?

By geleentheid het Rhoda Kadalie in een van haar rubrieke geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

In die era ná 1994 was die omgewing inderdaad erg deur politieke korrektheid gereguleer. Tim du Plessis, destydse redakteur van Rapport, het in ’n stadium geskryf hoe ’n goeie ding dit was dat swart redakteurs uit hul politiek korrekte groef getree het, en toe ook deur wit redakteurs gevolg is. Dit beteken hierdie beergreep wat politieke korrektheid op die media gehad het, het die presidentskap van Nelson Mandela oorleef, maar ’n belangrike rol gespeel om Zuma in staat te stel om oudpres. Thabo Mbeki se bewind te laat sneuwel.

Die verband tussen die “uittrede” uit politieke korrektheid en die bewindsoorname is eers later mooi besef. Dit was nie lank nie, toe het van die einste swart redakteurs gewaarsku oor ’n moontlike bloedbad as wit mense so sou voortgaan om die ANC te kritiseer. Pas het verskeie swart redakteurs verskoning gevra dat hulle so krities teenoor die regering, en ook teenoor Zuma was. (Maroela het gister hier meer hieroor berig.)

Natuurlik is daar onder linkse / liberale meningsvormers ’n verset teen die sloping van politieke korrektheid. Dink maar aan die onlangse skerp ystervarkpen-geveg tussen dr. Leopold Scholtz en Max du Preez oor of die ANC ooit doeltreffend deur die SAKP beheer is. Max het die kous behoorlik oor die kop gekry. Die begrondings waarop die “politiek korrekte” in stand gehou probeer word, het behoorlik ’n Jurassiese omvang aangeneem.

Tog is daar groot vordering. Waar ’n skrywer wat vroeg in die nuwe bedeling gewys het op die krake wat op die terugkeer van ’n rasgebaseerde regering sou lei, se manuskrip plaaslik afgekeur is “omdat dit ongeloofwaardig sou wees” (die teks was in ooreenstemming met eie ervaring en koerantargiewe), is daar intussen boeke uitgegee waarvan die bemarking grootliks geskoei is op die feit dat dit politiek inkorrek is (en dus by implikasie die feite stel soos dit is). (Die afgekeurde boek, Cry Freedom too, is sonder ’n stoornis in Amerika uitgegee.)

Tydens die vorige bedeling is ’n norm geskep wat selfs deur sekere kerklui gesteun is, dat terreuroptredes teen die regering “regverdig” is weens die “boosheid van apartheid”.  Van regeringskant is uiteraard geredeneer dat hierdie verbreking van reëls anargie aanblaas. Met die Kommissie vir Waarheid en Versoening het regeringslui oor hul voete geval om onkunde te pleit oor Vlakplaas se bedrywighede met die implikasie die betrokke persone het die reëls verbreek.

Dit is daarom ook geen wonder nie dat daar vandag steeds groepe is wat meen dis die regte ding om te doen om die ANC buite aanvaarde demokratiese en grondwetlike prosesse tot ’n val te probeer bring. Die argument is wesenlik dat die skoen nou net van voet verwissel het – met die ANC wat al heelwat meer rassewetgewing op die wetboek geplaas het as die vorige regering.

Op die middelgrond is daar die Solidariteit-beweging wat tydens ’n beraad gewaag het om die woord “self” te gebruik, en vervolgens deur klassieke hoernalistiek verdag gemaak is oor konsepte wat nie bespreek is nie, of bloot uit die gehoor genoem is. Die Solidariteit-beweging speel bepaald buite die spelreëls van die linkses / liberales / kommuniste / ANC, maar sorg versigtig dat dit wat hy aanpak, binne die raamwerk van die Grondwet en goed belyn met die internasionale reg is.

Omdat dit nie so lekker strook met die Vryheidsmanifes waarmee die regering nou ten koste van die Grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan op loop is nie, speel die Solidariteit-beweging, wat die regering betref, buite die reëls. Wat die Solidariteit-beweging betref, speel die regering buite die grondwetlike en ander reëls.

Inderdaad, met opposisiepartye wat (al weer) die regering hof toe sleep om klarigheid oor ongrondwetlike sake te verkry, Solidariteit wat internasionale beregtiging in die Renata Barnard-saak soek en die regering se rassisme internasionaliseer, en AfriForum se internasionaliseringsaksie van onder meer plaasmoorde, lyk dit of die regering die een is wat werklik buite die reëls “speel”. Die probleem is net, die regering soek nog die oorsaak vir sy eie mislukkings by enige ander persoon, instansie of amper 400 jaar gelede se afgestorwene(s).

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae