Nuuskommentaar: Om Die Stem te sing

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

‘n Storm het losgebars omdat Steve Hofmeyr Die Stem tydens die Innibosfees saam met nog sewe FAK-liedjies gesing het. Het Steve reg of verkeerd opgetree?

Op die oog af lyk dit of Steve oorweldigende steun van die meerderheid mense wat op die sosiale media regeer kry.

Die eerste saak wat in gedagte gehou moet word is dat Die Stem nie ‘n verbode lied is, of opgehou het om te bestaan na ‘n deeltjie daarvan in die nuwe volkslied opgeneem is nie. Dit is ook nooit tot haatspraak verklaar nie.

Net so het die oorspronklike Nkosi Sikelel’ iAfrika nie as lied opgehou bestaan toe dit deel van die nuwe volkslied geword het nie.

Trouens, daar is verskeie volksliedere in Suid-Afrika wat weens omstandighede nie meer ‘n amptelike status het nie, maar ook nie verbode liedere is nie. Hieronder tel die volkslied van die ZAR, Kent gij dat volk vol heldenmoed, en die volkslied van die ou Vrystaatse republiek, Heft, Burgers, ‘t lied der vrijheid aan. Selfs God save the Queen was in ‘n stadium die Suid-Afrikaanse volkslied.

Die post-1994-bedeling het as ‘n skikking na ‘n vredesakkoord tot stand gekom. Dit raak nie net die volkslied nie, maar talle ander aspekte soos plekname, straatname, die amptelike tale en die plekkie in die son wat elkeen van hierdie bane van die reënboognasie sou moes geniet.

Diegene wat so gou is om Steve en sy aanhangers te kritiseer, moet in gedagte hou wat die belewenisse was sedert die skikking geïmplementeer is. Nie net is plekname op groot skaal verander nie, maar daar is ‘n alewige twis om ook Pretoria se naam te verander. Peter Mokaba het graag gelei met die sing van Kill the Boer, Kill the Farmer tot daarin geslaag is om dit, te midde van baie weerstand, tot haatspraak verklaar te kry. Sedertdien het die ANC-regering Mokaba op elke moontlike denkbare manier vereer, onder meer deur ‘n Fifa-wêreldbekerstadion na hom te vernoem.

Nie baie versoeningsgesind nie.

Hierna is Julius Malema en sy singery van ‘n soortgelyke lied volmondig deur die ANC gesteun, tot dit deur die gelykheidshof tot haatspraak verklaar is. Hierdie uitspraak is deur heelwat bekendes gekritiseer.

Die ANC het uiteindelik hieroor voor die appèlhof oor die saak geskik.

Nie alles wat ‘n mens wettig mag doen, is goed nie.

Die sleutel lê daarin dat die gesindheid en omstandighede van ‘n lied wat nié as haatspraak kwalifiseer is nie, gesing is. Die Stem maak beslis deel van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis uit, en die Innibosfees is ‘n kunstefees wat deel van die kultuur uitmaak – nie ‘n politieke platform nie.

Tegnies het Steve en sy aanhangers niks verkeerd gedoen nie.

Dat dit so goed onder die mense teenwoordigheid afgegaan het, dui egter ook daarop dat die regering moet kennis neem dat baie Afrikaners voel hulle word soos vreemdelinge in hul land behandel. So lank hierdie persepsie nie behoorlik aangespreek word nie, sal Die Stem ook by ander geleenthede opklink wat nie so gemaklik as kultuurgeleenthede beskryf word nie, soos politieke vergaderings. En daar is die doel daarvan waarskynlik juis om dit as proteslied aan te wend.

‘n Volkslied bly net ‘n lied as dit nie in die harte van mense leef en jubel nie. Iemand gaan nie deur geslaan of gedreig of sleggesê te word, lief word vir ‘n volkslied as hy soos ‘n vreemdeling in sy eie land voel nie.

Trouens, daar is ‘n voorstel in die parlement bespreek om die SAUK so ver te kry om sesuur soggens en sesuur saans die volkslied te speel.

Maar dan moet ook werk gemaak word daarvan om ‘n minister wat ‘n petisie oor plaasmoorde as “goedkoop propaganda” afmaak behoorlik aan te spreek. Versoening kom van twee kante, en elkeen moet sy plig daarmee doen.

Moenie afbreek en aftakel en dan ongelukkig wees oor die verguisde nie al te lekker saam dieselfde note vat nie.

Lees ook:
Herrie bars los ná Steve “Die Stem” sing by Innibos-fees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Reinette Rautenbach ·

Viva Stefaansie! Ek dink hy het bolls gehad om Die Stem te sing. En soos tereg gese, niks daarmee verkeerd nie.

Lilian ·

Buiten die Oorwinningslied is daar seker nie nog ń lied soos Die Stem wat my hart so warm laat klop en trots Afrikaans laat voel nie. Ek is trots op Steve en trots op Afrikaans. Ons voorvaders het bitter hard gewerk, groot smarte verduur en beslis niks verniet op ń skinkbord gekry nie. Hoekom sal ons dit alles net wil afskryf, omdat ons bang is vir mense wat fyngevoelig is en vir ons gevoelens vere voel? Daar is plek in ons land vir almal se stukkie geskiedenis en erfenis, vir ons sin ook!

Gustave Schoombee ·

Steve Hofmeyr is n Legend !!! DIS ONS LAND DIS ONS TROTS . Die stem is n lied van ay mense en sy pragtige land , geen haatspraak !!! En ons is hier om tebly !!!

Elizna Rademan-Radebe ·

‘n Swak poging om die sing van die apartheids-volkslied te regverdig.

Jy noem dat Afrikaners soos vreemdelinge behandel word, maar jy kan nie verder van die waarheid af wees nie. Die skikking van 1990/1994 het tot gevolg gehad dat die demokraties-gesinde partye agteroor moes buig vir die handhawing van blanke ekonomiese mag in Suid-Afrika. Die afgelope 20 jaar het nie veel verandering gesien in die ekonomiese posisie van die meerderheid landsburgers nie, terwyl rykdom onder blankes net vermeerder het.

Afrikaanse skole, universiteite en kerke was toegelaat om voort te bestaan, ten spyte van institusionele rassisme in hierdie inrigtings. Meeste plekke wat ‘n Afrikaanse naam gekry het tydens die koloniale era, dra nogsteeds amptelik die Afrikaanse benoeming. Baie dorpe en stede het ‘n inheemse naam gehad voor Afrikaners dit benoem het, soos bv. Pretoria/Tshwane, Louis Trichard/Makhado ens. Baie was dus gedoen om Afrikaanse en blanke belange in die algemeen te akkommodeer en om hul koloniale erfenis te behou.

Die sing van Die Stem is ‘n vorm van musikale kolonialisme en soos ek geskryf het in my kommentaar op die nuusberig, ‘n anachronisme. Die erfenis van Afrikaners sluit ook 20 jaar van bestaan en deelname in ‘n oop en nie-rassige samelewing in. Die sing van Die Stem is dus ‘n handeling wat getuig van die nie-deelname en verwerping van demokrasie, gelykheid en regverdigheid. Hierdie terugruk na die verlede behoort nie plek of tyd gegun te word in ons nuwe bestel nie.

Jacques ·

Elizna… Die Stem is NOOIT geskrywe deur Langenhoven VIR apartheid nie! Dit vorm selfs deel van die FAK. Dit IS deel van my geskiedenis as afrikaanssprekende en deel van die land se geskiedenis! Dit is absoluut geen vorm haatspraak nie en is n pragtige lied…

Die lied maak niemand seer nie

Mense soos jy wat wil afbreek aan iets so mooi maak wel seer

Gaan lewer kommentaar oor jou president se liefde vir haatsprekende liedere

Demokraat ·

Haai Elizna, jy het baie argumente maar ongelukkig het bykans nie een daarvan bodem nie en moet dit dus as niksseggend afgemaak word.

Die kort en die lank is maar net dat die blankes, en die Afrikaners in die besonder, sedert demokratisering, gepeper word met omgekeerde apartheid en alle vorme van rassisme so asof daarop besluit is in 1994.

Natuurlik kan niemand enige vergrype onder die apartheidsbewind goedpraat nie maar is dit tans nie nodig om die blankes aaneen te wil verguis vanweë die verlede nie. Wat het dan nou geword van al die mooi woorde en gedagtes oor versoening ?

Is jy verbaas dat daar op vreedsame wyses verset vanaf die blankes begin deurskemer – nee jy moet nie verbaas wees nie want die ANC-regering is besit om die land te verniel en is daar nie net verset van die kant van die blankes nie, maar ook van duisende swart en bruin mense.

Monica Geringer ·

Give the man a BELLS! Dit sal altyd ons Volkslied bly. Dit is oorspronklik. Ons deel ons nuwe volkslied met iets rediculous soos 5 of 6 ander Afrika lande. Hulle kon nie eers iets oorspronklik kry nie….

Elize ·

Mooi Steve,jy maak my dag.Jy was nie bang op ons Afrikaner harte bly te maak nie.Wat is verkeerd as jy Die Stem sing.Die nuwe lied is in ons kele afgedwing.Ons het mos nie n se gehad nie.
So word alles wat Afrikaans is,weg geneem,en nog steeds het ons nie n se nie.
Malema,sing sy liedjies,Zuma sing sy liedjies,Die Engelse het ons Boere uitgemoor,nou word ons Boere weer uitgemoor.
Wanneer gaan dit eindig.

Elizna ·

Ek sien my kommentaar is gesensor. Kan die moderator vir my verduidelik waarom? Ek het geen vloekwoorde gebruik of enigeen gelaster nie of enige ander reëls oortree nie. My beredenering is rasionaal en dwaal nie van die waarheid af nie. Tog word dit gesensor.

Ek neem nie normaalweg deel aan politieke gesprekke op die internet nie, juis vanweë die boelie-mentaliteit wat mens ervaar as dit kom by sekere kwessies. Maar ek het nie verwag dat ek gesensor sou word as ek binne die reëls bly en ‘n mening plaas wat nie onvanpas sou wees in gematigde (polities gesproke) geselskap nie. Van my argumente strook waarskynlik met vooraanstaande akademici. Gaan julle hierdie mense ook sensor as die herrie oorspoel na die Engelse media?

Terloops, Jacques, ek is deeglik bewus dat Die Stem nie gedurende Apartheid geskryf was nie. Dit was weliswaar meer as 40 jaar voor die oorname van die NP-regime geskryf. Dit verander egter niks aan die situasie nie. Dit gaan oor die konteks waarin daardie lied gebruik en gesing was.

Sune van Heerden ·

Dagsê Elizna

Ons het ‘n outomatiese gemorsposfilter op die webwerf wat soms oorywerig te werk gaan om lesers se kommentaar te “sensor”. Soms neem dit ‘n rukkie voordat iemand die kommentaar wat in die filter beland het, deurlees en dit dan goedkeur.

Ons vra om verskoning dat jy so lank moes wag voordat jou kommentaar goedgekeur is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ricky Louw ·

Ek kan nie meer saamstem of dit eens beter stel nie. Sou ons alle kwessies met so ‘n siening benader, sal dit juis die manier wees hoe ons trots Suid-Afrikaans kan afstand doen van die apartheidsgevoel… Elke volk en kultuur het sy eie gebruike, taal en ‘n ‘core’ wat hom uniek maak. Die Stem is doodeenvoudig deel van myne… wanneer so ‘n herrie losbars oor ons lied, dan voel dit asof ons soos toeka moet opsaal, amunissie bymekaarmaak en van vooraf veg vir ‘n stukkie bestaansreg. Ek het ook wortels hier, al is dit nou hoé krom…xxx

Annaat Coertze ·

Daar is geen haatspraak in die stem nie, raak die m£€^ nou bang vir ons. Steve jy is ‘n ou yster, ons lief jou. Dis heerlik, as jy hul ratte bietjie deur mekaar krap. Wys net wat se bang gatte is hulle. Ek sal die stem elke dag speel, dit is iets wat ons ken en weet wat ons sing en wat dit beteken.

Louise ·

net n vraag, is die stem verban om ooit weer te hoor of te sing ? wat gaan aan met die mensdom ?

Jakkie Naude ·

Daar is niks mee verkeerd om “DIE STEM” by enige gesonde samekoms te sing nie!!!
Wanneer die nou amptelike Volkslied gesing word klink dit altyd vir my asof die Afrikaanse en Engelse deel meer hartelik en luiderrik (harder) gesing word as die ander, maak nie saak of dit die reenboog mense is nie. Is ek dalk verkeerd? Maak net seker en luister mooi.
Ek glo dat ons FAK liedere nooit kans gegee moet word om stel te word nie.
Onthou dat dit wat jy nie gebruik nie, jy gaan verloor.
As ons nie ons taal gebruik nie gaan ons dit verloor, assblief onthou dit vir so lank jy lewe.
Daar is baie belangrikke dinge wat saak maak in jou lewe maar maak jou Afrikaanse taal die belangrikste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.