Nuuskommentaar: Om Die Stem uit volkslied weg te laat

'n Rugbyondersteuner sing driftig die Volkslied saam.

‘n Rugbyondersteuner sing driftig die Volkslied saam.

Kort ná die EFF die huidige koalisiepolitiek probeer kompliseer het met ’n eis dat Die Stem uit die volkslied verwyder word, steek die rubriekskrywer Max du Preez weer sy kop in ’n byenes hieroor. Dis egter ’n proses wat veel komplekser is en baie meer sensitiwiteit na alle kante benodig as wat Max aanbied.

Die stof het skaars gaan lê oor die EFF se aandrang om in die konteks van koalisiepolitiek van die oorblywende bewoording van Die Stem in die volkslied ontslae te raak, of die rubriekskrywer Max du Preez kom met ’n uitgebreide pleidooi dat Die Stem in die slag bly.

Nie almal sal met Max saamstem oor die hoe en hoekom ’n gedeeltetjie van Die Stem in die volkslied opgeneem is nie. Die amptelike weergawe, naamlik dat dit uit een van die konstrukte van versoening, voortspruitend as ’n deel van ’n Nasionale Vredesakkoord, geskep is, is meer geldig as ’n geteem oor ’n beweerde versugting om ’n oorblyfseltjie van apartheidsimboliek in die nuwe bedeling vasgeverf te kry.

Dit is so dat baie mense dit soos Max beskou. Aan die ander kant van die munt stel selfs die mees onplesierige ANC-leiers ’n voorbeeld (minstens op TV) soos hulle ook die Afrikaanse en Engelse gedeeltes van Die Stem sing. Trouens, dit verskaf gereeld ’n morele hoë grond as weer geluister word hoe Die Stem-gedeeltes by rugbytoetse “ontplof” wanneer die volkslied gesing word.

Om van Die Stem in die volkslied ontslae te raak, met die hulp wat Max van die DA-leier, Mmusi Maimane, probeer opvorder, is ’n komplekse grondwetlike kwessie. Maimane het juis versigtig uit die EFF se aandrang gemaneuvreer.

Plaas hom nou in die warm stoel, en die DA kan verwag om oor ’n simbool groot verkiesingskade vorentoe op die lyf te loop.

Teenargumente teen Max se argumente kom egter ook onder groot druk as die nasionale versoeningsproses nie op dreef is nie. Dan, inderdaad, krap dit dat die Nkosi-gedeelte en Die Stem op verskillende musieksleutels geskryf is, sodat ’n uitgerekte oorgangsnoot nodig is om van die een na die ander oor te skakel. Die musiektipes is ook van uiteenlopende musiekgenres. Nkosi Sikelel’ iAfrika én Die Stem is albei sedert die aanvaarding van die nuwe volkslied verkort, en aan weerskante word gevoel dat van die belangrikste dele weggelaat is.

Verdamp die versoeningsproses (soos wat die EFF kliphard probeer stook), dan gebeur dit dat “na die loopgrawe teruggeval word” en Steve Hofmeyr ’n volksheld word omdat hy ’n groot skare entoesiasties meevoer deur net Die Stem (en die volledige een) te sing. Die volledige Die Stem is ook ’n FAK-lied en daar behoort, let wel, behoort geen beletseling of sensitiwiteit te wees om die lied te sing nie.

Per slot van sake is daar niks in die bewoording van Die Stem wat aanstoot aan enigeen kan gee nie.

Maar dan moet ’n mens die magtige dreuning (met permissie) aanhoor van die Seunse Weenkoor se kermlied. En ja, daar is ook ’n weerstandige teenreaksie onder ’n deel van die swart bevolking.

Dit is jammer as die heroprigting van die vredesproses (dalk onderweg na ’n nuwe vredesakkoord) weer deur ’n protesproses aan die verskillende kante begelei word. Die protesproses is egter dikwels in die vredesproses noodsaaklik om te voorkom dat die een party as (slegs) wenners, en die ander (slegs) as verloorders aangebied word. ’n Goeie voorbeeld was die MPLA wat, ná die vredesluiting tussen die MPLA en Unita in Angola, dit aan die publiek as ’n volslae oorwinning oor Unita aangebied het. MPLA- militêre konvooie het byvoorbeeld windmakerig as “oorwinnaars” deur Unita-vestings gery. Nie lank nie toe skiet Unita die willedinges uit hulle uit, en moes opnuut oor vrede koppe bymekaar gesit word. In die proses is Unita toe militêr en politiek verslaan.

Word na die ANC-leiers geluister, word gereeld na die ANC se oorwinning verwys asof die ANC apartheid militêr verslaan het. Dis historiese bog – die NP-regering het lank voor 1994 reeds die laaste apartheidswet afgeskaf (waarvan heelwat wesenlik intussen deur die ANC afgestof en terug in die wetboek geplaas is).

Weliswaar met moeite, maak minderheidsgroepe nou vordering om minderheidsregte soos in die Grondwet en die internasionale reg vervat, op te vorder, en die nodigheid daarvoor groei elke dag namate die ANC sy neo-apartheidsbeleid op minderheidsgroepe afdwing. In hierdie rubriek is al dikwels gewys op die probleem dat die regering en sy tentakels ras-onewehandigheid toepas in die aanspreek van kwessies soos rassisme.

Teen dié agtergrond is daardie laaste flentertjie van Die Stem in die volkslied soos ’n tentpen wat in die erfdeel ingeslaan is. Dit simboliseer vir baie die Afrikaanssprekende minderheidsgroepe se wettige aanspraak op ’n holte vir hul voet in hul geboorteland.

Eendag, iewers in die toekoms, is die gepolariseerdheid hopelik iets van die verlede, en kan daaraan gedink word om ’n nuwe volkslied te skryf in die plek van die Nkosi en Die Stem. Dan neem die volledige Die Stem en Nkosi saam volwaardige plekke in naas ander volksliedere van die verlede, soos die volksliedere van die Vrystaat en Transvaal. Liedere wat met vrymoedigheid en trots gesing kan word sonder om aanstoot te gee.

Maar die paadjie na hierdie punt loop, met respek, heelwat anders as wat Max voorsien. Hierdie proses kan alleen slaag as al die saakmakendes as volwaardige versoeningsvennote die proses deurloop sonder om politieke punte aan te teken. Die proses kan nie slaag as daar wenners en verloorders is nie, almal moet wenners wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

90 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus

Haal dit maar uit daar is in elk geval niks in die land om op trots te wees nie.

zuri

Kyk wat skryf ‘n persoon op News24 – Pope Spaghetto. I would think Max would understand that ‘Die Stem’ is more than just a symbol for Afrikaner nationalism or Apartheid. It represents Afrikaner struggle as well, struggle for our own identity. That after years of war and bloodshed against the English and African tribes, we found our place and identity as not only Afrikaners but South-Africans. It represents an era in our Country’s history that cannot and honestly should not be denied or forgotten. Removing ‘Die Stem’ because of its time as anthem during the Apartheid era would be like… Lees meer »

Meisie

Malema word groot en laat elke mense sy begisels behou.Daar is baie meer vir jou om te doen.Vat n graaf en begin skoffel.Dan sal jy te moeg wees om jou met sulke dinge op te hou.

Loeis

Dit laat mens aan Pieter du Preez se pleidooi vroer hierdie jaar dink waarin hy mense smeek om van Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak afstand te doen. Nee Pietertjie, en nee Mad Max, ons gee vir julle opinies om soveel as wat julle vir ons kultuurgoedere omgee. Mens kan net soveel sefveragting verteer. Herman, ek moet wel ‘n paar goed oor jou argumente uitwys: 1 die DA het vir blankes geword soos die ANC lank vir swartes was: onaantasbaar. Dit maak nie saak of Maimane en sy party swart bevoordeling steun nie, dit maak nie saak of hulle ‘n swart leier… Lees meer »

humor

Al rede waarom max nog aandag kry is omdat hy anders is, en daarmee sal hy teen sy beterwete volhou tot sterfdag toe. Verskoon hom tog maar, soos elke mens wil hy tog ook graag iets wees.