Nuuskommentaar: Om die troffel te laat val

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Pres. Cyril Ramaphosa se beloftes oor beter regering wat voorlê, moet verwelkom word, maar weet hy hoe ’n enorme taak dit in geheel is en hoeveel hoë koppe sal moet rol? Die land het ’n gees van uitnemendheid nodig.

Verskeie gebeurtenisse dui daarop dat daar ’n yslike behoefte is dat nie net gesê word daar gaan ’n groot regruk-aksie wees nie, maar dat vals alarms die indruk kan wek dat die politieke heengaan van Jacob Zuma alles nou sal laat regkom.

–          Twee sambreelliggame wat in die Vrystaat help met die bediening van kinderhuis- en gesinsorg neem nou die Vrystaatse departement van maatskaplike dienste hof toe omdat daar van vorige skikkings dadels gekom het. Een van die jongste motiewe vir die huidige toedrag van sake is om by die hof te probeer vasstel of die staat se optrede nie op minagting van die hof neerkom nie.

–          Suid-Afrika laat val gereeld die pap op die grond wat hom negatiewe reklame oorsee besorg, soos die Life Esidimeni- psigiatriese pasiënte wat na privaat instellings en hul dood uitgeplaas is. Verskeie van die senior rolspelers het getuig daar is aan hulle gemeld alles gaan klopdisselboom, en dat alles daarom vlot verloop.

–          Suid-Afrika het deur al drie graderingsagentskappe rommelstatus verwerf.

–          Die Britse regering het pas sy burgers gewaarsku om nie Suid-Afrika te besoek nie, weens die gevaar van terreur-aanvalle.

In die jongste verslag oor die stand van sake in lande se hantering van menseregte skryf Amnestie Internasionaal onder meer:

“Protests against corruption were widespread. Political tension was heightened after President Zuma made substantial changes to members of government in March, including the dismissal of Finance Minister Pravin Gordhan.

“Despite increased public spending on health, education and essential services, the national statistical service reported that the country was unable to reduce poverty and inequality.”

Die verslag lui voorts onder meer soos volg:

“Profound inequalities continued to undermine economic, social and cultural rights, including in access to sexual and reproductive health services. Failures in the criminal justice system obstructed access to justice for victims of hate crimes and gender-based violence. Investigations into police conduct following excessive use of force during protests were ongoing.”

In geheel is dit nie ’n mooi prentjie wat deur die verslag geskets word nie, maar veral die aantal mense wat deur die polisie aangerand of selfs gedood word, is kommerwekkend. Die lees van die hoofstuk oor Suid-Afrika kan maklik by die leser die idee skets dat Amnestie Internasionaal onnodig hare kloof oor wat in Suid-Afrika aangaan.

Waaroor dit primêr in hierdie nuuskommentaar handel, is nie soseer waar die regering iets aanpak nie, maar dat die projek misluk. Hier handel dit oor dinge wat selfs glad nie gebeur nie, maar waaraan miljoene rande bestee word.

Verlede jaar het die huidige Vrystaatse LUR vir huisvesting byvoorbeeld strafregtelike klagte teen verskeie mense, onder wie die vorige LUR vir huisvesting in die provinsie, Mosebenzi Zwane, ingedien oor meer as R600 miljoen wat vir huisvestingskemas bedoel was, maar na die staatskas sou terugval omdat dit nie benut is nie. In opdrag van Zwane is dit toe glo “uitgedeel” aan mense soos onder andere Hlaudi Motsoeneng, afgedankte bedryfshoof van die SAUK, en die eggenote van min. Mbalula. In sommige gevalle is nie twee stene op mekaar gelê nie, maar die geld glo oorbetaal asof die werk gedoen is.

Selfs voor hierdie geval is gereeld gehoor van skemas wat kort voor lank deur die kontrakteur verlaat is nadat hy betaal is, maar die werk nie voltooi is nie. Selfs skoolgeboue word gebruik om begrotings mee te melk. By die Nampo-landbouskool buite Bothaville gaan die leerders steeds in tydelike asbesstrukture skool, terwyl die nuwe skool half voltooi gelaat is.

Voeg hierby sulke swak gehalte bouwerk dat huise soms onbewoonbaar word voor dit nog voltooi is. Selfs die bouwerk by Nkandla, soos aan waghuisies op die perseel maar ook aan die hoofgebou, toon dat daar erg aan die bouwerk haper.

Pres. Cyril Ramaphosa het nou beterskap belowe van ’n probleem wat reeds kort ná oudpres. Nelson Mandela se bewindsaanvaarding ontstaan het – amptenare lewer gewoon aan hul seniors verslag dat alles voor die wind gaan. Die naam vir “delivery” het egter ’n baie swak reputasie. Dit moet boonop met die grootste omsigtigheid aangeraak word omdat die instansies wat so kleitrap, so maklik oor rassisme en haatspraak gaan kla as hulle uitgevang word.

Hierdie gebrekkige “delivery” word ongelukkig ook dikwels op die verkeerde manier aangepak. Grondhervorming in Suid-Afrika kan, met enkele uitsonderings na, selde as suksesse beskou word, al word die een plan ná die ander gemaak. Die probleem is egter selde die boer se skuld; veel eerder is dit onbevoegdheid en skelm praktyke wat projekte laat misluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Al ·

Die swart bevolking maak die grootste deel van die populasie van SA uit – wat natuurlik beteken dat hul meer monde het om te voed. Die gevolge is armoede.
Groot sake instellings asook die staat voorsien aan hul die meeste poste.
Dis ontmoontlik om hul almal te bemagtig.
Wanneer sal die staat dit ooit besef?

Jerry ·

Die vervanging van onbevoegde kaders met meer kundige kaders ten einde beter dienste en dienslewering teweeg te bring is n moeilike kwessie in die ANC omrede dit verdere wrywing en tweespalt sal bring. Dit word ook gesien as teen revolusioner en diskriminerend. Die sogenaamde kundige kaders is ook net in naam kundig omrede die meerderheid hulle kwalifikasies op onbehoorlike wyse bekom. Sodoende word die werklike kundiges en bevoegdes die aanstelling in kritiese poste ontse en is hulle dae in Suid Afrika daadwerklik getel. Al wil CR hoe graag dit verander, in die ANC is dit nie onderhandelbaar nie en daarom sal die troffels aanhou op die grond val. Die sogenaamde leiers en mense wat top poste beklee is daar as gevolg van korrupte kennisse en dade. Eerbare bevoegde mense is lankal al uitgewerk of vermoor! As jy eerbare bevoegde kundiges mbt dienslewering soek, sal jy 750,000 vind in ander lande waarheen hulle ge-emigreer het. Suid Afrika se goeie storie het reeds vertrek na die buiteland en talle goeie stories sal volg totdat daar geen goeie storie meer in Suid Afrika gevind sal word nie.

NP lid ·

Die KP was reg. Ek is baie jammer SA, ek het julle in die gemors met my naiewe stem gebring.

Pop ·

Op die ou end sit ons ou mense alleen hier om gemelk te word van ons karige geldjie. Ons geliefdes almal oorsee. ?????

Harde Waarheid ·

Pop, dis so jammer, maar ongelukkig praat jy die harde waarheid. Die tragedie is dat selfs ná 23 jaar se harde bewyse van Afrika-mislukkings in SA, is die meeste witmense vandag steeds liberaal, siende blind, naïef, links-arrogant en eiewys. Hulle “glo” steeds infantiel dat die volgende Afrika leier “beter” sal wees as die vorige, terwyl die intelligentes op strepe emigreer en pad gee. Op die einde van die dag, is al wat van die wittes in SA gaan oorbly, is die oues, die armes en die minder begaafdes. Die res gaan emigreer. Daar is tans nie meer as 3.5 miljoen wittes in SA oor nie, waarvan omtrent 900 duisend reeds in plakkerskampe woon. Die wittes is letterlik omsingel, verdring en uitgelewer. ‘n Tragedie. Maar steeds sien die wittes nie die skrif teen die muur nie.

Jef ·

Na die uitspraak dat regeringleiers, konings en ander topposte bekleers met n skrikwekkende salaris verhoging bly gemaak is, volg direk daarna verhoging van belasting en petrol pryse en lewensmiddele om die burgers van die land se lewe nog meer ondraagliker te maak.
Selfverryking ly onherroepelik tot ondergang van n land en sy mense.
Solank as SA bestuur word deur die ANC waarmee geen normale gesprek gevoer kan word nie, sal SA deur die res van die wereld vergeet word.
As alle investeerders hul uit SA onttrek kan die land nie draai op net die belasting betaler se geld nie. Geen werk geen geld, geen geld geen belasting, dus geen salaris vir die regering en konings nie.

Ella ·

Die kerk moet ophou om sy preekstoel vir politieke toesprake beskikbaar te stel. Die Bybelse Wette moet soos van ouds weer aan die groot klok opgehang word. (Letterlik!) Laat die wat ore het, hoor! Dalk help die “outydse” preke van “hell and damnation”?

Jacques Venter ·

Dat ons in n groot gemors is, is ‘n feit.
Dat Cyril die land wil regruk glo ek met my hele hart.(reeds die Eischkom raad vervang)
Dat dit tyd gaan vat is verseker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.