Nuuskommentaar: Om God vir die politiek te misbruik

Gwede Mantashe

Gwede Mantashe

“In die begin het God die mens geskep – sedertdien skep die mens sy eie Godsbeeld”

So het ‘n reeks preke van ‘n gemeente gelei na aanleiding van hoe mense baie uiteenlopende en onderling onaanvaarbare optredes godsdienstig probeer regverdig. Die gevolg is dat die mens God as sy instrument inspan, in plaas daarvan dat die mens – die Christen in besonder – God se instrument is.

So skryf Die Burger vanoggend in sy hoofartikel.

“Nadat pres. Jacob Zuma die ANC reeds herhaaldelik as die party naaste aan die Allerhoogste geskilder het, het sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, nou alle grense van ordentlikheid oorskry. Hy het eksplisiet die Christelike dogma van die Drie-eenheid aan die drievoudige alliansie tussen die ANC, die SAKP en Cosatu gekoppel. Jesus het 12 dissipels gehad, het Mantashe verklaar, en dit verbind met die feit dat die ANC in sy eerste eeu 12 presidente gehad het. En oudpres. Nelson Mandela is soos Moses wat “ons” in 1994 deur die rivier gelei het.” (Eintlik was dit Josua wat die Israeliete deur die Jordaan gelei het).

Trouens, dit was tot dusver nie net Zuma wat hom aan vergrype soos die voorvaders wat diegene wat die ANC die rug toekeer sal om haal, en regeer tot die wederkoms skuldig gemaak het nie, ook ander oos sy kornuit Ace Magashule van die Vrystaat het al gesê die mense moet Zuma volg soos die mense Jesus gevolg het.

Veroordelings en vermanings was daar volop. Veral die hoofstroomkerke soos die drie Afrikaanse susterkerke in ‘n gesamentlike verklaring en die AGS het hul ontevredenheid daarmee uitgespreek. Die NG Kerk het by geleentheid selfs aangedui dat as dit nie end kry nie, lidmate versoek sou word om nie die ANC te steun nie, terwyl die VGK selfs ‘n stappie verder gegaan het. Dit het egter voortgeduur en die kerke het op die oog af eerder stiller as meer ontsteld geword.

Vir mense in die Westerse dogma is hierdie optrede nie net grensend aan Godslastering nie, maar hulle vind dit vreemd – en dikwels onaanvaarbaar – met hoeveel gemak die politici en baie van hul ondersteuners van die Christelike God oproep, met groot gemak na die animistiese wêreld van voorvadergeeste en reinigingsrituele, en selfs poligame huwelike verplaas.

Selfs dr. Mamphela Ramphele het haar party geloods deur ter aanvang haar voorvaders op te soek en deur rituele hul steun te vra.

In dieselfde tyd as wat Zuma sy omstrede honde-uitspraak gemaak het wat internasionaal weerklank gevind het, het hy ook aangekondig dat hy ‘n nasionale reinigingsdag gaan uitroep en hy gaan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vra om dit te lei. Hy het voortgegaan deur te sê diegene wat nié aan die seremonie gaan deelneem nie, is gekant teen versoening en vergifnis. Ook hierdie uitspraak het internasionale opslae gemaak.

Die president se adviseurs was klaarblyklik met vakansie, en na hul terugkeer is Zuma klaarblyklik ingelig hoe aanstootlik die gedagte vir Christene is. Dit is byvoorbeeld lynreg teen die leerstellinge van die Anglikaanse kerk van Tutu. Tutu se kantoor het dan ook aan Maroela Media bevestig dat hy geen sodanige kommunikasie van die president gekry het nie. Klaarblyklik is die planne vir so ‘n dag van die baan.

Vir die ANC is Zuma se opmerkings wanneer hy van sy geskrewe toespraak (wat vir hom geskryf is) afwyk ‘n yslike kopseer, en vir die land dikwels ‘n groot verleentheid en ekonomiese terugslag. Sy meelopers doen hom dit gereeld na, en ook diegene oor wie Zuma se guns nie meer so sterk val nie, sal veral hard probeer om weer in Zuma se goeie boekies te kom. Daarom kan ontstellende uitsprake soos dié van Mantashe waarskynlik meer gereeld in die aanloop tot die verkiesing gehoor word.

Maar hoe hanteer die Christen die politiek?

‘n Predikant vertel onlangs van ‘n kort kerkraadsvergadering na die kerkdiens. Een van die ouderlinge praat met ‘n erg aangeplakte stem – te vroom vir woorde. Na die vergadering hoor die predikant hoe dieselfde man sy vrou en kinders wat vir hom in die motor gewag het in die vieslikste taal skel.

Die Christen is nie net ‘n Christen in die kerk nie, en ook nie net vroom in die kerk  nie. Hy is in sy hele lewe, in sy huwelik, in sy gesin, in sy werkplek, in sy sosiale byeenkomste, en helaas, ook in sy politiek ‘n Christen.

Christenskap leen hom nie tot ‘n geloofskisofrenie nie.

Verskeie kerkgenootskappe plaas ‘n verpligting op hul predikante om kort voor algemene verkiesings te preek oor hoe lidmate hul stemreg vanuit ‘n Christelike oogpunt behoort te benader. Die kern hiervan is gewoonlik dat die lidmaat, in sy hoedanigheid as kieser, moet let daarop of sy stemkeuse strook met dit wat hy werklik glo – en dus by implikasie versoenbaar is met dit wat die kerk leer.

In die praktyk beteken dit dat die kieser moet besin oor of hy vir ‘n party kan stem wat aborsies op aanvraag steun, dobbel steun en pornografie toelaatbaar vind, terwyl sy kerk sterk daarteen gekant is.

Die teenargument teen hierdie benadering is gewoonlik dat godsdiens en politiek nie gemeng moet word nie. Die motivering hiervoor is hoe godsdiens in die verlede al deur die politici misbruik is. Die uitdrukking dat die NG Kerk destyds die Nasionale Party se gebed was, is goed bekend.

Die Inkwisisie het hom al in verskeie gedaantes herhaal, onder meer as politieke instrument – miskien meer subtiel en minder bloederig, maar net so lekker veroordelend.

Maar kan dit so absoluut geld dat die Christen van een lewensfeer na die volgende volkome skisofrenies in sy oortuigings kan wees?

Die toets vir ‘n politieke party wat homself Christelik begrond sal altyd moet wees dat die party as ‘n instrument van God – en stellig nie die enigste instrument nie – dien, en nie God as die party se instrument probeer inspan nie – veral nie ‘n selfgeskepte Godsbeeld om aan eie behoeftes te voldoen nie.

Twee politieke partye het op Manntashe se uitsprake gereageer. Die Vryheidsfront Plus het, bv monde van adv. Anton Alberts onder meer gesê: “Die uitlatings van Mantashe grens aan Godslastering… Sedert sy geskiedenis as terreur-organisasie tot vandag waar hy as regerende party vir die publiek sinoniem geword het met korrupsie, bedrog, magsbeheptheid en openbare wanorde, is dit duidelik dat die ANC ‘n mistasting met die uitsprake begaan. “Onder die party se bewind het misdaad, geweld en moord buite beheer geraak. Sosiale waardes verval. Ekonomies word die land met regstellende aksie groot skade aangedoen.”

Die Christen-Demokratiese Party sê onder meer by monde van sy leier, ds. Theunis Botha: “Dit wil voorkom asof die ANC, elke keer wanneer hy hom in tamatiestraat bevind, na die Bybel en Christenskap gryp om bietjie geloofwaardigheid te probeer herwin. Gwede Mantshe se toespraak die naweek waar hy die drieparty-alliansie met die God-drie-eenheid vergelyk het is net nog een so ‘n poging… Die werklikheid is egter dat dit onmoontlik is om enige ooreenkomste tussen die ANC se onheilige alliansie en die Drie-eenheid te vind, al probeer ‘n mens hoe hard om die Skrif te verdraai.”

En die kerk as instelling? Kan die kerk sy volle Evangeliese roeping ten volle na die lidmate as individue “delegeer” of het die kerk ook ‘n roeping om as instelling God se Lig oor die wêreld te help laat skyn? Van nature nie veroordelend nie, maar behulpsaam, en waar nodig vermanend?

Wat duidelik is, is dat die kerk nie uit vrees vir verlies aan lidmate maar kan swyg as gepraat moes gewees het nie.

Die stad Laodisea se water is in Bybelse tye oor ‘n groot afstand met pype aangelê. Bedags het die pype warm gebak, en snags koud geword. Beide die warm water, en die verkwikkende koue water, is as helend beskou, en kon op verskillende maniere goed aangewend word. Maar die lou water wat tussenin uit die pype gekom het was problematies om nuttig vir iets te wees.

Dit is waarteen die Christen in sy hele lewe moet waak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stoere Boer ·

God laat nie met hom spot nie. Die ANC se dag van afrekening is dalk nader as wat hul dink en dan sal nie eers hul voorvadergeeste en hul aartsbiskoppe hul daaruit kan kry nie. Ongelukkig is daar van ons mense wat net sovêr van hul geloof afgedwaal het wat dalk ook gestraf gaan word.

michelle ·

Gelukkig is God groot en is nie dom en menslik nie. Hy het tog als en almal geskape. Hulle maak ‘n bespotting van Hom. Maar almal gaan hulle dag kry. As die Here kom, sou ek so graag hulle gesigte wou sien. Hy heers oor ons almal en niemand anders nie.

Helene Thiart ·

God laat nie met Hom spot en Hy is heilig en baie ver verhewe bo ons menslike natuur. Die ANC kan die ikone wat hul aanbid gebruik as leiers voorbeeld maar met ons 3 x Heilige God gaan hul nie spot Hy gaan rekenskap eis vir die misbruik van Sy naam. Ek sal nie in hul skoene wil wees as Sy toorn op hul neerdaal wat gewis sal gebeur

Jan Rossouw ·

Ja tipies van ons Christene hoe erger die ANC met ons God en sy woord die spot dryf hoe stiller raak ons.Ek weet van ander gelowe wat nou al sal oorlog verklaar het as jy dit oor of van hulle geloof gese het.
Die ANC moet verskoning vra omdat hulle ons Chriten geloof valslik misbruik vir politieke voordeel.
Hulle het wetgewing vir aborsie tot stand gebring.
Hulle hou n stiltetyd tydens hulle vergaderings en bid nie tot God wat hulle nou so aanhaal nie?
So te se al hulle vergaderings ens. is op n Sondag?
Tydens al hulle optredes word God nie tot waarde geag nie hoekom nou?
Dis mos die toppunt van vals wees!
Geen Christen moet of mag hulle erenstig opneem as n God vreesende regering nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.