Nuuskommentaar: Om in die howe te boer

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Donderdag in die arbeidshof. Foto: reint Dykema.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Donderdag in die arbeidshof. Foto: Reint Dykema.

Die mate waarin die owerheid en owerheidsinstellings in die howe boer, is ’n klad op die land. Maar as daar ’n swak regering is wat die regstaat minag, sal die howe ’n gereelde aandoenplek wees.

Hofuitsprake lewer nie altyd gewenste uitslae op nie. So moes boere ervaar hoe hul “ondergrond” hulle in die vorm van mineraleregte ontneem is in wat regslui voor die konstitusionele hof se uitspraak hieroor as die grootste diefstal in die land se geskiedenis beskryf het. Solidariteit se Renate Barnard-saak was ’n yslike teleurstelling en is vir internasionale beregtiging bestem. Vroeër vanjaar het die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, sake erg deurmekaar gekrap deur ’n saak oor toelating tot skole te wen.

Nou het AfriForum in die konstitusionele hof slae gekry oor ’n interdik oor die verwydering van Afrikaanse straatname terwyl die proses nog in beregtiging is.

Die suksesse is egter ook daar en indrukwekkend. Pas het Solidariteit in die konstitusionele hof die departement van korrektiewe dienste se stommiteit om nasionale demografie te gebruik vir kwotas in die Wes-Kaap vir ’n ses geslaan. Die Helen Suzman-stigting het die SAUK se verbod op die beeldsend van geweld tydens proteste in die howe laat struikel.

AfriForum, ondersteun deur Solidariteit en ander, het in die Vrystaatse hooggeregshof Kovsies se nuwe taalbeleid omgekeer. Vir die eerste keer het ’n hof uitspraak gelewer oor art. 29(2) van die Grondwet wat die reg op moedertaalonderrig verskans, spesifiek met betrekking tot universiteite, wat nou grondwetlike gronde vir die beskerming van Afrikaans aan universiteite bied. Die regters het die UV ook oor verskeie kwessies goed die kop gewas.

Danksy die presedentereg is nie net die Kovsie-saak van belang as Maties, Tukkies en Unisa oor hul nuwe taalbeleid voor die hof gesleep word nie, maar in veral die geval van Maties ook die Solidariteit-DKD-uitspraak.

Volksblad het vandag ’n werklike puik hoofartikel hieroor geplaas.

Op dieselfde dag waarop die Kovsie-uitspraak gelewer is, was daar nog ’n belangrike verwikkeling. Die SAUK is weens die afdanking van werkers voor die arbeidshof gesleep. ’n Regspan vir die SAUK het opgedaag, maar was onvoorbereid en kon ook nie met die SAUK-bestuur in verbinding tree om rigting te kry nie. Hulle het uitstel gevra en die omgekrapte regter het dit met Solidariteit se instemming toegestaan, maar die SAUK moet al die koste van die uitstel dra.

En wat doen die SAUK? Op TV 3 en TV 2 se nuus word nie ’n woord oor die korporasie se skandemakery in die arbeidshof berig nie. Op TV3 se nuus word die Kovsie-uitspraak geïgnoreer, maar in albei nuusbulletins word groot gewag gemaak oor die “slae” wat AfriForum met die straatnaamkwessie gekry het. Daar is hard probeer om AfriForum se verset teen kulturele imperialisme as iets baie verkeerd voor te stel.

Trouens, die dam is erg onder die eend uitgeruk. Die uitspraak gister beïnvloed nie die hersieningsproses wat in die hooggeregshof voorlê nie, maar handel oor ’n syhandeling.

Intussen het die SAUK se regspan tot gisteraand laat kans gekry om sy opponerende stukke by die arbeidshof in te dien.

Selfs al vra die SAUK se regspan vandag teen die feite- en regsagtergrond van die saak dat die saak buite die hof geskik word, en die werkers dus weer in hul poste aangestel moet word, gaan dit geen maklike afloop wees nie. Dit is duidelik dat daar veel meer bestuursprobleme en outoritêre “leierskap” in die SAUK los is wat dit steeds vir hierdie en ander werkers moeilik sal maak om met integriteit soomloos in te pas by dit wat die bestuur van hulle verwag (en wat weer onwettige opdragte mag insluit). Daar sal dus gemonitor moet word om te bepaal of viktimisasie nie nou na ’n subtieler rat oorskakel en selfs op konstruktiewe ontslag sou neerkom nie. Daar sal deurlopend gewaak moet word dat die SAUK-bestuur nie ou koeie waarvoor die afgedanktes nooit verhoor en skuldig bevind is nie ex post facto teen hulle gebruik word. Ingevolge regspraak oor die hele land is sulke optrede veronderstel om irrelevant te wees.

Die SAUK-bestuur is ook langlippie vir van die afgedanktes wat glo hul griewe in die media gaan uitpak het, maar ook hieroor is daar regspraak in die vorm van die saak van Mike Tshishonga, indertyd adjunk-direkteur-generaal van justisie, wat ’n mediakonferensie belê het toe hy geen amptelike kanaal kon vind nie om wanpraktyke te stop wat die destydse minister betrek het.

Maar gaan die SAUK dit waag om die saak te probeer bereg en ’n uitspraak in sy guns te kry? Gaan hy ’n regspan kry wat hom so adviseer?

Dinge sal vandag duidelik word. Met regspraak, veral waar grondwetlikheid ter sprake is en “lastighede” vir die regering nie maar met gewone wetgewing na sy sin geskik kan word nie, sou dit ’n gevaarlike spel wees om soort van boek te hou oor wie die meeste sake wen of verloor. Dit is in elk geval bekend dat die staat ongeveer 70 % van die sake waarby hy betrokke is verloor.

Die belangrike is hoe die uitsprake, wen of verloor, ’n regsraamwerk skep waarin reg en regverdigheid, of te wel die beginsel van natuurlike geregtigheid, en natuurlik grondwetlike beginsels soos gelykheid, deel van die land se regsraamwerk word – en as sodanig respekteer word.

In die Solidariteit se oorhoofse strategie is die hofstrategie maar ’n klein onderdeel, en die hofsake wat nou wasdom bereik weer ’n klein onderdeel daarvan. Ander aspekte van die strategie, soos die ontwikkelings van ’n private Afrikaanse universiteit, Akademia, vorder flink en ’n nuwe kursus, B Com Regte en Ekonomie, is gister bekend gestel.

So word daar op bykans elke lewensterrein hard gewerk om vir ons eie mense ’n Afrikaanse toekoms te verseker.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theuns ·

Herman ek weet nie of jy gelees het wat Zuma gister kwyrgeraak het by n laerskool wat hy besoek het nie. Hy het verklaar dat” hy net ses maande toegelaat moet word om te regeer as ‘n diktator! Hy se hy sal dan die land Suid Afrika regruk! Zuma beweer dat dit nie moontlik is om te regeer as jy elke keer na die Howe moet gaan om iets gedoen te kry nie!” My vraag aan jou is was Zuma ernstig, dink jy hy beplan iets? Of het hy net ‘n grap gemaak?

Herman Toerien ·

Hallo Theuns. Ek het dit nie gesien nie, maar ek glo hy sou so iets sê. Hy het al dikwels iets soortgelyks gesê. Dit wys hy weet niks van demokrasie, en veral grondwetlike demokrasie af nie.

Theuns ·

Dankie Herman. Die berig waarna ek verwys is deur Ezra Claymore (21 July 2016) geskryf in die” THE SOUTH AFRICAN “. Lekker naweek vir jou.

Tiaan ·

Met alle respek Herman. Net so min as wat Zuma van demokrasie weet so min weet die aanhangers van die regstaat van Afrika en sy lewens en wereldbeskouings!
Daar wag nog vele bittere ontnugterings op ons mense.

JC ·

Dankie Herman, dit is ‘n oulike artikel.
Afrikaans, Afriforum, Solidariteit, AfriSake, Sol-Tech en Akademia bo!!!!Dieselfde vir ander burgerregte instansies (alhoewel nie Afrikaans nie) soos OUTA! Die afdwinging van grondwetlike regte en die jurisprudensie en regsraamwerk wat besig is om daaruit te kristalliseer is wonderlik, alhoewel nie altyd in Afrikaners se guns nie. (bv. die Barnard saak. Ek neem nie die saak teen Tshwane Metro in ag nie want daar is die hersieningsaansoek nog hangend) Ek glo ook die beginsel is belangrik dat die Staat wel verantwoordbaar gehou word-al wen Afriforum nie altyd nie, dus word die Staat op sy tone gehou en vergrype voorkom en die staat herinnner van sy grondwetlike verpligtinge wat die HOOGSTE REG IN DIE LAND STEL, EN WELKE OPTREDE, ( bv. BESLUITE, WETTE ens.) WAT DAARMEE ONBESTAANBAAR IS, ONWETTIG EN NIETIG IS!

Hein ·

Ons ondersteun Plan B, Akademia ens.. maar ons vertroetel die Orania gedagte en skenk nie regtig daaraan aandag nie. Dit is so gedagte dat as daar moeilikheid kom dan kan ons almal daarnatoe vlug. Ek voel dat sulke gebiede (Kleinfontein/Orania) wat reeds bestaan hard gedryf word. Industrie, klinieke, skole universiteite waar ons die Afrikaner kan oplei/versorg/bemagtig sonder die diskriminerende wetgewing van die huidige S.A. Daar moet aangrensend elke dorp ‘n Orania konsep nedersetting gevestig word en onhafhanklikheid in terme van water en krag moet aangemoedig word. Ons sal nie van die huidige wetgewing wegkom nie en as ons nie ‘n AFRexit uit die demokrasie doen nie sal hierdie situasie lank aanhou. Ons weet ons is nou in ‘n regstaat en dat van die sake wen ons en van hulle verloor ons. Ons geld kan nie meer in die water gegooi word nie. Ons moet nou rigting kry of nooit. Wel hierdie mense in die Orania/Kleinfontein gebiede het die besluit gemaak en werk in die rigting. Wat van die ander? Onthou die Afrika demokrasie deelname lei tot self vernietiging. Ons moet nou Plan B+ implimenteer.

Koos ·

Is n afrikaner maar kan ongelukkig met Orania of Kleinfontein se regiditeit saamstem nie , hulle word ongelukkig deur n klomp verkrampte direkteure bestuur. Arm mense word soos bywoners behandel, dit is nie wat ek gehoor het nie maar ondervind het tydens n besoek aan Kleinfontein, sodra ons wittes uit ons klasverskille kan klim kan ons n verskil maak en nie alles wat deur ons opgebou is sommer so aan die opertuniste oorgee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.