Nuuskommentaar: Om in jou eie swaard te val

Interpol-president, Meng Hongwei (4 Julie 2017) (Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File)

Wat gaan die minister van finansies, Nhlanhla Nene, doen nadat skynbaar ongure besonderhede oor hom by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ontbloot is? Nene het ’n oorblufte Suid-Afrikaanse gemeenskap geskud deur sy erkennings en verskoning aan die volk.

Of Nene skuldig is of nie, hierdie stuk handel oor die bereidheid tot verantwoordbaarheid – iets wat so skaars soos hoendertande in die ANC is.

In skrille kontras met die ANC se gebruike en omvang staan die bedanking van Interpol se baas, Meng Hongwei.

Die afgelope paar dae is nog berig dat Meng verdwyn het. Trouens, vanoggend vroeg het sommige media steeds oor sy vermiste status berig, maar ander het berig dat China erken het dat hy in daardie land aangekeer is, en te midde van gerugte oor ’n korrupsie-ondersoek self bedank het.

’n Woordvoerder van die ANC het onlangs nog verduidelik dat iemand eers skuldig is as die finale appèlproses afgehandel is. Dan eers kan teen die persoon opgetree word. Die geval John Block is maar een onlangse voorbeeld.

Waar dié opvatting beslag gekry het, is nie so maklik om te bepaal nie. Die geval Allan Boesak pas egter tydsgewys presies in die prentjie. Hy is aanvanklik deur die destydse president, Thabo Mbeki, se regsadviseur “onskuldig” bevind. Onder Deense druk, wie se skenkersgeld voete gekry het, is Boesak egter vervolg. Toe hy hom tot in die appèlhof vasloop, appelleer hy na die konstitusionele hof, wat besluit om sy appèl aan te hoor. Hy word nogmaals skuldig bevind.

Die uitdrukking struggle-boekhouding dateer uit hierdie era.

Hiermee is die deure geopen vir ook ander persone, wat geen ANC-lojaliste is nie, wat hierdie hof na die appèlhof begin nader het. Die saak van Renate Barnard en Solidariteit is wel bekend.

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: Leon Lestrade/ANA

In vergelyking met Suid-Afrika se Jackie Selebi wat ook tot grootbaas van Interpol gevorder het, het Meng ’n voorbeeldige lewe gelei. Hy was voorheen China se minister van openbare veiligheid, en het 40 jaar se ondervinding van kriminele reg en polisiëring. Hy het in 2004 hoof van Interpol se Chinese tak geword, en in 2016 is hy as hoof van Interpol verkies. China omhul die gebeure waartydens Meng gearresteer is, in geheimsinnigheid.

Waar Meng se verhoor nog nie eens begin het nie, en hy reeds die amp neergelê het, was Selebi reeds op onbepaalde verlof geplaas. Hy het in 2008 as hoof van Interpol bedank. Hy is twee jaar later tot 15 jaar gevangenisskap gevonnis.

Die gebruik om nié in die eie swaard te val nie wanneer die ernstige onthullings gemaak word, het tydens die bewind van Jacob Zuma helder geblyk. Hy het koppig sy onskuld, en later onkunde, oor die gekonkel by Nkandla bly verdedig, om maar een voorbeeld te noem. Voordat hy onder ’n wolk bedank het, het hy nog verklaar dat hy glo hy doen goed as president, want “niemand” het hom nog op sy foute gewys nie. Dit sal vernederend wees vir ’n kommentator om op so ’n bollie-stelling te reageer.

Daar is natuurlik ander variasies oor hoe op ’n politikus se doen en late gereageer word wanneer ongure sake op die lappe kom. Pas, volgens die Rasmussen-peiling, het tevredenheid met Amerikaanse pres. Donald Trump se werksverrigting die hoogste vlak nog getref op 51%. Rasmussen wys daarop dat dit juis moes gebeur toe Trump al ’n ruk uit die openbare oog “verdwyn” het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Minister Nene is n absolute uitsondering van die reel in die ANC. Vir Nene om in sy eie swaard te val deur te beken dat hy n oortreding begaan het, beteken dat daar in die ANC iets aan die gebeur en verander is onder CR se leierskap! Dit is ongehoord dat so iets gedoen sal word deur veral die ANC se sogenaamde voormalige vryheidsvegters wie die struggle standpunt ten alle koste sal verdedig en handhaaf deur nooit skuldig te pleit vir enige oortredings hoegenaamd nie, selfs al bevind n hof hulle skuldig! Hierdie erkenning van Nene is voorwaar n snaakse verskynsel soverre dit die ANC betref!

Marius ·

Daar is mense wat die werk reg kan doen maar nou jou hulle velkleur is verkeerd vir die ANC

Eish ·

Nene het toe inderdaad die president versoek om hom van sy pligte vry te stel. Volgens artikels, vanweë druk. Inderdaad die korrekte optrede.

Paul ·

Ek het ‘n idee Nene sou verkies het om OP sy swaard te val, dan hou hy darem nie soveel letsels oor nie, wel ten minste sterf hy dan nie.

Paul ·

Voor hy OP sy swaard geval het, het hy darem nog die krag gehad om te fluister, “vergewe my”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.