Nuuskommentaar: Om jou te midde van guerrilla-politiek te handhaaf

clinton-trump-zuma-ancHet die magstryd binne die ANC nou die vlak van guerrilla-politiek bereik waaraan ook opposisiepartye en nieregeringsorganisasies onbedoeld meedoen? Uit ’n nuwe artikel in die VSA oor Donald Trump se “guerrilla-politiek” kan afgelei word dat dit wat nou in Suid-Afrika gebeur, ook hieronder kan val. Die skrywer van die artikel merk veelseggend op dat Trump se “guerrilla-politiek gekom het om te bly”.

Die Amerikaanse politieke kommentator, Ted Rall, het pas ’n artikel die lig laat sien, getiteld, Trump’s guerilla politics are here to stay. By die lees daarvan tref dit ’n mens dat dit nie soseer Trump se politieke styl is wat op guerrilla-politiek neerkom nie (hoewel dit kenmerke daarvan dra wat hy skynbaar meesterlik aanwend), maar dat Suid-Afrika nou wel ’n fase van guerrilla-politiek beleef.

Voor daar onnodig warm-onder-die-kraag-lesers is, hier word geen poging aangewend om die eienskappe van Donald Trump en pres. Jacob Zuma met mekaar te vergelyk nie.

Maar wat is guerrilla-politiek? Guerrilla is afgelei van ’n Spaanse woord wat “klein oorlog” betref. Die konsep hier is dat die oorlog op so ’n vlak gevoer word dat die owerheid nie met die volle krag van sy konvensionele mag daarop kan toeslaan nie.

’n Sleutelbegrip is “onkonvensioneel” en talle konvensionele begrippe word geïgnoreer. Hier is baie geleer uit die antieke werk van die Chinese generaal, Sun Tsu. Hy vra onder meer wat die verskil tussen ’n dapper en dom generaal is, en antwoord dan dat dit ’n dom generaal is wat in ’n geveg betrokke sal raak wat hy nie seker is hy sal wen nie. ’n Dapper generaal sal liefs terugval en eers tot die geveg toetree as hy weet dat hy die oorhand sal hê. Hiervoor is ’n ander belangrike konsep, mobiliteit, belangrik, wat insluit dat die guerrillas en hul aanvoerders die terrein en hulpbronne baie goed moet ken. Die steun van die mense is belangrik ingevolge die leerstelling dat die guerrilla ’n vis is en die publiek die see waarin dit leef.

Mediadekking, positief en negatief, is nodig om die doelwit van die guerrilla na die publiek te kommunikeer. Dis grootliks ’n sielkundige oorlogvoering eerder as bloedige gevegte, en waar terreur ingespan word, is die doel om teater (en dus bekendheid) deur die media te skep, eerder as om dood en verwoesting te saai.

Rall se gebruik van die woord “guerrilla-politiek” om Trump se verkiesingsveldtog te beskryf is dat Trump van onkonvensionele metodes gebruik maak om sy opponent te klop.

Wat merkwaardig ooreenstem, is dat Trump én Zuma ’n rits foute gemaak het, wat nie alleen deur opponente as skietgoed gebruik is nie, maar wat tot interne afvalligheid gelei het, en tog is albei skynbaar steeds stewig aan die stuur, al is dit in hul eie magsbasis.

Die Rasmussenpeiling, wat gewoonlik Trump se kanse beter stel as ander peilings, meen wel nou dat Hillary Clinton weer ’n voorsprong bo Trump losgesukkel het. Volgens Rasmussen het Clinton onlangs, ná die onthulling van Trump se “seksbande” nog ’n voorsprong van sewe persentasiepunte bo Trump gehad. Trump het egter daarna gewoel en weer die voorsprong herwin, maar dit glip nou weer terug.

Volgens ’n artikel in die Christian Science Monitor neig 85-90% van die Republikeine en Demokrate om vir ’n kandidaat van hul party te stem, behalwe in uitskieterjare. Vanjaar se resies, sou ’n mens verwag, sou so ’n uitskieter wees, maar volgens die koerant is dit nie die geval nie. Trump, sowel as Clinton wat ook maar ’n rits onverwerkte flaters agter die blad het, se posisies in hul eie partye is min of meer onaangetas. (Volgens vroeëre rubrieke uit die VSA teer albei op die opponent se swakhede en flaters eerder as op hul eie kenmerke – hoewel albei kandidate probeer om hul eie beuel te blaas.)

Nou eers terug na Zuma. Baie Suid-Afrikaners kan steeds nie verstaan hoe iemand wat van verkragting aangekla is, en hom suksesvol op owerspel beroep het, president kon word nie. Sy berugte stortvoorval het veel meer veroordeling in die media op die lyf geloop as sy immorele optrede. Sy immorele optrede is eers behoorlik aangespreek toe hy ’n gesinsvriend se dogter swanger gemaak het.

Hierteenoor is wyd verwag dat Trump se dae as aspirant-president getel is toe bande aan die lig gekom het waarop hy onder meer spog oor hoe hy vroue strafloos tussen die bene gryp. Sy gewildheid op peilings het soos ’n klip geval, en baie prominente Republikeine het hom die rug toegekeer. Maar, verduidelik Rall, Trump is ’n kat met 12 of 13 lewens. Hy kon breedweg daarmee wegkom omdat, soos hy self dit stel, hy net met die mond oortree het, terwyl die Clintons tot die daad oorgegaan het (met ’n duidelike verwysing na hoofsaaklik die Monica Levinsky-voorval maar ook die getuienis van vier ander vroue wat onder die Clintons deurgeloop het).

Zuma se omstrede uitsprake wat hom onder meer kritiek van die vernaamste hoofstroomkerke op die hals gehaal het, het daartoe bygedra dat die Nederlandse koerant Trouw, Zuma se herverkiesing tydens die ANC se Mangaung-kongres in Bloemfontein, as ’n groot fout in ’n spesiale hoofartikel beskryf het. Sedertdien het Zuma se blapse kwalik minder geword, en ook nie net by dom en gevaarlike uitlatings (die Menseregtekommissie ondersoek ’n aantal klagtes teen hom) gebly nie, maar het hy met Nenegate getoon hoeveel skade hy met die daad kan aanrig.

Sedert Zuma president geword het, het Suid-Afrika soos ’n klip op die korrupsie-persepsie-indeks en persvryheidsindeks geval (hoewel verbeterings met die afgelope paar indekse bitter baie Suid-Afrikaners die kop in ongeloof laat skud).

Wat is die “guerrilla-taktiek” wat Trump inspan?

Volgens Rall kom dit daarop neer dat Trump daarin slaag om die media-oog te tref en te behou. Onder meer weet joernaliste (en Trump self ook) nie voor ’n Trump-toespraak wat gesê gaan word nie, en daarom word sy toesprake goed deur die media bygewoon, en breedvoerig daaroor berig. Clinton se toesprake is voorspelbaar omdat sy, by wyse van spreke, “knip en plak” wanneer sy die woord voer. Min nuut en inspirerend vanuit ’n media-oogpunt tref die oog.

’n Oud-Suid-Afrikaanse politikus, Blaar Coetzee, het by geleentheid gesê vir ’n politikus is daar nie so iets soos slegte publisiteit nie, net publisiteit.

Dit lyk of Trump ook die voordeel hiervan trek. (Richard Nixon, daarenteen, sal stellig anders hieroor voel.)

Rall verwys na die “idiot box” in talle Amerikaanse huishoudings waarvan Trump meesterlik gebruik maak.

Volgens Rall trek Clinton ook voordeel uit ’n tekort aan joernaliste in die VSA wat die media laat swaar trek om oral by te kom, en dus hoofsaaklik teer op stories wat makliker kom. Dis ook Trump se troefkaart.

Daar is al baie geskryf oor hoe Zuma daarin slaag om van krisis na krisis te ontsnap. Hieronder tel sy stelsel van patronaatskap waardeur baie mense in leiersposisies se welstand afhang van hul lojaliteit aan Zuma. Hy het die tradisionele leiers agter hom deur ook goed na hul geldsakies om te sien. Dit was daarom ’n interessante tussenspel toe Koning Goodwill, wat loshande die beste versorg word, gesê het met Zuma aan die stuur gaan die land onderdeur spring. Maroela Media het destyds gemeen die koning, wat gereeld finansieel in die knyp is, probeer net weer ’n meevallertjie van Zuma bewerkstellig in ruil vir voortgesette steun.

Zuma maak ook behoorlik gebruik van sy buitengewoon groot presidensiële magte om lojaliste in sleutelposte te ontplooi. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het juis die afgelope Sondag in Rapport hieroor geskryf.

Geen stryd deur guerrilla-politiek sal egter volledig wees as die rol van, of die inspan van die media nie ook bekyk word nie.

Hier, so lyk dit, kry Zuma met die uitsondering van onder meer die Gupta-media, die wind van voor. Trouens, die media delf gereeld deur ondersoekende joernalistiek in Zuma se sake, en het al met juweeltjies vorendag gekom wat in die meeste demokratiese lande die regeringshoof se kop sou laat rol het. So negatief is die persepsie van Zuma nou by ’n groot deel van die publiek dat ontleders moet maan dat Zuma nie die enigste probleem is waarmee die land te make het nie.

Juis hierom is beheer oor die openbare uitsaaier, SAUK, so belangrik. ’n Baie groot deel van Zuma se magsbasis, naamlik die landelike gemeenskap in onder meer KwaZulu-Natal, se toegang tot nuus is die radio. In Hlaudi Motsoeneng had Zuma ’n ideale bondgenoot. Dat daar in aktualiteitsprogramme op veral RSG ’n onverbondenheid is wat dus ook kritiek op Zuma moontlik maak, is aan personeel met integriteit eerder as die Hlaudi-faktor te wyte. Trouens, Motsoeneng het aangedui dat hy RSG nou onder die oog gaan plaas (afgesien van afdankings wat erg teen hom geboemerang het) en daar is in ’n stadium aangekondig dat die program Kommentaar geskrap gaan word. Max du Preez, ’n gereelde deelnemer aan Kommentaar, het by geleentheid op die program gesê Kommentaar is soos ’n onverbonde eiland.

Die sage het hom nog nie klaar afgespeel nie, al is Motsoeneng ná ’n appèlhofuitspraak uit sy pos as bedryfshoof gepos. Die raad (Zuma-lakeie) het Hlaudi eenvoudig in ’n ander senior pos ingeskuif, en kort hierna is aangekondig dat die radiostasies nou onder sy beheer val.

Sou Hlaudi en die radiostasies geskei kon word (soos deur ’n voorgenome hofsaak deur die DA), gaan Zuma se lewensbloed ernstig opdroog. Zuma se teenstanders binne die ANC besef ook dat hul politieke lewens afhang daarvan of die media objektief oor Zuma-verwante sake gaan berig.

’n Slotopmerking is dat die studente-onluste in hierdie monstering van mag ’n groot kopkrapper is. Simpatie vir veral arm studente weeg op teen die keelvolheidsfaktor by ’n groot deel van die publiek oor die wanorde, intimidasie, vandalisme en ander misdaad wat daarmee gepaardgaan. Enige strydende party in hierdie politieke guerrilla-oorlogvoering sal mooi moet besin oor of hy dié potente bagasie op sy wa gelaai wil hê. Die EFF lyk nie erg kieskeurig te wees nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helene ·

Hoe kan ons maak dat Zuma die kometaar sien wat ons op Maroela skryf.

Sune van Heerden ·

Dagsê Helene en AG

Net soos ons nie enige persoon kan dwing om Maroela Media te lees nie, kan ons ook nie ons land se president dwing om die kommentaar op Maroela Media te lees nie. Kontak gerus die presidensie direk indien daar ‘n spesifieke boodskap is wat jy wou oordra: http://www.thepresidency.gov.za/pebble.asp?relid=65 of lewer gerus kommentaar op die presidensie se Facebook-blad: https://www.facebook.com/PresidencyZA/?fref=ts

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

John ·

Om in ‘n siek oorlogstyl ingedwing te word waar jy nie kans kry om terug te tree om jou aanvalle te beplan nie maar met onder-die-beld-bekgevegstyle terug te moet baklei wat eintlik benede ordentlike waardes le, dit is waaraan Trump blootgestel word. As dit Hillary Clinton se kommunikasiewyse en aanvalstaktiek gaan wees wanneer sy ‘n wereldleier word, naamlik om nie te skroom om laer as laag te daal om haar dominansie ten toon te stel nie, le swaar tye voor. En die Demokrate wil nie graag hul warm stoele ontruim nie, daarom skimmel hulle saam. Ons vergeet ook van die magtige opgepompte weermag wat brand om al hul duur wapens uit te toets en die landsekonomie wat wag vir nuwe wapenbestellings van ‘vriende’. Die VSA is bankrot, finansieel en moreel. Skade en skande wag…

gatiep ·

Ek is darm baie dom dan, altyd gedog dis n brawe ou wat sommer 10 mense aanvat.
Nou hoor ek dis die ou wat weghol en op n hopie gaan sit en treur?

Bloues ·

Gatiepie, lyk my dit sukkel ook maar so met die lees saam. Lees weer. Jy onttrek nie en gaan sit nie, jy ontrek en maak beterplanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.