Nuuskommentaar: Om Korkie-losprys te betaal of nie…

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Die land wag in spanning om te sien wat Al Kaïda gaan doen wanneer die spertyd om meer as R32 miljoen vir die vrylating van die Suid-Afrikaner, Pierre Korkie te betaal, verstryk. Met die skrywe hiervan lyk dit onmoontlik dat dié bedrag in so ‘n kort tydjie bymekaar gemaak kan word.

Hoekom help die regering nie? Die een onthulling na die ander oor geldvermorsing op luukshede kom aan die lig, selfs na die minister van finansies aan die einde van verlede jaar die sweep daaroor geklap het. In vergelyking met hierdie vermorsing, of geldelike hulp aan lande wat deur hul eie toedoen geldelik in die knyp is soos Kuba en Zimbabwe is immers kleingeld.

Yolande Korkie se emosionele oproep vir die veiligheid van haar man, en die feit dat haar man so ‘n goeie hart het, dra by tot die emosies…

Al-Kaïda word veral onthou vir die Twin Tower-aanvalle op die VSA ‘n dekade gelede. Hoewel daar al tevore aanvalle was, soos op Amerikaanse teikens in Oos-Afrika, en selfs die Planet Hollywood-aanval in Suid-Afrika, staan 9/11 se aanvalle steeds uit. Daarna was dinge baie anders. Veiligheidsmaatreëls oor die ganse wêreld is verskerp, veral by lugdienste. ‘n Ongekende aanslag het op die kuberruim gekom, enersyds om te keer dat geld Al-Kaïda bereik, en andersyds om veiligheidsinligting te bekom.

Amerikaanse Seals het die stigter-leier, Osama bin Laden tydens ‘n klandestiene operasie in Pakistan gaan doodskiet.

Ten spyte van al die Amerikaanse pogings, gerugsteun deur vennote en bondgenote, is Al-Kaïda vandag allesbehalwe ‘n mag wat teen die planke is. In Sirië is die opstand teen pres. Bashar al Assad besig om te ontaard deurdat organisasies wat deel van Al-Kaïda is, of by Al-Kaïda geaffilieer is, nie net teen Assad veg nie, maar ook teen die koalisie wat die burgeroorlog lei. Volgens aansprake is meer as 1 100 mense reeds in hierdie onderlinge stryd dood – sommiges gesneuwel, ander tereggestel. Wes-Europese lande wat al hoe groter Moslem-bevolkings het, raak toenemend bekommerd oor die groot getalle jong burgers, meegevoer der die radikale Islam, wat uit hul lande glip om in Sirië te gaan deelneem aan die burgeroorlog. Hulle word Jihad-gangers genoem, en heelwat glip net vir ‘n periode weg om ‘n soort “diensplig” te gaan verrig. Uit België alleen het minstens twintig jong manne op hierdie wyse gesterf.

In die naburige Irak waar daar gereeld mense in bomaanvalle sterf, het Al Kaïda onlangs die stad Faluja beset. Dit blyk dat die amptelike Irakse regering slegs met groot moeite die stad weer kon bevry.

Die wêreld sidder nog na Al Shabaab – ‘n filiaal van Al-Kaïda, verlede jaar die Westgate-sentrum in Kenia beset het en groot lewensverlies onder onskuldiges tot gevolg gehad het. In Libië wys die vinger na die aanval op die Amerikaanse diplomatieke sending in Benghasi ook na Al Kaïda.

Met die bomontploffing by die Bostonse marathon het die wêreld wat nog nie tevore kennis geneem het nie, deeglik kennis geneem van die Tsjetsniese stryd teen Rusland. Binne die Russiese federasie is verskeie Moslemgebiede, waaronder Tsjetsjnië en Dagestan, en Rusland loop betreklik gereeld onder terreur onder dié groepe deur. Onlangs was daar twee dodelike selfmoord-bomaanvalle in die stad Volgograd. Die aanvalle is blykbaar daarop gemik om die aanbied van die Winter-Olimpiese Spele in Soltji in dié omgewing wat volgende maand plaasvind, te ontwrig.

Beteken dit dat alle Moslems radikaal en potensiële terroriste is?

So ‘n vraag sou egter min of meer dieselfde sin maak as die vraag of Christene radikaal is omdat ‘n godsdienstige vertakking ‘n groot impak op lede van die Boeremag gehad het.

Na die opstand teen die Sjah van Iran, is radikalisme in die Islam lank aan die Sjiïtiese vertakking van die Islam met sy ajatollas gekoppel. Die Sjiïete vorm die meerderheid in Iran, asook in Irak, maar is minder as die ander hoofvertakking, die Soenniete. Daar is ook beduidende getalle in Sirië, waar Assad tot ‘n Sjiïtiese sekte, die Alawiete behoort. Dié feit verseker dat Assad en sy minderheidsregering steun uit Iran kry, en dat die radikale Libanese groep, Hisbolla, aktief aan die kant van Assad in Sirië veg.

Al-Kaïda word egter uit die Soenniete gevoed, en meer spesifiek uit ‘n groepering wat as die Salafiste bekend staan, maar in wese as die neo-Salafiste bekend behoort te staan omdat die Salafiste by tye eintlik juis die gematigde groepering binne die Islam uitgemaak het. Die Salafiste is ideologies baie nou verwant aan die Wahabiete wat in Saoedi-Arabië (waar Bin Laden vandaan kom) en Somalië oorheers.

Via die opkoms van neo-Salafisme word daar natuurlike bande gevorm van organisasies soos Boko Haram in Nigerië, die opstandelinge in Mali, en die Talliban. Die Taliban is nie net in Afganistan aan die roer nie, maar ook in Pakistan waar dié organisasie veral in die Swat-vallei sterk staan. Vir Israel is dit belangrik dat enige moontlike bande tussen Al-Kaïda en Hamas aan die groot klok gehang word.

Al-Kaïda is ook sterk in Jemen ingegrawe waar die sentrale regering al lank met streeksopstande te kampe het, en olie-uitvoere al baie lank ontwrig word. Al-Kaïda floreer onder sulke onstabiele omstandighede. Die land was al telkemale die “slagveld” waar die VSA met sy gevreesde afstandbeheerde vliegtuie, die “drones” jag op Bin Laden se opvolgers gemaak het.

Die opkoms van Al-Kadïa het in geen onseker terme nie onderstreep dat die verligting dat internasionale terreur hok geslaan is, voortydig was. Dit het gewoon in ‘n nuwe, groter bedreigende formaat na vore getree.

Op die kliniese “noot” is dit maklik om te sê daar kan nie met terroriste onderhandel word nie. Sodra hulle hul sin kry, sal hulle eenvoudig voortgaan om dié betrokke terreurdaad te herhaal. Boonop sal die geld van ‘n losprys vir verdere dade van terreur gebruik word.

Ander Suid-Afrikaners sal dan ook in lande waar Al-Kaïda of sy filiale oor ‘n vermoë beskik, prima-teikens vir ontvoering word (soos Franse burgers in Noord-Afrika nou is na lospryse vermoedelik in enkele gevalle betaal is), word geargumenteer.

Dit is ook nie so maklik om te sê Suid-Afrikaners moet wegbly uit lande waar Al Kaïda oor vermoëns beskik nie. Talle Suid-Afrikaners wyk juis na die olieryke lande uit omdat dit omtrent al plek is waar hulle kan werk kry, en ‘n ietsie vir hulself en hul kinders kan wegsit. Boonop is daar gereeld berigte dat Al-Kaïda in Suid-Afrika self teenwoordig is en selfs opleidingskampe bedryf.

Nou oorheers die emosies rondom die veiligheid van Pierre Korkie die kwessie, en niemand durf sê dit is verkeerd nie.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.