Nuuskommentaar: “Om kwaad te wees vir die ANC is soos om kwaad te wees vir God.”

anc-logo-320x205Die Vrystaatse premier het weer ontsteltenis veroorsaak oor ‘n uitspraak wat in sommige kringe as godslasterlik ervaar word, en ander as “minstens baie onverantwoordelik,” terwyl die Vryheidsfront Plus dit as arrogant en desperaat beskou.

Op sosiale netwerke is die ANC nie die roede gespaar nie.

Dié opmerking volg na ‘n uitlating van die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, wat onder meer die ANC se drieparty-alliansie met God se drie-eenheid vergelyk het. Die uitspraak het ‘n stortvloed kritiek van kerke en politieke partye ontlok.

Oor die afgelope aantal jare het veral pres. Jacob Zuma, maar ook Magashule, gereeld die hoofstroomkerke se argwaan op die hals gehaal oor uitsprake wat as godslasterlik, of grensend aan godslasterlik beskryf is, en die NG Kerk het in ‘n stadium selfs gemaan dat dié kerk sy lidmate sal oproep om nie vir die ANC te stem as dit weer sou gebeur nie. Ook die VGK het in ‘n stadium ‘n soortgelyke houding ingeneem.

Van die bekendste uitsprake was:
–       Die mense moet Zuma volg soos hulle Jesus gevolg het. – Magashule
–       As die mense nie vir die ANC stem nie sal die voorvadergeeste hulle kom regsien – Zuma
–       ‘n Stem vir die ANC bied ‘n vrypas na die hemel. – Zuma

Volksblad se gemeenskapskoerant Vrystaat berig in 2011 soos volg in ‘n hoofartikel: “Die premier van die Vrystaat het in die openbaar gesê die ANC sal regeer totdat Jesus terugkom en het al selfs Jesus Christus se lyding met die sogenaamde lyding van Jacob Zuma vergelyk. Zuma self is nie op sy mond geval nie. Hy vertel aan ANC-lede dat om vir dié party te stem vir hulle ’n kaartjie na die hemel is. Die minister van energie het ook nou tot die Christelik-politieke debat toegetree deur in sy politieke propaganda die Vryheidsmanifes se beginsels gelyk te stel aan dié van die Bybel.”

‘n Deel van die uitsprake kan aan onkunde oor ‘n Westerse godsdiensbeskouing toegeskryf word. Waarskynlik die beste voorbeeld was Zuma se aankondiging kort na sy herverkiesing as ANC-president dat hy ‘n nasionale reinigingsdag gaan laat aanbied. Sy onkunde het duidelik geblyk daaruit dat hy toe ook gesê het hy gaan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vra om dié geleentheid te lei – terwyl die Anglikaanse kerk van Tutu niks met die animistiese reinigingseremonies te make wil hê nie. Voorts het die president gesê mense wat nie aan die reinigingseremonie deelneem nie, is gekant teen versoening. Hierdie uitsprake het saamgeval met sy honde-uitsprake wat internasionaal opslae gemaak het, maar sy reinigingsdag-aankondiging het ook in die internasionale media erg onder kritiek deurgeloop. Uiteindelik het die president se adviseurs ingehaal, en ‘n uitnodiging is nooit aan Tutu gerig nie, en niks het van die beoogde reinigingsdag gekom nie.

Dat die animisme steeds baie sterk onder ‘n groot deel van die swart bevolking teenwoordig is, is geen geheim nie. Daar word selfs op staatskoste projekte geloods om voorvadergeeste in die buiteland te gaan haal waar bekendes gesterf het om hulle by plekke soos die Vryheidsmuseum en selfs die Vrouemonument vry te laat, en die regering se nuusagentskap BUA berig hieroor. Beesslag-seremonies vind by talle groot geleenthede plaas.

Dit is nie tot die ANC beperk nie. Die SABC-TV het byvoorbeeld breedvoerige beeldmateriaal uitgesaai oor hoe dr. Mamphela Ramphele eers haar voorvadergeeste in Limpopo gaan opsoek het voor sy haar party, Agang, aangekondig het. Selfs eerw. Kenneth Meshoe het in reaksie op Zuma se gewraakte voorvader-dreigement walgegooi en gesê geen “verantwoordelike voorvader” sal aan so ‘n wraaksessie deelneem nie.

Al die vreemde en aanstootlike godsdiensuitsprake kan egter nie aan onkunde of ander godsdienssienings toegeskryf word nie.

Wat Christene selfs meer ontstel, is dat die hoofstroomkerke al soveel keer beswaar gemaak het dat dit ondenkbaar is dat onkunde nog aan die wortel hiervan kan lê. Dit kom duidelik teen ‘n prys – in sekere groepe altans – deur onder meer Tutu wat aangedui het hy sal nie weer vir die ANC stem nie.

Klaarblyklik glo die ANC dat daar meer wins as verlies te make is deur die volgehoue misbruik van godsdiens (en dis ook nie net die ANC wat hom hieraan skuldig maak nie).

Hoeveel Christene sit nie Sondae ingeryg in kerke wat teen aborsie op aanvraag, dobbel en pornografie gekant is nie, maar is vurige ondersteuners van partye wat juis hierdie “waardes” onderskryf? Die goue sleutel is dat die Christen nie in die politiek die Here sy, die mens,  se instrument moet probeer maak nie, maar ook in die politiek as instrument van God optree.

Hoeveel kerkraadslede maak nie in die kerkraadsvergaderings die vroomste praatjies en verniel tuis hul vroue en kinders, en is by die werk ‘n varkerige baas nie? Ja, hoekom as ons so ‘n oorweldigende Christelike land is, bevind ons ons nou midde-in ‘n 16-dae veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders?

Ja, die Christen mag nie swyg oor bewustelike godsdiensvergrype nie, ook nie in die politiek nie, maar dan op so ‘n manier dat dit duidelik is dat hy die vrugte van die Heilige Gees in hom dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jasmine Everett ·

Logies behoort elke Afrikaner die Vryheidsfront Plus te ondersteun, synde die laaste oorblywende party wat nog aan verkiesings deelneem en wat so min of meer die Afrikanerbelang verteenwoordig. Of altans, dít het ek my die afgelope drie of vier jaar probeer wysmaak terwyl ek as Vryheidsfrontlid gepoog het om die party tot ‘n meer waagmoedige en verbeeldingryke benadering te oorreed.

AmY ·

Sjoe, dis darem baie gevaarlik om sulke uitlatings te maak. Vir my, om vir die ANC te stem, is soos om in die kring van die spotters te sit. Dankie, maar nee dankie, al kry ek ook ‘n ‘vrypas hemel toe’.

Frik Lotz ·

Die ANC misbruik God se Naam en maak n bespotting van Hom. Hierdie land het verval in misdaad,korrupsie,immoraliteit,ens.ens.ens,die lys gaan aan en aan. Mense vd ANC wat dié uitsprake maak, sal verantwoording moet doen teenoor God en dan sal ons sien of hul so braaf gaan wees en vol van hulself. God laat Hom nie bespot nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.