Nuuskommentaar: Om ’n koerant te red, is veel meer as om ’n aantal werksgeleenthede te red

koerant

Argieffoto

Koerante wat daagliks wêreldwyd in die stof byt, is ’n gegewe, maar veel meer as werksgeleenthede gaan in die proses verlore. Wat word alles gered as ’n eens suksesvolle koerant wat op die punt gestaan het om sy deure te sluit, se voortbestaan skielik op die een of ander manier gered kon word? Of anders gestel, wat sou alles verlore gaan as ’n koerant op ’n dag gedwing word om wit pens bo te dryf?

Die doel hier is nie om die vermindering van veral koerante in die mediabedryf te beredeneer nie. Die feit dat daar tussen 2004 en 2014 in die VSA 126 minder daaglikse koerante die lig gesien het, is maar een van die tekens dat koerante aan die verdwyn is. Talle ontledings is al gedoen oor hoekom dit die geval is, en is al bespreek, met die opkoms van die internet as een van die belangrikste redes.

En veel meer verdwyn saam met ’n koerant as wat aan suurstofgewende bome bespaar kan word as minder papier gebruik word. ’n Ervare joernalis kan gewoonlik ’n wolhaarstorie op ’n spreekwoordelike myl ruik en as fopnuus uitwys. Sekere kundighede soos insigte, vaardighede om temas vir hoofartikels te identifiseer en letterlik oornag gesaghebbend en lesersvriendelik daaroor te kan skryf, ontwikkel oor jare.

Selfs die intelligensiedienste, wat regerings objektief van saakmakende, objektiewe en korrekte inligting moet voorsien, word erg verskraal as goeie koerante in die stof byt. Dit word beraam dat goeie intelligensiedienste sowat 80% tot 85% van hul inligting uit oop bronne neem, en saam met hul kovert-bekomde inligting verwerk om regerings inligtinggewys met korrekte, parate inligting te bedien.

Die indruk word egter nou dikwels gewek dat die intelligensiedienste die waarde van dit wat die Afrikaanse media opdiep en opdis, geringskat en in die proses die regering hoofsaaklik bedien met narratiewe wat swyg oor werklike saakmakende veiligheidsinligting, soos potensiële konflikbelaaide weergawes, soos wat met Marikana die geval was, en ook die xenofobiese probleme, die implikasies van plaasaanvalle en die gevolge van die aanslag teen Afrikaans.

Iewers in die proses het bekampingsmetodes ook die bose sirkelgang begin voed. Om koste te bespaar is al hoe jonger joernaliste aangestel. Hoewel baie van hulle deeglik akademies onderlê was, was die ervare breinkwyn dikwels ook gevoelig namate die kollektiewe geheue en ander bates skoppe op die skeen toegedien is. Baie hiervan raak ook die elektroniese media, en lesers en luisteraars laat dikwels van hulle hoor om te kla oor die taalgoggas en feitedwalings wat inglip, en algaande al hoe meer by die kompanies vol ingemarsjeer kom.

Die internet maak dit op die oog af al hoe onnodiger vir koerante om joernaliste te beloon deur hulle in die buiteland te ontplooi. Dis veel goedkoper om dr. Google te gebruik. Maar namate die buitelandse korrespondente minder word, dwing die werklikheid die koerante om verliese van dié korrespondente teen te werk met allerlei vorme van betaalkanale. Dit plaas die werklike nuus dikwels buite bereik van gewone lesers.

Vanoggend berig die Los Angeles Times oor die oudste weekblad in Kalifornië (sedert 1853 gepubliseer) waarvan die voortbestaan gered is ná die eienaar en self verslaggewer aangedui het dat die koerant nou sal voortbestaan, danksy ’n ekonomiese inspuiting vanaf ’n bejaarde vriend van die eienaar. (Lees gerus die volle verhaal hier.)

In Suid-Afrika speel koerante en ander media belangrike rolle om Afrikaans nie net te bevorder nie, maar dit is ook dikwels toonaangewend om deur die spesifieke kundighede van sekere personeel die taal te bestendig. Wie sal immers die rol van die vermaarde dr. Anton Prinsloo van RSG vergeet? Al is hy al ’n aantal jare oorlede, is sy taalwysheid in verskeie boeke opgeneem. Maroela Media put gereeld hieruit en publiseer daarvan.

Dit verander nie die feit dat Afrikaans as lewende taal steeds aan die ontwikkel is nie. Hoeveel van die ouer Afrikaanssprekendes is nog hoegenaamd bewus daarvan dat jongelinge so 60 jaar gelede geleer is die korrekte Afrikaans om ’n brief te gaan pos is om die brief “op die pos te doen”?

Sterf ’n koerant, sterf veel meer as net ’n aantal werksgeleenthede. Dikwels sterf vele unieke gebruike, en sneuwel talle ander ondernemings wat van die koerant se advertensiemark afhanklik was ook. ’n Deel van die leserspubliek verloor hul uitlaatklep vir deelname aan die openbare debat, en sodoende word die openbare diskoers van skittertalent gestroop. Potensieel vernuwende idees beland in die asblik voor dit nog die lig kon sien.

Gelukkig is daar alternatiewe, soos die kubertegnologie. Hierdie tegnologie brei nie net die media-opsies uit nie, maar word dikwels deur die tradisionele media ingespan om die spreekwoordelike pen in ink gedoop te kan hou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
B

Net jammer baie mense, families en tot selfs bevolkingsroepe het baie seer gekry met sensasionele en selektiewe beriggewing.
(Was die kool die sous werd?)
As sulks is koerante mooi en pragtig maar ek is bevrees die eienaars / mediahuise het hulle eie geheime agenda en kan grootliks die narratief beïnvloed – meerendeels ten koste van andere.
(Dit sluit aan by die punt van hoe min mense kan regtig krities dink? Ek kan nie nou die bron onthou maar het ‘n ruk terug gelees dat tot amper 80% van lesers is maklik manipuleerbaar deur wat aan hulle opgedis word.)

André André

As mens die kennis het en weet waar jy (dit) vandaan kom (dit kan ‘n koerant, ‘n spesifieke instansie, tegnologie, ens wees) dan het jy soveel meer insig om die toekoms met uitvindings in tegnologie tegemoed te gaan. Daardie kennis is dus van onskatbare waarde en hoef die wiel nie elke keer van vooraf uitgevind te word nie.

En dan natuurlik is die aangewese dat mens persoonlik en eerstehands kennis gaan neem/opdoen, daar plaaslik, al Google mens, dit is daardie fyn aanvoeling wat jou dan iets ekstra laat waarneem wat ander dalk nie so op Goolge uitgedruk het nie.

Bril

Ek is moeg daarvoor dat hoofstroomkoerante eensydige politieke berigte plaas om sodoende ‘n politieke agenda teen my belange te propageer. Daarvoor moet ek myself internet toe begewe om nog ‘n mate van waarheid te ervaar. So eenvoudig soos dit. Ek finansier nie my eie ondergang nie.