Nuuskommentaar: Om nie as kommentator op een snaar te bly tokkel nie

Herman Toerien

Herman Toerien

Enige kommentator wat sy sout werd is, sal periodiek bietjie terugstaan en diep besin oor of sy aanslag nie te eendimensioneel geraak het nie; of hy nie te veel op een snaar bly tokkel nie … Kortom, dra hy konstruktief tot die openbare gesprek by? Dit is byvoorbeeld ongelooflik hoe maklik dit is om in Zuma-bashing te verval, terwyl daar eintlik ʼn hele wêreld daarbuite is met belangrike gebeure wat ʼn behoorlike ontleding en bespreking verdien. “Permanente” Zuma-bashing is nie net baie gewild by die lesers nie, maar dis ook die lui kommentator se kos – daar is soveel materiaal en skandale om uit te put dat behoorlike navorsing is gewoonlik oorbodig.

Eintlik is die herbesinning ʼn daaglikse proses, maar geleentheid vir groot huisskoonmaak moet ook periodiek geskep word. Soms word so ʼn herbesinning “uit die bloute” op die kommentator afgedwing, soos ook hierdie kommentator wat onlangs die nuus gekry het van twee soorte kanker wat onafhanklik van mekaar die liggaam aftakel. ʼn Moeilike pad lê voor waar behandeling soms die daaglikse lewering van nuuskommentare onmoontlik sal maak. Daar is egter nog geen sprake van om soos ʼn kankerlyer voel nie – eerder soos ʼn kankervegter. Die uitkoms is, soos die baie gelowige dokter sê, in die hand van die Here.

Maar terwyl die kragte nog daar is, terwyl die tyd nog redelik ruim is en daar hoop is dat dit onder beheer gehou sal kan word, wat bring so ʼn selfondersoek aan die lig?

Die daaglikse nuuskommentaarskrywes het soos ʼn naelstring tot die eie wese geword. Die wêreld daarbuite gaan aan. Sake waarvoor ʼn mens jou beywer droog nie op nie. In hierdie geval is bewuswording en begrip vir outisme steeds hoog op die agenda. Begrip vir die disleksielyer se stryd om volgens sy potensiaal te presteer en dikwels baie belangrike alternatiewe vaardighede ontwikkel. Nou kom daar ʼn groot bewuswording by van die bykomende energie wat ʼn eggenoot en ander gesinslede nodig het wanneer een nie meer sy of haar gewig kan dra nie – al is dit tydelik.

Daar is steeds internasionale terreur wat op elke denkbare manier beveg moet word – ook deur die pen. ʼn Koue Oorlog het weer ontstaan en dra ʼn onheilspellende plofsituasie.

Hier plaaslik sal ʼn kommentator werklik werklikheidsvreemd wees as hy nie gereeld kennis neem van korrupsie, wanbestuur, die omvang van plaasaanvalle en die aanslag op Afrikaans nie. Die aanslag op die regbank moet aan die kaak gestel word, met deeglike inagneming dat die regering die hele situasie probeer toesmeer.

Daar is steeds ontsettende armoede en daar is talle honger kinders, nie net in Suid-Afrika nie. In die VSA word gewonder hoe doeltreffend die nuwe projek, “No one is left behind” kan wees om te verseker dat almal die geleenthede (en kos) kry wat hulle nodig het.

Kan so iets in Suid-Afrika ʼn werklikheid word, waar die vernaamste kerke dit nodig gevind het om die regering te striem oor die morele verval binne die regering?

Watter soort kommentator is dit wat net silwer randjies raaksien? Daar is immers enorme druk van die regering dat die media meer op die positiewe stories ook met fokus.

En dit is so dat dit die aandag moet kry wat dit verdien. Daar is immers kommentators wat deurlopend ʼn beeld van positiwiteit uitstraal, soms vol broodnodige inspirasie, soms irriterend naïef.

Die kommentator is egter ook nie net kommentator nie. Hy het ook ʼn ander lewe waar Godgegewe talente ingespan kan word. Soms is dit nie so maklik nie – om byvoorbeeld ʼn selfopgelegde missie te hê om natuurwetenskaplike nuus soos ruimte- en mediese nuus in gewone Afrikaans na lesers te bring, maar waar die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap besluit het om Afrikaans die koue skouer toe te keer, en dan nog boonop ʼn klomp bog-argumente daarvoor te opper. Sit hy stil as dit duidelik is dat daar by sy alma mater ʼn duidelike veldtog is om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal?

Dan is hy nie meer homself nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ai, sterkte vir jou Herman. Hoop ons lees jou kommentare nog lank.

Gert ·

Sterkte met die stryd, Herman. Jou kommentaar was nog altyd in die kol en verstaanbaar

tina ·

Tereg verskuif ‘n mens se perspektief ietwat wanneer ‘n mens hoor dat jou liggaam anders gesels as jou denke. Weereens bly oor die uitkyk op hoe jy jou uitdaging die hoof bied, naamlik as ‘n vegter.
As kommentator: puik artikels. Baie van die artikels het informasie bevat, wat nie altyd tot die gemiddelde landsburger deur gekom het nie.
Sterkte en een dag op ‘n slag.

Grassie ·

Jy moet vasbyt, Herman. Jy is een van die baie min kommentators wat nie radikaal na enige kant toe is nie, en die vermoë het om ‘n warboel van gegewens oor ‘n onderwerp te rangskik en in konteks te plaas sodat dit sin maak. Dan hou ek nog daarvan om af en toe met jou te stry ook. Ek glo jy sal daardie berg klim en nog baie lank hier op Maroela kommentaar lewer.

pieta ·

Herman, jy KAN! Baie dankie vir jou eerlike en toepaslike aanbieding van baie interresante feite, altyd so logies en bestuderend aangebied. Dis WERKLIK lekker en leersaam om jou perspektief te lees. Geen wolhaar stories om “populêr” te wees nie, net feite. Ek maak ‘n punt om altyd jou berigte te lees, so leersaam. Sterkte vriend.

Danie Jacobs ·

Baie waar, maar ongelukkig het dit onmoontlik geword om die geweldige agteruitgang in ons land te verontagsaam. Inteendeel, indien ons langer sou stilbly oor dit wat verkeerd gaan, sou ons ons plig teenoor ons nageslag gruwelik versuim. Die enigste oorblywende manier om hierdie agteruitgang te probeer stuit, is om alles wat verkeerd gaan deur middel van die nuusmedia bekend te maak. So “tokkel maar die snaar”, ons het tans geen ander keuse nie.

anne ·

Baie sterkte met die pad wat voorle. Geniet beslis jou artikels en sien uit na nog baie daarvan.

neelsie ·

Herman, jy is n mens met insig en besondere talent.
Hou so aan.
Ons waardeer jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.