Nuuskommentaar: Om te stem of nie

Foto: Maroela Media

Al is stemreg nie die enigste manier waarop burgers hul demokratiese regte kan uitdruk nie, word dit algemeen as die belangrikste beskou. Tog is daar heelwat Afrikaners/wit mense wat dit duidelik maak dat hulle nie gaan stem nie, en sterk standpunt daaroor inneem.

Ongemaklik dikwels hoor ’n mens hoe ander met groot oortuiging motiveer hoekom hulle nié gaan stem nie. Hulle is duidelik ook nie vatbaar vir enige argument tot die teendeel nie.

Die redes wat aangevoer word, sluit in: om te gaan stem beteken om die legitimiteit van die owerheid en/of Grondwet te erken. Ander meen daar is sinvoller bydraes wat gedoen kan word om ’n positiewe invloed uit te oefen, eerder as ’n stem te gaan “vermors”.

Nog ander meen die politici op alle vlakke is gewoonlik so swak of skelm dat hulle nie ’n mens se steun verdien nie. Lees gerus Danny Titus se artikel hieroor.

Die argument oor legitimiteit het meer simboliese as regsbetekenis. Die oomblik dat iemand ’n hamburger koop, betaal hy BTW en het by implikasie die regering formeel erken.

Een leser het selfs gevra dat alle Afrikaners as ’n gebaar van protes van die stembus wegbly. Hy meen dit sal ook die buiteland se aandag vestig op die diskriminerende praktyke van die regering.

So ’n stap in Suid-Afrika is nie heeltemal vreemd nie. In 1980 het die destydse Verteenwoordigende Kleurlingraad, wat sedert 1964 bestaan het, homself geprorogeer (ontbind) deur herhaaldelik te weier om die raad se begroting goed te keur. Die lede het hul inkomste en voordele verloor, en verskeie was werkloos.

Dit kan nie heeltemal vergelyk word met wat die leser voorstel nie, want die raad is deur die meeste waarnemers as ’n nuttelose instrument beskryf. Enkeles het wel gesê dit het oor baie gesag beskik. Die feit is egter dat die 1983-Grondwet kort hierna in werking getree het, en die driekamerparlement met die Raad van Verteenwoordigers het met meer mag in werking getree.

Stemreg is maar een element van ’n grondwetlike demokrasie. Ander elemente sluit in ’n vrye pers en persvryheid, die bestaan van burgerlike bewegings soos AfriForum, Freedom Under Law en Outa, ’n onafhanklike regbank, die beskerming van minderheidsregte en individuele regte wat saam menseregte uitmaak, gebondenheid aan die internasionale reg, en ’n regering wat in algemene belang, nie in die belang van die regerende party se mense nie, regeer.

Daar is dus verskeie maniere hoe burgers aan die demokrasie kan meedoen sonder om ooit met hul voete naby ’n stembus te kom.

Maar maak elke stem saak? In ’n proporsionele kiesstelsel soos in Suid-Afrika gaan stemme nie verlore nie. Selfs een stem kan ’n verskil maak. Met ’n vorige verkiesing het ’n radikale party ’n setel in ’n provinsiale wetgewer gekry, en nie ’n gematigde party nie, oor die verskil van een stem.

’n Groter probleem is dat baie kiesers om ander redes vir ’n sekere party stem as een met wie se beleid en optredes hulle uit eie oortuiging saamstem. Hulle voer dikwels van die mees verspotte argumente aan oor hul keuse, en vertel ook dikwels hoekom hulle ’n party se beleid steun, maar hul weergawe van wat daardie beleid behels, strook hoegenaamd nie met die werklikheid nie.

Soms spel sekere werklikhede uit hoe deeglik ’n party, selfs die party met die beste beleid, sy boodskap by die kiesers uitkry of nie. Hoeveel potensiële Afrikaanse stemme verloor ’n party wat al sy mediaverklarings slegs in Engels uitreik? Dit is ’n geldige vraag veral ná die opkoms van die gemeenskapsmedia. Penorent Media, wat betreklik onlangs ontbind het nadat dit jare lank volledige nuusbulletins aan gemeenskapsradiostasies met ’n gesamentlike luisteraarstal van ’n miljoen Afrikaanssprekendes voorsien het, het uit twee joernaliste bestaan. Hulle het eenvoudig nie die tyd gehad om vertalings te doen nie. Hulle het verskeie versoeke aan die party, met baie Afrikaanse kiesers, gedoen om asseblief ook ’n Afrikaanse teks te voorsien.

Toe hulle oplaas die destydse partyleier vra, is hulle eenvoudig van die party se verspreidingslys afgehaal. Dit het ’n onafhanklike persoon gekos om via die party se Vrystaatse kantoor te werk om Penorent weer die mediaverklarings te laat kry – steeds net in Engels. ’n Mens kan net raai hoeveel Afrikaanse stemme so ’n party oor ’n tydperk van vyf jaar verloor as die luisteraars in daardie tydperk feitlik nooit aan die party se nuus blootgestel is nie. Om die betrokke party se voorkeurtaal in te span: “The client is always right.”

In ’n land wat in teorie die mees demokratiese land in die wêreld kan wees, kan verskeie faktore daartoe bydra dat die demokrasie nie ’n tiekie werd is nie. Dink maar aan terme soos ’n kleptokrasie en ’n Zuptakrasie. Selfs persvryheid kan die adder onder die bed wees. Dink maar aan iets soos ’n koerant, wat met die kongres van party A foto’s gaan neem van die motors wat by die verrigtinge geparkeer staan. Die onderskrif lui dat die party so gewild is, soos ’n mens aan die registrasienommers kan sien, die mense kom van ver af.

Met party B se kongres word weer foto’s geneem. Die keer lui die onderskrif die party is so onpopulêr dat die saal met mense van ver volgemaak moet word. Dinge kan ook subtiel gemanipuleer word soos bloot uit beriggewing weg te laat dat die provinsiale leier van een van die betogende partye haar middelvinger die praatwerk met die studente van ’n ander betogende party laat doen het. Die koerant het toe reeds baie skade hieroor gely, want die sosiale media het pas begin blom en kon die nuusleemte gou met die feite vul.

Ja, dink net hoeveel kiesers kon potensieel finaal hul keuses gemaak het as die skrywer partye by die naam genoem het.

Wees ingelig, en moenie so gatvas ’n party ondersteun dat jou stem gaan na ’n party wat dit nie verdien nie – selfs nie net “geleen” nie – ’n foefie feitlik sonder weerga.

En met elke verkiesing sal daar foefies wees, soos die verkondiging dat mense “vir Ramaphosa” moet stem – so asof daardie stemme nie maar eintlik vir die ANC tel nie.

Wees wawyd wakker vir foefies wat die demokrasie erodeer en stemme steel en van kiesers bloot stemvee maak.

Partye, waaronder die regerende party, maak nie net van witvoetjie-tegnieke gebruik om kiesers na hulle oor te haal nie, soos die ANC-LP, Nick Koornhof,  probeer het om wit kiesers oor te haal om “vir Ramaphosa” te stem nie. Pas is ’n verslag bekend gemaak wat daarop dui dat oudpres. Jacob Zuma die staatsveiligheidsagentskap ingespan het om met vuilspel steun te verseker. Daar is onder meer ook probeer om Ramaphosa se planne om president te word met vuilspel te verongeluk.

Dit is nou te laat om kiesers wat nie as kiesers geregistreer het nie, om te haal om wél te gaan stem, aangesien die registrasie van kiesers gesluit het. ’n Mens kan bloot ’n beroep doen dat hierdie mense nie voornemende kiesers ’n gat in die kop praat om nie te gaan stem nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

131 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spike

Net jammer sa stem met hul harte en nie verstand nie, maar dan moet jy darem ten minste ñ rasionele verstand hê.

Liza

Gaan stem! Anti-ANC burgers wat wegbly van die stembus gaan die ANC se hand versterk.

Regtig?

Regtig? As vrye pers en spraakvryheid hoekstene van demokrasie is, wat sou die doel van Maroela wees en hul bydrae tot sogenaamde demokrasie as hul sinvolle kommentare wat die teenoorgestelde van hul opinie verwoord, blokkeer/sensoreer/ignoreer. Maar steeds het julle die beterweterige arrogansie om die teendeel te stel in hierdie artikel, sonder om die insette te wys waarop jul reageer… Dit ten spyte van die feit dat jul argument rakende die onderwerp reeds vir langer as 25 jaar verkeerd bewys word. Dis ‘n vorm van kinderlike naiwiteit en liberale wensdenkery as jy aanhou om oor en oor dieselfde foute te maak… Lees meer »

Pieter

Mense wat nie stem nie is lafaards en lamsakke. Hulle will eerder kla oor alles wat verkeerd is, maar wil niks doen om dinge te verander nie. Die DA is nie die beste nie, maar SA benodig ‘n sterk opposisie party. Dit alleen sal dinge verander. Daarna is dit net’n kwessie van tyd voordat swartmense besef die ANC is ‘n leuen en dat Mandela dood is en nie meer die ANC se droom is nie. Vir die wat steeds twyfel wil ek vra om die Bybel te lees en te kyk wat God belowe aan die volk wat Hom dien… Lees meer »

Estelle

Hierdie jaar se verkiesingsstryd en die keuse om te stem al dan nie, is nogal ‘n tameletjie. Dit voel amper asof, veral blanke stemmers, geforseer is om DA te stem, ten einde die balans tussen ANC en DA beheer te kan behou en terselfdertyd voel baie blanke kiesers dat die DA nie werklik die minderheid se belange op die hart dra nie maar slegs nou blanke kiesers probeer oortuig dat hulle ook waarde het. Dit baat nie werklik om vir kleiner partye te stem nie, want soos jy noem, kan een stem die verskil maak tussen positief en negatief. Ek… Lees meer »