Nuuskommentaar: Om toegerus te wees is om weerbaar te wees

Argieffoto

Vanoggend teen vyfuur se kant is Ma oorlede en die impak is dadelik gevoel al was sy ’n dekade lank nie meer met ons nie.

Ma Johanna is deur demensie van ons geroof. Sy het nou die dag 90 geword maar het niks van haar verjaardag geweet nie. Haar dood het ’n nuwe hoofstuk ingelei.

Maar dit was nie altyd so nie.

Sy kon diep spore trap wat geslagte ander rig.

Terwyl haar verstand helder was, het sy ’n program op RSG ontdek, Kommentaar wat deur Niekie van den Berg aangebied is. So het dit ook ’n nuwe wêreld vir die uwe en vroulief ingelui. Nie net ’n proforma vir die ontleed van realiteite en om antwoorde te kry nie, maar ’n pret-manier om iets as man en vrou saam te doen én in die proses wysheid op te slurp.

Die soort program wat verhinder dat iemand sommer ore aangesit word, en wolhaarstories baie moeilik kan oorleef.

Die laaste aantal jare staan nogtans as die era van fopnuus, of selfs die groot leuen bekend. Die nuuspraktisyn wat dit erns het met sy werk, staan eenvoudig verstom om te sien en ervaar hoe iemand wat skynbaar moeiteloos tussen feite en fiksie moet kan onderskei, met die wildste wolhaarstories vorendag kan kom. Niks word eers gekontroleer nie, en so word in paniek ’n storie versprei oor die gevare van ’n inkomende sterrereën, terwyl dit in werklikheid tot die noordelike halfrond beperk is. Bykans niks daarvan kan hier gesien word nie. Die fopnuus word ontvang en aangestuur al is die persoon omring deur mense wat die werklike inligting kan verskaf.

Pas het die rubriekskrywer van die Financial Times, Hannah Kuhler, geskryf dat nuus-ingeligtheid (literate) aan individue geleer moet word, in wese om hulle en die gemeenskap teen fopnuus en die impak daarvan te beskerm.

Dit beteken nie dat daar nie ook wolhaarstories en selfs fopnuus by tye op Kommentaar die wêreld ingestuur is nie. Dit was soms erg om te hoor hoe ’n gerekende professor nie vir die program voorberei het nie, en dan oor die lug sit en twak uitryg – terwyl al die luisteraars nie oningelig genoeg is om nie krapperig daaroor te word nie.

Die kort en die lank is egter dat as iemand se persoonlike inligtingsbasis reg is, is dit moeilik om plek vir fopnuus ook nog te kry. Ry ’n gesin saam, en die radionuus word oor die radio gelees, is daar gereeld een wat sit en geraas maak sodat niemand die nuus behoorlik kan volg nie. En ook maats opsoek wat “nie in nuus belangstel nie”.

En dan later eenvoudig ’n sagte teiken vir fopnuus word.

Ek kan nie onthou dat Ma ooit sou oorleun en die nuusrampokker ’n paar taaies met die plathand sou toedien nie. ’n Nuusweerstandigheid wou sy ook nie hê nie. En daarom was dit vir haar lekker om saam met haar kinders wat van ver kom kuier het, Sondagaande vir so ’n driekwartier agteroor te sit, en nie net te luister wat die groot nuus is nie, maar hoe dit “uitgepak” word.

Want die regte nuuspraktisyn gee nie net nuus weer nie. Hy “komponeer” met trots en vaardigheid die nuus waarmee hy werk. ’n Goeie nuuskommentaar sal daarom nie net ’n sameflansing van inligting wees wat amper net sowel fopnuus kan wees nie, hy sal ’n produk met trots kan neersit, iets wat ’n ander nuuspraktisyn met respek (en soms afguns) kan lees of luister, en probeer nadoen.  Die praktisyns kan wat die gevolgtrekkings betref, van mekaar verskil, maar soos Barnard Beukman, redakteur van Beeld sê, verskil met respek, want die produkte is goed deurdag en objektief.

Almal wen, en fopnuus moet wyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

My meegevoel met jou en jou gesin se verlies. Al is die oumense oud en reeds geestelik afgetakel en al besef ons dat dit tyd was om te gaan, los hul afsterwe nog ‘n groot hartseer in ‘n mens se gemoed. My Ou Lady is jare gelede onder dieselfde omstandighede oorlede en ek mis haar nog steeds. Sterkte vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.