Nuuskommentaar: Om uit die terreur van politieke dryfsand te kom

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

“Gee vir Ramaphosa ’n kansie!” Die spookstem uit die ou Suid-Afrika bly egter spookagtig hang oor die ideologiese moeras waarin pres. Cyril Ramaphosa hom nou in die ekonomiese dryfsand bevind.

Al hoe meer politieke analiste begin glo dat pres. Cyril Ramaphosa se verklaarde pad uit die dryfsand-moeras waarin Suid-Afrika hom bevind nie uiters strategies, en dus van nature stadig plaasvind nie, maar dat die president sukkel om hoegenaamd vorentoe te beweeg. Dit kom daarop neer dat Ramaphosa deur te veel instellings, soos die vakbonde, as gyselaar geneem is. Hierdie instellings het vrede daarmee of die land die omvang van die eise kan bekostig, en aan hul eise gehoor gegee kan word – iewers soek hulle nou opbrengs op hul belegging om Ramaphosa president te maak; hulle sien hoe die ekonomie spartel en dat om hul beurt te gaan afwag in ’n ellelange ry toustaners, net beteken die tou word langer en die wagtyd word ʼn gewag tot die perde horings kry.

Een van die analiste wat na berig word die handdoek vir Ramaphosa ingewerp het (tensy hy van styl gaan verander), is Ferial Haffajee. Lees gerus Tim du Plessis se uiteensetting in Rapport hier.

Daarom word nie net druk toegepas in die vorm van dreigemente van stakings en protesoptogte nie – dié vind daagliks plaas. En, soos in die verlede, word buite die reg, metodes ter ondersteuning aangewend wat as niks ander as politieke en ekonomiese terreur beskryf kan word nie. Intimidasie, moorde, plundery, strooptogte, en net om seker te maak dit voldoen aan die internasionale regsnorm van politieke terreur, word seker gemaak daar sit nie net ’n politieke motivering daar agter nie, dit maak inderdaad deel uit van ’n politieke opstand of politieke of oproerigheid, en die daad onder bespreking moet deel uitmaak van daardie opstand of oproer.

Skrywers oor die onderwerp verskil dikwels nog daaroor of die slagoffers noodwendig ’n “rol” moet speel om dit as politieke terreur te laat kwalifiseer. In Suid-Afrika maak dit, vir die plegers, in die praktyk nie saak nie. So kan ’n onskuldige passasier in ’n motor sy of haar lewe verloor deur ’n klip wat van ʼn oorbrug afgegooi word. Die voorbeelde van onbetrokkenes wat slagoffers word, is legio.

Hoe langer dit lyk of Ramaphosa hom in die dryfsand bevind, hoe langer word volgehou met die politieke terreur waarmee druk op die president gehou word. Nog ’n probleem is dat solank as wat die pas markeer word, hoe meer word die staatskas gedreineer. Een van die hoofoorsake is dat die talle bodemlose putte in Suid-Afrika, soos Eskom en SAL, in hierdie “wagperiode” die staatskas teen versnelde tempo leegsuig, wat enige beweging in die toekoms nog moeiliker maak. Nog ’n voorbeeld is die regskoste wat die staat betaal vir mense wat as getuies voor die Zondo-kommissie getuig, waaronder Zuma.

Suid-Afrikaners is in die reël nie goed vertroud met dryfsand nie, en die persepsie bestaan wyd dat as iemand daarin beland het, dit so goed as verby is met die dryfsandslagoffer. As die persoon weet wat hy doen en nie paniekerig raak nie, is die kanse in werklikheid goed dat hy dit sal oorleef.

Om te bly dryf is een ding, maar om weer op droë grond te kom, is iets anders.

Solank as wat Ramaphosa op een plek bly vassteek, en veral nog daar staan en spartel, sal waarnemers neig om te begin opskrifte uit te dink vir doodsberigte.

Ramaphosa se probleem is ook dat sy vyande hulle nie net buite die ANC, waarvan hy die hoofleier is, bevind nie, maar ook binne die ANC. Hul invloed is selfs dalk groter as diegene buite die party.

Hierdie werklikheid maak dit vir Ramaphosa moeiliker om aktiewe ondersteuning te verkry. Een metode wat klaarblyklik nie juis momentum kon kry nie, was oproepe van wit mense in die ANC om Ramaphosa te steun. Dit het nogal herinner aan ʼn baie bekende oproepe uit die ou bedeling – gee vir FW ’n kansie. Die probleem met hierdie soort kansie is dat die stem wat so uitgebring word nie na Ramaphosa gaan nie, maar na die ANC. Ramaphosa se vyande baat dus net soveel by daardie stemme, en dit kan potensieel rampspoedig wees.

Kan Ramaphosa uit die dryfsand kom? Die belangrikste is dat hy nie paniekerig raak en begin spartel nie. Dit beteken ook nie hy moet niks doen nie, want dan kan hy van ontbering omkom. Hy moet onder meer diep asemhaal om soveel lug as moontlik in sy longe te kry. Om onnodige en ongewenste bagasie saam te probeer piekel gaan hom laat sink en verdrink. Daardie bagasie hoort in oranje oorpakke en ver weg van die president, nie aan sy sy nie.

Solank Ramaphosa bloot modder trap, word niks opgelos nie. Ontleders kan uitlê en redeneer soos hulle wil, kansies gee soos hulle lus het, maar alles loop op ’n gesoek na wind uit. Die opskrif van Tim du Plessis se rubriek sê dit eintlik alles: “Los die konsulteer en begin marsjeer.”

Ramaphosa het hom in die verlede verskeie kere as meesteronderhandelaar bewys. Hy het onder meer die NNP/regering se Kodesa-onderhandelaars maklik platgeloop. Maar solank hy in die dryfsand vasgeval is, bly daar minder en minder oor van wat nodig is om aandag te gee aan die land se probleme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elna ·

Niks sal verander terwyl Ramaphosa aan bewind is nie hy is meer vir die ANC as vir die ander landsburgers. Hy het sy kans gehad en geen verbeteringe getoon nie inteendeel is die land in n erger krises as van tevore met Ramaphosa aan bewind. ” Gee Ramaphosa n kansie?” Om die land verder ten gronde te bestuur ja. Ramaphosa is net daar om die ANC te bevoordeel dis al en vir geen ander lands burgers of partye nie.

John ·

…. Suid-Afrikaners verstaan nie altyd… dis nogal waar, maar in ‘n heel teenoorgestelde opsig. In 1994 is die bordjies totaal verhang. Die sg Westerse denk- en doenwyse verskil toetentaal van diè van Afrika en dit is die probleem. Ons is deur De K&M-grafgrawers direk verplaas na die onderwèreld: Afrika. Nou skreeu ons: Nee links, nee regs, gooi water by, draai die slinger stadiger… Maar ons is die minderheid en die ‘ander’ en die alewige bedreiging uit die Westse beskawing en hulle is die groot meerderheid. Wie se denke oorheers? Nou is CR weer in die modder en hoe gaan ons hom uitkry? Oooh… Nee. Cyril is van Afrika in Afrika waar mag en domminansie regeer. Vergeet dit om Afrika te probeer verander. Ons moet leer om vanuit die under-dog rol, danksy die grafgrawers, sonder lere uit die 6 vt-onder-posisie weer op grondvlak te land. Hoe doen ons dit, Herman?

Petrus ·

Ramaphosa se sondes haal hom nou in. Met of sonder Ramaphosa, SA is reeds oor die afgrond.

Arak ·

As die president so ‘n slagoffer is soos die media hom probeer voorhou, wil ek maar net weet oor die R1000000000.00 (ja, dit was 1 miljard) wat spandeer is om kaders om te koop om vir hom te stem. Hoe kan dit enigsins gesien word as ‘n daad van integriteit en verder wil ek weet of al die kaders wat so omgekoop is wel belasting betaal het op die geldjies wat hulle so ontvang het. Ongelukkig lyk dit vir my Cyril is so vrot soos sy voorganger.

Therese van Schalkwyk ·

Blindelingse vertroue in Cyril Ramaphosa is totaal misplaas.
“Meesteronderhandelaar”, wanneer dit sy sak pas, ja.
Die sakesektor het dan ook behóórlik oor hul eie voete geval om die ‘regte’ kaders se sakke te vul.
(Jacob Zuma moes dit later op eie stoom doen, en die proses is gedoop, ‘staatskaping’.)
In 2014 is Ramaphosa blykbaar getaak om Eskom reg te ruk; kyk hoe lyk Eskom nou.
As nuutverkose president was Ramaphosa se héél eerste aankondiging, onteiening sonder vergoeding. ‘Go figure’.
As Ramaphosa dan werklik die allerlaaste redding vir die land is, ook volgens die Chinese regering, waarom is hy en die donateurs, wat miljoene geskenk het vir sy verkiesing, nie bereid om hul name bekend te maak nie?

Trojaanse Donkie ·

Hoever is dit Australia toe pa ? Swem Jannie, swem!!

koos ·

Ons moet dit nou eenmaal verstaan. ‘n Leier van enige politieke party is net ‘n gesig. Alle partye word van agter die skerms bestuur. Cyril moes OSV aankondig want dit is sy party se beleid. Malema moet wit mense haat want dit is EFF beleid. Geen party leier kan uit sy eie optree nie. Ek was ook onosel genoeg om te dink Cyril sal alles regmaak. Hy word toe gelaat om sekere dinge te doen en ander nie, en daar lê die probleem.

marous ·

Hy en sy hanteerders weet goed genoeg dat die land deur hul vergrype vernietig is , en daar geen hoop op herstel is nie . Daar was nooit enige intensie van opheffing nie . Net selfverryking . Hul eie ikone het die vrese daaroor uitgespreek . Al wat hy en sy kaders nou kan doen is om die wittes te offer om die massas se vergelding vir ‘n wyle uit te stel . Die Indiers en bruin mense moet ook nie te gerus slaap nie ….

Willie ·

Ongelukkig hang CR17 oor sy kop, Bossasa, en dat hy 2de inbevel was toe hulle heerlik gekaap het… Vinkel en Koljander

Jerry ·

Die ANC, CR ingesluit word vanaf Luthuli huis beheer. Die ANC is besig met de-kolonisasie, dit wil hulle bereik om wit monopoliekapitaal oor te dra na ANC kaderstrukture deur korrupsie, diefstal, intimidasie, onteiening en nasionalisering. Die ANC wil dus die ekonomie eers heeltemal knak ten einde kolonialisme te knak voordat die ANC die ekonomie sal begin herbou met al die planne wat die slim ekonome vir hulle gegee het, want dan vat hulle alles teen n appel en n ui. CR kan enige tyd opdrag gee om die ekonomie te herbou, maar hy sal nie, hy wag vir Luthuli huis! “The ANC will drop the rand and the ANC will pick up the rand”! Die ANC is geduldig en raak ryker terwyl opposisiepartye magteloser raak omdat hulle hulle oog, net soos die skrywer, nie op die bal hou nie (de-kolonisasie). Die ANC baat dus polities en ekonomies daarby terwyl Suid Afrikaners verarm en toenemend emigreer! Die ANC wil SA met niemand deel nie, die ANC wil die hele SA en alles daarin besit, in staatsbesit! Soos Steve voorheen sou se, dis hoe dit is!

gatiep ·

Moet ek hom n beter kans gee om my te kan kook in n pot?
N mens moet niks weet van wat aangaan om hom te ondersteun ,gelukkig het mens nie die media meer nodig om nuus te gee nie.Ek kom kyk net nou en dan watse nuwe grappie hier is vir ons.

Pieter ·

Stem broer die hele land is n grap en dan is daar nog mense wat hulle glo ook het nou als gesien

lewies ·

Ons moet in hierdie omstandighede baie meer oor die “GROTER PLAN” praat. Daarvoor is baie min mense toegerus en ek sluit myself daarby in. Al wat ek wel weet is dat ons elke dag in Suid-Afrika, maar ook in die res van die wereld volgengs die GROTER PLAN vorentoe beur. Die uitkoms mag positief of negatief wees as ons daaroor argumenteer, maar vir die ARGITEK van hierdie PLAN is alles steeds op koers.

Pieter ·

Ons blankes het klaar te laat wakker geskrik n kansie vir wat dat hulle nog kan aan hou om ons belasting geld te mors

thinus erasmus ·

Laat ek dit so stel: dit is nou “pay back time” in SA. Die magtige ANC begin die prys betaal vir onderlingse gekonkel, hul verliefdheid op beginsels wat nêrens suksesvol was nie, en hul gelate aanvaarding en skelm verhouding met misdaad sindikate en onderduimshede.
Die groot bakleiery gaan egter nie tussen goed en sleg nie, maar tussen die wat baie het en die wat vreeslik baie het.
Dit is ook tyd dat almal moet leer: Afrika is net soos ń wilde dier, jy kan hom hondmak grootmaak maar eendag is eendag dan gaan jou goeie bedoelings jou net teleurstel. So almal wat die NSA net nog ń kansie wou gee, jul gaan saam suffer, maar die meeste van jul het seker klaar gevlug né?

Jerry ·

Ek stem saam Lewies. Hier is my beskeie opinie. “In die tyd van die profete was die Groter Plan, vir wanneer die Volk onderdrukking en uitwissing in die gesig gestaar het, om hulle grond en al hulle besittings te verkoop en hulle te versprei oor al die vreemde lande van die wereld. Diegene wie dit nie gedoen het nie was uiteindelik deur boosheid verswelg. Daar was uiteraard ook planne vir weerstand en oorlog, maar nie wanneer die Volk uitwissing in die gesig gestaar het nie en slegs wanneer die Volk militer georganiseerd, opgelei en gereed was vir oorlog.

Vlakvark ·

Vlakvark aan Bosvark: “Bosvark, wanneer gaan die Suid-Afrikaanse vroulike Homo sapiens sapiense besluit om ‘n party net vir vrouens oor alle kleurgrense te stig?”

Erdvark aan Krimpvarkietjie: “En wanneer gaan die jeug hul eie politieke party stig om seker te maak vir hul eie rooskleurige toekoms?”

Plaasvark aan Stadsvark: “Stadsvark, wanneer gaan ‘n Amerikaanse dollar gelyk wees aan R2?”

En só gaan Suid-Afrika die toekoms in: nugter weet waarheen. En “Amen” sê al die varkerasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.