Nuuskommentaar: Om wanBeelde (en die Grondwet) neer te skiet

Beeld se voorblad vroeër die week.

Beeld se voorblad vroeër die week.

Dit is nogal skrikwekkend hoe ’n deel van die media en kommentators ’n blinde oog op die besprekings kon werp en karikature van Dinsdag se Solidariteit-krisisberaad kon skets, en dan self die vuurpeloton uitmaak om dié karikature mee neer te haal.

Twee aanhalings demonstreer dit goed:

  • Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging via RSG se program Monitor: “As ons na vandag se Beeld kyk dan was ons nie op dieselfde beraad nie.”
  • Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit: “Ek lees vandag (gister), Beeld/Netwerk24 se beriggewing oor die Solidariteit Beweging se krisisberaad wat gister plaasgevind het. Ek wonder waar op dees aarde het die joernalis daardie snert gehoor wat vandag in die koerant verskyn het. Dit is bloot gemeen en swak joernalistiek om feite en gebeure so te verdraai. Dit was werklik ’n progressiewe gesprek gister en 47 aspekte is bespreek en aanvaar. Beeld gaan en skryf ’n hele storie oor een aspek wat rakelings genoem is. Beeld se leserstal het drasties geval tot 52 000 en die Solidariteit Beweging se ledetal het drasties gestyg tot oor die 300 000 lede, want ons verwoord ons lede se behoeftes. Kan nie verstaan hoe Beeld so met sy lesers in konflik kan wees nie. Daar is ’n paar enkelinge wat glo hul siening weerspieël die werklikheid en hulle skryf vir mekaar artikels. Jare gelede het ’n kollega by Staatkundige Ontwikkeling altyd verwys na die ‘wanBeeld’ en nou is dit vir my meer treffend. En nee, daar is geen behae daarin om hierna te verwys nie.”

Vanoggend staan Beeld ook ’n hoofartikel aan die onderwerp af, waar juis hierdie karikature belig en afgeskiet word, asof dit die kwessies is waaroor die beraad sou handel. In nog ’n berig word die ANC en ander se menings gevra. Prof. Marinus Wiechers word selfs aangehaal as sou hy gesê het om gebiedselfstandigheid te verkry sal die Grondwet met ’n twee-derde-meerderheid verander moet word. Dis hoogs onwaarskynlik dat Wiechers, wat aan die Grondwet help skryf het, onkundig oor die inhoud van artikel 235 sal wees. Dié artikel lui duidelik dat slegs nasionale wetgewing vereis word. ’n Mens kan maar net raai dat die professor na ’n soewereine onafhanklike staat sou verwys het, en dit sou inderdaad ’n grondwetwysiging vereis. Maar so iets was nie (nou) by die beraad ter sprake nie, en hierdie geval lyk alte veel na ’n stukkie lokvaljoernalistiek.

Kortom, dit herinner aan die “hoernalistiek” rondom die PUK-“Nazi”-saluut.

Die gesegde lui dat ’n dokter se foute begrawe word, ’n advokaat s’n gehang word, maar ’n joernalis s’n word gepubliseer. Binne die raamwerk van Media24 waar die susterskoerante op die bekwaamheid en integriteit van joernaliste van ander susterskoerante aangewese is om nasionale nuus uit ander streke te bekom, sal dit bitter jammer wees as die ander redakteurs nie elke nuusbrokkie van ’n bepaalde koerant met ’n vergrootglas deurgaan om die bymotiewe en ander goggas uit te snuffel nie. Uiteindelik is dit immers hul integriteit wat ook in die slag bly.

Volksblad lê byvoorbeeld groot aandag hieraan aan die dag, maar nogtans het die direksie betreklik onlangs besluit om hierdie koerant – die enigste in die Media24-groep wat toe ’n wins gemaak het, te sluit. Dié besluit is gelukkig omgekeer. Volksblad se hoofartikel vandag oor dieselfde onderwerp is terloops van ’n heel ander stoffasie. (Volksblad se hoofartikel was met die skryf hiervan nog nie op Netwerk24 gelaai nie. Dis ook nie die eerste keer dat Volksblad-items wat met dié van Beeld verskil nie gelaai word nie. Beeld en Netwerk24 deel ’n redakteur.)

Uitdrukkings soos klein byltjies slyp, hoort by die onvolwassenes, en arende vang nie vlieë nie, kom by ’n mens op, en hoe gouer die Afrikaanse media wat erg onder druk verkeer by daardie punt kan kom, hoe beter. Want Afrikaans het (nog) die gedrukte media bitter nodig. Die Afrikaanse taalkundigheid wat in Media24 opgesluit is, dra baie daartoe by dat Afrikaans se spelling en taalgebruik onder die breë bevolking suiwer kan bly. (Hoewel daar krakies kom soos die gedurige vertaling van die Engelse woord “section” met “seksie” of “afdeling” en daar ’n skrucbiwend (sic) van slordige “Afrikaans” op die sosiale media en selfs universiteitstake heers.

Maar ons Grondwet erken nie net taalregte nie, dit erken ook die regte van taalgemeenskappe (wat dus wyer as net taalregte ondervang).

En hier is die brandpunt.

Vanoggend lui die opskrif van Volksblad se hoofvoorbladberig: “UV bekyk Afrikaans in klasse”. (Maroela Media het die storie ook enkele dae gelede gedra.)

Die scenario wat geskets word, is dat ’n eens Afrikaanstalige instelling in sy inklusiwiteit studente inneem wat ’n politieke afkeer van Afrikaans het, of bloot so ’n sterk voorkeur vir Engels dat alles in Engels gedupliseer word. Wanneer die kritieke massa van “Engelsgesindheid” die meerderheid bereik, word vrae gevra oor die sinvolheid daarvan om Afrikaanse klasse te behou. Trouens, dit word as problematies voorgehou (soos die dubbele lading van dosente), en omdat dit in die praktyk gebeur dat die Afrikaanse klasse hoofsaaklik wit, en die Engelse klasse hoofsaaklik swart is – “terwyl die UV se beleid een van (rasse)integrasie is,” aldus die rektor.

Net daar word die grondwetlike regte van studente tot niet gemaak ter wille van ’n “beleid” wat ideologies gegrondves word. “Toeganklikheid” kan mos nie as “toeganklik” vertolk word as dit weer na die ander kant toe uitsluitend raak nie. Dit strook ook nie met die grondwetlike bepaling dat die inheemse tale, waarvan Afrikaans tog een is, bevorder moet word nie.

By die US word ook weens verskeie oorwegings na nie-gesegregeerde klasse gestreef, maar die fokus val dan op die tolking van lesings waarvoor die tegnologie reeds bestaan.

Kortom, om weens ideologiese benepenheid vasgevang te wees in die gedagte dat daar geen bedreiging vir Afrikaans is nie, en dat die aanslag teen die taal bloot ’n verbeeldingsvlug is, is ’n ontkenning van die werklikheid. Die Talewet word tans, volgens die beplanning van verskeie staatsdepartemente en staatsagentskappe, ingespan om in verreweg die meeste gevalle met Afrikaans weg te doen. Die departement van wetenskap en tegnologie het selfs opdrag aan al sy agentskappe, soos die SA Ruimte-agentskap, gegee om Engels, Zoeloe en Pedi as sy amptelike tale te gebruik. Afrikaans is die enigste Afrikataal met ’n volledige ruimteterminologiewoordeboek.

Of die Afrikaanse media dit wil weet of nie, hulle is aan presies dieselfde aanslae as die taal en taalgenote uitgelewer. Dit sou opsigtelik sin maak om in die proses vennote te soek, om die Grondwet te ondersoek en die geleenthede daarin te benut om die taal en sy sprekers se regte te bestendig.

Gaan dit uiteindelik werklik nodig wees om hele koerante, en dan dalk selfs koerantgroepe, tot niet te maak omdat enkelinge in hul ideologiese benepenheid gesonde joernalistiek in die afgrond in rysmier?

Sowat 200 koerante in Brittanje het die afgelope aantal jare toegemaak. Dis leeuwêreld om in te oorleef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Sylvia ·

“hoernalistiek” – pragtig – net in Afrikaans!

“dokters se foute word begrawe, prokureurs s’n gehang(?) en joernaliste s’n gepubliseer”

Twee uit die drie is nog waar, dit is dalk omdat prokureurs s’n nie meer gehang word nie, dat dinge heeltemal hande uitruk

Dit is tog jammer dat sogenaamde intelligente mense iewers altyd die pad “byster” raak en hulle op podiums klim net om nog hulle eie ego’s te streel en net so bitter graag gehoor wil word, shame, dié soortiges moet daar seker ook maar wees, soos Max du Preez, wat ook nie weet dat dit is ok om van mening te verander en dit self te sê, as om liewer net op een aambeeld te bly slaan.

Arno ·

Dis jammer om te sê, maar dit hang alles van die perspektief van die redakteur af. Ek het die afgelope ruk agtergekom dat die redakteur van Beeld ‘n spesifieke mening oor Afriforum en dies meer voorhou. Dit bepaal die invalshoek van artikels wat gepubliseer word en kom neer op politieke “korrektheid”. Ek weet egter nie of dit ‘n nuwe verskynsel is nie. Dit was maar nog altyd so. Geen wonder baie joernaliste word politici nie. Ten spyte van die sogenaamde joernalistieke etiek, sal ‘n joernalis altyd in ‘n mate vooroordeeld wees.

Ampie ·

Herman, jy is natuurlik korrek. Die krisisberaad word so klaar verdag gemaak en geetiketeer. Dit wys jou net die invloed van die massamedia wat deur finansiele doelwitte en onderdanigheid beheer word wat nie graag alternatiewe standpunte wil plaas nie. Die “vrye” media het deur selfsensuur toe te pas en polities korrek te wil wees, hulself in ‘n hoek geverf waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Die grootste bydrae, of dis my indruk altans, wat die media maak is om sogenaamde “rassisme” uit te snuffel en te verguis, baie soos ketters en hekse in die Middeleeue uitgesnuffel en verbrand is. Hulle word dan die aanklaer, regter en jurie in hierdie media verhoor van meestal onskuldige aksies of gebeure. Dink maar die Reitz koshuis storie, die Puk Nazi storie, die swartgesig meisies by ‘n partytjie in Pretoria of die toiletherrie in Potgietersrus. Ek wil graag ‘n media instelling sien wat onafhanklike debat aanmoedig en nie “demokratiese” debat, maar op eie voorwaardes en summiere uitsluitings nie. Media kan ordentlikheid vra van deelnemers, maar nie standpunte sondermeer verban omdat jy nie daarmee saamstem nie.
Maroela media moet waak om nie meegesleur te word in hierdie maalkolk van korrektheid en die soek van “rassiste” agter elke bos nie. Dit is ‘n globale verskynsel en die maklike uitweg om te kies. In die volgende paar jaar gaan dit die einde van die Afrikaanse gedrukte koerante versnel en slegs die elektroniese en audio-visuele media gaan oorbly.

Anoniem ·

Dis tyd vir Maroela om ‘n gedrukte weergawe te kry. Skep ‘n regte alternatief wat die “his masters voice” brigade finansieël net so irrelevant as redaksioneel sal maak.

bert ·

Na die Potch – Nazi debakel wonder ek of die Afrikaanse gemeenskap enigsins Beeld of sy redakteur verder kan bekostig? Die skade wat hy eiehandig aangerig het is onmeetbaar. Bou asb Maroela Media uit tot ‘n volwaardige media platform wat kan kompeteer met Beeld.

Grassie ·

Herman – ek lees baie lankal nie meer koerante nie. Joernaliste bevind hulself in verskanste posisies,vanwaar hulle hul menings en weergawes van gebeure wyd en syd kan uitbasuin (amper sê ek uitbasson) met min moontlikheid van teenspraak of kritiek. Elektroniese media is ‘n beter opsie – daar moet ‘n beriggewer sy woorde tel want reaksie kan dadelik en fel wees. Dit dra by tot beter beriggewing.
Soos Ampie hierbo, wil ek ook vra dat Maroela nie standpunte sonder meer verban omdat hulle nie daarmee saamstem nie. Ek praat nou nie van onopgevoede en lasterlike kommentare nie.

Dirk Bosman ·

Die Afrikaner se grootste vyande kom uit eie geledere want hulle is moeilik herkenbaar.

Pieter ·

Lees Max, Adriaan en Piet Croukamp hierdie artikels op Maroela ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.