Nuuskommentaar: Om wraak met wraak te beantwoord

'n Bladsyafdruk uit die boek "Asterix in Korsika" [Astérix en Corse] deur (René Goscinny en Albert Uderzo

‘n Bladsyafdruk uit die boek “Asterix in Korsika” [Astérix en Corse] deur (René Goscinny en Albert Uderzo

Tydens een van die strokieshelde Asterix en Obelix se reise het hulle aan Korsika besoek gebring. Hier kry hulle te make met ‘n vete tussen twee familiegroepe, wat geslagte ver strek. Niemand kan meer onthou waaroor die onmin begin het nie, maar die vete word met oorgawe voortgesit.

Op ‘n ernstiger noot. Onlangs is drie jong Israeli’s ontvoer. Hoewel Hamas daarvan verdink is, het dié organisasie nie daarop aanspraak gemaak nie. Sy lede het hulle egter openlik daarin verlustig. Israel het talle Palestyne aangekeer, en die twee verdagtes, wat soek is, se huise vernietig. Uiteindelik is die drie se lyke gevind.

Hoewel enkelinge in Israel se parlement, die Knesset, vuur en swael gespoeg het, was die algemene gevoel dat omsigtig te werk gegaan moes word om nie die situasie te laat eskaleer nie. Israel was bekommerd dat ‘n grootskaalse strafekspedisie tot ‘n nuwe Palestynse opstand sou lei.

Vir ‘n verandering het Israel die simpatieke oor van die VN se Veiligheidsraad gehad, wat die ontvoering en moorde in die sterkste taal veroordeel het, maar Israel tog tot selfbeheersing opgeroep het. Israel het wel verskeie installasies in die Gasa-strook aangeval, maar dit was meestal verlate installasies en slegs enkele persone is gewond.

Toe word die lyk van ‘n Palestynse seun gevind, klaarblyklik die slagoffer van ‘n weerwraakaanval. Ses radikale Jode word verdink.

Sedertdien hét die situasie geëskaleer. Mortiere en vuurpyle het weer uit die Gasa op suidelike Israel begin reën, en Israel het gebruiklikerwys teruggeslaan.

Die drie tieners wat in Israel ontvoer en vermoor is. V.l.n.r. Eyal Yifrach (19), Naftali Fraenkel (16) en Gil-ad Shaar (16) Foto: timesofisrael.com

Die drie tieners wat in Israel ontvoer en vermoor is. V.l.n.r. Eyal Yifrach (19), Naftali Fraenkel (16) en Gil-ad Shaar (16) Foto: timesofisrael.com

Hoewel die situasies in Suid-Afrika en Israel baie verskil, is daar tog genoeg raakvlakke dat ernstig kennis geneem word daarvan – deur al die partye betrokke. Dat Julius Malema sy party geloods het en openlik verkondig het dat dié party minder op versoening as op herverdeling ingestel sou wees, was omtrent so nodig soos om loodpille teen griep te sluk. ‘n Paar warm onder die kraag-insidente het getoon hoe verwoestend so iets kan wees.

‘n Paar jaar gelede was AfriForum baie ontsteld na dit deur harde werk vordering in ‘n internasionale diplomatieke veldtog gemaak het om die beeld van die Afrikaner elders te verbeter. En toe verskyn ‘n enkeling op die oorsese TV, en stel die Afrikaner se saak, onder andere met betrekking tot plaasmoorde… en ontken die Nazi’s se massamoord op die Jode.

Intussen het AfriForum die SA Menseregtekommissie so ver gekry om die kwessie van plaasmoorde te ondersoek.

Suid-Afrika is ‘n besonder gewelddadige land. Die geweld wat met die Numsa-staking gepaard gaan, skud die land opnuut. Binne ‘n maand was daar net in die Groblersdal-omgewing ses plaasaanvalle wat een slagoffer aan die dood afgestaan het. Buite Reitz is ‘n boer gewond terwyl hy hom teen plaasaanvallers verdedig het, en een aanvaller is in die proses dood. In die dorp self is twee bejaardes aangeval, en ‘n vrou is vermoor.

Suid-Afrika se moordkoers tel onder die hoogstes in die wêreld, en die verkragtingsyfer is pro rata blykbaar die hoogste ter wêreld. Plaasmoorde se moordkoers is dalk hoër as dit wat “amptelik” as die hoogste moordkoers ter wêreld van ‘n identifiseerbare groep – dié van bruin mans op die Kaapse vlakte. Daardie moordkoers hou met bendebedrywighede verband.

Baie stil het Suid-Afrika weer op ‘n internasionale indeks agteruit geboer – dié keer die vredesindeks. Gelukkig het die land net een posisie teruggesak – tot die 122ste plek uit 162 lande. Die meeste lande wat swakker as Suid-Afrika vaar, het met burgeroorloë of volksopstande te kampe. Botswana in die 36ste posisie stel Suid-Afrika se vertoning erg in die skadu. So ook Namibië in die 48ste plek, en selfs Mosambiek waar Renamo en Frelimo weer met mekaar haaks is, troef Suid-Afrika deur die 82ste plek in te neem.

Suid-Afrika het ‘n nasionale vredesakkoord, en het die waarheids- en versoeningsommissie beleef. Ongeveer 75% van alle Suid-Afrikaners verklaar dat hulle Christene is.

Maar die gevolg bly besonder gewelddadig.

Politieke sosioloë kan talle formules opstel om die konflikpotensiaal te demonstreer, soos dié van relatiewe deprivasie, en die enorme inkomstegaping.

Uiteindelik moet die regering van die dag egter besef dat om in belang van die meerderheid te regeer, nie demokrasie is nie, maar ‘n diktatuur van die meerderheid.

Iemand word dan uitgesluit. ‘n Ware regering regeer in algemene belang, en dan wil ‘n mens nie hoor van Zoeloefikasie en Zumafikasie, of sekere mense wat gou-gou parool kry en anders wat nie kry nie.

En nog minder dat iemand se lewe van die wieg tot die graf op sterkte van sy velkleur gerig word nie.

Op elkeen rus ‘n verantwoordelikheid om te help bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.