Nuuskommentaar: Om Zuma se einde te beplan

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

’n Belangrike parlementêre proses begin vandag wanneer ’n komitee moet besin oor die samestelling van die komitee wat oor die staat van beskuldiging van ’n president moet besin. Dit gebeur ongeveer ’n kwarteeu ná die huidige staatkundige (of is dit gewoon ’n politieke een?) bedeling tot stand gekom het, en die konstitusionele hof die parlement die leviete moes voorlees.

Dit het saamgeval met adj.pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap van die ANC. Iets om die verkeerde aan te raak het begin gebeur, en sal hopelik later behoorlik momentum kry.

Baie sal uiteindelik afhang van hoe die voorbereidingsfases van die komitee verloop wat sal besin oor die prosedures en gevolge van die plasing van ’n president in ’n staat van beskuldiging. Dit is goed om te weet dat die proses veral aanvanklik sterk tegnokraties gerig sal wees, met die deelname van gerekende regslui.

Uiteindelik gaan die politici die finale sê hê. Anders as die verlede sal die ANC nou katvoet loop en versigtig wees om nie weer ’n skrobbering van die konstitusionele hof op die lyf te loop nie. Tweedens is daar aanduidings dat baie van Zuma se steun aan die taan is soos vlooie ’n dooie dier verlaat. Daar is egter, in alle billikheid, ook ’n oplewing van Zuma-steun, enersyds onder ou kamerade, maar ook ander wat politieke krag lees in Zuma se weiering om sy amp te verlaat.

Ramaphosa het klaarblyklik nie die luukse van tyd om sy stempel reg af te druk nie. Hy is reeds in belangrike opsigte deur twee Zuma-ondersteuners in die Groot Ses, Ace Magashule en Jesse Duarte, weerspreek. Dit het regstreeks ’n invloed op Zuma se mandaat al dan nie, om tot 2019 in sy amp voort te gaan. Ramaphosa het nie nog vyfdekolonners in sy binnekring nodig nie.

En solank Zuma in ’n posisie van mag is, loop Ramaphosa die gevaar dat sy goeie werk by Davos onverwags tot niet gemaak kan word.

Dit bly ’n tragedie dat die ANC so lank weerstandig was om sy oorsigrol oor die president na behore te vervul. Daar is haas geen terrein waaroor presidente al elders in ’n staat van beskuldiging geplaas is en waaroor Zuma ook aangekla kon gewees het nie. Dit sluit suiwer morele kwessies in soos om glo die dogter van ’n vriend swanger te maak, om staatskaping te ondersoek, om die president voor stok te kry oor die misbruik van grondwetlike regte om vriende in invloedryke poste aan te stel, en vele meer.

Tot dusver is te maklik agter die vyeblare van reëls geskuil, wat bo die trefkrag van die Grondwet gestel is. Sulke wanpraktyke is geleidelik deur opposisiepartye in die howe aangedurf, en het dikwels geslaag.

Die proses wat vandag ’n belangrike fase bereik, is dalk nie die finale slagveld nie, maar dit gaan ’n belangrike een wees.

“Vader Jacob, vader Jacob, slaap jy nog?”

“Nee, net in die parlement as ander praat.

“Maar hier is ek en my mense wawyd wakker en opportunisties.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ne ·

Ramaphosa moet nou sy ware kleure wys. Hoop hy bly op hoogte van alles wat van staatskaping al uitgekom het. Veral van sy top 6. Maklik om te praat maat die werklike ding is om iets drasties te doen.

christa ·

Ramaphosa moet by Zim gaan leer hoe word dit gedoen. Ramaphose wil handskoentjies gebruik om ‘n skelm nie seer te maak nie. Zuma moes in die eerste instansie nie in daardie pos aan gestel gewees het nie.

Willie ·

Nie asof die ANC in die begin nie geweet het wie en wat Zuma is nie… Ramaposa moet sy staal wys vir die wereld en SA…

marous ·

Een swaeltjie maak nie somer nie. Die hele walvis is verrot , nie net die kop nie….

Jacques Venter ·

Christa
Cyril moet versigtig en omsigtig tewerk gaan. Daars te veel skelms wat van zuma afhanklik is. Hulle het invloed en gaan nie tou opgooi nie.
Zuma is nog steeds die president en het al die uitvoerende gesag.
Cyril daarin teen het die mag van beïnvloeding wat hy baie omsigtig moet gebruik. Anders ontplof die ding in sy gesig

Rasper ·

Wens julle wil ophou om te se pres Zuma, hy is nie n pres vir die land gewees nie net vir sy eie belang en die wat saam met hom was. As jy n pres genoem wil word sien om na die hele land se belange ongeag watter velkleur jy is.

Ella ·

Mr Zuma: totsiens. Goodbye. Ons het genoeg gehad. Gaan nou net, in vrede of nie, gaan net asseblief

John ·

Zuma hoop om soos oompie Mo skotvry uit te stap met ‘n heerlike aftrede. Hy sal hom sekerlik beroep op die taak van die ANC om sy goeie naam te beskerm vir die 2019-verkiesing en vir Mandela en die ou garde ter ere… En die ANC sal heel moontlik daarvoor val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.