Nuuskommentaar: Omikron as dominante variant en Covid-19-politiek

(Foto: pixabay)

Die afgelope twee weke is die wêreld opnuut in Covid-19-paniek gedompel nadat ʼn nuwe variant van Covid-19 ontdek is. Hoewel daar geen bewyse is dat die variant van Suid-Afrika afkomstig is nie, het die wêreld dienooreenkomsig gereageer nadat dit deur ʼn Suid-Afrikaanse wetenskaplike by die WGO aangemeld is. Boonop is dit ʼn feit dat dié variant waarskynlik al meer as ʼn maand met ons is en heelwaarskynlik reeds wêreldwyd teenwoordig is.

Die wêreld het oombliklik sy rug op die ganse Suider-Afrika gedraai in ʼn paniekerige poging om die nuwe variant, Omikron, soos die pes te vermy. Dit alles is natuurlik geskoei op die voorveronderstelling dat Omikron nie reeds deur die ganse wêreld in versprei het nie. Ons was op die ou end bloot die slagoffer van ons wêreldklas mediese tegnologie en kundiges wat vir die tweede keer sedert dié pandemie ʼn nuwe variant ontdek het.

Die wêreld – spesifiek die Westerse wêreld – het Suid-Afrika byna oombliklik gestraf vir die feit dat ons hierdie nuwe variant ontbloot het. Die wêreld is ná 22 maande van die pandemie steeds in ʼn Covid-19-paniek opgesweep. ʼn Totaal van 87 lande het hul grense vir Suid-Afrika en ander Suider-Afrika lande gesluit. Net die Suid-Afrikaanse toerisme- en gasvryheidsbedryf het weens hierdie beperkings reeds meer as R1 miljard verloor!

Sodoende het Omikron dieselfde lomp, ongekoördineerde, onregverdigbare en ingrypende reaksies van regerings na vore gebring wat ons veral met die begin van 2020 assosieer. Regerings wêreldwyd het drakonies gespartel – uiteindelik en weer eens ten koste van die mees weerlose doodgewone mense op grondvlak. Hoewel dit iets is waarmee ons konstant die afgelope twee jaar gekonfronteer is, sou ʼn mens darem hoop dat ʼn mate van normaliteit in die vooruitsig sou wees. Om nie eens te praat van die negatiewe impak wat dit het op die entstofdebat nie.

Dit is presies waarteen mense wat teen entstowwe is, waarsku – waarom sal ʼn mens jou laat inent as dit in elk geval geen verskil maak nie? Regerings gaan in elk geval doen wat hulle wil, reageer soos wat hulle goeddink en tot ʼn groot mate die werklikhede ignoreer in sover dit hulle pas. Tog moedig regerings mense aan om hulle te laat inent. Indien die entstowwe werklik gewerk het, sou regerings mos minder paranoïes begin optree het namate inentingsvlakke styg – dit is al wat entstof-wantrouiges in hierdie reaksies raaksien. Die antwoord lê dalk by die feit dat hier twee verskillende vraagstukke ter sprake is – een van openbare gesondheid en een van politiek.

Mense wat ingeënt is, is volgens data op ʼn gesondheidsvlak veiliger as diegene wat nie ingeënt is nie. Indien die wêreld op die vlak van openbare gesondheid in die rigting van ʼn oplossing beweeg, moet dit mos elders neerslag vind. Is dit dan nie so dat hoër vlakke van inenting en natuurlike immuniteit, wat hoër vlakke van openbare gesondheid bewerkstellig meer normaliteit moet voorsien nie? Dit is minstens wat logies veronderstel is om te gebeur – dit beteken egter nie dat alle regerings so gaan optree nie. Hierdie paniekerige optrede van veral Westerse state rig die openbare debat oor inenting en immuniteit ongelooflike skade aan – hulle bewys eintlik maar net waarom mense regtens so min vertroue in hulle het. Verder oorweeg die Europese Unie dit om te midde van Omikron Covid-19-inentings verpligtend te maak. Dit is byna ʼn verregaande stap in die lig van die feit dat meer as tweederdes van die EU reeds ten volle ingeënt is en meer as 70% minstens een dosis ontvang het.

Dit is egter die politieke debat en moet ook nie afbreek doen aan die openbare gesondheidsdebat nie.

In hierdie opsig was pres. Cyril Ramaphosa se mees onlangse toespraak aan die nasie in minstens hierdie opsig korrek. Die wyse waarop die wêreld teenoor Suid-Afrika reageer het, is belaglik en onregverdigbaar. Suid-Afrika het goeie rede om vir ons sogenaamde bondgenote regtig kwaad te wees.

Die data wys dat Omikron inderdaad meer aansteeklik is as Delta, maar op hierdie stadium lyk dit ook asof dit minder dodelik is. Dit maak ook vir die virus self sin. Die enigste doelwit vir enige virus is dat hy wil oorleef. Ten einde te oorleef het hy ʼn gasheer nodig waarin hy kan leef, groei en versprei. Indien die virus te dodelik is, gaan sy gasheer egter dood nog voor hy verder kon versprei. Dodelikheid is dus evolusionêr vir virusse nie naastenby so belangrik soos aansteeklikheid nie. Sodoende gaan daar nog baie nuwe variante van Covid oor ons pad kom – dit behoort egter die geval te wees dat dit mettertyd meer aansteeklik, maar minder dodelik word. Dit is ook hoe die pad lyk vir Covid-19 om endemies soos griep deel van ons lewens te word en te bly.

Dit is dus belangrik om te wag vir die data eerder as om instinktief en outomaties in en uit paniek te reageer. So is Omikron nou al in 40 lande aangeteken, maar het nog geen sterftes tot dusver veroorsaak nie. In Suid-Afrika word mense nie so siek van Omikron nie en word mense teen ʼn laer koers in die hospitaal opgeneem. Positiewe gevalle sal dus eksponensieel toeneem, met gesondheidsorg wat nie so oorweldig behoort te wees nie.

Tog geld al die verwoestende reisbeperkings steeds. Ten beste kry ons die medelye van bondgenote wat samesprekings doen, skakel en planne probeer beraam, maar steeds nie die reisbeperkings ophef nie. Dit is moeilik om dan steeds hierna te kyk en dit uitsluitlik te verstaan as ʼn openbare gesondheidsdebat – met soveel wat soveel regerings oor die afgelope twee jaar gedoen het, het dit al moeiliker geraak. Die gesondheidstryd teen Covid-19 gaan tot ʼn einde kom. Hoe meer mense ingeënt is en natuurlike immuniteit teen Covid-19 opdoen, hoe nader gaan ons uit ʼn gesondheidshoek aan veilige normaliteit kan beweeg. Dit beteken hoegenaamd nie dat regerings hierdie normaliteit gaan volg nie – politieke vergrype is die volgende stryd wat al meer na vore gaan kom en ook hand en tand beveg moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elizabeth ·

Stem 100% saam. Dit het n gerieflike en drakoniese politieke speelbal geword

Vrijburger ·

Jip, die (s)linkse regerings misbruik die situasie om hul mag oor burgers uit te brei.

Samuel ·

Die regering speel politiek en gee nie “n snars om vir openbare gesondheid nie.

Jeepie ·

Baie goeie stuk. Dankie Monica. Hoop dat die data ons ondersteun en dat sin volle besluite geneem kan word in die wereld.

Charles ·

“They who can give up essential liberty to obtain a little temporary safety, deserve neither liberty nor safety”

Benjamin Franklin

Karen ·

Hulle syfers van die hoeveelheid mense wat ingeënt word is verkeerd. My ma het gegaan en is ten volle ingeënt maar volgens die goewerment is sy nie, en kan nie haar “paspoort” kry nie. Wat ñ grap!

Johan ·

Medici moet net hul monde begin hou dat die wêreld kan aanbeweeg.

Mariette ·

Ek hoop dat ons werklike statistieke kan kry van neutrale mense oor die gevolge van die inentings. Almal hou rekord van ‘Covidverwante’ sterftes, maar as mense sterf as gevolg van die inentings, word daar altyd ander verskonings gesoek. Ek het Covid gehad en glo dat my natuurlike immuniteit beter is vir my liggaam as inentings. As die inentings mense help om nie so siek te word van Covid nie, het hulle mos niks te vrees van ander wat nie ingeënt is nie!

Wicus ·

Na my mening is die inspuiting ‘n persoonlike keuse, alhoewel ek dit sal aanbeveel. Persoonlik ken ek 5 mense wat oorlede is aan Covid, nie een is ingespuit nie. Ek ken niemand wat ingespuit is wat oorlede is nie. 12 dae na my 2 de een het ek 90 km gehardloop, 5 dae na ‘n hardloop vriensd syne gekry het het hy ‘n marathon gehardloop. Dus sien ek sover geen probleem nie. En terloops, ek sal baie kwaad wees as ‘n anti-vakser met Covid ‘n hospitaalbed beset, wat vir ‘n ander noodgeval gebruik kon word.

Die debat oor vir en teen het ongelukkig emosioneel geraak.

annie ·

Dit het nog baie erger gegaan eeue van tevore. Destyds is families in hul huise toegesluit sodra die polisie agterkom iemand in die gesin is olik. Wagte is aangestel om die huise op te pas… Dis ouens wat skynbaar immuun teen die pandemie was. En so moes almal saam sterf. Die huise is verseël nadat die dooies gehaal en in slote gestort is. Soms het gesinslede sodra iemand siek word gevlug en die arme wese alleen agtergelaat. Selfs hulpelose kinders. Die spreekwoord, ‘nie eens met ‘n paal aanraak nie’, verwys indirek na die tyd toe dooies met pale in die massagrafte afgestoot is.

werner ·

N vraag,as die geleerde mense nou sê inenting moet wet word,is dit reg,nou as Jan straat sê ek wil nie inge-ent word is dit verkeerd,as jy Dan nou as n inge-engte persoon nie met on inge-engtes wil saam stem of hulle met julle,hoekom vermy jy Dan nie so persoon,bygesê as die inenting Dan nou werk hoekom is julle Dan nou so bekommerd oor Jan straat,jy is Dan nou inge-ent,jy het mos nou die “antidote”in jou sisteem,waarom Jan straat Dan nou vorseer,is jy nou my liggaam,is jy Dan nou my lewens bepaler,wie is jy Dan nou,net n vraag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.