Nuuskommentaar: Omkopery van joernaliste

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Hoewel ’n beoordeling van die beweerde omkopery van joernaliste deur Gwede Mantashe (nou minister van mineralebronne en energie) nie die vasstel van die werklike feite vooruit moet loop nie, is dit ook noodsaaklik dat die ganse land moet besef hoe onaanvaarbaar dit is dat so iets gebeur, sou dit die waarheid wees. ’n Demokrasie kan eenvoudig nie vlot verloop as dit met korrupsie, leuens en skelmstreke besoedel word nie.

Gwede Mantashe, die man wat lank in Suid-Afrika bekend was as die ANC se sekretaris-generaal, het volgens ’n Sondagkoerant glo erken het hy het twee joernaliste met R70 000 omgekoop om bewyse van sy en minister Tito Mboweni se liefdesdriehoek-verhouding met ’n student te vernietig.

Sonder om te beweer dit verskaf die bewyse, is dit ook so dat Mantashe se naam ruim in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik het sou hy voordele by Bosasa gekry het.

Die jongste onthulling val saam met die ontsteltenis oor ’n voorgestelde nuwe leerplan vir seksvoorligting wat glo promiskuïteit onder jong mense gaan bevorder.

Lank voordat staatskaping bekend geraak het, het die politieke ontleder prof. André Duvenhage na Suid-Afrika verwys as ’n land waar korrupsie endemies geword het. Dit ten spyte daarvan dat die land op die korrupsiepersepsie-indeks nog ’n entjie beter daaraan toe was, en selfs so met die aanvang van Jacob Zuma se herverkiesing as president, sy posisie op die indeks verbeter het. Dit nadat die land voor die skynbaar onverklaarbare verbetering in ’n vryval was. Intussen het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat staatskaping die land minstens R500 miljard gekos het.

So baie soos R500 miljard klink, dit is weer kleingeld volgens ’n ander berekening waaroor Daily Maverick in Maart vanjaar berig het. Daarvolgens was die koste van die staatskaping vir die tweede deel van Zuma se bewind ’n verstommende R1,5 biljoen (Amerikaanse triljoen).

’n Ou grappie lui: Hoe weet ’n mens wanneer ʼn politikus lieg? Die antwoord: Wanneer sy lippe beweeg.

Maar die erns van ’n politikus as hy kluitjies bak is geen grap nie. As daar bedenkinge oor ’n regeerder se geloofwaardigheid is, kom ontsettend baie aspekte van ’n regering se geloofwaardigheid in die gedrang. Is die misdaadsyfers betroubaar, wat ’n impak het op ’n land se beleggersvertroue.

En moenie dink dis maklik om ander lande by wie vlerk gesleep word vir buitelandse beleggers donkie-ore aan te sit nie. Suid-Afrika het pas weer die harde les geleer toe pres. Donald Trump gedreig het om SA se handelsvoordele op te skort. Die VSA wéét wat hier aangaan. Dit kan ook vasgestel word deur te gaan kyk na die CIA se oop data wat oor ander lande, ook Suid-Afrika, bygehou word. Dit is indrukwekkend. Voeg die inligting wat klandestien bekom is daarby, en daar bly nie veel oor om die VSA en sy bondgenote mee wol oor die oë te trek nie.

Oor die vryemark-ekonomie word gesê dit kan net ten volle en sonder staatsinmenging funksioneer as al die rolspelers oor volmaakte (mark)-kennis beskik. Net so kan die demokrasie net behoorlik werk as die kiesers oor “volmaakte” kennis beskik. Ongelukkig beskou te veel politici die waarheid bloot as iets nuttigs as dit vir die politikus voordele inhou. Die waarheid en leuens word gewoon volgens die beoordeelde nuttigheidswaarde ingespan.

Volgens ’n onlangse Amerikaanse peiling meen 67% van die kiesers dat die meeste kiesers nie goed genoeg ingelig is om behoorlike keuses te maak wanneer hulle gaan stem nie.

Hoeveel Suid-Afrikaanse kiesers stem met hul koppe? En hoeveel van hulle stem vir ’n beleid waarmee hulle dit eens is, of ander oorwegings soos dat die party wat hul stem kry, die “enigste” is wat die ANC werklik kan teenstaan?

Maar alles word deurmekaar gekrap as die politici lieg. Of joernaliste omkoop om in effek te lieg, al is dit net om sekere inligting van kiesers te weerhou.

Amptenare vir politieke partye kan nie anders nie as om deeglik bewus te wees hoe los en vas die leiers van hul partye, ook partye wat formeel op morele beginsels in die politiek betrokke is, koelbloedig met die waarheid omgaan bloot om dit as nuttige instrument in te span.

Die kiesers verdien beter as dit.

Daarom is dit nou belangrik om agter die kap van die beweerde liefdesdriehoek en die omkopery van joernaliste te kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Susie ·

Die buite-egtelike sekskapade is blykbaar geen versinsel nie, die minister ontken dít nie. Ek vind hierdie onkuisheid walgliker as die beweerde omkopery, die waarskynlike leuens en bedrog. Is daar dan géén moraliteit in die regerende party nie?

JohanR ·

Self bedank, of deur die ANC afgedank? Sal nooit nooit gebeur nie. Sal wag vir alles om oor te waai, en dan gaan die lewe maar net aan. After all….hy is ANC. ANC bedank nie van self, en ANC gaan amper nooit tronk toe nie. Hulle word maar net weer herontplooi

Arak ·

Ek dink ook dit is sleg dat politici lieg, maar wat vir my baie slegter is, is die fop nuus wat joernaliste so geredelik verkondig sonder om krities vir hulself te dink. As mens kyk na ‘n joernalis soos Udo Ulfkotte, en mens sien wat sogenaamde joernaliste publiseer is ek al hoe meer oortuig dat baie van die joernaliste in ons land ook niks anders as agente van buitelandse belang is nie. Hoeveel joernaliste is nie op George Soros se betaalstaat nie? Hoeveel van die nie-regerings organisasies bestuur George en sy mannie nie? Hoeveel van die politieke partye word nie vanuit sy kantore voorgesê en befonds nie? Maar Gwede Mantashe se egbrekery, dit is nou nuus…

Pampoen ·

Ek dink dat die joernaliste wat hulself laat omkoop het of wat vir Mantashe afgedreig het ewe skuldig is en net so hard behandel moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.