Nuuskommentaar: Ompad voor (weens gewelddadige betogings)

Argieffoto

Argieffoto

Die kaping van ’n verslagspan van Beeld by Brits in Noordwes deur betogers roep Beelde, ekskuus, beelde op van padpredikante wat ompaaie aandui weens gewelddadige betogings voor.

Die gedagte aan waarskuwende padpredikante is nie nuut nie. ’n Aantal jare gelede na ’n aantal plaasaanvalle in die omgewing van Kokstad, wou die inwonersvereniging ook padpredikante oprig om toeriste op die gevaar van plaasaanvalle in die omgewing attent te maak. Die regering wou die stuipe kry.

Die waarskuwingsbordjies om op te pas vir laagvlieënde vliegtuie naby veral militêre vliegvelde is goed bekend en ook die onderwerp van spot. Hoe op dees aarde pas ’n mens nou daarvoor op? Die bedoeling is seker om die motoris daarop attent te maak sodat hy nie skrik en sy kar omkeer as ’n vliegtuig oor sy kop blits nie – stellig nie om gou die bande af te blaas om die kar laer te maak of om die bosse in te jaag nie.

In Suid-Afrika is padpredikante wat teen die vele gevare op en langs die pad waarsku volop, soos waarskuwings teen slaggate, of konstruksiewerk. Daar is ’n spesiale padpredikant om teen gladde paaie te waarsku as die pad nat is, en ook teen dwarswinde.

Padpredikante wat bestuurders teen padvarke en dronkbestuurders waarsku makeer, en gewoonlik ook teen die gevaar dat kwajongens dodelike voorwerpe van brûe op niksvermoedende padgebruikers onder kan gooi.

Net soos stranddorpe dikwels uiters traag is om behoorlike waarskuwings aan te bring dat daar E.coli (weens riool) in die strandmere is “omdat dit sleg is vir toerisme” en dan ʼn onsinnige “waarskuwing” aanbring, net so sal daar groot verset wees om vir elke gevaar op die pad – veral wat deur mense veroorsaak word, die nodige waarskuwingsborde aan te bring. Al kos dit lewens. Dink maar aan die lewensverlies tydens die vervoerstaking van so twee jaar gelede.

Om deur die nuus te blaai en te sien hoeveel gewelddadige betogings daar nou in verskillende dele van die land voorkom, kan maklik die indruk wek dat die land oral aan die brand is. Van die berigte kan hier, hier, hier en hier gelees word. AfriForum berig gister soos volg oor die situasie by Brits: “Inwoners van Majakaneng buite Brits het vroegoggend begin om verwoesting te saai oor griewe wat vermoedelik met waterprobleme in die gebied verband hou. Oproeriges het klippe gegooi en voertuie, waaronder ’n Eskom-vragmotor, aan die brand gesteek.

“Rdl. Elsa Lourens van die VF Plus het vanoggend op Facebook ’n beroep op motoriste gedoen om die N4 (Majakaneng/Mooinooi) en die R104 vanaf Hartbeespoort en Gauteng te vermy en eerder van die Sonop-pad via Brits gebruik te maak. Skoolbusse sou ook van alternatiewe roetes gebruik maak om kinders te beveilig.

“Die polisie en die SAPD se openbare onluste-eenhede is op die toneel maar oproepe na die Brits-polisiestasie is nie beantwoord nie.”

Die meeste van hierdie betogings hou met munisipale dienslewering verband, hoewel ook skole in die proses vuurgemaak is. Volgens alle aanduidings gaan die munisipale verkiesings eers aanstaande jaar plaasvind, en hoe nader dit kom, hoe erger sal dit volgens beskikbare statistiek gaan.

Goedkoop politieke beloftes waarvan dadels kom, ontplof in die gesig. Soms is die voornemens inderdaad daar, maar iewers tussen die voorneme en die realisering daarvan word kaders aangestel, en fondse vir die ontwikkeling word wanaangewend, kontrakteurs wat nie die werk kan doen nie word aangestel  of enige van ’n groot verskeidenheid onheile oorval daardie geld.

’n Netjiese voorbeeld  is vandag op Volksblad se voorblad onthul oor hoe kaartjiepryse vir die premier se reuse afvaardiging na Kuba deur ’n reisagentskap (met noue bande met die premier) erg gelaai is, en die bankrot Masilonyana-munisipaliteit R115 000 moes opdok om sy burgemeester, op versoek van die kantoor van die premier, op die Kuba-bonanza saam te stuur.

Op die oomblik kan nog met ompaaie om die moeilikheid gery word. Maar wat gebeur die dag as daar langs die ompaaie ook gewelddadige onluste is?

Wanneer die inwoners met haglike dienslewering nie meer daarin belangstel dat dit Jan van Riebeeck, kolonialisme of apartheid se skuld is nie?

Wanneer die padpredikante onverbiddelik aandui: “Cul de sac”.

En nee, dit beteken nie die kole is in die sak nie, dit beteken die dinges is in die drinkwater.

Die regering se respons, behalwe om Jan, apartheid en ander te blameer, sal nog taakspanne wees, nog konsultante wees, en nog praatjies wees oor die ontplooide kaders wat darem oor die regte kwalifikasies moet beskik.

Maar solank die kaders met kwalifikasies en al nie die werk kan doen nie, of onmiddellik na die minister ’n moratorium op luukse motors plaas vir die burgemeester ’n luukse vuurwa aanskaf en daarmee wegkom, solank gaan daar strooptogte op beskikbare fondse wees, gaan dit op Kubaanse bonanzas geblaas word, gaan dit deur die krake van tsjôtsjôtenderpreneurskap stroom.

’n Paar jaar gelede het dit selfs aan die lig gekom dat disfunksionele munisipaliteite toekennings vir puik munisipaliteite by ’n Switserse onderneming koop, en dan op eie koste soontoe moet reis om die “toekennings” in ontvangs te gaan neem.

In waarskynlik ’n onbewaakte oomblik het ’n provinsiale premier kort na die 1994-verkiesing oor ’n streekradiostasie gesê as alle korrupte amptenare ontslaan moet word, “hoe gaan ons dan ooit regstellende aksie toepas?”

Ja, daardie politikus het nie meer hare nie, maar versuim om behoorlik huis skoon te maak en ’n etiek van arbeidadel te skep, gaan nog baie mense hul hare uit hul kop laat trek.

As die Zimbabwe-model se lyn deurgetrek word, beteken dit die lawaai oor grondhervorming gaan tot volgende jaar se verkiesing al prominenter word. Dit is soort van die laaste loopgraaf wanneer die ou verskonings soos dat dit kolonialisme (of wyle Jan van Riebeeck) se skuld is, nie meer die vlamme wat skole en biblioteke verteer keer nie – en ’n man boonop ʼn klag van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop.

Hoede af aan hulle wat hard probeer. Dis soms baie moeilik, soos wanneer senior amptenare  lakse of selfs skelm amptenare probeer aantree en hulle in ’n berg moeilikheid vasloop omdat die amptenaar wat droogmaak ’n hoër posisie in die ANC of vakbond as die senior amptenaar beklee.

Dit raak byna ondenkbaar dat ’n amptenaar wat wil walgooi (en daar is baie volgens dokters en sielkundiges wat aan hierdie mense medikasie en berading moet voorsien weens die enorme druk op hulle) nie ’n goeie vakbond soos Solidariteit agter hom het nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae