Nuuskommentaar: ‘Onder Zuma is land daarmee heen’ – Koning Goodwill

Koning Goodwill Zwelinthini. Foto: DoC

Koning Goodwill Zwelinthini. Foto: DoC

’n Berig gister in The Telegraph het ’n mens onwillekeurig na die almanak laat loer, maar nee, dit was nie Aprilgekdag nie.

Die omvattende artikel uit Suid-Afrika het egter al die elemente van ’n gekkedag – as dit nie potensieel so ernstig was nie.

Volgens The Telegraph se berig het koning Goodwill Zwelithini nie net die ANC gestriem vir die party se swak vertoning in die afgelope verkiesing nie (want die ANC het onder meer nie na sy majesteit se “goeie raad” geluister nie), maar ook onder pres. Jacob Zuma ingeklim en gesê onder sy bewind is die land daarmee heen. Hy meen die ANC moet opsy staan sodat die koning die regering kan oorneem.

Die IOL-berig oor dieselfde kwessie meld Zuma hoegenaamd nie.

Maroela Media het die beskikbare inligting netjies saamgevat en enorme lesersreaksies gekry, met bykans almal wat die spot met die koning dryf. Die oorgrote aantal lesers sien die koning se opmerkings as gekkespul tussen twee narre.

Min ander media het van die gedoente kennis geneem.

Is dit ’n nietigheid? Is dit weer die gebruiklike aandagtrekkery voor die koning weer by die regering gaan bakhand staan omdat sy jaarlikse toekenning van meer as R50 miljoen uitgeput is en hy nie vir kruideniersware kan betaal nie?

Koning Goodwill is bekend vir sy onverantwoordelike uitlatings, en ook dat hy baie invloed onder veral die landelike Zoeloes het. Toe hy onwettige immigrante voor stok gekry het, was dit groot werk om die gevolglike lewensverlies en vandalisme hok te slaan.

Om as’t ware vir Zuma te sê om opsy te staan omdat Zuma die land deur sy fondament trek, sodat hy self die regering kan oorneem, sal moeilik reperkussievry afgaan. Dit hang natuurlik af daarvan of die media hul tande in die storie inslaan.

Soos sake nou staan, het Goodwill ’n groep jong bostuklose Zoeloemeisies toegespreek wat aan die jaarlikse rietdansfees deelneem.

Maar … dit het The Telegraph en IOL “geslaan”, asook Maroela Media en ’n paar ander koerante. Dit het glad nie naastenby die omvang aangeneem as die nuusdekking, ook buitelandse nuusdekking, van Zuma se juweeltjies nie. Dink maar hoe het sy honde-uitspraak wêreldwyd opslae gemaak.

Gaan Zuma reageer en so die soeklig net verder op hierdie saak vestig?

In die verlede is die koning eerder stilgemaak deur hom op belastingbetalerskoste te paai, soos R300 miljoen wat bewillig is om die koning se paleis op te knap, met nuwe motors en vele meer.

Tog, om nou ’n oproep op Zuma te doen om opsy te staan omdat die land “daarmee heen is” onder Zuma se presidentskap, kan Zuma skud – mits die media groter gewag van die saak maak.

Zuma se magsbasis is tot ’n groot deel gesetel in steun wat hy van landelike Zoeloes geniet. Die koning se invloed is waarskynlik nog groter in hierdie geledere, en dit beteken Zuma se sterkste bastion kan onder sy bas uitgeruk word. Die koning het, skynbaar agter beter voordele aan, uit die IVP na die ANC gedros (Buthelezi is die koning se oom). Die ander tradisionele konings se jaarlikse staatsmeevallertjie van net meer as ’n miljoen rand lyk maar bleek teen dié van Goodwill.

Dit kan die damwal word wat breek en Zuma rivier af laat spoel.

Maar moenie die asem ophou nie. Die belastingbetaler sal wel weer deur ’n ruim meevallertjie sorg dat Goodwill “vergeet” van sy probleme met Zuma.

In hierdie stadium is dit net ’n interessante tussenspel, maar een met die potensiaal om Zuma hard in die maag (of is dit op die sitvlak) te skop.

Die probleem is dat die koning nou op die oog af met korter tussenvalle op omstrede wyse van hom laat hoor – opmerkings wat al lewens geëis het.

Soos met Zuma, kan die land nie vir Goodwill geldelik en beeldgewys bekostig nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

pieter ·

HERMAN, MISKIEN MOET ONS NET VIR MEKAAR SE, DIE RYK LANDE KIES N PRESIDENT NIE DIE KIESERS NIE.HULLE MAAK GELD UIT DIE KORUPTE SPUL KYK MAAR NA MUGABI EN ZUMA EN AFRIKA.AS HULLE BESLUIT HY IS UIT DAN SAL DIT SO WEES. DIE KIESER WORD NET GEPAAI DEUR TE STEM.

GJ de C K ·

En ons wittes (ek sluit myself in) hoe “professioneel gekwalifiseer” ookal, (nie dat EK glo dit is enigsins beduidend mbt bevoegdheid en/of mandaat om te heers of regeer nie, maar verwysende na ander opmerkings elders) het nog groter narre van onsself gemaak deurdat ons die status quo toegelaat het, legitimiteit daaraan gegee het (en steeds gee) terwyl ons van beter dinge oortuig moes wees.

Inderdaad: geregtigheid verhoog ‘n volk, maar sonde is ‘n skandvlek vir die nasies.

In hierdie sage (waarin ons deel is) – is ons nie ten minste net so ‘n groot bespotting nie?

Hendrik ·

Ek wonder wanneer gaan die Zoeloes KZN op eis en verander na ‘n federale staat. Wat gaan die staat dan doen? Gaan daar nog ‘n Kodesa wees? Kom ons kyk..

Rynhardt ·

Konng Zwelithini slaan spuiker op die kop dat land daarmee heen is onder Zuma en Anc.DA sal dit nooit se nie! Die rede hoekom hoofstroommedia dit wil se nie, is omdat Zuma en Anc moet bemark word as pragtig en dat SA is op die regte pad! Onthou alles moet polities korrek wees.SA se probleem is Zuma en Anc gevolg deur die politieke bestel wat bestaan uit Abc-faksies.Land ervaar nou al Kodesa se ellende wat nou uitgeleef word.Waar is al die beroemde wigte en teenwigte nou?

dirk ·

Die koning kry R50miljoen rand ‘n jaar!!! dis net so n skande

Schalk ·

En ten minste hoef die Koning nie nog ‘n Nkandla te bou nie. Net intrek en boer

Theresa B ·

Ag tog. En julle kom nou eers agter dat ons land en mense besig is om ten gronde te gaan….??!!

John ·

Hendrik, vra eerder wanneer gaan Indie daardie provinsie se naam na Little India verander. Wanneer laas was jy daar? Seker ook die’ dat die koning sy septer elders wil kom swaai en sy gewapende en welgeklede rietdanseresse na die voorhowe van die ou Transvaalse paleise wil verskuif. Die SABC sal die culture beeldsaai vir waardering tot ver oor die see. As die ou kerel tog net ook sy luiperdvel-Speedo by sulke geleenthede wil dra dan kan die bloednodige fondse vir die land se 9-punt-ontwikkelingsplan dalk vinniger inrol…

Hendrik ·

John ek moet erken ek was lanklaas daar. Ek het so bietjie my vakansieplanne verander na gebiede met minder bevolkingsdigthede, meer eie soortige, veilige en rustige omgewings toestande heers.

christine ·

Ek het verstaan dat Nikandla gebou is op die Koning se grond. Wat van die feit dat Zuma 15 jaar terug labola betaal het vir die koning se dogter maar sy bruid nog nie kom op eis nie. So dis eintlik n klap in die koning se se gesig se net die koning jaag hom van sy grond af wat dan

Lance ·

Selfs die koning sien zuma nou vir wat hy tmregtig is …n ongeskoolde man wat omring is deur diewe wat homself en hulle help om te plunder …intussen brand die land en waaaar is die zuma …jip nerens !

John ·

Pres Zuma het, as ek reg onthou, destyds met sy aanstelling gese hy sal nie soos Mbeki die heeltyd in die buiteland rondkater nie. ‘A hands-on president’… Beloftes maak skuld en die wat wag…

Josua Keys ·

Die koning verdien miljoene rande uit ons belasting betalers se geld en hy verrig nie n vinger om dit te verdien nie nou dat sy maaitjie Zuma oppad uit is nou wil hy sy belange beskerm, hy is net so skuldig soos Zuma en die andder

bok-bok ·

Nou ja toe – nog ‘n verskuilde agenda. Iewers ruik ek ‘n rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.