Nuuskommentaar: Onderskat regering bevolking se IK?

Nkandla

Nkandla

Met die bekendmaking van die interministeriële verslag oor Nkandla het die regering skynbaar die berekende kans gevat dat hulle die bevolking met ‘n klomp eina-argumente wolle oor die oë kan trek. Geoordeel aan die reaksies op berigte in die sosiale media het dit erg geboemerang, en het die regering homself net weer verder in die verleentheid gestel.

Uiteraard sal daar mense wees wat so hard deur lojaliteit verblind word dat donkiebolle as regte vye aan hulle verkwansel kan word. Die probleem is dat die Zuma-ondersteunersgroep volgens peilings al minder word.

Elke liewe argument se geldigheid, selfs al sou daar meriete in wees, vervaag in die dampkring van die argument dat die luukse en peperduur swembad eintlik ‘n “fire pool” is sodat, sou daar ‘n brand uitbreek, dit met emmers water geblus kan word. Emmers water teen ‘n brand in grasdakke?

As die president se veiligheid so absoluut verseker moes word dat daar selfs vir aardbewings voorsiening gemaak moes word en bunkers gebou en ingerig moes word, waarom dan grasdakke opsit?

In die proses om die onverkoopbare aan die publiek op te dis, word die laaste bietjie geloofwaardigheid en respek uit dienaars soos die polisiehoof, Riah Phiyega gewurg. Van die ander stormtroepe wat ingespan is se geloofwaardigheid was lank reeds op die ashoop.

Ter wille van een man…

Daar is probeer om geloofwaardigheid in te bou deur te verwys na ooglopende onreëlmatigheid in die veral die proses van verkrygingsadministrasie. Dit is na die wetstoepassingsagentskappe verwys. Ongelukkig het Guptagate daarvoor gesorg dat die persepsie posgevat het dat daar waar die vyeblaar nie meer kan toemaak nie, iemand as “fall guy” geoffer gaan word.

Die opposisiepartye se reaksie was voorspelbaar. ‘n Algemene verkiesing kom nader, en die tekens van uitrafeling in die ANC onder Zuma se leiding word al hoe sterker – dus vrugbare aarde om ontnugterde ondersteuners te oes.

Die interessante is hoe die ANC self reageer. Met Gwede Mantashe aan die spits werp die party hom nie blindelings agter die “verduidelikings” in nie, maar wil eers die Openbare Beskermer se verslag oor min of meer dieselfde sage onder oë sien alvorens beoordeel word of die ministers se verslag as die aller antwoord kan dien. Of dit werklikheid of skyn is sal nog gesien moet word – genoeg van die Openbare Beskermer se voorlopige verslag het immers reeds uitgelek het sodat die ANC nou reeds ‘n taamlike ingeligte besluit kan neem.

Maar tog lyk dit of die Nkadla-kwessie al hoe meer vlooie laat trek soos wat gebeur wanneer hul “gasheer” aan die doodgaan is.

Numsa wil die kwessie egter nou reeds ryp druk, en analiste vermoed dié vakbond wat baie serk anti-Zuma is, wil sodoende kyk of dit nie uit Cosatu, en dus die ANC-alliansie, geskop kan word nie.

Die ministers het klaarblyklik ‘n “berekende” kans geneem om sy eie geloofwaardigheid by die publiek teenoor die geloofwaardigheid van die Openbare Beskermer op die proef te stel. Was Lawrence Mushwana nog die Openbare Beskermer en Thabo Mbeki die president, het dit dalk nog gewerk, maar nou moet die publiek basies ‘n geloofwaardigheidskeuse tussen Thuli Madonsela en Jacob Zuma maak. Veral in KwaZulu-Natal en Mpumalanga het Zuma steeds wye steun wat ongeag alles lojaal sal bly, maar elders in die land het soveel verbrokkeling ingetree dat die ministers en hul stormtroepe met baie eier (en erger) in die gesig kan sit.

‘n Interessantheid is dat terwyl kritiek op Zuma in die buitelandse media nie vreemd is nie, die hele Nkandla-kwessie nie naastenby daar so ‘n warm onderwerp is soos hier nie. Die Los Angeles Times se argiewe lewer net twee verwysings na Nkandla op, die Christian Science Monitor net een, en De Standaard heeltemal niks.

Is die plaaslike ophef oor Nkandla dalk deels opportunisties om die water te warm vir Zuma te maak?

Of is dit bloot dat R200 miljoen, wanneer dit na dollars en euro’s omgereken word, na taamlike onbenullige bedrae klink? Die feit is egter dat in ‘n land met ‘n hoë werkloosheidskoers en nog groter armoedekoers is R200 miljoen ‘n ongelooflike fortuin – al is daar ook ‘n groep vir wie dit na kleingeld klink.

Die feit is dat met al die regskwessies wat in die regstelsel vasgevang en gesmoor word, bly Nkandla die een Achilleshiel van Zuma wat maar net nie gaan verdwyn nie.

Of die totale aanslag op Nkandla genoeg gaan wees om die – soos dit wyd beskou word – Zuma-ramp vir die land te beëindig moet nog gesien word.

Maar indien dit wel so is, sal daar veel meer as ‘n tikkie ironie in opgesluit wees – die Nkandla-vesting wat die president teen enige moontlike bedreiging moes beskerm, het dan juis die instrument geword wat hom neergevel het.

Wêreldwyd is daar ‘n groeiende persepsie dat politici nie te vertrou is nie. Die duidelikste manifestasie was in die VSA waar peilings getoon het baie Amerikaners glo dat mense wat lukraak uit die telefoongids gekies word, beter kongreslede sou uitmaak as die verkose verteenwoordigers. In Nederland is dieselfde mening oor die “naaste posman op die hoek” uitgespreek juis in ‘n tyd toe verskeie posmanne gevang is dat hulle van hul pos weggegooi het. In België het ‘n politikus in ‘n koerantartikel gekla oor die swak beeld wat die politici het, en voorgestel dat daar ‘n wetenskap soos politieke wetenskap ontwikkel word. Die feit dat daar al lank reeds so ‘n wetenskap, en verwante wetenskappe soos staatsreg, politieke sosiologie en politieke geografie bestaan, het nie juis haar saak om meer respek vir politici op te eis, goed gedoen nie.

Intussen is dit minstens in die haak dat Suid-Afrikaners in geen onsekere taal nie, beswaar maak dat die regering sy burgers se intelligensie so onderskat.

Lees ook:
Nkandla-verslag: “Oorweeg kriminele vervolging” – ANC
Nkandla-verslag: “Onreëlmatighede geïdentifiseer”
Nkandla-verslag vrygestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eleen blaeser ·

Die plek se naam behoort na NSKANDLA verander te word. Dit is niks anders as n skande nie. GEEN vorige staatshoof in SA se veiligheid is op so manier verseker nie. Die ope vraag is of die skandalige mors sal kan bydrae dat SA n president kan kry waarheen sy burgers kan opkyk. Ek dink die meeste parlementslede sal baie hard werk om die waarheid te verdoesel. Almal werk ewe hard daaraan om hulle plekkie op die soustrein te behou.

Demokraat ·

As daar vir elke toekomstige president se veiligheid op hierdie manier omgesien moet word, gaan die belastingbetalings later nog net vir die president en sy veiligheid inbetaal.

Gelukkig blyk dit dat daar selfs by die mees oningeligte maar lojale ondersteuner van die ANC nou ook twyfel begin ontstaan oor die wenslikheid van hierdie spandering en die verduidelikings net nie meer glo nie.

En hoe meer die ANC-heethoofde verduidelik, hoe groter raak die afkeur in die ANC want die leuens en wolhaarstories is te opsigtelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.