Nuuskommentaar: Onderwys in SA ʼn slagoffer van regering se onwilligheid

(Argieffoto: ANA)

Die matriekgroep van 2021 het 2022 begin met ʼn hofgeding teen die departement van basiese onderwys. Om een of ander vreemde rede het die departement verduidelik hoe vanjaar se matriekuitslae nie volgens tradisie in die media gepubliseer mag word nie.

Die hele hofgeding was van die staanspoor af vreemd en eintlik net onnodig. Die publisering van die matriekuitslae maak geensins inbreuk op die POPI-wetgewing nie siende dat dit geen persoonlike inligting bekendmaak nie. Indien die departement werklik bekommend was oor die bekendmaking van persoonlike inligting, kon hulle bloot betyds die toestemming van leerders gekry het om wel hulle matriekuitslae te publiseer soos wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) gedoen het.

Dit was verder ʼn vreemde hofsaak omdat feitlik niemand gekant is teen die publisering van die matriekuitslae nie. Selfs die departement het nie eers die hofaansoek teen hulle teengestaan nie.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, skryf ook hoe absoluut onnodig die hele sage was. Hy verduidelik hoe die departement van basiese onderwys uiteindelik verloor het weens endemiese swak operasionele prosesse, onbevoegde bestuur, onnodige sloerdery, arrogansie oor die nodigheid om te raadpleeg en ʼn toenemende gebrek aan kundigheid wat hierdie ANC-regering kenmerk.

Sodoende is hierdie hofsaak absoluut tekenend van die lompe onbevoegdheid van dit wat die departement spesifiek en die regering oor die algemeen is.

So gaan die matriekuitslae wel in die media verskyn. 2021 se uitslae is vandeesweek deur Umalusi goedgekeur met die stempel van merkbare verbetering in die gehalte van vraestelle van die afgelope eksamen. Daardeur begin die onderwysdepartement se jaarlikse spogseisoen oor die matriekslaagsyfer.

Feitlike almal wil uiteraard hê dat die matriekuitslae jaarliks goed is. Wat egter belangriker is, is dat die gehalte leerder wat opgelewer word ʼn noemenswaardige toevoeging tot die samelewing en arbeidsmark moet wees. Asook dat daar langs die pad nie te veel leerders verlore gaan nie.

Jaarliks publiseer die DA ook die sogenaamde ware matriekslaagsyfer wat juis hierdie uitvalle in ag neem. In 2019 was die departement se slaagsyfer 81,3%. Die sogenaamde ware slaagsyfer was volgens die DA egter net 38,9%, gegewe die duisende leerders wat iewers langs die pad uitgeval het. Sodoende is die uiteindelike prentjie dalk rooskleurig, maar die pad daarheen hoegenaamd nie.

Daar bestaan ook ʼn alombekende sentiment dat die regering jaarliks die standaarde van basiese onderwys verlaag ten einde beter uitslae te bekom. Die slaagsyfer en basiese vereistes om te matrikuleer is in wêreldstandaarde werklik skokkend laag, ten spyte van die hoë slaagsyfers waarmee die departement jaarliks spog.

Tog bestee ons regering in wêreldterme groot hoeveelhede geld op basiese onderwys. Suid-Afrika bestee as persentasie van die BBP meer op basiese onderwys as die VSA, die VK en selfs Switserland. Tog dui internasionale standaarde daarop dat Suid-Afrika se groot besteding nie juis in hoë gehalte vertaal nie.

In talle lande wêreldwyd is basiese onderwys in die openbare sektor van uitnemende gehalte. Dus is dit nie eers altyd nodig om alles te privatiseer om gehalte te verkry en behou nie. Selfs in Suid-Afrika is daar steeds ʼn menigte openbare skole wat kers vashou by van die beste privaat skole wanneer dit kom by die gehalte leerder wat opgelewer word.

Die stand van basiese onderwys in Suid-Afrika is bloot ʼn slagoffer van die regering se onwilligheid om afstand te doen van sterk sentralisering, ʼn lompe onbevoegdheid om die mees basiese pligte na te kom asook ʼn algemene verval in die gehalte van openbare dienslewering weens party-ideologie. Die swak stand van algehele opvoeding en opleiding word natuurlik ook aangevuur deur die regering se enersydse afskeping van broodnodige tegniese opleiding en andersyds oormatige klem daarop om elke matrikulant teen enige koste van feitlik enige universiteitsgraad te voorsien. Iewers in die Suid-Afrikaanse onderwys‑ en opleidingspypleiding is daar dus nie net ʼn verkeerde fokus nie, maar ook ʼn absolute onbevoegdheid om gehalte leerders in massas te lewer.

ʼn Land waarna Suid-Afrika gerus kan kyk vir beter oplossings – dit is spesifiek in onderwys, maar ook oor die algemeen in die opsig van politieke en bedelingsraamwerk – is Switserland. Switserland, wat as persentasie minder op onderwys as Suid-Afrika uitgee, is in die Wêreld Ekonomiese Forum se mees onlangse Human Capital Index bestempel as die land ter wêreld met die beste onderwysstelsel. Hoewel daar privaat skole in Switserland is, woon die meeste kinders openbare skole by.

Switserland (met ʼn skamele bevolking van 8,6 miljoen mense) is soos Suid-Afrika (met ʼn bevolking van 59,3 miljoen mense) ʼn baie komplekse en diverse samelewing. Anders as Suid-Afrika het Switserland dienooreenkomstig uiters komplekse oplossings vir hulself ontwikkel. Switserland se kantonstelsel gee die 26 kantons, oftewel deelstate van die Switserse konfederasie, onder andere beheer oor die plaaslike onderwysstelsel. Onderwys is dus op kantonvlak in Switserland met regulering en implementering gedesentraliseer.

Gegewe die totale bevolking en die aantal kantons word basiese onderwys dus baie naby aan grondvlak bestuur en dus ook deur die gemeenskap beheer. Selfs op tersiêre vlak is daar groot hoeveelhede mag wat kantons het bykomend tot die konfederasie.

ʼn Mens kan selfs net kyk na privaat skole in Suid-Afrika om reeds die voordele van onafhanklikheid en desentralisering van mag, regulering en beheer te sien. Die departement besit en beheer openbare skole veel meer as privaat skole en het daarom ook ʼn wesenlik groter invloed op die openbare onderwysstelsel. Daarom geniet selfs privaat skole in Suid-Afrika ʼn tipe vryheid van verval en onbevoegdheid wat openbare skole nie geniet nie. Die openbare skole wat in Suid-Afrika wel nog uitstekend presteer, word boonop grootliks deur die gemeenskap onderhou. Hulle slaag dus ondanks die openbare onderwysstelsel en te danke aan die gemeenskap.

Suid-Afrika is uiteraard ver van Switserland verwyder betreffende onderwys en ander samelewingsfere. Tog is dit belangrik om te weet van bedelingsraamwerke soos dié van Switserland. Suid-Afrika se huidige bedeling is nou eers ʼn kwarteeu met ons en gaan ook nie vir ewig hou nie. Veral nie gegewe die huidige trajek van verval nie. Switserland leer dat daar ongelooflike slim maniere is om in ʼn komplekse werklikheid komplekse oplossings na vore te bring. Switserland akkommodeer juis hul gefragmenteerde werklikheid. Suid-Afrika se sterk sentrale en homogene oplossings probeer nog ons werklikheid dikteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jo ·

Hulle wil nie die kinders opvoed want n mens kan ongeleerde en onopgevoede massas beter manipuleer!!

Marius ·

Daar is mos gesê almal sal gratis mediese behandeling, skool en universiteit toe gaan, krag en water kry en sommer ook grond en huise kry en nou is alles ‘n gemors want lieg stories word nooit waar nie. Daar is nagelaat om te sê daar moet gewerk en betaal word vir al die voorregte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.