Nuuskommentaar: Ons Christelike verantwoordelikheid teenoor vervolgde Christene

kruisBinnekort vier die Christendom sy belangrikste fees van die jaar … Paasfees.  Vir baie het dit egter bloot ’n gewaarborgde langnaweek geword wat hulle die kans gun om bietjie weg te breek en te sorg dat die kinders paaseiers by die paashaas kry, terwyl die gebruiklike padslagting weer plaasvind.

Intussen is daar mede-Christene in verskeie Midde-Oosterse lande wat juis weens hul Christenskap vir hul lewens vrees. Duisende van hulle moet vlug.

Sedert die opkoms van radikale Islam in verskeie Midde-Oosterse lande word gru-verhale vertel oor Christenvervolging. Veral ná die eertydse ISIS ’n kalifaat in dele van Sirië en Irak uitgeroep het en sy naam na die IS (Islamitiese Staat) verander het, is die weste deurlopend geskok oor die lot wat groepe Christene te beurt geval het in stede soos Mossul waar hulle eeue lank in vrede naas hul Moslembure geleef het.

Onlangs het die IS in Libië geskok deur meer as twintig Egiptiese Christene wat in Libië gaan werk soek het, te onthoof. In Nigerië pleeg Boko Haram die een grudaad ná die ander soos die ontvoering van skoolmeisies, waaronder ook Christene.

Die meeste wreedhede word gepleeg deur ’n radikale vertakking van die Soenie-Islam, bekend as die Salafiste, of meer korrek, nieu-Salafiste. Maar so eenvoudig is dit nie.

Wie is hierdie Christene in die Midde-Ooste en selfs verder oos?

Daar is verskeie groepe wat al baie lank Christene is. Soms is dit moeilik om die presiese herkoms van die kerstening van hierdie groepe, wat so ver as Indië sterk, te bepaal, maar uit talle oorlewerings blyk dit dat die apostel Thomas ’n groot rol gespeel het. Voor die opkoms van die Islam was daar belangrike Christengemeenskappe in onder meer Jemen en daar is selfs ’n sterk aanduiding dat Mekka eens ’n Christengemeenskap gehad het.

Sedert die opkoms van die Islam is baie van die Christene vervolg en talle het hulle tot die Islam bekeer. Van hierdie vlae vervolgings, soos aan die hand van die Mongole, het selfs name gekry.

In beter tye is Christene bykomend belas, maar andersins redelik in vrede gelaat.

Twee volke het egter hul Christelike karakter behou. Die bekendstes is seker die Armeniërs, wie se hartland grootliks in die teenswoordige Turkye geval het. Hulle is ’n Indo-Germaanse volk en hulle en die Ethiopiërs stry oor wie nou eintlik formeel die eerste Christenvolk was.

Die tweede groep is die Assiriërs. Die huidige Assiriese taal word as ’n nieu-Aramese taal beskryf (die taal wat Jesus op aarde gepraat het en waarin ’n aantal boeke van die ou Testament oorspronklik geskryf is). Nog ’n volk uit die Bybel wie se naam as herkoms vir sekere invloede in die Assiriese tale genoem word, is Chaldees.

Die sporadiese erge vervolging van Christene het tot in moderne tye voortgeduur. Ná die eerste wêreldoorlog was die Armeniërs, Assiriërs en tot ’n mate die Koerde, aan ’n menseslagting in Turkye onderwerp, wat tot ‘n grootskaalse diaspora van hierdie groepe gelei het.

Die meerderheid Christene in Irak word as Armeniërs beskryf, maar die Assiriërs maak ook ’n belangrike deel uit. Beide oud-pres. Saddam Hoessein van Irak (’n Soenie in ’n hoofsaaklik Sjiïtiese land) en Bashar al-Assad van Sirië (’n Alawiet {splintergroep van die Sjiïete-minderheid} in ‘n hoefsaaklike Soenie-land) het ter wille van stabiliteit Christene in hul kabinet opgeneem. Een van die bekendstes is Tariq Aziz, ’n Assiriese Christen uit die Chaldese vertakking wat Saddam se adjunk-premier was en wat na Saddam se val ter dood veroordeel is.

In 1947 is bereken dat Christene nog 12 persent van Irak se bevolking uitgemaak het, in 1987 was hulle 8 persent van die bevolking en in 2003 sowat 6 persent van die bevolking. Van die sowat 1,5 miljoen Christene wat eens in Irak gewoon het, was daar na raming teen die einde van 2013 minder as ’n halfmiljoen oor. Sedertdien het nog baie ander uit die land gevlug.  Daar was ’n besliste skerp toename in veral die nie-amptelike vervolging van Christene in dele van Irak sedert van Saddam ontslae geraak is.

In Sirië is dit nog moeilik om te bepaal hoeveel van die sowat tien persent van die bevolking wat Christene is, oor is. Christene was oor die algemeen traag om aan die opstand teen pres. Bashar al-Assad deel te neem, onder meer omdat hulle bang was – en met goeie rede – dat dít wat in die plek sou kom die wêreld vir Christene nog moeiliker sou maak. Christene, soos ander minderhede, het in die parlement (met min bevoegdhede) gewaarborgde setels. Hierdie traagheid om teen Assad in opstand te kom maak dit vir die Christene baie moeilik, veral in gebiede wat deur die opstandelinge verower word.

Fundamentalistiese Christene in die Weste maak dit ook nie altyd maklik vir hul Christen-broers en -susters in die Midde-Ooste nie. Die verbranding van die Koran deur fundamentalistiese pastore word met groot woede begroet en plaas oosterse Christene onder enorme druk.

Tog is dit nie altyd Christen teen Moslem nie. Dit lyk of veral die Assiriërs skouer aan skouer saam met die Koerde – meestal Moslem maar ook segmente Yzidi’s – teen die IS veg. Die IS het veral hul mes in vir die Yazidi’s, wie se godsdiens deur die IS as ’n soort satansaanbidding beskou word.

Vir ons as Christene is Lydenstyd ’n tyd van stille, innige nadenke. Terwyl die lydenspad van ons Verlosser, Jesus Christus, altyd voorop moet staan, dink ons in hierdie tyd ook in ons gebede aan die lyding van medegelowiges dwarsoor die wêreld.

(’n Verkorte weergawe van hierdie artikel het in die mees onlangse Blitspos van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verskyn).

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dankie Herman vir ‘n uiters insiggewende skrywe. Ons kan net ‘bid sonder ophou’ vir ons medechristene.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.