Nuuskommentaar: Ons is ’n bakleierige lotjie, ons

Betogers maak amok in die weste van Pretoria. Foto: Facebook

Betogers maak amok in die weste van Pretoria. Foto: Facebook

Volgens die jongste vredesindeks beklee Suid-Afrika ’n beroerde posisie en steek onder meer sleg by sy buurlande, buiten Zimbabwe, af. Boonop verwag Municipal IQ dat die aantal gewelddadige protesoptredes in die land vanjaar ’n nuwe rekordhoogte gaan bereik. Maar is die ore toedruk en volstruispolitiek speel die oplossing? Of gaan daar saamgestaan word om met die werklikheid in die oë skouer aan die wiel te sit om oplossings te vind?

Dit sal heelwat Suid-Afrikaners verbaas om te verneem dat die land pas op die jongste vredesindeks (Global Peace Index) sy posisie verbeter het. Weliswaar net met ’n paar plekke van die 133ste plek op die 2015-indeks tot die 126ste plek nou, maar gemeet uit 162 lande is dit nog steeds nie ’n aanprysenswaardige posisie nie. (Meer agtergrond met skakels kan hier gelees word.)

Die slegte nuus is egter dat die wêreld as geheel minder vreedsaam geword het, wat beteken dat Suid-Afrika se posisie dalk meer gestabiliseer as verbeter het. Voeg hierby plaaslike vooruitskouings dat Suid-Afrika vanjaar op ’n rekordaantal gewelddadige protesaksies afstuur, en daar is nie te veel ruimte vir agteroorsit en hoop graderingsagentskappe sien die moleste nie raak nie. Maroela Media het dit ook op 12 Mei in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem.

Die interessantheid is dat die vreedsame lande van die wêreld meer vreedsaam geword het, en dié wat minder vrede ken, nog minder vreedsaam geword het.

Altesaam 30 Afrikalande is meer vreedsaam as Suid-Afrika, waaronder die Republiek van Kongo.

Suid-Afrika word as die verkragtinghoofsetel van die wêreld beskou, die moordkoers is ver bo die wêreldgemiddeld en die moordkoers onder boere en hul gesinslede, asook die moordkoers onder bruin mans in die Wes-Kaap, ding met mekaar mee om die hoogste moordkoers onder ’n identifiseerbare groep in die wêreld te wees, met die boere wat tans ’n kort kop voorloop.

Maar hoe vergelyk Suid-Afrika se 126ste posisie met dié van sy buurlande?

Lesotho beklee die 63ste plek, Swaziland die 90ste, Mosambiek die 86ste, Botswana die 28ste, Namibië die 65ste, Angola die 98ste en Zambië die 40ste. Suid-Afrika gesels net saam met Zimbabwe in die 127ste posisie.

Suid-Afrika “presteer” dus deur Mugabe se Zimbabwe met een enkele plek te klop.

’n Mens kan sonder veel moeite nog ’n klomp slegte nuus vir die land bywerk, soos die 1,28% waarmee die BBP pas ingekrimp het, en wat deur Netwerk 24  as “ysingwekkend” beskryf word. Die graderingsagentskap Fitch het wel Suid-Afrika se gradering onveranderd net bo rommelstatus behou, maar onheilspellend daarop gewys dat politieke risiko’s toegeneem het.

So van die kantlyn af is die SAUK met ’n beduidende sensuuraksie besig, skynbaar om te verhinder dat te veel negatiewe nuus oor Zuma en die ANC oor die luggolwe versprei word.

Maar is volstruispolitiek die antwoord op slegte nuus?

Volstruispolitiek met nuus veroorsaak byvoorbeeld dat ’n vrou alleen, en sonder pepersproei, in die donker gaan draf. Volstruispolitiek veroorsaak dat ouers hul kinders na universiteite stuur waar die vuurhoutjies al getrek is. Dit is soos om waarskuwing-padpredikante naby skole te verwyder en so leerders se lewe in gevaar te stel.

Dit stel die publiek ook bloot aan allerhande kaf wat alarmisties op selfone versprei word, en dat mense paniekerig daarop reageer omdat hulle nie besef hoe heeltemal buite die konteks van die werklikheid dit is nie.

Dit is goed en reg dat daar goeie nuus ook moet wees, en daar is baie. Maar onkunde oor die werklikheid daar buite, hetsy deur self-“verdomming” omdat die persoon kopsku vir die werklike nuus is, hetsy deur sensuur soos die SAUK nou die skroewe vasdraai, hou die gevaar in dat bedreigings nie besef word nie, en mense byvoorbeeld vir ’n party gaan stem wat juis daarvoor verantwoordelik is.

Iemand wyk dalk uit die land uit, maar gaan woon in onkunde kaplaks bo-op ’n verskuiwingsvlak waar dit net ’n kwessie van tyd is voor ’n groot aardbewing toeslaan.

Leserskommentare is soms uitsonderlik waardevol, nie net om misgekykte perspektiewe te stel nie, maar met raad oor hoe om op slegte nuus te reageer.

Soms word ou waarhede afgestof, soos eendrag wat mag maak. Daar is beduidende niefatalistiese aksies waarby ’n mens positief kan inskakel, soos die Solidariteit Beweging se “Ons Bou”-aksie. Skouer aan die wiel sit, is ook nog ’n stukkie goeie raad. En so ook Jan Brand se stelling dat alles sal regkom as elkeen sy plig doen.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Jan Brand het gese alles sal regkom maar nie wanneer nie!!!!!!!!!!!!!!!!!

Rynhardt ·

SA word omskep in chaos met betogings en stakings wat al hoe meer gewelddadig raak! Vryheidsmanifes spel dit uit tetwyl vure oral reg rondom ons begin brand! n Verteenwoordiger van die Verenigde Nasies het gese in n verslag dat 76.4 uit 100000 kinders sterf in SA weens geweld! Ek haal aan:”Geweld maak kindersterftes in SA die hoogste ter wereld en dinge het onder Zuma en Anc met meni g versleg!” n Spesiale boodskap vir die prez, maar dit word gesystap deur Motsoeneng en SABC! Dit is onaanvaarbaar om in n gewelddadige SA van Zuma en kie. te bly!!

Theresa B ·

Om ‘n oplossing te vind soos ordentlike opgevoede mense is te veel moeite. Om alles te vernietig en af te brand is baie makliker. Dit kan hulle baie goed doen – Dit verg geen moeite nie.

Theuns ·

Die ‘panorama’ vir die ANC/SAKP het verander. Jou kommentaar is 100% reg wat verdomming aanbetref en dan is daar ook’n agenda om te verbloem. Die ANC maak so baie blapse dat hulle die werklike toestand vir hulle kiesers moet wegsteek sodat hulle nie teveel stemme verloor nie! Dit is nou ongelukkig so dat die bree bevolking net SAUK TV het en of SAUK Radio Senders.Die bree bevolking steur hulle nie juis aan Koerante nie. Die SAUK dien lankal nie meer die belange van kykers of luisteraars nie!!

Theuns ·

More Herman. Die woord wat jy gebruik is treffend en het my aan gevolge van verdomming vir enige volk! Ek sal graag jou opinie wil hoor oor die volgende. Soos ek dit sien het enige volk ‘n gesamentlike geheue wat net lewendig gehou kan word as die Geskiedenis opgeteken word en as daar mense soos Leopold,Prof. Gillomee en jy die gebeure deur oorvertelling onder die aandag van die volk bring. Verdomming gaan plaasvind as daaroor die Geskiedenis gelieg word en die ouer garde sterf af! Die ANC vertel ‘n ander geskiedenis aan ons mense en dit word nogal geglo deur die Jongspan. Dan is daar nog Lesufi en Onderwys? Wat moet ons doen om ons geskiedenis te beskerm?

Herman Toerien ·

Hallo Theuns. Die gebruik van die woord “verdomming” is nie my uitvindsel nie, en is reeds in die gedrukte media ingespan. Soos ek dit verstaan gaan dit nie soseer oor ‘n verdraaide aanbied van die geskiedenis nie, maar die ore toedruk vir wat om ons aangaaan, en dan baie slim te wees oor die byna niks wat mens weet nie. Die owerheid het ook al geleer om sekere projekte, soos ‘n sensus wat plaasvind en die belastingseisoen, in seppies se storielyne te laat inskryf, anders weet “niemand” daarvan nie, al is dit hoe wyd in die nuusmedia bekend gestel. Daar is natuurlik ‘n generasieding ook – ouers wat bekommerd is oor hul kinders wat nie weet wat om hul aangaan nie, en die kinders wat vir hul maats vertel die ou toppies weet niks. Ek het gehoor daar is in ‘n stadium ‘n groep-IK-toets onder Japannese kinders gedoen wat suke voorslae met rekenaars was. ‘n Baie hoë IK is verwag, maar die gemiddels was baie laag. Die verklaring was dat die rekenaars dan alles doen – tot dien as geheue.

John ·

Toe arm Zimbabwiers rondom hul hoofstad begin plak het nadat wit boere van hul plase gejaag is, het president Mogabe die kampe met stootskrapers bygekom. Die mense het hierheen gestroom. Die wat nie by hul vorige werkgewers kon uitkom nie, het rondom Kaaptad en Johannesburg begin plak. Dit was die begin van die groot plakkerskampe. Massas uit Afrika het hierheen gestroom veral ook omdat ons sulke trietsige grensdrade het. Ons werkloosheid en tekort aan behuising het dramatiese gegroei. Uitlanders het saam met ons mense begin betoog. Vals ID-dokumente (en Engels) maak onderskeid onmoontlik. Die ANC en sy tweelingbroer, die Kommunistiese Party het in die apartheidsjare stakings vir loonverhogings dmv unies geinisieer. Ons regering het sy eie mega-virus geskep en gevoed. Niemand gaan die siekte kom uitwis nie. Ons sal dit hier moet doen of verteer word deur ons eie maaksel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.