Nuuskommentaar: Ons sal plaasmoorde sélf moet pak

(Argieffoto)

Die onderwerp van plaasmoorde en -aanvalle het die afgelope week groot aandag op verskeie fronte geniet.

Die pas afgelope Saterdag het sowat 100 000 motorfietsryers landwyd aan ʼn reuseoptog teen plaasmoorde deelgeneem. Die boodskap van die optog was eenvoudig: Slaan ag op die mense op voetsoolvlak.

Enkele dae na dié optog het adj.pres. David Mabuza hom ook uitgespreek teen plaasmoorde en -aanvalle. Hy het dié soort gewelddadige aanvalle op boere en mense in landelike gemeenskappe veroordeel en die belang van die landbousektor in die land benadruk.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa hom sowat ʼn maand gelede uiteindelik self ook uitgelaat het teen plaasmoorde, was Mabuza se boodskap veel meer kragtig en spesifiek. Mabuza het verwoord wat soveel desperate landsburgers al so lank wil hoor.

Hierdie veroordeling is dit waarna talle landsburgers, slagoffers van en drukgroepe teen plaasmoorde en -aanvalle op soek was – ʼn openlike erkentenis deur die regering dat daar wél ʼn probleem is.

Dié aandag aan plaasmoorde is Dinsdag voortgesit in ʼn breedvoerige parlementêre debat oor die kwessie. In die debat het al 14 politieke partye in die parlement plaasmoorde en -aanvalle veroordeel – elk natuurlik op sy eie manier. Dit is die tweede keer in sowat ʼn maand dat plaasmoorde groot aandag in ʼn parlementêre debat geniet.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het opgemerk dat plaasmoorde stééds plaasvind, ondanks politici se veroordeling daarvan vantevore. Met hierdie stelling het Groenewald die ongelukkige werklikheid van die tragedie vasgevat: Met lippediens alleen sal plaasmoorde nooit stopgesit word nie – ook geen ander misdaad in ons land nie.

Groenewald het egter hiermee ook die oplossing tot die probleem verwoord. Terwyl politici daaroor praat, gaan ons self iets moet doen.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS/Twitter)

Ramaphosa, Mabuza en die hele nasionale vergadering se erkentenis van die probleem is beslis waardevol. Gemeenskappe, gesinne en families wat oor die afgelope dekades persoonlik deur plaasmoorde en -aanvalle geteister is, het hierdie erkenning nodig. ʼn Erkenning dat jou naasbestaandes nie ongesiens en terloops vermoor is nie. ʼn Erkenning dat slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle nie blote statistieke is nie, maar ménse. ʼn Erkenning dat die vrees en onveiligheid waarin boere leef wel abnormaal is.

Tog kan die somtotaal van ons antwoord op plaasmoorde nié die regering as redder wees nie. Selfs al wíl die regering die probleem suksesvol pak, is die kans dat hy daarin gaan slaag weglaatbaar klein.

Dit is byna presies ʼn jaar gelede dat Ramaphosa hom ook onder groot druk uitgespreek het teen plaasmoorde. Tydens sy repliek op die presidensiële begrotingsdebat het hy plaasmoorde breedvoerig veroordeel. ʼn Jaar later is druk weereens op Ramaphosa geplaas om die probleem te erken. Weereens het hy uiteindelik onder die eksterne druk geswig en plaasmoorde en -aanvalle veroordeel.

Tog duur plaasmoorde voort – soos wat Groenewald terug uitwys.

Die meeste mislukkings van ons regering kan toegeskryf word aan sy eie skreiende onbevoegdheid en onkunde. Die skeermes van Hanlon hou immers voor: “Skryf nooit toe aan kwaadwilligheid wat voldoende deur domheid verklaar kan word nie.”

Hierdie stelling is ongelukkig ook meer gereeld op ons regering van toepassing as wat ʼn mens sou wou erken. Dit is meer waarskynlik dat ons regering se roekelose onbevoegdheid, eerder as ʼn morele goedkeuring, die blywende teenwoordigheid van plaasmoorde verduidelik.

Hierdie werklikheid is ook te bespeur in die regering se absolute onvermoë om geslagsgebaseerde geweld te pak. Dit is ʼn kwessie wat die regering nog altyd skaamteloos veroordeel het. Die ANC het ongetwyfeld die politieke wil om dit aan te raak – hy is deeglik bewus van die feit dat dit ʼn ernstige probleem onder sy eie kiesers is.

(Argieffoto)

Tog bly Suid-Afrika een van die lande met die hoogste vlakke van verkragting ter wêreld. In 2012 het Interpol Suid-Afrika die verkragtingshoofstad van die wêreld gedoop. Verkragting het ook oor die afgelope paar jaar weer begin toeneem. Hierop het die minister van polisie, Bheki Cele, geantwoord dat spesiale polisie-eenhede vir geslagsgebaseerde geweld aangewys sal word.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het in reaksie op verlede jaar se misdaadstatistieke egter genoem dat verhoogde regeringsbesteding aan polisiëring en strenger vonnisse nog nie geweldsmisdaad suksesvol kon bekamp nie. Die regering kan soveel geld en aandag aan ʼn probleem gee as wat hy wil – indien hy dit nie doeltreffend kan aanwend nie, is dit eintlik nutteloos.

Die regering het nie eens die vermoë om ʼn kwessie te takel wat hy onbeskaamd veroordeel nie – wat nog van ʼn saak soos plaasmoorde wat hy selde onbeskaamd veroordeel of pak. Selfs daar waar hy graag ʼn probleem wíl oplos, sukkel hy.

Daarom is dit die regering se onbevoegdheid, eerder as sy onwilligheid om op te tree, wat ons grootste probleem is.

(Argieffoto)

Indien ons ons heil in die regering gaan soek, gaan ons bloot by sy verlammende onbevoegdheid ingesleep word. Daarom moet ons eerder die regering uit die pad dwing en self die probleem oplos. Die goeie nuus is ook dat ons beslis die vermoë het om dit te doen.

Per capita het Suid-Afrika die vierde grootste private sekuriteitsbedryf ter wêreld. Die blote grootte hiervan spreek boekdele van presies waar landsburgers se vertroue gesetel is wanneer dit kom by veiligheid. In ons alledaagse lewe maak ons nie meer staat op die polisiediens en die regering nie. So ook moet ons nie met die probleme wat ons gemeenskap teister by die regering om hulp gaan aanklop nie.

Sterk gemeenskapsbande moet eerder in samewerking met die doeltreffende private sektor aangewend word om die probleme op te los wat die regering nie kán aanraak nie – al wil hy ook hoe graag.

Daar waar die regering telkens by woord vashaak, moet ons self tot daad oorgaan. Sodoende sal ons lot, veiligheid en sukses nie van die regering afhang nie, maar van onsself.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Sê ons mos nou al lankal…gee ons die Weskaap en kyk hou sal ons floreer!

Trotse Boervrou

Onbevoeg inderdaad.

nell

Alvorens Ramaphosa se regering nie plaasmoorde prioritiseer nie sal dit vir ewig geklassifiseer bly as gewone misdade waaraan die spul sleg niks kan of wil doen nie.
As hulle renosterstropery, koperkabeldiefstal, aanranding van vroue en kinders en bendegeweld kon prioritiseer hoekom dan nie ook plaasmoorde nie…?

Cheryl

Ek daag die Ruperts en Oppenheimers uit om dieselfde bedrag wat hulle in die solidariteitsfonds gat gegooi het vir die beveiliging van plaasboere te gee.

Persheks

Ons sal onsself beskerm teen die regering en die res van die wêreld.

Dan moet julle daai mal groot hoed op sy plek hou om NIE ons blankes te ontwapen NIE! Neem kennis en maak ‘n nota Cyril en kaders