Nuuskommentaar: Ons sal self, maar nie alleen

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion.

Die afgelope naweek het Afrikaner-belangegroepe, onder wie die Solidariteit Beweging, gesprekke gevoer met die Thabo Mbeki-stigting. Dit vorm deel van ʼn langdurige verhouding tussen dié belangegroepe onder die vaandel van die Afrikaner-Afrika-Inisiatief (AAI).

Die fokus het veral geval op die gevoel van vervreemding onder Afrikaners, ons behoefte om ekonomies by te dra en ingesluit te word, beskerming van moedertaalonderrig, uitbou en bewaring van kultuurerfenis asook Afrikaners se verlange na daadwerklike politieke insluiting en inspraak.

Dit is bevestig dat Afrikaners van Afrika is en ook hier gaan en wil bly. In die soeke na oplossing vir die land moet ons dus ʼn oplossing kry wat nie net ons herkoms as Westerse Afrikane erken nie, maar dit ook in daadwerklike politieke en kulturele inspraak en beskerming sal omskakel.

Die fokus van die gesprekke was op gemeenskappe. Die vertikale verhouding tussen die regering en mense op grondvlak is sleg – veral tussen die regering en Afrikaners. In ʼn soeke na oplossings gaan ons ons dus nie tot die regering wend nie. Ons gaan onsself moet help, maar kan dit nie volledig in isolasie doen nie. Die antwoord gaan eerder daarin lê om as gemeenskappe na onsself te kyk en in horisontale verhoudings met ander gemeenskappe probleme in die land op te los. Hoe meer gemeenskappe selfstandig is, hoe beter gaan so ʼn netwerk van horisontale samewerking en wedersydse erkenning werk.

Sodoende het dit wat die regering doen ʼn al kleiner impak op die welstand van gemeenskappe. Gemeenskappe ontwikkel sodoende toenemende weerbaarheid teen swak regering – die skokgolwe van ʼn ANC-regering het ʼn al kleiner impak op gemeenskappe juis omdat hulle inherent gebou is om dit te weerstaan. Vir Suid-Afrika as geheel om te oorleef en uiteindelik te slaag, moet soveel as moontlik gemeenskappe hierdie weerbaarheid ontwikkel.

Hierdie aanslag beskryf Suid-Afrika op grondvlak ook veel beter as ons huidige stelsel van sentralisme en ʼn eenheidstaat. Dit is ʼn aanslag wat Suid-Afrika verstaan as ʼn land met tientalle gemeenskappe en kultuurgroepe, eerder as ʼn homogene land wat met ʼn eenvoudige eenheidstaat regeer kan word.

Die meeste Suid-Afrikaanse burgers sien moedertaal (kultuur) as hul primêre identiteit – dit is die identiteit waar hulle die meeste tuis voel. Ras is tweede, ekonomiese klas derde en Suid-Afrikaner (nasionaliteit) vierde, met een uit elke 10 mense wat dit as primêre identiteit sien.

Wanneer mense kan kies, sien hulle hulself dus primêr as lede van ʼn kultuurgemeenskap. Ons is dus nie ʼn land van vier rasse of een Suid-Afrikaanse identiteit nie, maar eerder ʼn Suid-Afrika van ten minste 11 kultuurgroepe. Ons huidige politieke bestel beskryf hierdie werklikheid egter sleg. Ons huidige politieke stelsel sien ons land as ʼn meer homogene groep van individue, eerder as ʼn magdom kultuurgroepe as primêre identiteit. Dit is ook een van die groot redes waarom Afrikaners weinig tot geen politieke inspraak het nie. ʼn Eenheidstaat onderlê deur ʼn een-man-een-stem-demokrasie is slegs ʼn demokrasie vir die demografiese meerderheid.

Hierdie wanpassing tussen ons politieke stelsel en grondvlakwerklikhede veroorsaak dat mense se primêre identiteit nêrens behoorlik in die politiek uiting kan vind nie. Sodoende het verskillende kultuurgemeenskappe nie die politieke en kulturele inspraak oor hul eie sake wat hulle nodig het nie.

ʼn Aanslag van horisontale samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe beskryf mense se grondvlakwerklikhede beter. Indien ons na oplossings vir politieke, ekonomiese en kulturele probleme soek, verskaf horisontale samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe die beter aanslag.

So ʼn stelsel sal nie net vir Afrikaners meer politieke en kulturele inspraak gee nie, maar sal ook vir alle gemeenskappe meer inspraak in hul eie sake gee. Sodoende kan ons al meer beweeg na die meer organiese netwerk van horisontale samewerking gegrond op wedersydse erkenning en selfstandigheid.

Suid-Afrika het ʼn geskiedenis van politieke stelsels wat van bo af op gemeenskappe afgedwing word. Hierdie stelsels is gewoonlik onvolhoubaar omdat dit grondvlakwerklikheid probeer voorskryf, eerder as om dit te beskryf. ʼn Meer ideale aanslag sal wees om stelselmatig ʼn stelsel om grondvlakwerklikhede te laat vorm – dus ʼn stelsel wat die kulturele diversiteit akkommodeer. Dit moet enersyds stewig genoeg wees om gemeenskappe daadwerklike inspraak in hul eie sake te gee, eerder as net teoretiese ruimtes soos dié in ons Grondwet. Dit moet andersyds ook plooibaar genoeg wees om rondom veranderende werklikhede aan te pas, sodat dit weereens nie voorskryf nie, maar eerder beskryf.

In so ʼn stelsel oorheers een gemeenskap nie ʼn ander nie, maar is almal eerder verantwoordelik vir hulself.

Dit gaan egter nie vanself of oornag gebeur nie. Dit gaan wel begin by verskillende gemeenskappe wat die grondvlakwerklikhede bou wat hulle wil sien. Verskillende gemeenskappe gaan verskillende werklikhede uitbou – eiesoortige gemeenskapsinstellings is dus deurslaggewend. Afrikaners bou kultuurinstellings en gemeenskapsinstellings. Ander gemeenskappe gaan dalk weer hulle selfstandigheid uitbou in instellings van tradisionele leierskapstrukture.

Hoe sterker en breër hierdie stelsel van eiesoortige gemeenskapsinstellings gebou word, hoe beter gaan dit met gemeenskappe gaan. Dit sal ook ʼn meer volhoubare stelsel wees, aangesien dit van die grond af boontoe gebou word. De facto politieke en kulturele invloed moet eers uitgebou word – daarna kan dit die nodige wetgewende ruimtes gegee word.

Hoewel dit soos ʼn droom klink, is dit beslis haalbaar. Dit is belangrik om uit die denkwyse te ontsnap dat Suid-Afrika die einde van ons politieke geskiedenis bereik het in 1994. Dit is belangrik om nie jouself blind te staar teen die huidige politieke stelsel, voorwaardes en beperkinge waarmee ons sit nie. Ons huidige stelsel, en al die politieke stelsels wat Suider-Afrika tot dusver gehad het, het iewers begin, verander en so ook iewers geëindig.

Indien ʼn politieke stelsel nie pas by die grondvlakwerklikhede nie, gaan dit nie volhoubaar wees nie. Ons huidige stelsel pas nie by die grondvlakwerklikhede nie. Sodoende hoef ons ook nie vasgevang te word in die idee dat dié stelsel onsterflik is nie. Ons moet eerder moeite doen om die grondvlakwerklikhede te leer ken – sodoende sal ons ʼn al beter verstaan kry van hoe die stelsel moet lyk wat dit akkommodeer.

Ons mag, kan en moet die werklikhede help vorm wat ons graag wil sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

Ons nog nie geleer dat die wonderlike samewerking nog nooit gewerk het nie.Dink dit is tyd dat ons dit maar op ons eie probeer , hoeveel keer wil ons nou nog die resep probeer wat nie werk nie.En net so terloops ou Mbeki was ons ook nie goedgesind nie .Wat maak hom nou so wonderlik

Althes ·

Ek het al baie gewonder, na Mandela ons president geword het en toe Thabo Mbeki administrasie het ons hul erg gekritiseer maar was die foute wat hul begaan het baie minder skokkend as die afgelope dekade plus se leiers.
Het ons nie ook maar bygedra tot die skeuringnie?

Bart-Man ·

Die regering sal dit nooit toelaat nie. Hulle sal eerder die minderheid se knieë breek en afbring
tot op grond vlak.

Pieter ·

Onderhandel met n kommunis en n terroris julle gaan nog bitter spyt wees.

MT ·

Jammer Flip, maar om steun onder Thabo Mbeki en sy kamerade te probeer werf is verregaande!

Ek beskou jou as ‘n nugter, oop-kop patriot, maar hierdie uitreik na Mbeki en sy bende was onnodig en gaan Solidariteit en haar langtermyn doelstellings skaad. Mooi-klinkende gebare en vriendelike praatjies met Afrika se Renaissance dromer gaan julle spoed laat verloor en verstrengel raak in die moeras van Afrika politiek.

Het Jan Bosman en sy Afrikanerbond ook nie onlangs met Ramaphosa koeksisters in die Paarl gedeel nie? Dit was ook bestempel as ‘n waterskeidingsoomblik.

Soek God op wanneer jy ‘n Planmaker nodig het; nie ‘n ontsetelde politikus wat verbind word met 365 000 voorkombare VIGS sterftes nie.

Josef du Toit ·

Sover ek kan agterkom het die samesprekings bestaan uit 20 mense van die Thabo Mbeki-stigting, onder andere dr Vincent Maphai en 12 mense van Afrikanerbelangegroepe, insluitende organisasies binne die Solidariteit-beweging (inbegrepe mnr Flip Buys) en die Afrikaner-Afrika-Inisiatief se mnr Chris Opperman. Kan ons asseblief meer besonderhede hieroor kry, naamlik name van al 32 deelnemers, die organisasies wat elkeen verteenwoordig en die rol wat elkeen by sy organisasie vervul.

Elize ·

Ek dink van al die presidente na 1994 was Mbeki die verstandigste. Dis jammer hy is nie ‘n beter kans gegun is nie en sy opvolger het net chaos veroorsaak. Natuurlik was hy nie volmaak nie.

MT ·

Dit val vreemd op dat na ‘n kwarteeu baie Suid-Afrikaners nog steeds nie werklik begryp wat in 1994 gebeur het nie, en wat tans aan die gang is nie.

1994 was ‘n WEG-GEE proses; volledig en op alle vlakke! In die bestaan van geskiedenis het so ‘n ‘vreedsame’ en volledige WEG-GEE proses nog nooit plaasgevind. Dis uniek, en sal ook nooit ooit deur enige ander regering uitgevoer word nie.

Ek dink dat hierdie eenmalige gebeurtenis meeste Suid-Afrikaners volkome uitgeboul het, en dat sommige (of dalk die meeste?) nou na enige strooihalm sal gryp vir ‘n bietjie hoop.

Die hele ANC, Thabo Mbeki inkluis, is die wereld se tyd en geleenthede gegun om Suid-Afrika suksesvol te bestuur. Blankes het oor mekaar geval om gratis hulp en ondersteuning aan die ANC te bied, maar die vriendelike gebaar is keer op keer deur die hele ANC met minagting verwerp.

Deur ons geskiedenis het Afrikaners die meeste sukses – op watter gebied ookal – behaal wanneer ons laer getrek het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.