Nuuskommentaar: Ons sál self

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion.

ʼn Volk red homself.

Dit was die leuse van die Reddingsdaadbond wat in reaksie op die 1930’s se depressie ontstaan het. Hierdie beweging wat deur ds. JD Kestell gestig is, se oogmerk was om die arm Afrikaner in daardie tyd deur die krag van die gemeenskap op te hef.

Die Afrikaner het in die eerste deel van die 1900’s deur die krisisse van die Anglo-Boereoorlog, die 1914-rebellie en die Groot Depressie gegaan. Met elke krisis moes hulle besluit hoe hulle dit wou hanteer. Moes hulle opstaan deur die Britse Ryk? Moes hulle eerder self?

Op elk van bogenoemde krisisse het hulle gereageer met ʼn antwoord vanuit die gemeenskap, vir die gemeenskap. Die Afrikaner het homself telkens ekonomies, maatskaplik en kultureel opgehef.

Hulle het die beginsel destyds verstaan – indien ons nie onsself gaan help nie, gaan niemand nie. Die saamstaan wat die Afrikaner as oplossing gekies het, het hulle uiteindelik in staat gestel om self op te staan.

Die Afrikaner het daarom ʼn geskiedenis van beskutting en hoop in die gemeenskap vind. Waar ons in die verlede toevlug tot mekaar geneem het, was ons byna onkeerbaar. Eerder as om van ander afhanklik te wees, het ons nog altyd die vermoë gehad om uit feitlik onoorkombare omstandighede sélf op te staan. Die vermoë om in die aangesig van krisisse geborgenheid in ons gemeenskap te vind, het ons nog altyd sterk gemaak.

Maar dit wil voorkom of ons hiervan begin vergeet het na die ANC se bewindsoorname. Die politieke klimaat was van so ʼn aard dat dit byna ʼn aardsonde geword het om net Afrikaners te wil wees. Almal móés inkoop in die ANC se reënboog-projek, die ANC se manier van dink en die ANC se manier van doen. Die ANC het almal probeer oortuig dat dit onaanvaarbaar is om na jou eie gemeenskap te wil omsien – indien jy nie na die hele Suid-Afrika se belange wil omsien nie, is jy verdelend en onderdrukkend.

Veral die Afrikaner-kultuur en -gemeenskap is deur die ANC gedemoniseer en as rassisties en onderdrukkend voorgehou. Enigeen wat trots ons kultuurgeskiedenis wou vier, daarvolgens wou leef of daarop wou voortbou, is as rassiste en onderdrukkers uitgekryt. Die trots het gevolglik vanuit die gemeenskap na mense se privaat lewens verskuif. Ons was dikwels te bang om in die openbaar onbeskaamd ʼn trotse Afrikaner te wees. Tog het ons hierdie trots deurentyd in ons harte beskerm.

Oor die afgelope dekade heen het ons egter stilweg teruggekeer na ons kultuurtuiste in die gemeenskap. Ons het al meer begin besef dat dit geen sonde is om jou eie kultuur te koester nie. Ons mag geborgenheid in ons eie gemeenskap wil vind. Ons mag na onsself wil omsien.

Ons mag aan ons eie kant wees – en ons hoef dit nie in die geheimenis te doen nie.

Gister het Solidariteit die grootste opstaanprogram in hulle 118 jaar se bestaan van stapel gestuur. Die Werkherstelprogram se leuse eggo ook dié van Kestell se Reddingsdaadbond – “Ons sal self”. Hierdie program sal daarop fokus om die ekonomiese en maatskaplike krisisse wat op pad is in ons land, deur middel van die gemeenskap af te weer. Die program fokus op werk, welstand en opleiding.

Die geskiedenis gaan waarskynlik ook hierdie program onthou as een van dié waardeur die Afrikaner-gemeenskap homself gehelp het. Soos wat ʼn volk homself vroeër gered het, sal ons nou weer self.

Ons wil onsself help sonder om ander in te perk. Ons wil bloot nie meer van die staat of enige iemand anders afhanklik wees nie. Die program eggo tereg ook die sentiment dat ons aan ons eie kant mag wees.

Die “Ons Sal Selflied wat saam met die Werkherstelprogram vrygestel is, verwoord die groeiende sentiment onder die Afrikaner-gemeenskap.

“As jy ons nie wil lei nie

As jy ons niks wil gee nie

Dit keer nie

Wat ons nog gaan bereik nie

Ons sal self”

Die musiek van ʼn volk weerspieël sy hart en die tydsgees. Afrikaanse musiek het oor die afgelope dekade ook stadigaan die veranderende sentiment onder die Afrikaner begin weerspieël. Musiek wat ʼn ruimte skep waarin dit nie net veilig is nie, maar ook prysenswaardig is om in Afrikaans oor Afrikaans en Afrikanerwees te sing. Musiek wat weer ons kultuur en tradisies met vrymoedigheid vier. Hierdie lied is die absolute vergestalting van die vrymoedigheid om weer aan ons eie kant te mag wees.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dikwels oor ons voorvaders:

“Ons voorouers was gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het.”

Wanneer die Afrikaner kies om iets self te doen, is dit nogal uitsonderlik. Nie omdat ons bonatuurlik goed of begaafd is nie. Waarskynlik eerder omdat die gehardheid van Afrikane, die hardwerkendheid van Westerlinge en ʼn onwrikbare geloof in God in ons vergestalting vind. Ons is wild, sterk en innoverend. Ons is halsstarrig en godvresend. Ons is geharde pioniers wat nog altyd in die aangesig van uitdagings letterlik berge kon versit.

Daar waar ons kies om iets self te doen, het ons die vermoë om buitengewone prestasies in ongewone omstandighede te behaal. Die uitdagende omstandighede wat voorlê, gaan vereis dat ons dít weer onthou.

Ons mag self. Ons moet self. Ons sal self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarel ·

Ek stem my ouers en Grootouers kom iit daar die tyd.
My Vader was ‘n Boer wat alles moes prys gee.
Hulle het egter vss gehou aan hulle God. Doen ons fig nog?
Gisteraand stuk gelees deur Afrikaners wat God en Sy Kerk afkraak en beledig. Dan verwag ons wonderwerke van God af maar is nie Sondag in die Kerk nie want ek like nie die Ds.nie of die Kerk soek geld by my. God is hier…waar is ond

Willempie ·

Skitterende artikel Monica. Dit gee mens sommer weer moed om ware Afrikaner te wees. Dankie.

Grassie ·

‘n Puik artikel wat ons volk se huidige omstandighede mooi opsom. Baie dankie aan Afrikanervrou Monica Mynhardt. Ek dink ons gaan nog baie van haar hoor in die toekoms. Ek sien uit daarna.
Nadat ons volk die land se regering in 1948 oorgeneem het, het ons alles aan die regering oorgelaat, ons het lui burgers geword. Daardie dae is vir goed verby. As ons nie nou na ons eie belange begin omsien nie, gaan ons nie meer die pyp as volk rook nie. Kyk na die regeringsamptenare – Ramaphosa, Magashule en daardie klomp lywige anties wat tans die land regeer en weet – hulle voel niks vir ons nie. As ons dit nie nou begin self doen nie, gaan ons sink.

Kokerboom ·

Daar is ‘n nuwe horison, ‘n nuwe toekoms en baie hoop wat wink vir ons mense…dit ALLEEN met GOD se hulp. Dankie Solidariteit vir inisiatief en leiding. Mag GOD jul werk seen.

Henk ·

Terwyl ek na die lied luister raak dit iets hier binne wat sê dat hulle nie alles kan afbreek waaraan ons bou nie… Ons kan iets neem uit Dardanelles waar die Britse vloot Turkse forte langs die kus van Turkye ernstig beskadig het maar nie vernietig het nie… wat maak die Turke? Hulle versterk die Forte en toe die Britte weer daar verbygaan skiet hulle die rook uit die Engelse uit! Die gevolg – die britte wou nie teruggaan nie want hulle verliese teen die Turke sou te groot wees… Ons is nou waar die Turke was toe hulle forte platgeskiet is. Wanneer ons nou bou moet ons só bou dat die vyand twee keer dink voor hulle weer probeer…
In elk geval bou ons vinniger as wat hulle kan afbreek, dit wat nou nog staan het óns gebou!

Pieter ·

Die is regtig mooi. En die musiek video ook van Steve en ander. (Die boer sal altyd opstaan).

Johannes ·

“Dat ons nie kon gebuig word soos hul geweld dit wou” (NP van Wyk Louw).

Derek ·

Dit so hartseer maar n ware feit dat die Afrikaner uit jaloesie deur ander kulture onderdruk word bloot omdat die wil van ander kulture tot ontwikkeling totaal ontbreek. Ongelukkig het Suid Afrika n kopie fabriek geword en het die ANC nooit hulle mense aangemoedig en die nodige leiding verskaf om ander kulture te ontwikkel nie, maar die ras kaart gebruik tot hul eie ondergang. Die ryke erfenis van kulturisme is deur die ANC/EFF aliansie vernietig en in die proses hulle eie mense verwerp ten koste van n paar ryk vriende. Die ANC het nooit verstaan dat misdaad is nie lonend nie en betaal nou die duur prys van n plan wat nooit bestaan het nie omdat hulle “copy cats” geword het van die Afrikaners wie trots is op sy kultuur en taal. Wanneer die Woord van God nie in jou skyn daal die duisternis op jou neer en word jy verwerp as gevolg van jou eie ongehoorsaamheid en arrogansie, dit die prys van liefdeloosheid en eie belang. Jesus Christus is die Lig, die lewe en die Waarheid, nie godsdiens.

Robbie ·

As die Afrikaner nie deel is van besluitneming in ‘n soewereine staat nie, sal die Afrikaner en Afrikaans, algemeen beskaafde Afrikaans, geleidelik ondergaan.

Herman L ·

Ons sal self. Dit is goed en reg, maar ons moet ook besef dat as ons dit sonder God wil doen, sal dit misluk.

Johan ·

Dis tyd om die sinkende skip te verlaat. Ons kan elders weer ń Engels/Afrikaans sprekende nasie bou. Ons benodig hardwerkende,Christen en nie-rasgedrewe SA’s,diplomatieke onderhandelinge met internasionale streke waar ontwikkeling benodig word,finansies,dokters,onderwysers,boere…al die beroepe wat ń dorp of streek modern en leefbaar kan maak….kinders,jong-en oumense,vakkundiges…. Ek hoor iemand sug,here we go again! Dis die realiteite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.