Pres. Cyril Ramaphosa het die land Donderdagaand toegespreek en verskeie dinge aangekondig, waarvan een baie noemenswaardig is – die ramptoestand word weer verleng tot 15 Januarie 2021. Dít is die eerste amptelike oorgang van Covid-19 die nuwe jaar in.
Hoewel almal geweet het dit gaan gebeur, is dit tog ʼn simboliese gebeurtenis. Dit spreek aan die een kant van die jaar wat ons agter die rug het. Aan die ander kant spreek dit ook boekdele van die jaar en toekoms wat op ons wag.
Politieke kommentators sê lank reeds dat Covid-19 die wêreld vir ewig gaan verander. Dit gaan die Tweede Wêreldoorlog vervang as die wêreld se nuwe verwysingspunt.
Nie net het die Tweede Wêreldoorlog die ganse wêreld geraak nie, maar ook die politieke landskap verander. Groot internasionale organisasies soos die VN, Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds het alles ná daardie tydperk ontstaan. State het gehoop om ʼn nuwe era van internasionale interafhanklikheid, vrede en samewerking te bewerkstellig. Sodoende sou ʼn moontlike volgende oorlog baie moeiliker en duurder wees. Tog het die nasiestaat as sterk eenheid ontstaan – hoewel samewerking nagejaag is, wou lande ook goeie beheer oor hul grense en mense hê.
Hierdie rolspelers het sedertdien die verhoog van internasionale asook plaaslike politiek bepaal en beïnvloed. Covid-19 gaan hierdie wêreld egter verander. Ná Covid-19 gaan ons waarskynlik ʼn meer gefragmenteerde wêreld sien. Een waarin daar eers weggedraai gaan word van die globalisme en absolute vrye beweging van mense en goedere. Ook ʼn wêreld waarin internasionale organisasies soos die WGO en VN al minder ʼn belangrike en gesaghebbende rol sal speel. Veral ná die WGO se hantering van Covid-19 en China vanjaar.
Nes Covid-19 internasionale politiek verander, was vanjaar ook ʼn bepalende tyd vir ons politieke landskap. Die manier waarop die ANC die pandemie hanteer het, was op die ou einde amper belangriker as die pandemie self.
Die regering het van die begin af die pandemie gebruik om sy eie mag uit te brei. Hy het nou al reeds sedert Maart vanjaar die ramptoestand verleng, desondanks die kwessie dat daar tans eintlik min tot geen regverdiging meer daarvoor is nie. So ook het die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) soos ʼn elitemag deurentyd wesenlike besluite oor ons lewe namens ons geneem. Ook moes die regering selfs in ʼn pandemie net aan die rasseregulasies vashou. Sodoende het hy ʼn diktatuur in die gedaante van ʼn demokrasie bedryf – ook nog met antagonisme teenoor wit mense.
Dit het veroorsaak dat daar ʼn baie definitiewe breuk tussen die regering en die mense gekom het – veral tussen die regering en die Afrikaner. Ons het in hierdie tyd net weereens besef wat ons eintlik lank reeds geweet het – ons is op ons eie. Die staat gaan ons nie net versaak nie, maar ook ons lewe aktief bemoeilik. Sodoende het ons ʼn keuse – ons kan saam met die staat ondergaan of ons kan sélf.
Hierdie wesensbreuk was op die ou einde bevrydend. Ons het finaal besef en besluit dat ons nooit weer op die staat kan staatmaak nie. Indien ons veilig, voorspoedig en vry wil wees, gaan ons dit vir onsself moet bou. Die ander ding wat ook duidelik geword het gedurende die afgelope jaar is dat ons gemeenskap ongelooflik goed georganiseerd is.
Ons burgerlike instellings is gelukkig so goed georganiseerd dat ons die vermoë het om die breuk met die staat volledig te kan oorleef. Verder is mense se gevoel van gemeenskap só sterk dat die samewerking en ondersteuning vanuit die gemeenskap net in oorvloed beskikbaar was vanjaar. Oorweldigende ondersteuning vir Helpende Hand se Krisisfonds spreek ook hiervan. Indien dit nie vir mense se eie soeke na en liefde vir gemeenskap was nie, sou ons gemeenskap nie hierdie krisis oorleef het soos wat ons het nie.
Die jaar 2020 en Covid-19 was sodoende ook vir die Afrikaner ʼn tydsgewrig. Dit was ʼn tyd waarin die probleme rondom ons versnel het. Die regering is besig om vinniger te verswak. Dit was ook ʼn tyd waarin ons antwoorde op die probleme getoets is. Ons gemeenskap het agtergekom dat ons wel hét wat nodig is om nie net te oorleef nie, maar ook te floreer. Namate die staat verswak, gaan ons wel die vermoë hê om dit veilig en sterk te oorleef.
Solidariteit se “Ons sal self”-lied wat reeds meer as 1 miljoen kykbeurte het, spreek hiervan. Ons het opnuut onthou dat die Afrikaner nog altyd vanuit die gemeenskap na die gemeenskap in moeilike omstandighede omgesien het.
Ons hoef daarom nie mismoedig te wees dat ons 2020 gaan afsluit en 2021 gaan begin met ʼn ramptoestand nie. Die afgelope jaar het net dalk die politieke omstandighede in ons guns laat verander. Ons regering was in elk geval nie op die regte pad nie en sou nie sommer daarvan wyk nie. Die feit dat die leierskorps vinniger verswak, gun ons net meer ruimte om na onsself te kyk.
Tye van krisis verander nie mense se karakter nie – dit lê dit slegs bloot. Die afgelope jaar het die ANC ontmasker as die magshonger, dog uiters swak sentrale regering wat die party is. Dit het Afrikaners ook uitgelig vir dit wat ons is – gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies kan behaal. Mag ons die nuwe jaar eerder met hierdie bemoedigende gedagte begin.
Mag ons geleer het wat dit beteken om jou knië te buig in nederigheid en gehoorsaamheid aan Ons Vader
‘n Grootheidswaan en windmakerige manhaftigheid moet tog net uitbly. Interessant is die optog teen Sasol oor sy miskenning van wit werkers tov aandele. Kyk wat het gevolg. Groot teènspoed wat selfs die aandeelhouers laat knor. Mens hoop, nee bid, dat die regering sal besef dat leuenagtige onregverdigheid jou op die lange duur, duur te staan kom want daar is ‘n Skepper-Vader, die eintlike Doener en Sy regverdige oog sien alles.
Wees egter ook gewaarsku dat die sogenaamde ‘demokratiese’ regerings van die wereld, wereld elite, multinasionale maatskappy ens ook “The Great Reset” van 2020 gaan gebruik om meer autoriter en voorskrywend te raak en hul agenda af te dwing.
Meer so in Suid-Afrika waar die regering tipies op Afrika manier toenemend autokraties sal raak soos wat hul magsposisie in gedrang raak.