Nuuskommentaar: Ons ‘veg’ nou ons moedeloosheid weg

Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Objektief beskou haper heelwat in die land, soos ’n giggelende president wat die land in rommelstatus gedompel het, terwyl die sosio-ekonomiese werklikheid hard pluk en misdaadvlakke onaanvaarbaar hoog is. Tog skyn daar op die oog af ’n meer positiewe gees uit rubrieklesers se leserskommentare. Is dit omdat daar nou op nasionale vlak in aktiewe, vreedsame protes saamgestaan word, en die gevoel van magteloosheid plek maak vir ’n gevoel van “ek kan ook iets aan die saak doen”?

Geen verantwoordelike nuusontleder wil as ’n skrywer bekend staan wat die leserspubliek swartgallig maak nie. Soms is dit egter bitterlik moeilik om objektief te wees en nie in die proses swartgalligheid te saai nie. Boonop is lesers van aktuele rubrieke gewoonlik goed ingelig oor die nuus, wat nie altyd net maanskyn en rosegeur uitstraal nie. Hulle is ook nie geïsoleerd van die wrede werklikheid soos geliefdes wat sterf, huwelike wat verbrokkel, werkloosheid, ’n president vir wie hy hom bitterlik skaam en vele meer nie, en dit beïnvloed ook die bril waarmee ’n rubriek gelees word wat nou nie juis sonskyn uitstraal nie.

Dit ontstel die rubriek- of artikelskrywer as hy of sy sien hoe die inhoud van die rubriek lesers negatief ontstem het. (Buiten natuurlik die rubriekskrywers vir wie dit ’n “verkoopsfoefie” van hulle rubrieke is.) Sommiges sal in die kommentaarkolomme so reageer dat dit duidelik is hulle is nou tot erge moedeloosheid geslaan – weet nie meer herwaarts of derwaarts nie. Ander het die oog op verhuising na die buiteland, ander is so bly hul kinders is reeds “anderkant” en nog ander raak dieper in hul godsdiens opgeneem. Met verdiepte godsdiens is nie fout nie, behalwe as dit permanent soos ’n dwelmmiddel aangewend word om aan die werklikheid te ontsnap.

Dit, terwyl ons in die Bybel lees ons kan nie een el by ons lengte voeg deur ons te bekommer nie. Die Here sorg ook vir die mossie wat maar self weinig doen om versorg te wees.

Tog is daar in die jongste tyd uit die leserskommentare oorwegend ’n heel ander gees te bemerk. Iets het gebeur om plek te maak vir die gevoel van magteloosheid wat die moedeloosheid voed. Die Solidariteit Beweging se Plan B het vir baie iets in die hande geplaas om iets te kan doen om die skynbaar onafwendbare inploffing te keer en ’n meer rooskleurige toekoms vir ons kinders te verseker. Landwyd word byvoorbeeld groot waardering vir die werk van Akademia uitgespreek – ook omdat die sweet en ywer van die pioniers ander uit die put uit bemoedig. Die reëlings vir Angus Buchan se groot saamtrek in die Vrystaat waar hy en die organiseerders meer as ’n miljoen mense verwag, is na berig word goed op dreef. En nou is daar boonop ’n breër samespanning om op vreedsame metodes van Zuma as president ontslae te raak – ’n inisiatief waar elkeen op sy eie beskeie manier die moue kan oprol om iets te doen wat binne die raamwerk van die Grondwet toelaatbaar is. Min dinge laat mense so lekker saamstaan as ’n gemeenskaplike vyand.

Dit alles is aansteeklik om die silwer randjie al breër te rek.

Niks van die harde werklikheid het verander nie, maar die rommelstatus lyk nou na iets waarvan werk gemaak kan word … die hoofoorsaak is immers geïdentifiseer, en die entoesiasme van die samespanning bring nuwe energie.

Sosialisering deur die sosiale media soos Facebook is nie altyd positief nie, en “nuus” wat via sekere sosiale media op mense se slimfone aangesit kom – ontstellende nuus of selfs goeie nuus – is so dikwels fopnuus dat dit die leser moedeloos maak oor hoe om ’n objektiewe greep op die wêreldgebeure te kry. Pas het ’n “berig” weer in omloop gekom oor die oorblyfsels van die farao se weermag wat onder die Rooi See gevind is. Dié berig (dit kan baie maklik deur Google vasgestel word) is egter in 2014 die eerste keer geplaas, en was toe bedoel om ooglopende fopnuus te wees. Ander publikasies het dit sedertdien al verskeie kere as nuwe nuus, en boonop die waarheid, opgedis.

Maar die sosiale media is deel van die gegewe, en kan ook positief baie goed aangewend word. ’n Buurtwag se geselsgroep op WhatsApp help byvoorbeeld baie dat die publiek hoor hoe vrywilligers op enigiets van ’n man wat sy vrou aanrand, tot ’n inbraak met die huismense steeds in die huis, reageer. Die gemeenskap voel daar word saamgestaan en AfriForum is groot dank verskuldig vir sy enorme rol om sulke instellings op die been te bring.

’n Aanlyn petisie om van Zuma ontslae te raak, het aanvanklik beoog om 300 000 name te versamel. In ’n ommesientjie was daar al meer as 400 000 sodat die organiseerders dit nou hoopvol na ’n miljoen uitgebrei het.

Sonskynskrywers soos Blouwillem Theron, Ilse Bigalke en Petro Hansen is daarom onontbeerlik vir die gemoed van lesers. Dit bied balsem vir die siel.

Elke soort sonskynskrywer het sy plek onder die son. Die satiriese skrywer hou by die werklikheid, maar bied ’n dikwels skreeusnaakse blik daarop. Ander neig dalk na die naïewe om die donker wolk mis te kyk, en die silwer randjie raak te sien. Behoorlike ontginning van die silwer randjie is egter ook nodig, want dis immers deel van die werklikheid – en word te maklik deur die “doomsday”-ontleders en die spektrum tussenin misgekyk.

’n Kunsmatige opwelling van positiwiteit hou egter ook gevare in. Toe Suid-Afrika die eindtoernooi van die wêreldsokkerbeker aangebied het, was daar ’n massapoging van die media om die publiek opgewonde en meelewend te maak. Elke stukkie positiwiteit is groot opgeblaas, en negatiwiteit soos kieme behandel. Selfs objektiwiteit is stuurs aangegluur … die land se mense het verdien om ’n slag uit hul mistroostigheid gelig te word.

Goed en wel.

Maar daarna daal die werklikheid neer. Nuwe wit olifante wat gefinansier moet word, die land was steeds die verkragtinghoofsetel van die wêreld, en met ’n bitter hoë moordkoers. Plaasaanvalle is gewoon hervat, en die ekonomie moes ’n paar harde knoue oorleef. Soos die harde werklikheid neerslaan, so volg dikwels massa-post-euforiese trauma of -depressie. Om by Piet ’n biertjie te gaan knak om die gemoed te lug, help ook nie, want Piet se hond is die vorige dag vergiftig en hy soek self ’n bietjie sonskyn.

Kort voor lank is ’n groot deel van die land se mense se algemene gemoedstoestand ’n ruk lank slegter daaraan af as voor die euforiese gebeure.

Die greep deurgaans op die werklikheid is egter uiters noodsaaklik.

Die ontleder wat sy sout werd is, sal die situasie beskryf soos dit is, maar nie die silwer randjie vergeet nie. Hy kan nie almal tevrede stel nie, want vir sommiges is die regering, of die Grondwet, juis die silwer randjie of selfs meer. ’n Ontleder wat weier om die leemtes in die Grondwet en die gevolge te noem en te verreken, rig op die duur baie skade aan as sake begin ontspoor.

Die ontleder hoef geen alarmis te wees nie. Hy moet sy “voorspooksels” egter deeglik motiveer, sonder om oorboord te gaan daarmee en sy lesers onnodig tot droefgeestigheid te dryf. Verkieslik moet hy oplossings aanbied, en gelukkig het Plan B net betyds vir ’n wye spektrum ontleders as uitkoms gekom – al word dit soms baie voorwaardelik en soms selfs oënskynlik teësinnig as iets positiefs aangebied.

En ja, daar sal ook die ander ontleders wees wat in Plan B vreeslike “gevare” soos ’n staatskaping deur die Solidariteit Beweging van die Afrikaner sien. Die Seunse Weenkoor het nog nie stil geraak, of hulle tot hierdie skrywer se persepsie van die werklikheid gewend nie. Hulle veg nog teen spoke van die ou Mynwerkersunie.

Ongelukkig loop ’n massareaksie en die korrekte reaksie van Christene op die werklikheid nie altyd saam nie.

Die inleiding tot Spreuke 1 van Salomo bied egter heelwat om te herkou. Vers 7 bied waarskynlik die sleutel: “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” Vers 32 sluit hierby aan: “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hul selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.” (Die werkwoord wat in die Hebreeus gebruik word, betakh, dui op veiligheid/sekuriteit, en is die antitese van die verskriklike vrees wat die gek en eenvoudige in die gesig staar.)

Wees dus ingelig, maar die Christen sal terselfdertyd as beelddraer van God ander eienskappe openbaar as net goed ingelig wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Julias gaan soek dit ·

Gaan soek dit, dit is nie verbatim aangehaal nie, maar dit is presies wat in die Bybel staan, jy ken mos jou Bybel, behoort nie moeilik vir jou te wees nie.

John ·

En so ploeter ons in die post-heroiese modderpoel rond: Vriende ons moet dit en broers oppas vir dat. Susters bak soet koeksusters en dogters maak toebroodjies vir die optog of byeenkoms of biduur deur ‘n bewese siener… En moet ons of kan ons of kon ons… wat van nog ‘n volkstaat en die seuns dink ‘crackers’ onder die troonkamer sal help… en ander koop nog rooier barette… en die ou ooms rook ‘n pypie stil-stil op die stoep want hulle het die storie al gesien van bangjan en sy ‘plastic’ rollie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.