Nuuskommentaar: Ons wil nie (Afrikaans) hoor nie!

Grafika; mnn.com

Grafika; mnn.com

’n Paar jaar gelede sit ’n groepie swart studente heel voor in die Afrikaanse eerstejaars-oriënteringsklas by Kovsies. ’n Entjie in die lesing steek die een swart student sy hand op, en beduie in Engels dat hy nie kan hoor nie. Die dosent is dronkgeslaan en vra hoe dit moontlik is – die studente heel agter in die klas – ’n baie groot klas – kan dan hoor. Die student verduidelik hy bedoel hy kan nie verstaan nie. Hy en sy maters word na die Engelse klas verwys.

Die student se kennis van Engels het hom wel in die steek gelaat. Hy het die Suid-Sotho regstreeks vertaal, waar die woord “hoor” verskillende betekenisse het.

Dit is natuurlik moontlik dat dit aspris was, en die studente wou kyk of die dosent nie ter wille van hulle na Engels sou oorslaan nie.

Is ons in Suid-Afrika dalk besig om kliphard met mekaar te praat, en selfs te skree, sonder dat ons mekaar hoor? Sondag se Rapport bevat benewens die hoofartikel, Rasse moet nou begin praat, verskeie insiggewende rubrieke soos Hannelie Retief se gesprek met Flip Buys, Potch word nou geboelie, en veral die debat tussen Tim du Plessis en Mondli Makhanya. Daar is ook ander rubrieke en berigte wat hierby aansluit, elk gelaai met bruikbare maar soms plofbare aanhalings.

Die algemene strekking is dat daar min van die reënboog oor is, en dat daar ’n verharding tussen rasse plaasvind. Mondli skryf selfs die volgende: “As jy deesdae na swart gesprekke luister, is die woede onmiskenbaar … Maar daar is ’n ander, gevaarliker woede waarvan niemand die gevolge kan voorspel nie. Dit is ’n woede teen wit Suid-Afrika. Nog nooit sedert die geboorte van ons demokrasie was die woede so aanvoelbaar nie. Dit is ’n angswekkende gedagte dat hoe meer die idee van ’n nierassige, nieseksistiese demokratiese Suid-Afrika verskans raak, hoe groter word die kloof tussen swart en wit.”

Presies dieselfde debat is gister in die City Press gevoer. Dit het ook na RSG se program, Kommentaar, oorgespoel waar die paneellede Theo Venter en Max du Preez was. Max, deesdae ’n vaste rubriekskrywer vir Media 24, se standpunte en houdings is bekend. Theo word in die media genoem as behorende tot die “kamp” van prof. Dan Kgwadi, rektor van die Noordwes-Universiteit, wie se sentraliseringsplanne vir hierdie universiteit welbekend is. Die raad van die universiteit het egter oor die naweek opdrag gegee dat die universiteit met die volgende raadsvergadering verskillende toekomstige modelle vir oorweging moet voorhou.

’n Interessante aspek wat in Kommentaar opgeduik het, is die definisie wat Theo oor die term “rassisme” voorgehou het. Dit impliseer dat daar altyd ’n konsep teenwoordig sal wees dat een ras meerderwaardig is bo ’n ander ras.

Dit sou inhou dat vele woorde en aksies wat nou in Suid-Afrika as manifestasies van rassisme beskou word, soos baie van die haatspraak, inderdaad nie rassisties sou wees nie. Selfs die liedjie, “Kill the Boer, Kill the farmer”, impliseer nie noodwendig ’n vorm van rasongelykheid nie.

’n Vinnige internet-soektog het daarop gedui dat Theo dit inderdaad grootliks reg het. Verskeie instellings verskaf egter ook meerdere definisies vir rassisme, en een van Dictionary.com is meer toepaslik vir die Suid-Afrikaanse situasie: “Haat of onverdraagsaamheid teenoor ’n ander ras of rasse.” Kort en kragtig. En dit is hierdie aspek wat nou groot kommer wek.

Maroela Media het ook nie van gister af hieroor geskryf en die komende probleem uitgewys nie. Onder die mees onlangse tel PUK, slagveld van grondwet versus transformasie, Moet jy g*tkruip om te versoen? en PUK, Steve, transformasie en Menseregtedag. Die gemene deler is die noodsaak van versoening.

Uit die lesersreaksies is dit ook duidelik dat daar ’n groepie is wat ongeag die gevolge vir hulself en blootgesteldes soos boere op plase, net nie (meer) in versoening belangstel nie. Hulle is g*tvol.

Volgens Mondli gebeur iets soortgelyks aan swart kant, en volgens sy skrywe, op groter skaal as aan wit kant.

Die redes wat in die debatte opduik, is uiteenlopend. Aan die een kant gee regeringswoordvoerders soos dr. Blade Nzimande oorgenoeg stof dat dit lyk of die blote opneem van grondwetlike regte deur die Afrikaner (of wit mense) as pogings beskou word om na apartheid terug te keer. Daar word gepraat, en selfs geskree, maar nie gehoor nie.

Mondli, benewens die verwysings na frustrasies omdat wit mense nie nog verder wil boete doen oor apartheid nie, wys op stereotiperings wat ervaar word, soos die opvatting dat die aanslag teen korrupsie en onbevoegdheid eintlik teen swart gemik word eerder as teen die korruptes en onbevoegdes.

Kortom, niks nuuts nie. Van lank voor 1994 af het kundiges lesings aangebied en op hierdie gevare gewys en veral staatsamptenare gesensitiseer. Hierdie soort aksies, en byvoorbeeld die verhoudingsaksie, is mettertyd as oorbodig beskou omdat al meer leiers gevoel het die hele probleem is net apartheid se skuld, en dat ’n nuwe grondwet ’n kitsoplossing vir alles sou bring. In hierdie kring is die ore bottoe gedruk vir vermanings soos dié van die dr. Tjaart van der Walt, president van die RGN, wat gesê het dat selfs die beste grondwet ter wêreld doodeenvoudig nie sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie. Sy woorde blyk bitter profeties te wees.

In die aanloop tot die 1994-bedeling was die verhoudingsaksie opgeskort (ook ten spyte van vermanings vanuit hierdie geledere dat dit nie so eenvoudig is nie), die Vredesekretariaat is in die lewe geroep, en reeds aan die einde van 1994 ontbind, ook ten spyte van vermanings dat dit voortydig was.

Dit is nou baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om vas te stel of die Vredesakkoord nog geld.

Daar kan inderdaad heeldag vingers gewys word. Ook oudpres. Nelson Mandela sou veel van die blaam kon dra omdat hy nie toegesien het dat sy eie versoeningsideale kontinuïteit het nie deur die aanstelling van ministers wat geen erg daarin gehad het nie, of dit selfs openlik teengestaan het.

Dat die ontsporing reeds lank besef word, het geblyk uit die regering se aanbieding (en opmorsing) van die Kliptownberaad.

Met die EFF se totstandkoming is openlik gepredik dat dié party minder op versoening en meer op revolusie ingestel sal wees. Trouens, die steun vir die EFF is ’n goeie barometer vir die meet van die ontsporing van versoeningsideale.

Die afgelope week het die fokuspunt effe weg verskuif van die PUK na Ikeys, met die aandrang van veral swart studente dat Rhodes se standbeeld op die kampus verwyder moet word. Nie ver daarvandaan nie broei sake oor planne van die SAKP om Kaapstad se lughawe na Chris Hani te vernoem. Peter Marais en vennote staan dit bitterlik teen en voel dit is tyd dat die Khoi-San sy regmatige plek in pleknaambenoemings kry.

Ideaal gesproke is dit duidelik dat méér as net gesprekvoering nou nodig is om by ’n punt van versoening te kom. Die wiel sal herontwerp moet word.

Die besef sal ook moet deurdring dat Kodesa nie die wonderkuur gebring het nie – verhoudinge speel immers op veel meer terreine as net die staatkundige af. Dit sal egter baie sterk leierskap verg, en nou ja … as die blaam by Jan van Riebeeck gesoek word, is dit ’n lang en moeisame pad.

Maar dit kan nie in die pad staan van die noodsaak om die nodige te doen nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

boer ·

Hoe moet versoening nog in ons woordeskat wees, met ons blankes wat op n daaglikse basis deur swartes vermoor word???????

Die regering trap en trap en trap ons ons blanke volk in die grond in.Ons word niks meer gegin in SA nie, omdat ons blank is. Ek dink nie meer versoening is n opsie nie.

Flip Sadler ·

Dit het nou ernstig tyd geword dat ons volk moet vergeet van regses, ver regses libs, oud nattes ens. en saam staan en uit die groepe hopenlik sterk leiers tevoorskyn sal kom.Eendrag maak mag !!

catryn ·

Eksterne Selfbeskikking is ons enigste opsie, dan bly ons uit hulle hare, en hulle hoef nie swart bemagtiging uit te dink om ons te straf vir hulle eie apartheid nie. Afrikaners, Blankes en Boere is geregtig op selfbeskikking, net soos die KhoiSan, Zulu en elke ander volk.

Hendrik ·

Die nuwe demokrasie is gesmee dat die meerderheid wou deel wees van ander samelewings. M.a.w. hulle wou nie hulle self regeer, in hulle eie land nie, maar saam met ander mense die land reggeer. Die land word nou regeer deur die meerderheid.
Die minderheid het nou geen inspraak op alle regeringsvlakke. Omdat ek nie deel wil wees van die demokrasie is dit rassisme. Dit is die mening van Mondli Makhanya van die Citi Press.
Selfbeskikking is die manier om verder voort te gaan en net burgeregte groepe soos die VVK kan dit afdwing. Stemdag beteken niks vir die minderheid nie. Kyk maar self wat kry die minderheidsgroepe reg in die parlement . Niks!

catryn ·

Stem met jou saam oor Eksterne selfbeskikking vir al ons groepe, en gee ‘n stuk grond vir die wat nie wil nie, dat hulle maar die reenboogdans wil uitoefen saam die uit Afrika en die ooste. Dit is hoogtyd dat Afrikaners, Boere en Blankes saamstaan en hul selfbeskikkng opeis, die ander etniese groepe bly reeds al lankal in hul eie aparte gebiede wat net hulle mag woon. Al word hulle regte ook nie ten volle erken nie kan dit ook mos gedoen word. Zulu, KhoiSan en VEnda het reeds gese hulle soek volle onafhankikheid.

tom eksdom ·

Snaaks dit het die glo slimmes 20 jaar geneem om al die “onderliggende” realiteite te begryp. “Boeta is die bliks*m in” was die eerlikste erkening van die stand van sake tot nou deur die druppende liberaliste. En wat sal al die slimmes nou verduidelik hoe ons vorentoe gaan? Dit sal nou al die slimmes insluit. Die van oorsee wat ons in die posisie geplaas het inkluis. Dit sal erg interesant wees om te hoor wat al die idiote te sê het.
Nie dat n gepraat die toestand gaan bereder nie. Dit is lankal verby daardie hoogte en al wat voorlê is n baie nou en donker afdraande.

catryn ·

Eksterne Selfbeskikking is ons oplossing, en nie net vir ons nie, maar vir al die ander 11 etniese groepe ook.

HEVW ·

Herman jy praat mos nou van n baie, baie ou probleem ver terug voor die tyd van die Groottrek. Toe het die Engelse regering veral deur die monde van landdrosse sonder einde daarop aangedring dat daar nie vergeldingstappe deur die boere moet plaasvind nie, maar dat daar met roofbendes en plunderaars in gesprek getree moet word. Die boere het male sonder tal verweer dat hulle nie die soort taal verstaan nie. En nou se jy in 2015 hulle verstaan steeds nie. Kon ons onderhandelaars nie maar uit die verlede die waarheid geleer het nie, en die voor die handliggende ingesien het dat n gewaande reenboognasie n onwerklikheid is nie. Met watter ander wyse as gesprekvoering kan daar nou beding word? Wat bly oor?

catryn ·

Die Britte het ook die pasboek (dompas) in 1806 ingestel en wet gemaak, die Caledon reels, was deur die Britte afgekondig en die Boere daardie tyd moes dit eerbiedig en elkeen wat op die plaas gewerk het, moes hierdie dompas gedra het. Dit word vandag in baie maatskappye ook maar toegepas, versekering en identifikasie. Mense is so fyngevoelig daaroor, en dis nie ‘n skande as ek vir ‘n maatskappy of myn werk dat ek my dompas moet wys dat ek wel daar werk nie…

HEVW ·

Herman jy praat mos nou van n baie, baie ou probleem ver terug voor die tyd van die Groottrek. Toe het die Engelse regering veral deur die monde van landdrosse sonder einde daarop aangedring dat daar nie vergeldingstappe deur die boere moet plaasvind nie, maar dat daar met roofbendes en plunderaars in gesprek getree moet word. Die boere het male sonder tal verweer dat hulle nie die soort taal verstaan nie. En nou se jy in 2015 hulle verstaan steeds nie. Kon ons onderhandelaars nie maar uit die verlede die waarheid geleer het nie, en die voor die handliggende ingesien het dat n gewaande reenboognasie n onwerklikheid is nie. Met watter ander wyse as gesprekvoering kan daar nou beding word? Wat bly oor?

catryn ·

Gaan lees so ver terug as 1845 het die Engelse probeer vrede bewaar tussen die etniese groepe wat in oorlog gewikkeld was en die Shepston beleid saam met die “chiefs” van daardie tyd geimplementeer, en dit was in ooreenstemming met die swart leiers. Swartes het hul gebiede self reserwes of lokasies genoem, en tot en met 1961 was dit so bekend, die 1910 regering het dieselfde beleid netso oorgeneem. In 1961 met republiekwording het dit Tuislande geword, Verwoerd het dit meer kleur gegee en gese hy sal graag wil toesien dat elke volk vir hulself kan sorg en daarom was daar grensnywerhede ook gebou (werkverskaffing ). In 1994 het dieselfde konsep, Trustlande geword, deur Trustwette bestuur. Niks het vanaf 1845 en 1994 gewysig nie, elke swart stam het hul eie reserwe gebied gekry, maar met ‘n verskil in 1994: hulle het geen eiendomsreg ontvang met Trustwette nie. Die inwoners van die spesifieke gebiede het slegs verblyfreg verkry (Communal rights legislation), waar dit op die wetboek geplaas is – in 1845 was dit nie, maar toe kon hulle nie eiendom besit. Gaan lees maar, die sogenaamde apartheidsregering het oordrag van hierdie woongebiede vir elke groep bewerkstellig sodat hulle hul eie onafhanklikheid kon verkry het, dis moes net wereldwyd erkenning geniet het (TBVC-lande). Swartes het almal vir hul eie leiers (die Nasionale Raad van Tradisionele leiers), in 1994 gestem, en sedertdien is die konings/leiers aangestel as TRustee om wag te hou, saam met sy hele hierargie en hulle word deur die staat vergoed). Hulle het interne selfbeskikking, terwyl ander volke, Blankes, Afrikaners, Indiers geen het nie. Hulle het hul eie tradisionele skole in die gebiede, beoefen hul eie kultuur en selfs taal onderrig, waar die Afrikaner, blanke en boer ontneem word van sy menseregte om saam die “reenboognasie uit Afrika/Ooste” saam te smelt. Dus vernietig hulle ons onderskeie kulture, want ons het 2/4 groepe blankes in SA wat erken word. Afrikaners, net soos KhoiSan, Zulu, Xhosa is elkeen geregtig op hul EKSTERNE selfbeskikking en volle onafhanklikheid, nie ‘n federale raad waar ons weer eens deur ‘n multi-kultuur meerderheid sal beheer word nie. Selfbeskikking is al uitweg, want die swart man in SA het reeds interne selfbeskikking. Ons daarenteen weet hoe dit is om te regeer en ons kan, ons was lank aan bewind.

Herman Toerien ·

Ek het omsigtigheid aan die dag gelê – nie net in hierdie nuuskommentaar nie – dat versoening nie noodwendig op ‘n enkele staatkundige model afstuur nie. Maw, die reënjboognasie is een van verskeie moontlike gevolge. Kom ons neem nog ‘n voorbeeld. Uit verskeie kommentare, ook op Facebook, het verskkeie aangedui dat hulle nie (meer) in versoening belangstel nie, en oa eksterne selfbeskikking as opsie stel. Maar eintlik is hierdie groep die afhanklikste van almal van versoening, want die grondwet (artikel 235 wat oor selfbeskikking handel) maak nie voorsiening vir eksterne selfbeskikking / sesessie nie. Om dit te wil vermag, sal die grondwet dus gewysig moet word, en ek kan nie sien hoe die ANC daartoe oorreed sal word sonder bitter goeie betrekkinge onderling, en vaste vertroue nie. In meer as een nuuskommentaar het ek dr. Tjaart vd Walt van die destydse RGN aangehaal waar hy gesê geen grondwet, selfs nie die beste nie, sal kan werk as die mense mekaar nie verstaan en vetrou nie. Belgié is steeds in ‘n evolusionêre proses van staatkundige aanpassings om y hul eiesoortige omstanghede te pas. Toe die N-VA die opsie van konfederalisme (wat baie naby aan eksterne selfbeskikking lê) het selfs die Vlaminge geskrik en baie het hulle daarteen uitgelaat. Maar die Vlaminge kan redelik aangaan met veranderings, want hulle is ‘n meerderheid – tog steur hulle hul aan hoe die ander daaroor voel

Henry ·

Dankie dat jy die onuitvoerbaarheid van eksterne selfbeskikking verduidelik Herman.
Dit is inderdaad ‘n pypdroom wat om verskeie redes nie verwesenlik kan word nie. Selfbeskikking en om die Afrikaner se toekoms in hierdie droewe land te verseker, verg innoverende denke en toegewyde, slim uitvoering. Soliforum het reeds op verskeie terreine die weg aangedui. Natuurlik is ons steeds ligjare verwyder van die ideale toestand, maar daar is reeds positiewe aksies en planne – Akademia…
Geen rede waarom Afrikaners nie ons voortbestaan, taal, kultuur en wat ookal binne ‘n vyandige omgewing kan beskerm nie.
Soos die Jode deur die eeue heen, ten spyte van die grootste moontlike bedreigings, reeds gedoen het.

HEVW ·

Maroela , ek kan geensins insien waarom my kommentaar nie geplaas kan word nie. ASB EK WAG

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.