Nuuskommentaar: Ontknoping van verkiesingsuitslae

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

In Suid-Afrika het die algemene verkiesing pas plaasgevind, en beweeg die proses na ’n fase waar ontleders en “ontleders” probeer uitpluis hoe die proses gaan verloop nadat die stemme getel en die uitslae bekend gemaak is. Sommige waagmoediges se reputasies word versterk deur die kristalbal “reg” te lees, terwyl ander behoorlik njertse van hul name maak.

In Europa, waar die Europese Unie se verkiesing vir die Europese parlement pas plaasgevind het, word nog flink stemme getel, maar die ontleders is al flink besig met hul vertolking – in Nederland is sosialisme versterk, in Wallonië (in België) word sosialisme verdiep, partye wat die EU teenstaan word sterker, en so meer, en dikwels reëlreg teenstrydig. In Australië het die posisie van konserwatiewes versterk.

En in die VSA sorg pres. Donald Trump dat ontleders van buitelandse publikasies, wat die norme van hul eie lande as vertrekpunt gebruik, deurlopend die “reset”-knoppies moet druk om hul ontledings van vooraf te moet doen.

Is hierdie ontledings iets werd, of blote tydmors?

Vir diegene wat ’n groot belangstelling in die politiek het, of wie se beroepe geskoei is op die politieke wetenskappe, is dit hul vakgebiede of belangstellingsvelde in aksie. Vir ander vakgebiede, soos die ekonomie, is dit bitter na-aan noodsaaklik om te probeer vasstel hoe die markte op die uitslae gaan reageer. Die ekonome neem ander faktore ook in ag, en is daarom dikwels veel akkurater as die politieke wetenskaplikes. Die deelnemende partye stel belang, want hulle moet so gou as moontlik probeer vasstel waar hulle raakgevat het om die regte goed betyds in gereedheid te kry, of waar hulle die pot misgesit het – en die slegte nuus so gou as moontlik in die doofpot te probeer kry.

Reg of verkeerd, die kieser weet dikwels eers werklik wat hy na ’n verkiesing gaan kry nadat die regeringshoof sy vernaamste aanstellings gemaak het, en nie, soos ’n mens sou verwag, wanneer die stemme klaar getel is nie. Dit geld veral waar daar nie ’n regeringsverandering plaasgevind het nie. Die nuwe regering, wanneer daar wel ’n regeringsverandering is, sit dikwels in die posisie dat werklikhede hom dwing om amper ’n kloon te wees van die vorige regering, eerder as om ruim uiting te gee aan verkiesingsbeloftes wat duidelik nie uitvoerbaar is nie.

Lande kan dikwels by mekaar leer – oor wat om te doen, en juis wat om nie te doen nie.

In verskeie opsigte is Suid-Afrika nou net ’n kortkop agter die VSA, wat nou al ’n stewige paar maande aan die verwerking en aanpassing van die uitslae van die midtermyn-verkiesing spook. ’n Werklikheid waarmee Trump te make het, is dat die Demokrate die beheer oor die huis van verteenwoordigers oorgeneem het, en hy nou ’n groter taak het om oral wal te gooi teen ondersoeke wat na veral sy geldsake in die laaste dekade of so ingestel word, terwyl die Rusland-ondersoeke ook nog nie in die doofpot gedruk kon word nie.

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: Leon Lestrade/ANA

In Suid-Afrika sit oudpres. Jacob Zuma op die oomblik in die hof en voer ’n verbete stryd om sy bas uit die tronk te hou. Sy faksie het met die afgelope verkiesing grootliks beheer oor sy staatskaping verloor, en is hy veel meer kwesbaar.

En hiermee word nié geïmpliseer dat Zuma en Trump enigsins te vergelyk is nie. Maar al is die skynbare ooreenkomste in die situasies bloot oppervlakkig en kosmeties, bly dit tog iets wat in die oog gehou moet word.

In die jongste koppestamp tussen Trump en die Demokrate weier Trump om met die Demokrate gesprek te voer oor die besteding van $2 biljoen (Amerikaanse triljoen) vir die herstel, onderhoud en bou van infrastruktuur soos paaie, brûe en vliegvelde, tensy alle ondersoeke na sy geldsake in die verlede gestaak word.

Dit volg nadat twee howe twee dae na mekaar gelas het dat die aangevraagde dokumentasie wel aan die kongres oorhandig moet word om ondersoek te word. Trump sal die beslissings in alle waarskynlikheid op appèl neem.

Trump het hiermee, volgens die Europese koerante, die VSA as gyselaar geneem.

In die VSA val die klem ietwat anders.

“His way or no highway,” skryf die Los Angeles Times in sy gereelde nuusbrief. Die samevatting lui soos volg: “President Trump says he has given Democratic leaders an ultimatum: Stop investigating his finances, businesses and administration, and he can start talking again about a deal to rebuild the nation’s highways, bridges, airports and other infrastructure. He made his point by storming out of a meeting with House Speaker Nancy Pelosi and Senate Minority Leader Charles E. Schumer after just a few minutes. The source of his anger appeared to be comments from Pelosi that Trump is engaging in a “cover-up.” But as the president continues to stonewall various investigations, he was dealt another setback in court: For the second time in two days, a federal judge rejected Trump’s refusal to honor congressional subpoenas and ordered him to turn over financial records to Democratic-led committees. Meanwhile, those roads and bridges aren’t fixing themselves.”

Maar, skryf De Standaard veelbetekenend: Trump zet valstrik uit.

Nancy Pelosi. (6 November 2018). Foto: AP Photo/Jacquelyn Martin

Trump lijkt de Democratische leiders in het Congres te dwingen tot een afzettingsprocedure tegen hem. Daarbij heeft de president zelf het meeste te winnen.” (Trump stel ’n lokval. Dit lyk of hy die Demokrate wil dwing om met ’n afsettingsprosedure teen hom te begin [deur hom in ’n staat van beskuldiging te probeer stel wat byna verseker deur die Republikeinse meerderheid in die senaat gestuit sal word]. Trump sal hiervan na verwagting die beste daarvan afkom.)

Kortom, Trump blyk heel opgewasse te wees vir die stryd wat met hom aangeknoop word.

Dit beteken nie dat Zuma nou soos ’n weerlose lammetjie ter slagting geneem kan word nie. Dit blyk nog ietwat van ’n raaisel hoe sterk die wortels van sy Zuptaryk nog strek, maar dis duidelik dat baie van sy kornuite nog diep en invloedryk op amper elke front ingegrawe is.

Ja, die een oomblik is Zuma die jammergat-slagoffer van sameswerings teen hom, maar die volgende oomblik sal hy heel onvanpas voor sy ondersteuners dans en sy eie strydliedjie, Bring my masjiengeweer, sing. Hy het onlangs nog gespog oor sy rol in ’n bomontploffing (hy het die opdrag gegee) waartydens vyf onskuldige mense, waaronder ’n tweejarige kind, omgekom het. Die dader is gehang, maar so ver bekend het Zuma nie aangedui dat hy amnestie vir dié voorval gevra en gekry het nie.

Om te voorkom dat die bespreking te veel uitrafel word die vraag bloot gestel: “Is Ramaphosa die oorwinnaar in sy stryd met Zuma, of gaan hy nog die onderspit delf?”

Lees gerus ook:

https://www.trouw.nl/democratie/hoog-spel-tussen-trump-en-pelosi-met-twee-biljoen-en-impeachment-als-inzet~a8d8fb28/, https://www.latimes.com/politics/la-na-pol-trump-infrastructure-pelosi-schumer-meeting-20190522-story.html#nws=mcnewsletter
http://www.standaard.be/cnt/dmf20190523_04420059

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries du Toit ·

Herman ek kan regtig nie verstaan hoe is dit moontlik dat Zuma enigsins met Trump vergelyk of erger nog selfs in dieselfde sin genoem word nie. Zuma wat vir 9 jaar SA se hele ekonomie vernietig het, teenoor Trump wat die VSA se ekonomie laat floreer op n daaglikse basis. Ek aanvaar dat daar wel baie morele dinge is wat teen Trump gehou kan word maar selfs as jy dit vermenigvuldig met 10 is Trump nog n Staatsman van gehalte teenoor Zuma wat al in die beskuldigde banke gestaan het vir al wat n kriminele oortreding in SA . Vanaf verkragting tot korrupsie, leuenaar, geldwassery en wat nog.

Adam ·

Trump doen vir seker op verskeie gebiede goed vir die VSA, maar dit maak geen verskil aan die feit dat hy ook ‘n verleentheid vir hulle is nie. Hy weet hoe om homself te verryk en so ook Zuma. Dit is bloot die graad van onwettigheid wat verskil.

Rissiepit ·

Die EU verkiesing is nog nie totaal verby nie. Duitsland stem hierdie Sondag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.