Nuuskommentaar: Ontstaatskaping – Met stadige gif of vinnige genadedood?

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Byna daagliks hoor en lees ons van nuwe onthullings in die staatskapingsdrama. Dit lyk egter of die geleidelike vrystelling van verdoemende verslag op verdoemende verslag vir pres. Jacob Zuma genoeg tyd bied om weerstadigheid te ontwikkel teen die gif wat toegedien word. Maar iewers moet die kantelpunt onder die volgehoue druk van die burgerlike samelewing kom…

Die byna daaglikse onthullings in die #GuptaLeaks laat die vraag ontstaan oor presies wanneer die onthullings oor staatskaping so oorweldigend sal word dat iets gaan gebeur?

“Na JZ moet SA ‘ontkaap’ word” lui die opskrif van ’n rubriek vandag deur Gert Coetzee, die redakteur van Volksblad. Inderdaad bestaan die persepsie, waarskynlik deeglik in feite veranker, dat die staatskaping slegs doeltreffend in die bek geruk kan word as Zuma eers uit sy amp losgewoel is – as beide president van die ANC en as staatspresident.

Maar waar lê die kantelpunt, daar waar Zuma as politieke neet nie meer kan klou nie en afval? Dikvelligheid maak hom gifweerstandig waar feitlik alle ander politieke goggas dit nie meer sou kon hou nie, en van die plant wat hy aan’t leegsuig is sou afval. Of ontwikkel sy gestel doodgewoon vinniger gifweerstandigheid as wat dit nou toegedien word?

Zuma is nie die eerste regeringshoof ter wêreld wat met dikvelligheid erg gifweerstandig is nie. Trouens, dit is soms noodsaaklik vir ’n demokratiese land om ’n “dikvellige” leier te hê, omdat bitter medisyne soms toegedien moet word om lande se kwale te genees, gewoonlik op die ekonomiese terrein. Die kuns is om nie net ongewilde besluite te oorleef nie, maar sterker anderkant uit te kom. Dié werklikheid is nie veronderstel om onbevoegde, skelm en outokratiese leiers teen die krag van demokrasie te beskerm nie.

En hoe ongewild kan ’n president word voor hy/sy liefs die handdoek moet ingooi?

Pres. Donald Trump van die VSA het sopas die eerste ses maande van sy presidentskap voltooi. Dit was soms stormagtig, en nuwe peilings toon steeds dat sy gewildheid aanhou daal. Volgens die jongste Rasmussen-peiling, is 58% van die Amerikaanse kiesers ontevrede met hoe Trump sy werk doen, en voel 48% sterk dat hy droogmaak. Dit plaas Trump op ’n gewildheidsindeks van -23%, die laagste nog.  (Rasmussen word gereeld daarvan beskuldig dat dit konserwatiewes bevoordeel).

Trump kon op 3 Maart laas ’n positiewe persentasie behaal, maar het reeds op 7 Februarie op ’n  negatiewe terrein inbeweeg. Op 26 Januarie was sy syfer nog +13 %.

Soos Trump, het Zuma (en die Guptas) deurlopend met ’n negatiewe media-aanslag te make. In die geval van Trump is dit so erg dat analiste selfs bespiegel dat Trump se adjunk, Mike Pence, ook nie lank sal hou as opvolger vir die president sou laasgenoemde voortydig die aftog blaas nie, omdat die media hul mes byna net so erg vir hom (Pence) in het. Die jongste beskuldiging teen Trump is dat hy, anders as sy voorgangers, nie op die nalatenskap van sy voorganger(s) wil bou nie, maar die nalatenskap van sy voorganger probeer vernietig. Die gespook om ObamaCare met iets anders te vervang word hiervoor as voorbeeld gebruik.

Maar wat sê ’n mens van Zuma se presidentskap? Tot so twee jaar gelede was sy presidentskap gekenmerk deur Suid-Afrika se terugtuimeling op bykans elke noemenswaardige indeks, waaronder die korrupsiepersepsie-indeks, asook die persvryheidsindeks. Die geleidelike verbetering die afgelope paar jaar op die korrupsie- en mediavryheidsindekse klink pikant om die minste te sê, gegewe onder meer die #GuptaLeaks, AfriForum se instelling van ’n privaat-vervolgingseenheid en enorme werk deur onder meer Outa, Freedom under Law, die Helen Suzman-stigting en andere om die aanpak van korrupsie uit die nes van staatsbeskerming te sleep.

Die Solidariteit Beweging se omvattende strategie om onder meer wanpraktyke van die regering onder die aandag van internasionale forums te bring, asook hofsake te dryf, plaas ook bykomende druk op ’n regering wat vanuit haas elke oord teenspoed kry.

Sou dit vergesog wees om te sê ’n mens ruik ’n onwelriekende Pottinger, want ’n mens hoor die Bell iewers lui? Dit lyk nietemin na intensiewe klandestiene lobbying om sulke omkere in indekse teweeg te bring terwyl die orkaan in die teenoorgestelde rigting waai. Dit is ook interessant dat terwyl Verslaggewers Sonder Grense Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks tot bedenklike hoogtes voer, ’n ander, Freedom House, Suid-Afrika se vlak van persvryheid steeds as gebrekkig beskou.

Netwerk 24 skryf vanoggend in sy hoofartikel die volgende: “Dis in die hande van die burgerlike samelewing om staatskaping te keer, want die ANC kan en wil oënskynlik nie die Guptas en ander betrokkenes stop nie.”

Inderdaad, die Guptas is nie die enigstes wat reeds genoem is om op onregmatige wyse voordele uit die staat te kry nie, hoewel die omvang van die Guptas se aandeel hierin daagliks meer en meer verstom. Ander name wat reeds opgeduik het, sluit byvoorbeeld in die Shaiks, en die Naidu’s.

Met die ritse kriminele aanklagte wat verskillende persone en instansies lê, en klaarblyklik nog ’n groot aantal onthullings wat onderweg is, hoekom vat Zuma en die Guptas nie nou reeds die pad (Dubai toe) nie? Die antwoord is dalk daarin geleë dat die Guptas volgens ’n onlangse onthulling ook van hul verdagte transaksies in dollars gedoen het, en ’n Amerikaanse bank ingespan het. Die VSA het streng wetgewing hierteen, en sou die VSA op uitlewering begin aandring, sal min lande aptyt hê om veilige ontvlugting aan die staatskapers te verleen. Dit laat weinig meer opsies as om in Suid-Afrika te bly en die opvolgstryd so te plooi dat sake wat met die staatskaping (en Zuma in die algemeen) verband hou, net nooit voor die howe beland nie.

Intussen begin die stryd teen staatskaping ’n indrukwekkende omvang aanneem, wat sterk herinner aan ’n totale aanslag (geweld darem uitgesluit). Miskien is die oomblik van waarheid nader as wat ’n mens dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

As dit Trump se sonde is om na konserwatiewes na al die jare om te sien en nie op die nalatenskap van sy voorganger te bou nie is ek n ernstige Trump ondersteuner.

Deidré ·

Dit gaan my verstand te bowe dat julle Zuma met Trump vergelyk! Zuma is korrup met 700+ klagtes van bedrog en ‘n Standerd 3 kwalifikasie agter sy naam! Trump is ‘n Entrepeneur en ‘n Eerste Wêreldse~Eiendomsmagnaat! Asseblief tog….vergelyk Zuma met iets anders! Iemand van Afrika….soos Bob Hope van Zim!

Eish ·

Dat die situasie huidiglik in die hande van die burgerlike samelewing is, is nader aan die waarheid as enigiets anders. Met die inhirente wil wat ontbreek van die regerende party om self die pap wiele te vervang, opposisiepartye met net te min invloed, is die ontkaping vanuit die leierskorps vanuit enige sektor, net nie haalbaar nie. Die insette is wel broodnodig ten einde die feite te ontbloot. Maar, helaas, daar is nou soveel vlieë wat vassit aan die heuningpot dat die hele burokrasie verlam is. Ernstige kriminele klagtes word gelê, maar dit blyk eenvoudig te verdwyn. 17 Miljoen kiesers is te bang hul toelaes bly in die slag, sou die status quo verander word. Die meer as miljoen staatsamptenare geniet hul sekuriteit, paar miljoen buitelanders kon op groot skaal SA identiteitsdokumente bekom, nuwe huiseienaars vrees uitsetting aangesien kaart en transport nie bestaan tov HOP behuising nie, slegs jou naam iewers op n lys as regmatige okkupeerder. So, die kiesers wat aan die ANC sy groot meerderheid besorg het, en die laaste 23 jaar daar stem, het n achiellesheel wat deeglik en klandestien op voetsoolvlak uitgebuit word. Daar bestaan geen verwysigsraamwerk vir etiese norme en karakter nie, slegs die oorlewing van die sterkste. Daarom graviteer die meerderheid na die magsbasis, eties of te not. Die eienskappe is verdraad deur die hele wese van die party.
” Obedience without question. Loyalty above all”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.