Nuuskommentaar: “Ontvang hiermee julle politieke vryheid…”

Zuma. Foto: GCIS

Zuma. Foto: GCIS

Met Ghana se onafhanklikheid meer as vyf dekades gelede het die destydse leier, Kwame Nkrumah, volgens oorlewering die nuwe nasie toegespreek en sy Lenninistiese styl deeglik afgedruk met sy woorde: “Ontvang hiermee jul politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.” Toe nou nie.

Dit sou mense wat veel valer op die geskiedenisboeke afgedruk is, kos om daarna die eertydse Goudkus aan die flentertjies veters op te trek en ‘n land te maak wat darem weer ekonomies en demokraties koers kon kry.

Van Nkrumah self se verdraaiing van die Bybel was daar kort voor lank nog net die ideologiese herinneringe en verval oor.

Suid-Afrika is nog midde-in die stakingseisoen, wat in alle opsigte nou handel oor ‘n politieke magspel waar werkers en die land se ekonomie die slagoffers is. Die term waarvoor die Amerikaners so lief geword het na aanleiding van burgerlike ongevalle in hul oorlog-ekskursies – “collateral damage”, is gemaklik net so van toepassing op die skade wat ander ly weens onverantwoordelike vakbonde se ekonomiese strooptogte.

‘n Paar maande gelede het pres. Jacob Zuma nog die ly van hierdie soort ongevalle in die parlement verdedig. Trouens, hy het nie net die  stakingsreg verdedig nie, maar ook die chaotiese vorm wat dit in daardie stadium aangeneem het, en gesê dit is waarvoor die ANC geveg het. Hy was uitdagend dat die ekonomie nie daardeur skade ly nie, of dat die ekonomie dit minstens kan absorbeer.

Die president se persepsies oor gewelddadige optogte was toe reeds baie goed bekend na sy berugte Davos-mediaonderhoud soos ‘n verterende veldbrand oor die wêreld skokgolwe veroorsaak het – gewelddadige optogte is kenmerkend van demokrasie, nie net in Suid-Afrika nie, maar die hele wêreld, maar die media elders rapporteer net nie daaroor nie. Die stoute media darem.

Merkwaardig, die president lees glo nie die regte goed nie, maar hy weet darem goed wat nié geskryf is nie. (Ai, en dan wonder die ANC hoekom Zuma-“bashing” so ‘n gewilde tydverdryf van spotprenttekenaars en rubriekskrywers geword het).

Maar kan die Suid-Afrikaanse ekonomie werklik stakings met sy gewelddadige arm, gewelddadige protesoptogte, die Marikana’s, en ja, die ANC-regering self bekostig?

Die regering het, aldus ‘n berig van die SABC, laat blyk dat hulle nou met BMW in gesprek gaan tree nadat dié motorvervaardiger geluide gemaak het dat stakings ‘n vraagteken plaas oor die lewensvatbaarheid van hul belegging in Suid-Afrika. Numsa self het toe reeds na BMW gekap en dit duidelik gemaak dat “we” nie ‘n guns gedoen word deur BMW se teenwoordigheid in die land nie – Suid-Afrika doen BMW ‘n guns deur dié motorreus die geleentheid te bied om in Suid-Afrika te kom geld maak.

Numsa het BMW  daarvan beskuldig dat die motorvervaardiger die land “afpers” en bygevoeg so iets sou nooit in China of Zimbabwe toegelaat  gewees het nie. Nou ja, Numsa kon seker nie voorbeelde van meer voorbeeldige “demokrasieë” vind om sy stellings mee te motiveer nie.

Maar Business Day Live berig soos volg: “Numsa said its members were set to return to work today, ending a strike that has cost the sector about R20bn, slashed exports by 75% and dealt another blow to South Africa’s already bruised image among foreign investors. The union, which represents 70,000 of the sector’s 300,000 unionised workers, settled for a 10% increase in the first year of the agreement, followed by increases of 8% in the next two years.”

Maar dit is juis BMW se standpunt – hoe kan daar van ‘n lewensvatbare belegging sprake wees as daar elke jaar dié soort skade gely word om verhogings van meer as die inflasiekoers af te pers?

Dit is wel ‘n erge oorvereenvoudiging – wêreldwyd neig die inkomstegaping binne bedrywe om groter te word. Diegene wat nié op die voorpunt van hierdie rekbeweging is nie voel vanselfsprekend dat die boonstes so vooruitgaan ten koste van diegene laer af. En Suid-Afrika is volgens sommige bronne die land in die wêreld waar hierdie gaping die vinnigste groei.

Berigte dat die ekonomie in Afrika vinniger as die wêreldgemiddeld groei, bereik ook die werkers, en ook hulle wil deel daarin. Dat hierdie syfers ook ingewikkelder is as die afgeronde somtotaal word nie altyd verduidelik nie. Selfs bitter weinig groei waar daar byna niks is nie, gee ‘n hoë persentasie groei, maar die groeisyfer is hoofsaaklik weens ‘n baie ongelyke verskynsel tussen lande in Afrika. Lande waar olie en ontginbare gas ontdek word, lewer indrukwekkende syfers van groei op, terwyl ‘n droëbekland langsaan stagneer of agteruit boer.

Maar al die inkomste in die wêreld kan nie durende groei bring as die leierskap dit afskep, op persoonlike luukshede verkwansel, op oorsese vakansies uitmors of in geheime buitelandse bankrekenings gaan wegsteek nie.

Nkrumah se sotheid word deur ‘n ander Ghanees, Kofi Annan, na die maan gestuur. Annan het gister die derde Desmond Tutu Vredesgedenklesing gelewer en na die einste groei van Afrika verwys, maar dit duidelik gemaak dat Afrika nie hieroor in ‘n gemaksone kan verval nie. In ‘n klaarblyklike verwysing van Nkrumah se woorde, het Annan daarop gewys dat Afrika in die verlede ook valse sonsopkomste beleef het.

Hy wys daarop dat die groei nog nie omgesit het in die wegwerk van hoë vlakke van werkloosheid nie. “Despite Africa’s extraordinary wealth of natural resources, poor governance and lack of transparency have too often led to corruption, exploitation and environmental damage.”

Annan noem ook ander faktore soos korrupsie en die opkoms van georganiseerde misdaad.

Dit sal Zuma loon om Annan, ‘n voormalige sekretaris-generaal van die VN, se toespraak te lees en ter harte te neem. Daar kan sommer ‘n paar lesse ook uit die Ghanese boek geneem word – Ghana troef Suid-Afrika loshande op die persvryheidsindeks, en dit sal interessant wees om te sien of Suid-Afrika wat die afgelope twee jaar duisligwekkend op die korrupsiepersepsie-indeks getuimel het, op die 2013-indeks steeds beter as Ghana vaar.

Die vakbond Solidariteit het onlangs hoë lof ontvang vir die stabiliserende uitwerking wat dit op die ekonomie uitoefen. Dit, terwyl die lede kan getuig dat dié vakbond vreesloos vir die regte van sy lede veg, en nie soos baie van die vakbonde wat vinnig kan staak, dikwels ‘n groot makeer maak wanneer individuele lede weens slegte base – en daar is baie hiervan in Suid-Afrika – in arbeidsake betrokke raak nie. Daar is iets te sê vir Christelike vakbondwese waar van Solidariteit deel van ‘n groot, verantwoordelike, internasionale groepering is.

Die besef dat politieke vryheid nie ook outomaties onuitputlike bronne van rykdom bring nie, het waarskynlik nog nie genoegsaam tot die massa kiesers deurgedring om die ANC-bewind met volgende jaar se verkiesing in gevaar te stel nie. Daar  is nog sterk persepsies dat die land wel oor hierdie rykdomme beskik, maar dat dit nog steeds deur ‘n handjievol mense / die blankes / die boere vasgehou word en die ander aan lae lone en werkloosheid uitlewer. Trouens, rasbegunstigde bevoordelingspraktyke soos SEB word verskerp om hierdie gewaande rykdom losgewring te kry, maar ‘n nuwe ekonomiese elite word bloot geskep.

So lank Numsa en sy vennote in ‘n magspel met  Cosau gewikkel is, en terselfdertyd na Amcu buite Cosdatu geknyp word, word magtige individue se politieke posisies bedreig. En so lank dit die geval is, is die ekonomie maar “collateral damage” want niks weeg (vir sommiges) immers swaarder as politieke mag nie. Al beteken dit ook dat die oorwinnaar die koning van ‘n ashoop is van wat eens ‘n belowende ekonomie was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.